|
Is 'n saaklike debat met Dan Roodt moontlik?Pieter Duvenage
net links van die ewewig Is 'n saaklike debat met Dan Roodt moontlik? En nog meer: Is ons volwasse genoeg om saaklike debatte met mekaar in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse openbare sfeer te voer? Kan ons krities en argumentatief met mekaar omgaan, of kies ons die weg om mekaar te verkleineer, te demoniseer en te ostraseer? As iemand wat die afgelope ses jaar Dan Roodt se doen en late volg, en ook 'n paar keer met hom penne gekruis het, maak ek graag die onderstaande punte. Die maklike uitweg is natuurlik om jou rug op Dan te keer (om leë stoele voor hom te laat) of, erger, om hom te sensureer, maar ek verkies die weg van saaklike debat, selfs al maak hy dit nie altyd vir jou maklik nie. Ek kies die weg van so 'n debat met Dan Roodt omdat hy 'n veelkantige intellektueel is wat veral op drie maniere optree: as satirikus, as skrywer/denker en as politieke denker/aktivis - en wat dié drie betref het ek verskillende grade van waardering, maar ook kritiek. As retorikus en satirikus het Dan Roodt nie maklik sy gelyke in Afrikaans nie. 'n Mens kan byvoorbeeld bloot na die volgende lukrake vonds in die huidige debat wys: "Veral in die lig van die feit dat diegene wat tans agter kameraad Fischer en kameraad Stalin en al die anachronistiese has been-kamerade van die 'Ruwe Suid-Afrika' aanhardloop, destyds maar te gelukkig was om gat te kruip by die Nasionale Party en John Vorster se leë Oude Meester-bottels vir huisgode in hul sitkamers uit te stal ..." Die probleem met 'n retoriese meester of satirikus is egter dat die satire (wat interessant genoeg vanaf die Latynse satira stam en "mengelmoes" beteken) sy argumente onder 'n bepaalde styl verbloem. In hierdie opsig word argumente altyd op 'n uitlokkende, verrassende, provokatiewe (maar ook op 'n emosionele en kwetsende manier) aangebied. Daarom kry mens genaakbare en ongenaakbare satirici. Omdat Dan Roodt 'n redelik ongenaakbare satirikus is, wil ek voorstel dat mens eerder na die onderliggende argumente in sy satiriese styl kyk as om bloot die styl na hom terug te kaats. Op dié manier kan ons hopelik moddergooiery, persoonlike aanvalle en kwetsing op die agtergrond laat en moeisaam in die rigting van saaklike debattering beur. Ek wil dus pleit dat die debat met Dan Roodt voortgaan, met al die risiko's wat daaraan verbonde is. As ek een regulatiewe ideaal het (om filosofiese vaktaal te gebruik) is dit dat die beste argument uiteindelik sal seëvier. Die werk van Roodt die satirikus hou natuurlik sterk verband met sy werk as skrywer/denker (die tipe werk wat Duitsers met 'n Dichter vereenselwig). Dit is ook vir my persoonlik die mees aantreklike Roodt. Dit is die Roodt van Sonneskyn en Chevrolet (1980) wat die Broederbond/NP teen die ANC laat rugby speel in 'n surrealistiese en tragikomiese karnaval van wanhoop, maar ook dié Roodt wat 'n melancholiese, selfvertwyfelende en selfs weerlose Moltrein (2004) skryf. (Wat laasgenoemde betref is Jakes Gerwel se oordeel vir my meer sekuur as André P Brink s'n.) Dan Roodt is egter nie net 'n skrywer nie, maar ook 'n literêre kritikus met 'n sterk intellektueel-historiese bewussyn. Sy werk oor Afrikaans, landskap en identiteit en sy debatte met Gordimer, Krog en Brink vra om veel meer gesprekvoering en besinning as wat tot nou toe die geval was. Hopelik sal die gesprek met hom tydens die Woordfees ook op hierdie aspekte ingaan. Dan Roodt die politieke denker/aktivis is vir my die mindere figuur. Hoewel ek baie van sy vrese oor die voortbestaan van Afrikaans deel, loop ons paaie uiteen wanneer dit by politieke strategie en politieke denke kom. Wat politieke strategie rondom Afrikaans betref is Roodt vir my te impulsief en onbesonne in 'n konteks wat fyn voetwerk vereis. Meer ernstig is egter die politieke denke wat Roodt se verdediging van Afrikaans onderlê; hier loop ons paaie grondig uiteen. Ek stip bloot die belangrikste verskilpunte vir verdere debat aan: a) Dan Roodt se politieke denke pas redelik netjies in 'n nasionalistiese model. Al die essensialistiese en sentralistiese elemente van 'n gemeenskapsbegrip word hier uitgestal (selfs met 'n buiging in die rigting van die genetika). Ek is egter van mening dat indien ons Afrikaans in die huidige tydsgewrig wil verdedig, ons dit eerder binne 'n ander denkraamwerk moet doen. 'n Moontlike alternatief is die republikeins-federatiewe tradisie, waar daar na 'n balans tussen die geheel en sy dele, tussen die universele en die partikuliere (en tussen die meerderheid en die minderheid) gesoek word. Indien dié balans ontbreek, lei dit tot die eksesse van óf universalistiese voorskriftelikheid vanuit die geheel óf partikularistiese (fundamentalistiese) terugtrekking in die eie groep. Deur 'n balans op te soek kan dié eksesse hopelik vermy word. Meer tydgenootlik kan mens ook baie by die jongste debatte oor multikulturalisme (postmodernisme) en die verhouding tussen minderhede en meerderhede in normatiewe politieke teorie leer. Kortom: wat ek met 'n ander raamwerk bedoel, kom redelik naby aan die differensiasie wat Johann Rossouw maak tussen nasionaliste, Nuwe Afrikaners en selfopheffers in sy debat met Anton van Niekerk oor die interpretasie van Marlene van Niekerk se Agaat. b) Dit is 'n markante spanning in Roodt se politieke denke dat hy binne die nasionalistiese denkraamwerk die gedagte van die outonome of die liberale individu steun wat die wêreld bewussynsfilosofies (om weer filosofiese vaktaal te gebruik) na sy of haar rasionele willekeur orden. Ek dink nie dat Afrikaans op so 'n manier deur die aristokratiese intellektueel verdedig kan word nie. Die alternatief is eerder om op 'n intersubjektiewe manier die komplekse aard van ons menslike ooreenkomste en verskille te oorweeg. Ná die drie groot meesters van agterdog (Marx, Nietzsche, Freud) kan ons gewoon nie meer aan die absolute outonomie van die individu glo nie. c) Dan Roodt het verder 'n erg verskraalde en onkritiese siening van die Westerse wetenskap. Dan se verdediging van kille statistiek in sy opstel "Adapt and Die" en sy ophemeling van die "genetiese wending" in 'n ander opstel, dui daarop dat hy die werklikheid op 'n bloot kwantitatief-biologiese en natuurwetenskaplike wyse sien. Die linguistiese wending van die 20ste eeu hou egter 'n veel meer genuanseerde opvatting van wetenskap as die genetiese wending in. (Dit is ook 'n veel ryker tradisie om die kwessie van taal te verdedig.) Soos Habermas in sy belangwekkende werk Kennis en Belange (1968) wys, kan ons die wetenskap nie net op 'n tegnies-wetenskaplike wyse verstaan nie, maar moet ons dit ook prakties-hermeneuties en emansipatories verstaan. Heel tereg het hy (Habermas) onlangs opgemerk dat die huidige gefladder rondom breinnavorsing (wat met die genetiese wending verband hou) ons eintlik net weer na die 19de eeu terug verplaas - voor Dilthey se onderskeid tussen verklaring en verstaan. d) Ek beskou Dan Roodt se opvatting van die geskiedenis in sy polemiese opstel Om die Waarheidskommissie te Vergeet (2001) as heeltemal onvoldoende. My beswaar (wat breedvoerig as resensie op 23 April 2001 in Beeld verskyn het) kom op die volgende neer: 'n mens kan nie bloot die geskiedenis ontken nie, selfs indien die geskiedenis 'n ongemaklike skaduwee op jou gemeenskap werp, maar moet eerder krities-refleksief daarop reageer.
Ek het 'n lang pad in dié bydrae geloop om te sê dat die tyd vir saaklike debat tussen ons (hopelik) nog nie verby is nie. In die proses word ons almal uitgedaag om moeite te doen met ons betrokke gespreksgenoot: probeer verstaan waar hy of sy vandaan kom en wees op 'n saaklike manier krities. As ons nie aan dié goue stelreël kan voldoen nie, dryf ons almal (goed en sleg) oor die afgrond.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |