|
Hoe lank is 'n stuk tou?Christo Viljoenis emeritus professor van Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy ook die poste van Dekaan Ingenieurswese, Viserektor (Bedryf), en Direkteur van die Kantoor vir Intellektuele Eiendom beklee het. Hy is 'n vorige voorsitter van die SAUK-Raad. Soos Voltaire sou ek ook, na aanleiding van die Dan Roodt vryheid-van-spraak-debat (opvallend aangevoor deur dieselfde indiwidue wat onlangs die ongelukkige Bram Fischer-debat op die Matiekampus gepresipiteer het), kan sê: "Ek stem nie saam met dit wat jy te sê het nie, maar ek sal tot my dood toe jou reg om dit te mag verkondig, verdedig." Nog 'n aanhaling oor die onderwerp van spraakvryheid is nie onvanpas nie. Dit is Søren Kierkegaard wat gesê het: "Mense eis vryheid van spraak as kompensasie vir die vryheid van denke, iets wat hulle selde beoefen." Die onderhawige debat, gegee die personalia en die plek, gaan egter nie net oor die vryheid van spraak nie; dit hang ook ten nouste saam met die vraag: Wat is 'n universiteit? Want diegene wat die Matiekampus in 'n kwarantynvrye gebied wil omskep, is skynbaar van mening dat Roodt elders sy sê kan gaan sê, net nie op "ons" kampus nie - 'n selektiewe sensuurmuur gebou rondom die kampus. In 1916, aan die vooraand van die omskepping van die destydse Victoria Kollege in die Universiteit van Stellenbosch, het prof SJ Shand die wese van 'n universiteit bespreek in 'n artikel in die Students Quarterly (Junie 1916) getiteld "The making of a university." Hierin maak hy oa die stelling: 'n Universiteit is nie 'n lesingsaal nie, of 'n biblioteek, of 'n laboratorium nie; dit is nie 'n gebou of selfs 'n plek nie; die essensie daarvan is 'n denkraamwerk … Dit is 'n versameling studente wat die strewe na kennis besit -strewe om dit te bekom en, belangriker nog, die strewe om dit te bevorder. In hierdie strewe staan debatvoering sentraal: 'n rasionele, wetenskaplike beoordeling van alle feite wat op die tafel geplaas word - ook dié dogmas en teorieë wat lynreg indruis teen jou eie (aanvanklike en dikwels veranderlike) oortuigings en standpunte. Om beperkings daarop te plaas om dit aan te hoor, sou beteken dat die kampus vergelyk kan word met ‘n bek-en-klouseer-vrye enklawe waarvolgens sekere "ongewensdes" onder kwarantyn geplaas word. En dít is geen universiteit nie. Die tweede aspek gaan oor die vraag: Is daar perke aan spraakvryheid? Dit is 'n debat wat dekades lank in die VSA woed na aanleiding van die Amerikaanse grondwet wat enersyds bepaal: "Congress shall make no law ... abridging the freedom of the press", en andersyds die eerste amendement wat eksplisiet voorskryf: "Congress shall make no law … abridging the freedom of speech, or of the press …" Impliseer dit dat daar geen wetlike limiete op spraakvryheid in die VSA geplaas kan word nie? Want in sy mees basiese vertolking sou Amerikaanse wette wat haatspraak, rassistiese uitsprake, pornografie, lasterlike uitlatings, ens verbied, lynreg indruis teen die eerste amendement - iets wat kennelik nie in die agterkoppe van die destydse grondwetskrywers was nie. Amerikaners stem egter saam: sangers wat liedjies met aanstootlike lirieke sing, of kunstenaars wat eksplisiete seks op skilderye uitbeeld, of openbare laster pleeg (selfs onder die dekmantel van parodie of satire), moet verbied word. Hulle druk dit só uit: Some materials are just too "extreme" - too obscene, too offensive, too distasteful, too racist, too homophobic, too sexist, too at variance with "community standards" - to be allowed to exist, even if such materials are viewed or read exclusively by people not offended by them. Ook die SA Grondwet bepaal in artikel 16 wat hierdie regte is onder die opskrif "Vryheid van uitdrukking": 16. (1) Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is - In wese impliseer dit: ja, daar is 'n grens aan vryheid van spraak. Die vraag is: Waar lê daardie grens, en hoe kan dit vasgestel word? As vryheid van spraak dan nie grensloos en heeltemal "vry" is nie, hoe vry is dit? Ek sou die antwoord hierop kon gee as jy vir my kan sê hoe lank 'n stuk tou is. Wetenskaplike maatstawwe om die limiete van spraakvryheid vas te lê bestaan nie. Dit is grootliks 'n kwessie van persoonlike smaak en oortuiging: my spraakvryheidsvegter is iemand anders se spraakterroris (om 'n analogie van die onlangse verlede te gebruik). Vir sommiges is Roodt 'n taalvryheidsvegter; vir ander is hy dit kennelik nie. Uiteindelik sou dit 'n hofuitspraak vereis om te bepaal of iemand hom skuldig gemaak het aan "16(2)(c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak uitmaak." (Let op die "en" kwalifiserende voorwaarde in die laaste sin.) Dit is nie my plek of dié van die universiteitsowerhede of die selfaangestelde spraaksensors om a priori hieroor uitspraak te lewer nie. Vryheid van spraak is 'n (beperkte) indiwiduele reg, nie 'n voorreg nie: dit behoort aan almal van ons. Net so behoort die reg van keuse aan sowel die "produsente" as die "verbruikers" van spraak. Dit is Warren E Burger wat die wysheid kwytgeraak het dat vryheid van spraak ook die vryheid om te luister impliseer. Ek het die reg om te kies wat ek lees, waarna ek luister, en waarna ek kyk. Ek het ook die reg om nie te lees, nie te luister, en nie te kyk nie. Niemand het die reg om ongevraagde spraak op 'n ander af te dwing nie. Maar net so het ek nie die reg om 'n ander te verhoed om sy reg van spraakvryheid uit te oefen nie - nie deur hom dood te skreeu wanneer hy optree nie, en nie deur hom te verbied om op 'n bepaalde plek sy sê te sê nie, so lank as wat hy dit binne die bepalings van die wet doen. Wat ons voor ons het, is twee belangrike waardes wat in konflik met mekaar verkeer: vryheid van spraak aan die een kant, en die begeerte om net dit te hoor wat volgens die hoorder se oordeel kousjer is aan die ander kant. Jy kan nie albei tegelyk hê nie.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |