Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Crossing Over

Joan Hambidge

Daar is tans twee plakkate in Kaapstad wat op die oog af niks met mekaar te make het nie: Belinda se Crossing Over en die produksie van Sofokles se Oedipus Tyrannos. Albei hierdie plakkate is enersyds ’n vertoning en andersyds ’n drama oor die onsienlike en die mens se behoefte om in die onsigbare in te gaan of die toekoms te voorspel.

Sofokles se drama is die primordiale verhaal van die vader, Laius, wat die orakel besoek, gewaarsku word dat sy seun, Oedipus hom gaan doodmaak en daarom stuur hy sy kind weg. Die skaapwagter maak egter nie die kind dood nie en gee hom vir die naburige land se koning. Oedipus keer terug (omdat hy hoor hy is ’n aangenome kind) en maak sy pa per ongeluk dood. Só gesien, word die orakel se voorspelling waar, maar die poging van Laius om sy lot te ontglip gebeur nie.

Belinda is op die oomblik ’n uiters gewilde medium. Een aand ry ek in my motor en op Kfm het sy ’n inbelprogram. Sy ‘sien’ mense se probleme. Vae antwoorde word gegee en mense gryp hierdie stukkies raad aan en jy kan hoor: Hierdie mens is so honger vir ’n bietjie uitkoms dat die orakel se wysheid aangegryp word. Waarskynlik gaan die vrou — wat glo ’n minnaar op pad het — more by die werk ‘iemand’ ontmoet. Dalk omdat sy haar onbewustelik oopstel? Haar ingesteldheid verander?

’n Vriendin, ’n sielkundige, nooi my saam. Haar ma is skepties, haar pa ’n belangstellende. Daar is geweldig baie studies oor hierdie onderwerp geskryf en jare lank al lees ek Colin Wilson se studies oor die ‘onbekende’. Al die debatte pro of anti is eweneens aan my bekend. Daar is iets soos heldersiendheid en self het ek dit al ervaar aan eie lyf toe ek jare gelede in ’n restaurant sit en ’n siener na my opstap en my van raad bedien in ’n uiters moeilike tyd in my lewe. Die vrou, Engelssprekend, was onbewus van my bestaan en kon my help om ’n regte besluit te neem.

Of ’n medium egter in ’n saal van die Baxter probleme kan oplos, dit wou ek eers sien. Ons sit bykans heelagter en toe sy begin, moet ons eers rustig raak en mediteer. Vraetyd kom. Ek steek my hand op en Belinda gaan my vraag beantwoord.

“Wie het my gisternag drie-uur gebel?” Sy sien ’n TV-skerm. Ek het nie ’n TV nie, laat ek weet. Sy sien ’n skerm. Dalk jou computer. Ja, daar is ’n laptop in my kombuis. Wie probeer kontak maak? Sy impliseer daar is iets in my huis. En dat ek later die antwoord sal kry ...

“Jy het haar onrustig gemaak,” merk my vriendin op.

Weer roep sy mense na die verhoog toe. ’n Skeptiese jong meisie, ’n oorpresteerder, word gewaarsku om sagter op haarself te wees. Twee ander mense vind ook antwoorde, ofskoon die vrou skepties bly ...

Dalk was die antwoorde te vaag.

Toe kom die klimaks van die aand. Twee vroue stap na vore. Die een se suster is dood in ’n ongeluk deur die toedoen van ’n dronkbestuurder. Die ander ly oor ’n familielid wat verkrag en lewend begrawe is.

Albei word gerusgestel dat die dooies tot rus gekom het. Moet hulle aangaan met hulle regstappe? Vir eersgenoemende laat sy weet ja. Vir laasgenoemde vertel sy (daar is klaarblyklik met die polisiedossier gepeuter) om dit eerder te laat. Sy erken ook dat wat sy sien, miskien die dun lyn van juridiese vervolging binnegaan, dus gaan sy nie iets sê oor die moordenaars nie. Die vrou skud haar kop. Tevrede.

Mense is in nood, is die indruk wat hierdie skeptikus die aand kry. ’n Bietjie inligting bring troos en verlossing. Inderdaad is Belinda ’n siener. Sy lees auras en sy voel mense se probleme aan. Sy is soos ’n telefoon tussen hier en die onsienlike, bely sy.

Maar wie het my gebel?

“Sy het nie jou vraag beantwoord nie,” sê ’n jong, intelligente seun aan my ná die vertoning. Hy wil my ontmoet, want ek ken sy pa. Hy vertel my dat hy baie boeke oor spoke lees en dat hy ook wou weet wie het my dan gebel. In die middel van die nag. Sy ma, soos ek, voel dat daar te veel vaaghede en veralgemenings was.

“Dink jy sy vermoed daar is ’n spook in my huis?”

Hy, soos ek, sal bly wonder oor daardie telefoon. Lui telefoon, lui.



Bibliografie:

Colin Wilson: Mysteries: An investigation into the occult, the paranormal and the supernatural. Granada, Londen. 1979.



16 Desember 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.