Ingrid Jonker Aand
Dis vanjaar presies 40 jaar gelede dat Ingrid Jonker die see ingeloop het. Op die nag van die 18de Julie, by Drieankerbaai.
Die ironie is dat 18 Julie ook Nelson Mandela se verjaardag is. Die rigting waarin sy geloop het, was ook lynreg op pad na Robbeneiland. Mandela het ook in 1994 die parlement met haar gedig, “Die Kind”, geopen. Vreemde simboliek.
‘n Groep digters het vanjaar ‘n spesiale geleentheid gehou om hierdie briljante vrou te onthou. Verskeie skrywers het “Die Kind” in moderne konteks herskryf. Dit trek ‘n direkte lyn deur na die hedendaagse dinge wat, ná al die verandering, in ons land heers. Hierdie gedigte was op Maandag 18 Julie by ‘n spesiale aand te Mesopotamia in Langstraat voorgelees. Chris Chameleon het sy musikale weergawes van haar werke opgevoer en Riana Wiechers was daar met haar kamera!
Klik op foto vir vergroting en onderskrif.
Die spook wat verdwaal het op Kaapstad-stasie
Krisjan Fourie
Die spook is nie laat nie
Die spook kyk na die klok teen die muur
Wat tyd vasbind ontbind
soos 'n vlak graf
Asook vreemde krapmerke
Teen 'n bloedbelope stadsmuur
Die spook lieg haar pad oop
Verby 'n kaartjiekantoor met 'n pisreuk
Wat 'n sout nasmaak los dryf
bewusteloos rond
Tussen breine, bene, brille en bolywe
In die groot mond met die enorme aptyt
Die spook is nooit betyds nie
Nóg tussen aankoms- en vertreksale
Nóg tussen eerste- en derdeklas
Nóg tussen duiwels en engele
Waar sy wandel soos 'n x-straal teen die son
Die spook sweef af in die gange van verwyt
Op pad na 'n skare gewapen met swepe en die boeie
Die spook is teenwoordig by alle sterftes en geboortes
Die spook loer deur millenniums met 'n oog wat oneweredig knip
Die spook wat voor die tyd wou lag, en nie op die begrafnis nie
Die spook wat nie omgee dat almal verbyloop nie
Die spook wat soos die Suid-Ooster deur die ribbes van die wêreld waai
Sonder 'n doel
*
Die siel
Maritha Bronschk
Die siel is nie dood nie
dit hyg spikkelrig teen die swart
wat Prozac skreeu skreeu die niks
in die loopgraaf wat brein was
Die siel lig sy kneukels teen sy omgewing
en beur teen die geen van generasies
wat Prozac skreeu skreeu die niks
in die padded room wat hart was
Die siel is nie dood nie
nóg by Oranjezicht nóg by Pollsmore
nóg by Sandton nóg by Sunnyside
nóg tussen die lyne
Die siel beur in die oë van verklipte kinders
maak nes in die hande van die vensterwasser
sug binne die soveelste bondel wasgoed
sy snuif aan die regsbank, krap teen die tralies
en splinter oor die ontbinde grond van die land
die siel wat 'n stem wou wees
lem oopmond die ingewande van strate
grassnyers, stofsuiers en gemakstoele
die siel wat 'n kneusing was
wat seer geword het
wat sweer van leef
Die siel wat 'n vuis is
klop klop onverstoord
verbete vir 'n gewete
klop klop
Sonder 'n pil
*
Die geliefde wat wegverdwyn het tussen bondels blondines
Madelet du Plessis
Die geliefde is nie hier nie
Die geliefde borsel sy LieweJesusLangHare
Wat skreeu kyk-na-my skreeu vat-aan-my
Uitlokkend die woorde en soene
In die holtes van my bloeiende hart
Die geliefde sluit sy oë in afwagting
Vir die optog van blondines
Wat wulps skreeu skreeu
die kele
Wat klop van hormone en bloed
In die strate van my stukkende hart
Die geliefde is nie hier nie
Nóg by Gister nóg by Môre
Nóg by Eergister se begrafnis
Nóg by die kerkhof van die verdwene verliefdes
Waar ek lê met 'n koeël deur my hart
Die geliefde is die skaduwee van die drome
Swerwend met spinnerakbeloftes en skimme
Die geliefde is teenwoordig in alle drome en lugkastele
Die geliefde loer deur die vensters van blondines en in die harte van verwerptes
Die geliefde wat net wou speel in die nag van belofte is orals
Die geliefde wat verveeld geraak het vertrek na die volgende kontinent
Die geliefde wat 'n mot geword het verdwyn in die rook agter die vuur
Sonder 'n gewete
*
Die oumaOnida Cowan
My ouma is nie dood nie
sy lig haar vuiste teen haar dogter
wat heeshart desperasie skreeu skreeu die geur
van boomhars en bobbejaantoue
in die suburb van ontwykende soberheid
My ouma lig haar vuisies teen verveeldheid
in die optog van vroue
wat vryheid skreeu skreeu die geur
van vere en varings
in die Attakwas van vrouwees
My ouma is nie dood nie
nóg by Brandrivier nóg by Tokai
nóg by Gouna nóg by Witelsbos
nóg in die begraafplaas in Sedgefield
waar sy lê met swartgeteerde longe
My ouma is die spiraal wit wolk
van my allerlaaste dalk, net maybe sigaret
my ouma is teenwoordig by elke uitbarsting van leef
sy loer onbeskaamd deur die vensters en harte van
almal wat my teëkom
die ouma wat net wou speel in die bos is hier
die ouma wat vrou geword het trek deur my are
die ouma wat tasbaar geword het is my asem
met my naam
*
Jou kind
Riana Wiechers
Jou kind word nie groot nie
Jou kind lig dun hande teen die skyn van jou aanwesigheid
Wat haar kindername fluister wat jou reuke sing
Van siekte en liefde
In die magteloosheid van jou sterwende hart
Jou kind vou haar hande teen jou tere aanslae
En die wegbleik van jou herinnering
Wat jou nederlaag skreeu skreeu die leemte
Van onvoorwaardelike liefde
In die handel en wandel van haar ontouerde trots
Maar jou kind word nie groot nie
Nóg in Hofstraat nóg in Vredehoek
Nóg in 'n beige huis in Durbanville
Nóg onder haar suster se wit beddegoed
Waar sy lê met 'n boek teen haar smart
Jou kind is jou lyf se skynherrysing
Op wag met 'n glimlag wat sê dis ok
Jou kind is teenwoordig by begrafnisse en familiebyeenkomste
Jou kind luister uit vir die noem van jou naam en jou woorde in vlymskerp
oomblikke
Jou kind wat net jou naam wil kan sê sonder snak of trane is verdoof
Jou kind wat al kleiner raak bly terugplof deur haarself in wyn
Jou kind wat steeds nikser word bly op een plek verdwyn en verskyn
Sonder 'n ma
*
Die oom wat doodgesteek is deur sy werkers by Nietverdiend
Thys de Beer
Die oom is nie dood nie
Die oom laat sak sy kop in skaamte voor sy gemeente
Wat selfbeskikking skreeu skreeu
die geur
Van identiteit en kameeldorings
In die oranias van die aparte volk
Die oom sak sy kop voor sy vadere
In die veldslae van die generasies
Wat selfbeskikking skreeu skreeu
die geur
Van braaivleis, sunny skies en chevrolet
In die skoolsale van sy ras-egte trots
Die oom is nie dood nie
Nóg by Ventersdorp nóg by Zeerust
Nóg by Tshwane nóg by Makopane
Nóg in sy voorkamer op Nietverdiend
Waar hy lê met 'n dolk in sy rug
Die oom is die skaduwee van sy voorvaders
Op wag met mausers en bakkies met bullbars
Die oom is teenwoordig by alle vergaderings van die WVK
Die oom loer deur die vensters van HOP-huisies en in die harte van sy plaasarbeiders
Die oom wat net wou god speel in die son van Nietverdiend is orals
Die oom wat 'n mens geword het trek deur die ganse Afrikanerdom
Die oom wat kêns geword het reis deur die vlaktes
Sonder 'n plaas
*
Die Amerikaner
Yolande Botha
Die Amerikaner is nie dom nie
Die Amerikaner projekteer sy stem oor televisies
Wat asseblief tog smeek
smeek die smaak
Van nederigheid en stilte
In die sitkamers van die dowwe gees
Die Amerikaner projekteer sy stem oor mikrofone
In die gange van die Verenigde Nasies
Wat asseblief tog smeek smeek
die smaak
Van barmhartigheid en vrede
In die kampe van sy gepleisterde moed
Die Amerikaner is nie dom nie
Nóg by Washington nóg by New York
Nóg by Irak nóg by Afganistan
Nóg by die ateljees in Hollywood
Waar hy wag met sy opinie op sy tong
Die Amerikaner is die heerser van die wêreld
Gereed met bomme, komitees en filmsterre
Die Amerikaner is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
Die Amerikaner sluip deur die deure van skole en in die kinders se koppe
Die Amerikaner wat net kalkoen wou eet om dankie te sê neem oor
Die Amerikaner wat 'n leier geword het infiltreer deur die grense
Die Amerikaner wat 'n probleem geword het stap vrylik rond
Sonder 'n kop
*
Die kind wat beswyk het aan 'n vol lewe
Karen Eloff
Die kind is nie dood nie
Die kind lig haar vuiste teen haar moeder
die polsende ritme wat geborgenheid skreeu - skreeu die bloedontstellende
kreet van fallustiese predators
sy smag na lekkasies in haar omsingelde spasie.
Die kind lig haar vuiste teen haar vader
in die optog van lang tande
wat kwylend sis skreeu die newels
van oorlewingsdrange en self-medikasie
in sy hand sy gewapende trots.
Die kind is nie dood nie
nog by die pubs op plase nog by die bikers se ralleighs
nog in die limo by my vir 'n lyn en tequila
nog by die klub in die ooste
waar sy lê met 'n skerwende hart
coke
in haar are
en
bloed op haar brein
Die kind is die skaduwee van verwagtings
wat wag op poesie en pille en parentetiese innuendo
die kind is teenwoordig by elke masturbasie flirtasie
die kind sluimer op tafels en stoele en in die hart van haar moeder
die kind wat net wou speel in die flitse van die ritme is orals
die kind wat vrou geword het in die vrugbare verbeelding
die kind wat móés koud word klop warm
*
Die kind vir nullers
Deborah Steinmair
Ingrid is nie dood nie
Hoe flonker haar woorde teen die donker
Ewig jonker die nadraai
van seerkry en seewier
teen die verhemelte van haar volgelinge
Ingrid lig haar vuiste teen haar vader
Abraham afkeurend en distant soos
al die paadjies van sy woorde
en die skerwe van die spieel
teen haar minnaars se gepantserde woorde
Ingrid se voetspoor draai
By Gordons- en Drieankerbaai
Soos die seevoël wat verhongerd dwaal
Verby die polisiestasie in Moulle Point
Loop haar spore na Robbeneiland
Sy die beskermikoon van verlorenes
Skrywers in sand en die hond wat op die strande draf
Ingrid is teenwoordig by Hertzogprysuitdelings en digbundels
Ingrid fluister deur baksteenhuise in die harte van moeders
Die vrou wat die siele van minnaars wou besit is oral
Die vrou wat ‘n kind gebly het trek deur die hart van Afrikaans
Immer jonk reis Ingrid Jonker akwaties ondermeers
Op elke tong
*
Die kind wat doodgesteek is deur 'n rower in Landsdowne
Erns Grundling
(vir Jordan Leigh Norton ... en al die ander)
Kaapstad. - Die kind is dood
die kind “met ‘n steekwond in die nek”
volgens Die Burger se hoofberig
sy was ses maande oud
ma, oupa en ouma kry berading
Die huiswerker lig haar vuiste teen die rower
die kind word vir oulaas gevoed
Purity, speeksel en trane drup
binnekort ook bloed
as lem en nek mekaar ontmoet
Die kind is dood
sê Niekie op rsg sê News24.com
sê SABC2-nuus sê bure verstom
sê die ondersoekbeampte sê die distriksgeneesheer
waar sy lê op ‘n bed “met ‘n steekwond in die nek”
Die kind is die skaduwee van ons apatie
ons wat skouerophalend die koerant toevou
die kind is teenwoordig by elke wiegie
die kind loer vir ons uit ‘n familie foto-album
die kind wat net wou speel in die arms van haar huiswerker
die kind wat ‘n hoofberig geword het sterf honderdduisend dode
die kind wat ‘n slagoffer geword het en graf toe is
sonder ‘n kans
LitNet: 10 Oktober 2005
Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
boontoe / to the top
|