Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

INSIG se Sweepslag: Aanstap, bruines - Hoekom ek siek en sat vir die gekleurde rassekaart is

Kay Karriem

is ’n assistentredakteur van Huisgenoot.

Klik hier en wen!
Klik hier en wen 12 maande af op jou huislening!

Klik hier vir INSIG se webwerf!
Neem deel aan die debat!
Die onderstaande artikel is INSIG se Sweepslag-bydrae vir Junie 2005. Stuur jou mening oor die artikel na SêNet by webvoet@litnet.co.za en neem deel aan die debat! Die bydraes sal ook vir plasing in INSIG se briewekolom oorweeg word!

Ek hoor dit op die trein, ek hoor dit by die braai, ek hoor dit by die werk en as ek nie Sondae so moeg was nie, het ek dit sekerlik in die kerk ook gehoor. Die eentonige, hopelose (en verskoon my, voorspelbare) refrein: “Die swartes kry nou alles. Die regering sorg net vir hulle, net hulle kry huise en werk. Ons het weer laaste gekom in die nuwe Suid-Afrika.”

En só gaan dit aan, in elke geselskap word nog ’n stamp opgeplak, tot dit eindelik die “waarheid” word. Dis ’n gekla en ’n gekerm wat dalk slegs oortref word deur die wit koor van onvergenoegdes – ook nie ’n verrassing nie, want where they lead, we most assuredly shall follow. Die ding is aansteekliker as vigs en in ’n sin dodeliker ook. En dit begin nou ’n naam kry: die bruin vraagstuk.

By debatte, op feeste en in raadsale duik die vraag al meer gereeld op: Wat gaan aan met die bruin mense? Hoekom het hulle sedert 1994 so agteruitgegaan?

As antwoord het dié dertigjarige bruin vrou van gehalte ’n teorie. Dit werk só: Bruin mense was bloot nie gereed vir vryheid in die volle sin van die woord nie. En dit is grootliks te wyte aan een van die groot suksesse van die apartheidsregering – sy beleid van divide and rule. Die bruin bevolking was klaar partydig jeens sy wit heersers (daar was mos die taal en ’n bietjie gedeelde bloed) en danksy die beleid het baie bruin mense (die meerderheid, miskien) hulle nie vereenselwig met die swart massa nie, maar eerder ingekoop by die apartheidsevangelie: Wit is beter as almal en bruin is beter as swart. Dis alles ou nuus, maar dit het daartoe bygedra dat bruin mense vasgevang geraak het in ’n dinamika waar hulle nie hul identiteit van ander kon losmaak nie. Hulle het hulle laat lei deur hulle “primêre ander”, die wit heersers, en dit het onlosmaaklik deel van hulle geword. Toe dié dinamika ná 1994 verbrokkel, was die bruin bevolking verlore.

Die naelstring is geknip en hulle was glad nie daarvoor gereed nie – nie om vir hulleself te dink nie en ook nie om vir hulleself te doen nie. Maar dit was net ’n kwessie van tyd voordat swart mense hierdie gaping kon vul. Bruin mens voor 1994: “Dis die wit mense en apartheid se skuld dat ons nie kan vooruitgaan nie.” Bruin mens ná 1994: “Dis die swart regering en regstellende aksie se skuld dat ons nie huise kry nie.” Kan dit so eenvoudig wees? Sekerlik moet swart mense, die regering en die ANC tog ’n bietjie skuld kry? Maar dan is daar die feite: Die slaagsyfer van bruin matrikulante daal en as hulle slaag, slaag ál minder met matriekvrystelling. Ons sien tans die sterkste daling in jare in die bruin deelnamekoers aan hoër onderwys, ’n dramatiese val oor tien jaar. Net 12% van die bruin bevolking neem deel aan hoër onderwys, terwyl 14% van die swart bevolking deelneem (’n skerp styging oor 10 jaar) en 47% van wit bevolking.

Van die verduidelikings hiervoor is dat prestasiegedrewenheid na swart skole verskuif het. Is dit die regering se skuld? Dat geld vir opheffingswerk aan die swart bevolking gaan en by bruines verbygekyk word? Maar wie moet die skuld kry vir die drankmisbruik en die geweld, die gebrek aan selfvertroue en die alewige minderwaardigheidskompleks? Ook die regering? Ook die swartes?

Kruisig my, maar ek sê dit reguit: Ons blameer deesdae die regering en die swartes, want dis makliker as om self verantwoordelikheid te aanvaar en iets aan die situasie te doen of aandadigheid te erken. Regstellende aksie is ’n feit en dis nodig en dit kan goed werk, maar jy gaan soms daarmee ’n bloutjie loop – nie lekker nie, maar wie het gesê die lewe is altyd lekker?

Soms is die antwoord nie eens so met politiek en beleid en vraagstukke gelaai nie. Soms is dit eenvoudig: Die bruin mens het nie die pos gekry nie, want hy het laat by die onderhoud opgedaag met ’n handgeskrewe CV en geen moeite gedoen nie. Maar dís nie die storie wat jy hoor nie: “Dit was regstellende aksie, ek het nie ’n kans gehad nie.”

Vergeef my dan as ek tot die gevolgtrekking kom dat die “bruin vraagstuk” nie opgelos gaan word deur die opheffing van regstellende aksie, ’n bewindsverandering of baie geld nie. Laasgenoemde sal help, maar wie gaan ons kinders se gedagtes vul met hoop pleks van hopeloosheid? Wie gaan hulle die selfvertroue gee om hulle plek vierkant te wíl volstaan in ons land?

Oral om hulle is voorbeelde van mense, bruin mense, wat te midde van uitsigloosheid, die regering en regstellende aksie dit wel reggekry het om uit te styg. Daar is ’n Jakes, ’n Cheryl, ’n A.H.M., ’n Trevor, ’n Patricia, ’n Jo-Ann, ’n Mr Fat en nog baie waar hulle vandaan gekom het. Intussen moet ons besef hoe meer tyd ons aan kla afstaan, hoe minder tyd het ons om ons kinders vir die uitdagings van môre voor te berei, en hoe minder sulke rolmodelle gaan daar vir die geslag ná hulle wees.

Klik hier en wen!
Klik hier en wen 12 maande af op jou huislening!




LitNet: 1 Junie 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.