BlitsdebatArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ope brief van Hermann Giliomee aan die ouditpaneel van Universiteit Stellenbosch:

"Ek kan dit nie aanvaar nie ..."

Beste Russel

Dankie vir die uitnodiging namens die rektor na `n onderhoud met die Ouditpaneel.

Ek kan dit nie aanvaar nie en wel om die volgende redes.

Die beskrywing van die groep in die uitnodiging is "die ouer alumni soos beskryf deur die rektor in sy konvokasasietoespraak in 2004." Daar het hy die voorstelling gemaak van `n ouer groep alumni wat saamgevoeg moet word by die huidige generasie studente. Hoewel hy dit nie in soveel woorde gesê het nie, is die indruk wat die toespraak geskep het dat die ouer generasie konserwatief is en die huidige een byderwets en modern. As dit korrek is dat dit sy bedoeling was, verwerp ek die konstruksie. Ons weet eenvoudig nie hoe die ouer en die jonger geslag oor die Bram Fischer-aangeleentheid sou gestem het indien daar `n indringende bespreking was nie.

Die rektor nooi nou agt persone, waarvan die meerderheid betrokke was by die teenstand teen die Fischer-graad. Ons moet egter nie teenstand teen daardie eregraad oor dieselfde boeg gooi as die huidige teenstand teen US se gevaarlike taalbeleid nie. Anders as in die Fischer-geval neem Die Burger sterk standpunt in teen die US-besluit. Onder die dertien persone wat die huidige teenstand teen die US taalbeleid steun, is daar mense wat privaat sterk van my verskil het oor die Fischer-aangeleentheid. Meer as een van hierdie persone het aan my gesê ek moet nie my energie op die Fischer-aangeleentheid verkwis nie; die eintlike geveg kom nog. In `n sekere opsig was hulle reg.

Die taalkwessie is in werklikheid `n veel groter en meer omstrede saak as die Fischer-aangeleentheid. Ten eerste bestaan daar nou `n vertrouensbreuk tussen alumni en die rektoraat, wat nie aanwesig was in die Fischer-aangeleentheid nie. Julle moet onder geen illusie wees oor hoe groot die breuk werklik is nie.

Ten tweede sal die praktiese gevolge van die implementering van die taalbeleid vir die universiteit veel meer verwoestend wees as wat die geval met die Fischer-aangeleentheid is/was. Julle moet verwag dat dat daar oor die sogenaamde drie jaar proeftydperk voortdurende spanning, stryd en ontwrigting gaan wees wat ongelukkig met `n kleurlyn sal saamval. Dit is nie asof ons nie weet wat die gevolge van dubbelmedium is nie. Die gevolge is te sien by UP, wat die beleid gevolg het en uitgevind het dat dit Afrikaans heeltemal marginaliseer.

Ek is tans besig om, in opdrag van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, taalbeleid en die ontwikkeling van inheemse tale aan tien Suid-Afrikaanse universiteite te ondersoek. Ek het reeds onderhoude met die topbestuur van Wits, Universiteit Vrystaat, UP en Potch-kampus gevoer en is redelik goed op hoogte van wat aan UK, US en UWK gebeur. Wat my opval is dat dat die verdelingslyn nie langs geslagte of selfs geografiese grense loop nie.

Daar is twee benaderings ten opsigte van Afrikaans: die een glo dat Afrikaans as akademiese taal algaande agteruit sal gaan en tref reëlings dat die universiteit hom aanpas by hierdie agteruitgang. As `n eerste stadium word daar beoog dat Afrikaans en Engels op `n 50-50 basis sal saam bestaan. Met dit as uitgangspunt wil die bestuur nie Afrikaans uitbou nie maar "afbou" terwyl dit terselfdertyd Engels opbou.

By my en baie ander bestaan daar `n sterk indruk dat dit die pad is waarop die US bestuur hom begeef het. Waarom anders behandel die US-bestuur die SA Akademie so stief? (om nou `n konkrete voorbeeld te neem). Waarom anders die instel van dubbelmedium in die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte? Almal weet dat Afrikaans hom nie in die omstandighede kan handhaaf nie. Hoe wil julle dit in elk geval bestuur? Dubbelmedium is die mees onbestuurbare opsie van alle voertaalopsies. Dalk dink julle aan traffic cops in elke klas wat die fluitjie blaas as die 50-50 verhouding tussen Afrikaans en Engels verbreek word? Julle gee in werklikheid met hierdie beleid aan Engels `n brughoof van ten minste 50% in elke klas. Afrikaans sal moet soebat om `n porsie van die oorblywende porsie en hierdie porsie sal stelselmatig minder word. Jy hoor nou reeds van dosente wat te bang is om te veel Engels te praat omdat hulle bang is dat die studente sal wegloop na ander klasse waar die dosent meer Engels praat.

Die ander benadering - en dit is die een wat Potch en Bloemfontein inneem - is dat ons geslag `n historiese verantwoordelikheid teenoor Afrikaans het. Soos die Kanadese filosoof Charles Taylor dit in sy Politics of Recognition gestel het, het ons geslag die verantwoordelikheid om Afrikaans in dieselfde staat waarin ons dit ontvang het aan `n volgende geslag oor te dra. As dit jou uitgangspunt is dan hang dit veral van die bestuur van ‘n inrigting af of Afrikaans slaag om ditself te handhaaf. Meer konkreet gestel, hang dit af van die bestuur se taalwil en gevoel van taalverantwoordelikheid. En dit hang af van `n Universiteitsraad wat hierdie waarde deel, goed ingelig is en die bestuur ondersteun.

Hierdie elemente is sterk teenwoordig in die geval van UV en Potch. Ek bemerk `n tragiese afwesigheid hiervan in die geval van US. Julle het nou syfers gepubliseer om te bewys in watter mate publikasies in Afrikaans agteruitgegaan het. Die vraag is of julle dit doen om te bewys dat Afrikaans se (akademiese) doppie geklink is en of julle dit doen om te sê US gaan iets daaraan doen. Hoekom vergelyk julle nie `n slag wat UV in Bloemfontein doen om Afrikaans as publikasiemedium te bevorder nie? Of het US klaar besluit dat Afrikaans as publikasiemedium nie gered kan word nie?

Moet tog asseblief nie ons intelligensie beledig deur ons te vertel dat Afrikaans tot sy reg sal kom onder jul nuwe beleid van dubbelmedium nie. Daar is uitgebreide vakliteratuur wat die teenoorgestelde oorvloedig bewys en die gevalle van UWK en UP het dit ten oorvloede in die praktyk bewys. Moet ons tog ook nie vertel dit is ter wille van transformasie nie. Meer as 80% van die huidige begunstigdes van die tweetalige beleid is wit Engelssprekendes - die mees begunstigde gemeenskap in die land.

Julle praat van bestuur, maar bestuur ter wille van wat? `n Raadslid het aan my geskryf julle bestuur Afrikaans in die grond in.

Piet Kapp as hoof van die konvokasie het my gevra om saam met hom te gaan na die onderhoud wat hy met die ouditpaneel gaan voer. Ek sal dit graag wil aanvaar binne die konteks van die werk wat ek tans in opdrag van die Akademie doen.

Ek mag moontlik hierdie boodskap ook aan ander mense stuur, maar sal enige antwoord van jou as vertroulik behandel.

Vriendelike groete

Hermann



LitNet: 30 September 2005

Wil jy reageer op hierdie Blitsdebat? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.