|
|
Oor die skryf van Eva ontmoet EinsteinAnnelie FerreiraKlik hier vir 'n
resensie van Eva ontmoet Einstein deur Hendrik Venter Dis die één boek wat ek nie wou skryf nie. Die uitgewer van my laaste geestelike boek, Eenmaal iets dappers, het bankrot gespeel pas na die verskyning daarvan. Hulle sou dus ook nie meer my boek met essays deur Suid-Afrikaners van verskillende gelowe (in Afrikaans geskryf of vertaal) uitgee nie, en hulle was my laaste hoop. Die Afrikaanse-uitgewersmark het in daardie stadium geveg vir oorlewing; geen manuskrip wat enigsins na 'n risiko gelyk het, is aanvaar vir publikasie nie. Ek het gemeen die Heelal wil daarmee dalk vir my 'n boodskappie stuur. Iets soos: "Annelie, los die teologie vir die teoloë. Gaan speel met die hond. Kook 'n slag ordentlike kos vir jou man en kinders. En kry asseblief 'n behoorlike werk! Skryf oor karre, reukweerders, hoe om 'n miljoen rand in jou slaap te verdien - die regtig belangrike dinge in die lewe." Ek was gewillig om dit te probeer. Die teologie te los, bedoel ek nou. Behalwe in my binnegedagtes en vir korter skryfstukkies, briewe en so. Want ek word steeds die meeste gefassineer deur dié dinge wat onder die oppervlak lê, agter die sluiers van ons bewussyn, die kragte en drange in én buite onsself wat ons die meeste beïnvloed maar die moeilikste is om te identifiseer of te verwoord. Toe word ek geboelie met mooi woorde - deur 'n predikant nogal, een van die min wat daarin geslaag het om 'n bedremmelde Dapper-boek in die hande te kry en 'n lang soektog op tou gesit het om kontak met my te maak. Willem Moore kom na my met 'n kop vol interessante idees en vra of ek nie iets soos 'n raamwerk vir 'n kursus wil skryf nie. Eers wil ek nie, gedagtig aan die boodskap van die Heelal, maar na twee boekmislukkings is dit glad nie sleg om iemand teë te kom wat in jou glo nie. Ek onderneem toe om te dink aan hierdie kursus ding. En hoe meer ek dink, oor waar mens behoort te begin wanneer jy wil skryf oor godsdiens, en hoe wyd mens behoort te kyk, hoe meer aanloklik word die idee van 'n boek - vergeet van 'n kursus (weer eens jammer, Willem!). Die titel Van hemel tot Hawking kom by my op, iets om ons ontwikkeling van 'n antieke tot 'n moderne kultuur en lewensbeskouing te illustreer. Maar een nag, net voor die slaap my vat, hoor ek: Eva ontmoet Einstein. Toe's Eva in die prentjie, die sappige vrug tussen my tande, en ek weet ek is finaal verlei. Dit laat my egter steeds met die vraag: "Behoort nieteoloë boeke oor die teologie te skryf?" Laat ek daarop antwoord met my ervaring nadat my eerste geestelike boek, Die dag toe ons God gevang het, sowat 'n dekade gelede verskyn het. Dit was voor Ben du Toit se God? Geloof in 'n postmoderne tyd en selfs voor Willem de Klerk se 'n Vreemde God en sy mense. Ek het my dus voorberei op beroertes van familielede en kritiek uit kerkgeledere, maar darem gehoop op 'n bietjie positiewe reaksie van mede-onheiliges. Wat ek glad nie verwag het nie, was die aantal predikante wat my in die volgende paar jaar sou kontak en sê hulle is so bly ek het hierdie boek geskryf, want ek sê daarin dinge wat hulle ook dink, maar nie kan sê nie. Wat sedertdien vir my duidelik geword het, is dat hoewel daar die afgelope dekade of wat in talle opsigte groot veranderinge in die kerk plaasgevind het, en steeds plaasvind, daar 'n soort teologiese gesprek is wat slegs buite die kerk kan plaasvind (en waaraan sommige kerkmense weliswaar deelneem). Want die omvang van spirituele denke, oortuigings en ervarings het so wyd geword dat mense op godsdienstig konserwatiewe en liberale pole al hoe verder van mekaar staan. Dis te verwagte dat 'n godsdiensgroep waarbinne ons diepste sekuriteit struktureel gestalte aangeneem het, as geheel nie verandering gaan verwelkom nie (veral nie in 'n omgewing waar ander groot kulturele veranderinge ook verwerk moet word nie). Die ding is net dat jou lewe en wêreld tog voortdurend verander, al het jy ook persoonlik beplan dat dit altyd dieselfde gaan bly. Wat 'n duisend jaar gelede - selfs gister - nog heeltemal logies en aanvaarbaar was, maak vandag nie meer noodwendig sin nie. En daar lê die probleem: ons grootste behoefte is aan lewens wat sin maak, op watter vlak van ontwikkeling ons ook al leef. Godsdiens omvat tradisioneel die diepste sin van ons lewens. Maar in 'n veranderende wêreld kan ons onder tradisionele konsepte uit verander in so 'n mate dat ons doodgewoon nie meer met integriteit kan leef binne daardie tradisie nie. Dis hoekom ek tog maar nog 'n geestelike boek geskryf het. Ek is deel van die geestelike gesprek buitekant die kerk wat op 'n verskeidenheid plekke plaasvind - soos ook hier op LitNet. Ek glo dat ontginning 'n belangrike element van so 'n gesprek sal wees, die vryelike opper van menings en perspektiewe sonder enige dringendheid om 'n nuwe absolute waarheid gestempel en getjap te kry. Tensy die Heelal my weer 'n boodskappie gee, is dit 'n plek waar ek tog graag nog 'n rukkie sal wil vertoef.
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |