|
|
Die laaste ou binne my vriendekring wat van die Kaap tot Kaïro gereis het, was die fotograaf Obie Oberholzer. En hyt brandmaer teruggekom selfs ná n week se rus in die skaduwees van die piramides. Nou kom Dorah Sithole en True Love met n mooi boek om te wys dat Obie sy oog te veel teen die lens had en die kospotte skynbaar totaal misgekyk het. Dorah en True Love se boek wemel van mooi fotos en heet Cooking from Cape to Cairo A Taste of Africa. Onse Dorah het twee jaar lank oor die lengte en breedte van ons lekkervreet-kontinent gereis en oral reseppies in die oor geknoop van flambojante voorskrifte van die voorste sjefs by eetplekke waar jy ongetwyfeld net in Amerikaanse dollar kan betaal tot die kombuisgeheimpies van ou tannies in afgeleë buitekombuise onder bome. John Peacock, die pou met die lang stertveer, het oral fotos geneem. Nou kyk, berigte oor die wêreld se hongerste kontinent ten spyt: hier is oorgenoeg bewyse dat Afrika se mense lekker kan eet wanneer die gewere die dag ophou blaf. Sjefs van oral oor se arms is gedraai vir hul allerbeste resepte van Egipte tot Ghana, van Senegal tot die Transkei, van Venda tot Zanzibar. En wat Suid-Afrika betref, is die kook-en-geniet dié slag nie net Bo-Kaaps nie, maar veel meer. So, as jy saam wil proe aan die enigste kontinent ter wêreld waar die volstruis en die sebra gereeld op die etenstafel uitgelê word, koop hierdie boek vir jou Kerskous. Of gee hom vir jou vrinne wat jou altyd met pasta verveel. Maar was dit nodig, voorwoordskrywer Khanyi Dhlomo-Mkhize, om die Afrika Renaissance by te sleep? Kan ons nie maar eet sonder dat Chief Cook Oom Thabo oor ons skouers loer nie? Die boek word uitgegee deur Tafelberg; geen prys vermeld.
Die binnehof van n swetterjoel duiwe / leen hom tot spesmase ... Wilma Stockenström lees haar gedigte voor soos min ander Afrikaanse digters kan, dalk net Antjie Krog. Maar as jy haar eers eenmaal aangehoor het, praat haar stem onvergeetlik mee wanneer jy in die nanag Spesmase (Human & Rousseau, weggeeprys R54,95) weer en weer opneem. Om Wilma voor Europese jong mense te sien lees, was vir my n jaar gelede n belewenis; hier is weer toeganklike, stil verse, wat dui op n ryp talent. Een van ons grootstes, wat altyd verras met haar vermoë om tussen genres te beweeg. Wonderbaarlik dat Human & Rousseau in hierdie dae die dapper ding doen en poësie publiseer. Ons weet almal dis duur en n mens kan gerus ondersteuning gee. Wanneer laas het jy n digbundel aangeskaf? Of as geskenk gegee? Hierdie een het miskien nie die mooiste omslag nie, maar die inhoud is die moeite werd. En sit volgende keer n kasset by waarop Wilma van die gedigte voorlees? Is dit n praktiese gedagte?
