|
Monaco aan die einde van 'n eraPrins Rainier III van Monaco het Woensdagoggend weens hart-, long- en nierversaking beswyk. Die afsterwe van die 81-jarige hoof van die Grimaldi-dinastie, die oudste koningshuis in Europa, beteken die einde van 'n era vir dié piepklein prinsipaliteit met 32 000 inwoners, berig Jean Meiring. Baie mense is bra sinies oor die kasino-oortrekte klein rykmansparadys en belastinghawe wat prekêr op 'n rotsknoets aan die suidkus van Frankryk, digby Italië, wankel. Neem jy die strande, die diamante en die jaarlikse Grand Prix-motorwedren weg, is daar inderdaad weinig in Monaco oor. Tog het die Grimaldi's van die bekendste gesigte ter wêreld. Prinses Caroline se aanskoulike skoonheid is al sedert die laat jare sewentig 'n gunsteling van die meedoënlose paparazzi. Tóé het gerugte met ysere reëlmaat die ronde gedoen dat sy en prins Charles die knoop sou deurhak. Oor haar broer, kroonprins Albert, se alleenloperskap bespiegel die poniekoerante steeds lustig en prinses Stephanie, die laatlammetjie, is vir jare weens haar allermins adellike kêrels, haar dwelmgebruik en buite-egtelike swangerskap tot breekpunt toe gedemoniseer. 'n Mens wonder onwillekeurig waarom dié andersins redelik ordinêre, prestasielose gesin soveel opgehoue asems veroorsaak. Die antwoord is natuurlik nie moeilik om te vind nie. In 'n enkele woord: Hollywood. Maar eers 'n gleuf geskiedenis. Om die oorsprong van die Grimaldi's se verbintenis met Monaco vas te pen, moet jy jou visier op die dertiende eeu rig. Tóé was daar in die opperstand in Italië twee opponerende faksies: enersyds die ondersteuners van die pous, die Guelf-party, wat meesal uit ryk sakelui bestaan het, en andersyds die volgelinge van die keiser van die Heilige Romeinse Ryk, die Ghibellene, wat in die reël landhere was. Dié stryd, wat sy wortels in Duitsland had en inderwaarheid die ganse Europa verdeel het, was 'n uitgerekte skaakspel. Die een kant het pal die ander in 'n hoek probeer vasmaneuvreer. Fulco del Cassello, 'n leidende figuur in die Ghibelleense dinastie in Genoa in Noord-Italië, het die waarde van die strategies geleë oorhangklip, waar Monaco vandag is, besef en 'n pion daarheen geskuif. Op 10 Junie 1215 sit hy en 'n skeepsvrag ander Genoane daar voet aan val en lê die fondamente vir 'n nedersettinkie. Die Grimaldi-familie was een van die sterkste skakels in die Guelf-party in Genoa en een uit hul geledere, François, sluip in Januarie 1297 ongesiens die Monaco-vesting binne. Die poppe begin onmiddellik dans, maar dis die Grimaldi's wat ná byna drie eeue se heen en weer permanente beheer oor Monaco verkry. En bly sou die Grimaldi's bly - vir sewe eeue lank. By tye was die prinsipaliteit onder Franse voogdyskap, en vir etlike dekades in die neëntiende eeu onder die vlerk van Sardinië. In 1861 word Monaco se soewereniteit egter opnuut bestendig, en in 1863 word dobbelary daar gewettig. Maar kyk 'n mens fyn na die Grimaldi-familie se geskiedenis oor die afgelope anderhalf eeu is daar die indruk van 'n effense knoeiery agter die deur geld vermooide fasade. Prins Louis II kom in 1922 aan bewind. Kort tevore het groot kommer geheers omdat hy ongetroud en kinderloos was. As hy sonder kind of kraai sterf, sou die prinsipaliteit, in terme van 'n verdrag met Frankryk van 1918, sy soewereiniteit verloor en deur Frankryk ingesluk word. Frankryk was immers so kort na die Eerste Wêreldoorlog ongeneë dat Monaco in Duitse hande beland: 'n Duitse prins, 'n ver-langse neef, was volgende in die opvolglinie. Maar toe Louis jare vantevore in die Franse leër in Algerië was, het hy die wasvrou wat na hom omgesien het belowe hy sal op sy beurt mooi na haar dogter kyk as dié na Parys kom. Hy't toe só mooi na haar gekyk dat sy skoon swanger geraak het. Louis was toe nie sonder nasaat nie. In 1918 word Louis in terme van die nuwe grondwet veroorloof om dié buite-egtelike dogter, Charlotte, in 1898 gebore, aan te neem. Sy word toe op die koop toe sy kroonprinses. Charlotte en haar man, 'n Franse prins, is met twee kinders geseën: 'n dogter Antoinette, wat in 1920 gebore is, en Rainier, wat in 1923 gearriveer het. In 1944 doen Charlotte - 'n eksentrieke figuur wat tydens die Tweede Wêreldoorlog gunstige uitlatings oor Mussolini gemaak het - ten gunste van haar seun afstand van haar aanspraak op die troon. Ná sy oupa se oorlye, bestyg Rainier dit in 1949. Maar ná 'n lang verhouding met 'n Franse aktrise, wat toetse (verkeerdelik) bevind het onvrugbaar was, was Rainier alleen, en dít na byna ses jaar op die troon. Die swaard van kinderloosheid het aan 'n al yler wordende toutjie oor sy kop gehang. Die rolverdeling van Rainier se lewe verander egter in Mei 1955 dramaties toe die tydskrif Paris Match vir hom nooi om saam met Grace Kelly, wat pas twee maande vantevore die Oscar vir beste aktrise ingepalm het vir haar spel in The Country Girl, vir 'n foto-artikel te poseer. Rainier wys haar die koninklike paleis se tuine en sy eie eksotiese dieretuin, terwyl die fotograwe lustig kiek, maar in nabye Cannes, waar die filmfees aan die gebeur is, is die Franse akteur Jean-Pierre Aumont met wie Grace in 'n verhouding gewikkel is. Die gode moes egter geweet het dat Rainier en Grace 'n kans op geluk sou hê, want dit gebeur toe dat 'n Amerikaanse kapelaan uit Philadelphia in die V.S.A. - waar Grace in die Katolieke gemeenskap grootgeword het - deur die Vatikaan afgevaardig is om in die gemeente van Sint Karel in Monaco te dien. Dis hý wat toe Kupido se pyl en boog in die hand neem. Grace was ideale troumateriaal. Sy was 'n beeldskone, elegante en intelligente vrou. Ook was sy Katoliek en, na verneem kon word, had sy geen vrugbaarheidsprobleme nie! Tog was sy nie in die jare sedert haar ontluiking as rolprentster in 1951 'n muurblom nie. Clark Gable en Bing Crosby was maar twee van haar bekende minnaars.
Teen die einde van 1955 het Rainier haar om haar hand gevra, en gou het 'n reusering met diamante en smaragde op haar hand gepryk. Grace moes vir oulaas na Hollywood teruggekeer om haar laaste prent, High Society, te verfilm. Al was haar kontrak met die rolprentmaatskappy MGM allermins uitgeloop, het Rainier daarop aangedring dat sy haar loopbaan prysgee. MGM het haar van haar kontraktuele verpligtinge vrygespreek, maar op voorwaarde dat hulle die regte om die troue uit te saai, verkry! Op 19 April 1956 het Grace Kelly, die immer-Amerikaanse meisie, in 'n asembenemende rok van tafsy, tulle en kant met 'n Juliet-hoedjie op haar kop aan haar pa se arm die Sint Nikolaas-katedraal in die hartjie van Monaco binnestap. 'n Mens is nie verbaas as jy hoor haar rok is deur MGM se hoofkostuumontwerper gemaak nie - die ganse dag was pure Hollywood.
En vir lank het dit geblyk asof dít inderdaad die perfekte rolprent-sprokieshuwelik sou wees - dat Rainier en Grace saam 'n netjies beligte sonsondergang toegemoet sou gaan. Die wêreld was soos nooit tevore nie in die klein en andersins onmerkwaardige prinsipaliteit van Monaco geïnteresseerd. Maar in 1982, kort na Grace die troue van prins Charles en Diana Spencer in Londen bygewoon het, het 'n motor waarin sy en haar jonger dogter gereis het - Stephanie was agter die stuur - op 'n gevaarlike pas van die pad geloop. Stephanie is nie ernstig beseer nie, maar Grace is opslag dood. Die foto's van Rainier wat tussen sy kinders Albert en Caroline, aldrie in swart getooi, by die begrafnis agter Grace se kis aanstap, het harte die wêreld oor geroer. Noudat sy geliefde Grace weggegaan het, het Rainier hom grootliks aan die openbare lewe onttrek. Tog het hy in 1993 'n jare lange ideaal verwesenlik toe Monaco lid van die Verenigde Nasies geword het. Hy het met groot ywer sy oorlede vrou se nagedagtenis bewaar en die dikwels moeilike taak van pa wees, met stille waardigheid uitgevoer. In die Sint Nikolaas-katedraal is daar langs Grace s'n 'n oop graf waarin Rainier te ruste gelê gaan word. 'n Verdrag van 2002 met Frankryk het die opvolging in Monaco op vaste grond geplaas. Al sterf Albert kinderloos, sal die prinsipaliteit sy onafhanklikeheid behou. Die troon sal dan deur sy jonger suster, Caroline, bestyg word. Daar's egter twyfel of Monaco ooit die prominensie wat dit onder Rainier en Grace geniet het, sal kan herwin. Die sprokie is dalk - fluit-fluit - afgesluit.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |