Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Jy kan onmoontlik nie 'n Kommunis wees nie!

Koos Kombuis

het geen bekendstelling nodig nie. Hy is 'n sanger, skrywer en volksbesit in die ware sin van die woord.
  Koos A Kombuis

Liewe Vader Krismis

In die begin was daar net jy.

Jy, met jou wit baard soos Zeus en jou rooi jacket soos 'n verkoopsman in die eertydse OK Bazaar. Jy, met jou slee, en jou span takbokke, en jou vriendelike glimlag, en jou knieë vol roet van al die afgly deur duisende skoorstene.

Voor ek oordonder is deur ander, kwaaier gode van my jeug, was jy daar.

Jy, en die feetjies, en die tandemuis, en Noddy.

Later sou die woedende Vaders kom. Die Allerhoogste Jaloerse Jehowa met sy sidewhiskers en donkerbril. Die strenge Skoolhoof met sy rottang. Al die Superego's wat moes waak teen Kaffers, Kuns en Kont.

Ons is swaar geslaan deur allerlei mites en argetipes, Vader Krismis, maar tussen al hierdie angste en paranoias deur was jy konstant. Mens kon jaar na jaar op jou reken. Jy was gister, môre en vandag dieselfde.

Wonderlikste van alles, jy het net gegee sonder om ooit iets terug te ontvang. Nooit het jy jou regmatige pond vleis geëis nie. Geen selfkastyding was nodig om jou te dien nie; jy het nie verwag dat ons moet vas en bid om jou te behaag nie. Jy was altyd vrolik en vol sports, altyd aan die glimlag, altyd daar vir ons. Jy was lief vir kinders. Jy was vet en oulik. Jy was soos Boeddha sonder die Zen.

Nooit het jy guilt trips op ons gepull nie. Nooit het jy 'n Seun gebaar en na die mensdom gestuur om wreed deur die Fariseërs en Romeine vermoor te word nie. Nooit het jy kruistogsoldate of selfmoordbomaanvallers opgekommandeer op die slagvelde van die Aarde nie. Nooit hoef jou volgelinge hulleself selibaat weg te gesteek het in klam donker kloosters vol motgevrete antieke manuskripte nie. Nooit was daar 'n bloedspoor agter jou slee aan nie. Net goedheid en guns volg jou al die eeue van jou barmhartige, mildelike, vrygewige bestaan.

Daar is wel mense wat jou naam probeer beswadder, soos hulle Bram Fischer se naam probeer beswadder.

"Vader Krismis is 'n heiden," beweer hulle, "'n heiden en 'n Kommunis. Hoekom anders dra hy net rooi outfits? Hoekom anders het hy ons ander gode opsy gestoot elke jaar tydens 25 Desember?"

Wel, Vader Krismis, vir sulke ouens het ek 'n blye tyding. Jy kan onmoontlik nie 'n Kommunis wees nie! Geen Kommunis sal bereid wees om een keer per jaar die vryemarkstelsel so 'n inspuiting te gee soos jy nie! Elke jaar oor Desember floreer besighede wat andersins kwalik 'n bestaansreg het. Sangers en popgroepe wat nooit 'n sent sou maak nie, kry skielik royalties (soos Cliff Richard en Boney M).

Goed, dis dalk nie altyd 'n goeie ding nie. Dis ook nie noodwendig goed vir die kunste nie, want die meeste Kerskaartjies is erg kitsch. Ook is dit 'n shame dat mense in die Suidelike Halfrond ook Kersfees in Desember moet vier, want eintlik word Kersfees, jou paartie, geassosieer met die middel van die winter. Die sogenaamde heidene het juis Kersfees op 25 Desember gevier omdat dit die kortste dag in die jaar was in die Noordelike Halfrond. Maar nou ja, hoe dit ook al sy, 'n Kommunis is jy beslis nie! Jy beteken geweldig baie vir die winkeleienaars, om nie te praat van die ouens wat dennebome verkoop langs die pad nie. En laasgenoemde is dalk 'n goeie ding in die Suidelike Halfrond, want dennebome is mos eintlik hier 'n uitheemse plant, 'n pes. Deur jou word hierdie onding uitgeroei, en nogal teen 'n wins!

Vader Krismis, ek hou van jou. Ek hou van jou omdat jou liefde onvoorwaardelik is. Ek hou van jou omdat jy die mensdom se hoogste aspirasies simboliseer sonder om ooit skynheilig en dweepsiek te word. Ek hou van jou, want jy is my gawe oom, my alternatiewe vadersfiguur, my god sonder godsdiens, my maatjie.

O ja. Ek verlang nie eintlik iets vir myself hierdie Kersfees nie. My skoonpa het reeds vir my 'n bottel brandewyn belowe, so jy hoef nie iets ekstra saam te bring in jou Kerskous nie. Maar ek het nou kinders van my eie, en hulle maak staat op jou vir allerhande dinge wat ek nie kan bekostig nie. My seun, Simon (vier jaar oud), wil baie graag 'n Spiderman II DVD hê, en my dogter, Marleen (twee), probeer nog besluit tussen 'n Barbie-pop en 'n "groot groen man". Ek is nie seker wat de fok 'n "groot groen man" is nie. Het jy dalk enige idee?

Baie dankie.

Jou grootste fan

Koos A Kombuis

 
LitNet: 15 December 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

 

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.