Ons bruinbrood-man. Soveel gravitas en mooi gebare. Slim. Te oopkop vir die jare toe hy sy fleur moes afsloof in die Huis van die Dowes van n land wat gek geword het; seker nou te deurgeslyt en sinies om te beur. En boonop te wit en te manlik. Snaaks hoeveel van ons voel n bietjie in die steek gelaat deur Van Zyl Slabbert. Die man wie se skouers seker krom is van die verwagtinge wat deur die jare op hom gelaai is. Hy moes sommer staatspresident, rektor, peace-broker, burgemeester, enigiets word solank ons kon voel dat ons potensiële hoofseun se natuurlike leierseienskappe en sy sjarme en gravitas tot hul reg kom. Nout hy n lekkerlees-boek na ons uitgegooi Afrikaner Afrikaan, uitgegee deur Tafelberg, effe afgekam deur Jakes Gerwel, maar hoër aangeslaan deur Dan Roodt in LitNet se GrasPerk. Ek het die boek in n Saterdagoggend-sonnetjie deurgelees, en voel ook effe in die steek gelaat hy kon soveel méér gemaak het van n totaal merkwaardige innings. Kyk, Van Zyl Slabbert het nou stories om te vertel, hoor, en hy was dikwels dáár. Maar wat is die boek presies? Dis eerder n versameling opstelle of dinkstukke as n sistematiese polities-sosiologiese ontleding van ons pyntyd. Dis ook nie n voltreffer-aaneenryg van die moments stranger than fiction wat Van Zyl eerstehands beleef het nie. Dis ook nie n outobiografie nie. Miskien is mens gefrustreerd omdat dit bietjie van n saamgooi van diskoerse is. Dit begin met n uiteensetting deur oud-tokkelok Slabbert oor God en die dood en n paar ander dinge en eindig met die Afrikaner se plek in Afrika. Tussenin hoor ons van PW Botha se mood swings, Breyten wat jare met sy Yoli deur die glas moes praat, n Amerikaanse miljoenêr wat die wêreld wil verander, n man in n plakkershut met n verlamde vrou wat haar onderlyf oor die vloer sleep ... Ja, dis dié tonele wat by jou spook n dag nadat jy die boek gelees het, en nie die uiteensettinge oor God, Dood, Land, Volk en Waarheidskommissie nie. n Hibriede boek vir n hibriede land; n bastertyd van hoop en wanhoop, van ontleding en belewing. Hoe dan anders? Dis Suid-Afrika in die ander tyd, en Van Zyl was daar. Die boek laat jou besef dat hy en sy Boksombende n belangrike rol gespeel het. Centre stage is nie noodwendig waar dit gebeur nie. Kyk maar wiet almal centre stage gehad en in watter Wildernisse en op watter Griekse eilande sit hulle nou. Van Zyl, as ek mag: jyt nog n boek of drie in jou pens. Intussen kan al jou potensiële kiesers hierdie lusmakertjie lees en duim vashou dat die volgende boek n vaster greep op sy materiaal sal hê. Geen prys vermeld. Lekker sagteband; Breyten se inleiding nie waffers nie.
Kyk, as n taal net een boek voortbring wat so toweragtig met woorde werk soos Breyten Breytenbach se Woordwerk, dan het daardie taal dit volbring. Dis n selfroman, hoor ons van die uitgewer, en hulle eggo die skrywer self. Inderdaad: Breyten kan homself en sy mondvol woorde nooit uit n roman skrywe nie hy is hier weer bekvol en wêreldvol, oral aan t kyk en aas en verbeeld. Van Birma tot Troje, van Berlyn tot Parys ... waar draf ons tiger tiger burning bright (grysbaard nou al) nie oral rond nie? Só beskryf Breyten sy eie boek: Dit bestaan uit aantekeninge, opmerkings, bygedagtes, aflate ... Dikwels het dit die begin van n verhaal aan die stert beet ... Hierdie is Die vele reise van meneer Dog. Ja, hond van God of gestreepte luiperd dis n boek om vir iemand vir Krismis te gee. Human & Rousseau, geen prys vermeld; baie mooi uitgegee in n tyd dat n mens jou hande in die lug gooi oor voorblaaie.
Chris Barnard, wat destyds met die vleisbyl van Mahala en Duiwel-in-die-bos diep voeë in ons psiges geslaat het voeë wat maar nie wil toegroei nie kom hier post-Paljas met n nuwe roman. Terloops, dis hopelik die laaste Afrikaanse boek met n bobbejaan op die voorblad. Onthou julle nog Die Werfbobbejaan (Strachan) se aaklige voorblad? Genoeg van die burgers van die berge! Boendoe begin met n sin wat skrik vir niks, en die eerste paar bladsye (ek is maar so vyftien bladsye in) is weer die ene kreupelhout, klowe, gaasdeure en slange tipiese Barnard-wêreld dus. Gaan hy Mahala, wat ek destyds met een lê op die rug dwarsdeur gelees het, naskryf en ons dus dwing om te vra of dit beter of slegter as Mahala is, of gaan hy hier agter die kap van n nuwe byl kom? Ek weet nie, maar enigiemand wat n Barnard-boek by hom laat verbygaan, hoort in die boendoe of hys n bojaan. Ons is bly, Chris, dat jy weer by die boerenooi, die prosa, slaap. Bly in haar bed! Lees ook die mooi onderhoud wat Izak de Vries met Chris gevoer het in LitNet se Die mond is nie geheim nie.
Wanneer ek klaar bundu bashing gedoen het saam met Chris Barnard, pak ek George Weideman se skelmroman, Draaijakkals. George, wat ek anderaand gesien het, het juis vir my deesdae so n ekstra lag in die oë seker te verstane, want hyt hom hier gekwyt van 560 bladsye. Dus n dikke, somervakansie-roman in die tradisie van die pikareske. André P Brink se Inteendeel is n boek wat onmiddellik ter hand lê wanneer jy oor die picaro in Afrikaans nadink. En Abraham H de Vries het ook al met clowns geheul. Maar te akademies hoef ons nie te raak nie, want ons lewe in ieder geval in n land wat oorbevolk is met clowns en deurbringers en praterige stofpoepertjies. Draaijakkals wil só n storie vertel. Hierdie boek is werklik mooi uitgegee, en skalks word die voorbladontwerp herhaal met George se skrywersfoto op die agterblad iemand wat tussen twee vingers deurloer. Let your fingers do the walking.
Ja, ons dink baie aan haar, ons silwer koningin van die tussentaal. Elisabeth Eybers, wie se gedigte ek op skool gehaat het (dit het nie gehelp dat Lina Spies in die skoolsaal oor Eybers kom praat het nie, ek en skoolmaat Koos Kombuis het net meer verbete aan Bob Dylan se lirieke gelees). Maar nou ja, wie is deserdae in dié droewe land, of daar in die gragtegordel, nie n Eybers-aanhanger nie? Verse drup in haar Winter-surplus so geduldig soos stalaktiete, en net so blywend. Dis sulke gedigte wat my laat besluit het om op te hou met probeerskryf aan poësie. Hier koop jy lewenswysheid, grasie, n stem wat in jou nagte fluister net vir, raai, R54,95. Wat kry jy nog vir hierdie prys? n Hoendersosatie in die Arizona Spur? Ek dink ek gaan n eksemplaar aan Koos Kombuis stuur vir Krismis, om daar in Gordonsbaai te lees. Selfs die koning van Boererock het n poel van stilte tussen riet nodig om een van Eybers se mede-Dertigers aan te haal. Ek en Koos sal dalk bietjie stry oor Eybers se Engelse vertalings; dalk hou hy meer daarvan as ek. Maar ewenwel: n saluut van ons almal aan Mevrou Eybers; sys te groot vir n skoolsaal vol seuntjies! Onrustig soos die duine
Laastens, in hierdie einde-van-die-eeu-opdoek van ons literêre van-waar-gehasie JC Kannemeyer se Leipoldt: n Lewensverhaal. Dis n mooi boek, hardeband, stewig, netjies uitgegee, nogals duur (R199,95), maar daarvoor kry jy 741 nooitvolprese bladsye, insluitend n gerf vintage Kannemeyer-verwysings en register van persoonsname. n Vriend van my, Pienaar van Niekerk, wat ook n Leipoldt-bewonderaar is, het hierdie mooi boek en John se arbeid gehuldig deur spesiaal n tekening van Leipoldt te maak. Sê dit iets vir jou? n Biografie is immers ook n soort tekening, n interpretasie, nie waar nie? Iedereen kan nou John se storie oor Leipoldt lees, want is n biografie nie inderdaad die verhaal wat een gees te vertel het oor n ander gees se lewe nie? Dis n boek wat goed toevoeg tot ons kort ry literêre biografieë in Suid-Afrika. (Ons sien uit na John se werk oor Uys Krige, die goue seun.) Leipoldt se naam word op die voorblad in goud geskrywe dit hoort so. Hierdie pediater, joernalis, botanikus en skrywer oor die kookkuns en wynbou is steeds n fassinerende gees. Soos gewoonlik by John is die biografie in n leesbare, gemaklike styl geskrywe. Begelei jou lees daarvan met So blomtuin-vol van kleure, n versameling artikels deur Leipoldt oor die dorp van sy jeug, Clanwilliam, ook byeengebring deur Kannemeyer. Met n inleiding, fotos en tekeninge. Die publikasie van hierdie boek is moontlik gemaak deur die Strassberger Velskoenfabriek, Spammer & Erasmus Prokureurs se Albertus Erasmus, en Flip Lochner van die Clanwilliam Hotel. Clanwilliam se mense wat vir hul kultuur omgee, no doubt. En nou Pienaar van Niekerk se Leipoldt. Lekker kyk aan hierdie boeke; lekker lees aan die tekening! © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |