|
Met die maan geplaZani Botes
You're in control, is there anywhere you wanna go? Ek het onlangs die film What the Bleep Do We Know sommer twee keer in 'n ry gaan kyk en was weer eens gekonfronteer met die krag van eie denke. In die film is daar 'n deel waar dr Masaru Emoto, 'n dokter in alternatiewe medisyne en skrywer van The Hidden Messages in Water, mikrofoto's neem van water uit damme regoor die wêreld. Die aanvanklike skoot is groen en geel soos alge wat inmekaar geweef is. Hy spreek toe 'n seëning van liefde daarop uit. Die samestelling van die water verander van chaos na die pragtigste kristalvorme. Die volgende foto is geneem nadat daar 'n "dankie"-seëning uitgespreek is en waar die water verander in diamantvormige samestellings. Die volgende foto se onderskrif lees "I hate you, I want to kill you" en die water neem 'n aaklige mengsel van siek bruingroen chaos aan. As ons daaraan dink dat die mens uit 98 persent water bestaan, is dit nogal treffend om skielik te sien wat die uitwerking van jou eie denke op jou fisiese samestelling is. Klik hier vir 'n paar foto's wat geneem is voor en na seëninge: http://www.whatthebleep.com/crystals/ en http://www.thank-water.net/english/july25-2003/crystal.htm.
Noudat dit gesê is, is dit sekerlik die maklikste ding om jouself skielik met positiewe denke te omring. Kyk na jouself in die spieël en sê dat jy nie vet is nie, dat jy pragtig en goddelik is, dat jy jou droomwerk verdien en wil verwelkom, of dat jy uiteindelik reg is vir liefde. Dan sal die res van jou lewe net so maklik regkom. Maar die film waarsku ook dat dit nie net so maklik is nie - soos ons almal weet. Indien jou verlede en vooropstellings al so diep gewortel is en al jare lank saam met jou kom, is die blote uitspreek van 'n positiewe mantra net so goed soos om 'n pleister op 'n sweer te plak. Dis dus baie belangriker om tot by die kern van die probleem te kom, om die rede vir jou ongelukkigheid van alle kante te besigtig en dan vrede daarmee te maak. Om met kinderlike opwinding daarna uit te sien om jou omstandighede positief te wil verander vir slegs een persoon. Jyself. Ook om te besef dat daar slegs een persoon is wat geheel en al verantwoordelik is vir my geluk, vreugde, passies ... hartseer, haat en vrees. Ekself. Sjoe ... dis groot. Skielik kan ek niemand anders blameer vir my gewig, my vooroordele, my depressie, my werksituasie, my seksuele voor- of afkeure, my humeur of enige van my vrese nie. En dan met daardie kennis te besef dat ons elke dag die keuse het om onsself geheel en al te herontwerp sonder om vas te klou aan dit wat dalk jare gelede met ons gebeur het en waaróm ons onsself geskoei het. John Denver se "Today is the first day of the rest of my life" speel op die radio terwyl ek tik. Ek is mal oor sinchronisasies! Fantasties! Wat nou? Hoe gemaak om dit raak te sien waaraan ek vasgehou het en waarvan ek miskien glad nie bewus is nie? Nooi Charlene gesels met my oor 'n "Dark moon workshop". 'n Groep vrouens kom bymekaar wanneer dit tyd word vir die maan om weer te begin groei. Sy vertel dat ons, soos die maan, ook gereed maak om in hierdie fase nuwe projekte aan te pak en om vrede te maak met dit wat ons terughou. Ek luister met belangstelling. Vandat ek in Kaapstad woon, het ek 'n intense verhouding met die maan - veral met die volmaan. En ek weet ek is nie al een nie. Ek dans saam met honderde medemaanaanhangers op Clifton se strand met djembes en didjeridoo's, terwyl ander saam teen Leeukop se hange opstreep om vir ure te staar na die volronde spieël. Soms sleep ek vriende na Organafix toe om te gaan dans en mediteer op transmusiek. Dan stap ons splinternuut uit in die koue naglug en verstom ons aan die sirkels in die lug. Deborah Steinmair het onlangs in 'n Fratsgolf-artikel daarna verwys, http://www.litnet.co.za/fratsgolf/deborah23.asp. Ek gesels met Lyn Hamilton Brown, die organiseerder van "Dark Moon Lodge"-werkseminare, oor my fassinasie. Sy sê dat dit heeltemal verstaanbaar is dat so baie mense uit hul gate kruip met volmaan. Die visuele impak is wonderlik en is 'n duidelike herinnering dat ons deel is van die groter prentjie en van die fantastiese skepping. Maar waarom dan 'n "Dark Moon Workshop"? Sy verduidelik dat volmaan maar een van die fases is waarmee ons kan assosieer en waarvan ons bewus moet wees. Die ander fases speel elkeen in op ons denke en beplanning. Dit is iets waarvan die Amerikaanse Indiane al vir eeue bewus is en waarop sy hierdie werkswinkel baseer. Sy som die fases soos volg op: Fase 1: Volmaan = 'n Tyd om dankbaar te wees. Die hoogtepunt van ervarings. Volheid en geboorte. Fase 2: Afnemende maan = 'n Tyd om te laat gaan. Laat gevoelens van verlies toe om duidelik te word. 'n Tyd waarin daar vir hulp gevra moet word en waarin daar gedeel moet word. Fase 3: Donkermaan = 'n Tyd van wysheid. Om volsirkel te gaan deur al jou ervarings - die soet en die bitter. In hierdie fase sien ons die groter prentjie en kry ons die kans om die uiterstes te polariseer en vrede daarmee te maak. Om stil te word, selfondersoek te doen en weer kragte op te bou. 'n Tyd om liefde te ontvang, te neem, om te leer om jouself lief te hê en om te leer om die waarheid lief te hê. Fase 4: Nuwemaan = Hernu. Om die selfvertroue te hê om nuwe uitdagings te verwelkom. Om met die lewe te dans en om nuwe idees te inisieer. Fase 5: Wassendemaan = Tyd om te koester. 'n Tyd om aksies te neem en om tyd te maak vir jou verhoudings - met 'n geliefde, kinders en vriende. Ek besluit om dit 'n kans te gee. Flippit, hoekom nie?
Ek en Charlene ry Saterdagmiddag uit op die R27 na 'n plot met die gepaste naam "Spirit of the Bear" en word begroet deur sowat sewe husky-honde, tien vrouens, en warm tee. Almal gesels seepglad uit die staanspoor - ons is hier om vrede te maak met die verlede en om die toekoms blinkogig aan te gryp. Lyn bied die "workshop" aan saam met Melanie, wat vir 'n tyd lank saam met die Indiane in Amerika gaan bly het. Hulle lei ons na 'n eg Indiaanse teepee, elkeen kies 'n stoel (gelukkig nie so erg tipies teepee nie), kry pen en papier en wag in spanning. Elke maand en donkermaan het sy eie vraagstukke. Lyn verduidelik dat daar hierdie maand gefokus gaan word op die volgende aspekte:
Die res van die middag verloop soos 'n droom waarin almal die kans kry om stukkies ervarings te deel. In een van die oefeninge kry elkeen 'n handspieëltjie en moet neerskryf wat hulle sien. Dit verbaas my om te hoor hoeveel van hierdie wonderlike vroue nie absoluut mal is oor hul refleksie nie. Ons is so verknog aan plooie, aartjies, dun lippe, dik lippe en skewe kroontjies dat ons so vinnig vergeet om verder te kyk as bloot net wat voor ons is. Dan stap ons uit in die natuur, voel, sien en ruik alles met oorgawe, soos kinders wat alles van voor af ontdek. Tussendeur leer ons onsself ken, lag en giggel terwyl ons stories deel en leegmaak, soos geblomde emaljebekers in 'n plaashuiskamer - gereed om weer volgetap te word met vars, verfrissende water. Om mee af te sluit word daar 'n reusevuur in die middel van die teepee gemaak. Teen hierdie tyd is dit vir almal duidelik wat verander moet word en waarmee daar vrede gemaak moet word. Soos in eeue-oue Indiaanse rituele kry almal nou die kans om hierdie probleme in bondeltjies suiwer tabak toe te draai en een vir een te verbrand. Dit mag dalk uiters boheems klink, maar daar is definitief iets kragtig daarin om iets waarmee jy al 'n rukkie geworstel het, in rook te sien opgaan. Dubbele verligting inderdaad! Daarna is dit tyd om ons nuwe uitdagings te verwelkom. Elkeen dink aan nuwe projekte of persoonlike veranderinge wat aangepak wil word. Dit word ook in suiwer tabak toegerol, maar word hierdie keer in bome gehang, sodat die wind dit aandra, en as bevestiging van ons diepste wense. Na die tyd sit ons almal rondom die groot vuur en slurp met welbehae aan Melanie se tuisgemaakte sop en brood. Sorgeloos word daar staaltjies heen en weer gekaats - duidelik 'n ander atmosfeer as die aanvanklike spanning. Daar's 'n nuwe blos op al die wange, sterretjies in stoute oë … die saamvloei van lag en gesels brabbel soos water oor gladde klippe. Ek kan nie wag om die nuwe donkermaan te omarm in die ongelooflike geselskap van my nuwe susters nie. Terwyl ons wegry, blink die toekoms net soos sterre as die maan op haar donkerste is. Vir meer oor die werkswinkel, skakel gerus vir Lyn op 083 966 4706 of (022) 492 2377. Datums: Dark Moon Lodge
LitNet: 26 Julie 2005 |
||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |