Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Laugh it Off Annual: Koop dit, lees dit, en sien die lig

Waldo Müller

Wen een van drie Laugh it Off Annuals


Evita Bezuidenhout, Toast Coetzer, Hagen Engler, Erns Grundling, Naomi Klein, Kgafela oa Magogodi, Zolani Mahola (van Freshly Ground), Tumi Molekane (van Tumi & the Volume), James Oatway, Karen Zoid, Zapiro … Hierdie is net ’n paar van die uiteenlopende name wat opduik in die eerste Laugh it Off Annual wat pas gepubliseer is deur Laugh it Off Media en Double Storey Books.

Daar het lank laas so ’n opwindende, rewolusionêre publikasie uit eie bodem verrys. Die bietjie meer as honderd bladsye wat die Laugh if Off Annual (subtitel: South African Youth Culture) beslaan, is soms skokkend, soms skreeusnaaks, soms ernstig en soms lighartig. Bo alles is dit bevrydend: dit bevry ons van die tirannie van die massamedia en verbruikerskultuur. As handelsmerke die ikone van die nuwe millennium is, is hierdie boek ’n luide, volkleurviering van ikonoklasme.

Justin Nurse en sy Laugh it Off-span se missie is om te verseker dat ons grondwetlike vryheid van spraak nie ondergeskik gestel word aan korporatiewe belange en die kultus van die handelsmerk nie. Hulle doen dit al ’n paar jaar deur T-hemde te maak wat bekende handelsmerke briljant parodieer ter lewering van aweregse sosiale kommentaar.

Die groot maatskappye wat die teiken van Laugh it Off (LIO) se satire is, dink nie dit is snaaks nie. Nee, LIO maak hulle so stroef soos outydse ouderlinge. Want ons leef in ’n era waarin die handelsmerk (deur middel van die media) verhef is tot ’n sekulêre godheid. Jy mag nie grappies maak oor Standard Bank se logo of Black Label se etiket nie. Dis mos godslasterlik in ’n wêreld waarin kapitalisme voorgehou word as die weg tot saligheid.

LIO se “Black Labour”-parodie van SAB se Black Label-handelsmerk het meegebring dat die drankreus vir Nurse en sy genote hof toe gevat het. Die storie het landwyd voorblaaie gehaal en die herrie het selfs oorsee rimpelings veroorsaak. Niemand minder nie as Naomi Klein (skrywer van die internasionale topverkoper en antihandelsmerkbybel 0No Logo) het haar steun toegesê aan LIO se hofstryd teen SAB. En dit is nog nie verby nie. Volgende jaar duur die hofgeding voort.

’n Mens moet jou hoed afhaal vir Nurse en sy LIO-makkers. Dit gaan die verstand te bowe hoe hulle te midde van al die hofsake tyd gekry het om hierdie merkwaardige publikasie aanmekaar te sit.

Die jongste nuus is dat die makers van Diesel-jeans na dese saam met ander groot handelsmerke tou staan om LIO hof toe vat nadat Nurse-hulle die Diesel-logo verwerk het tot een wat lees: “Dieselfde”. Dit is vlymskerp kommentaar op Diesel se advertensieveldtogte wat die leuen probeer verkoop dat jy uniek en cool en sosiaal gesog sal wees as jy jou geld op hul produkte blaas (en vyf keer meer vir jeans betaal as wat dit werd is).

Wat bied die Laugh it Off Annual? Dit is ’n venster op van die land se warmste jong (en minder jong) talent in verskeie dissiplines — joernalistiek, grafiese ontwerp, graffiti, poesië, fotografie, prosa en strokiesprente. Dit verteenwoordig ’n wye spektrum talentvolle mense wat LIO se filosofie deel. En hierdie boek bied hulle die kans om dinge te sê en te doen wat in ’n meer kommersiële opset as te gevaarlik vir publikasie beskou sou gewees het.

Andy Davis, oudredakteur van die jeugtydskrif SL, lewer ’n genadelose ontmaskering van die rassistiese paradigmas wat steeds in die land se tydskrif- en advertensiewese geld. Dit laat ’n mens se bloed kook as jy lees hoe sy pogings om swart Suid-Afrikaners op SL se voorblad te sit, keer op keer gekortwiek is deur hoër gesag. Davis se artikel behoort verpligte leesstof te wees vir joernalistiekstudente en hul dosente en sommer vir almal wat wil weet wat werklik in die glanstydskrifbedryf aan die gang is.

Die Third World Bunfight-teaterproduksie iMumbo Jumbo was onlangs in die nuus toe ’n hoender op die verhoog geslag is as deel van ’n sangoma-ritueel. Odidi Mfenyana, ’n lid van die toneelgeselskap, bied ’n insiggewende blik op die sangoma-element van Third World Bunfight.

Pieter-Dirk Uys skryf pynlik reguit oor die jeug en vigs; die musiekjoernalis Evan Milton roskam die Amerikaanse hip-hopster Ja Rule in ’n stuk getiteld “Ja Rule, Ja Fool”; Greg Lomas betreur die verdwyning van hoekkafees onder die siellose aanslag van die Seven Eleven-monster; Raymond Steenkamp laat ’n mens se hare rys met sy verslag oor Suid-Afrika se wapenverkope aan lande met twyfelagtige menseregte-rekords; en Erns Grundling gee bietjie lafenis met ’n speelse stuk waarin hy “lekker Afrikaans” bekend stel aan nie-Afrikaanses.

’n Deurgaanse hoogtepunt van die boek is LIO se parodieë van advertensies en handelsmerke. Black Cat-grondboontjiebotter word “Fat Cat” in ’n vreksnaakse advertensie waarin Tony Yengeni en Jacob Zuma verskyn; Lion-vuurhoutjies word “Leon”-vuurhoutjies met ’n dosie waarop ’n naakte Tony Leon die bekende leeu-logo vervang en die woorde “safety matches” verander is in “safely blackless” …

Die Laugh it Off Annual is ’n vars bries as daar al ooit een was. Koop dit, lees dit en sien die lig. En laat daardie lig nog helderder skyn deur jou Nike-T-hemp en Diesel-jeans jubelend te verbrand.

Die Laugh it Off Annual is regoor die land beskikbaar in takke van CNA, Exclusive Books en ander boekwinkels. Om meer oor Laugh it Off se bedrywighede te wete te kom, besoek gerus www.laughitoff.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.