|
Jonk, swart? en Afrikaans: Hoelykkit?Jason LloydEerstens wil ek graag die organiseerders van dié geleentheid bedank vir die voorreg om vandag aan hierdie gesprek te mag deelneem. Hoelykkit met Afrikaans onder jong swart Afrikaanse mense? Of miskien onder jong swart Afrikaanse skrywers? Wel, as ‘n mens wyer as die letterkunde self kyk, is daar een of twee jong swart, of dan bruin, Afrikaanse joernaliste wat die afgelope tyd nogal hul stemme in rubrieke of meningstukke in Afrikaanse koerante laat hoor het. Hulle laat hoor hulle stemme op ‘n manier en sê dinge wat – soos Adam Small dit gestel het – “ten hemele roep om gesê te word”. En teleurstellend: daar stop dit. Van ‘n Sello Duiker of ‘n Jackie Nagtegaal in die Swart Afrikaanse letterkunde is daar geen teken nie. Nou die hoekoms en waaroms. So, hoelykkit? Die geskiedenis vertel ons ‘n hartseer prentjie van wat aan ’t gebeur is binne die Swart Afrikaanse letterkunde. Daar is hoegenaamd geen jong swart Afrikaanse skrywer op die horison sigbaar nie. Indien wel, help my reg. Selfs onder die ouer swart Afrikaanse skrywers het daar ‘n insinking die afgelope klompie jare plaasgevind. So, as die ouer garde nie skryf nie, hoekom sal jong mense dan? Die veranderende Suid-Afrikaanse samelewing na 1994 het baie hiermee te doen. Die kwaito- en tegnologiese rewolusie het veral die swart Afrikaanse jeug op ‘n nuwe reis geneem. ‘n Reis waarin Afrikaans bloot as ‘n kommunikasiemiddel saamgesleep word – sonder enige betekenis. Hulle voel vere vir Afrikaans. Om dit te vermeng met Engels, pla nie hul ouers nie. So, who cares? Dit is bloot ‘n kommunikasiemiddel. Niks meer nie. Vra die swart Afrikaanse jeug oor die taalherrie op Stellenbosch. Hulle weet nie daarvan nie, of wil niks met dit te doen hê nie. Dit skrik hulle as ’t ware af. Glo my, dit skrik my ook af, want al wat ‘n Afrikaanse koerant is, is vervuil daarmee. Die Afrikaner se ongesonde beheptheid met Afrikaans het die taal gekwes. Dit sukkel om van die wond te genees. Genesing is nie insig nie. Die dood wel. Dus, waar lê die probleem? Baie Swart Afrikaanse skryfwerk het al verskyn sedert ‘n Afrikaner-geleerde* in 1925 oor Griekwa-Afrikaans soos volg opgemerk het: “Hul taal is ongetwyfeld die laagste vorm wat Afrikaans bereik het.” Maar nou, 20 jaar sedert die eerste Swart Afrikaanse Skrywersimposium hier gehou is, en amper tien jaar na die stigting van die Afrikaanse Skrywersvereniging, word daar steeds gevra: “Waar is die jong (nuwe) generasie swart Afrikaanse skrywers?” Willem Fransman antwoord en sê daar is “’n hek voor die uitgewery”. Hy sê die hek is vir almal daar, maar snaaks genoeg, dit swaai stadig oop vir die swart Afrikaanse skrywer. Ek vermoed hy verwys na die Afrikaner-uitgewery. Dit bring my dan by die punt om te vra of die verhouding of integrasie tussen wit en swart in die Afrikaanse letterkunde suksesvol was. Of is die – soos Steve Biko dit in 1970 in ‘n ander konteks gestel het – “integration they talked about first of all artificial”? Waarom is hierdie verhouding kunsmatig? Is dit miskien ’n geval van, soos Biko dit gestel het: “as a result the integration achieved is a one-way course, with the whites doing al the talking and the blacks the listening”? Is dit miskien ook die rede hoekom swart Afrikaanse skryfwerk nog steeds as ‘n aparte been binne die oorwegend wit Afrikaanse letterkunde bestaan? En omdat ons hier ‘n tipiese Tony Leon-Marthinus van Schalkwyk-alliansie het, dink ek die tyd vir swart Afrikaanse skryfwerk (of liewer kortbroek swart Afrikaanse skryfwerk) het aangebreek om te waai, om ‘n langbroek te word. ‘n Langbroek wat aangetrek kan word deur ‘n vis wat hom of haar in ‘n groter see kan bevind. Groter as die wit Afrikaanse letterkunde. Liewers dit as om ‘n groot vis te wees binne die klein wit see van die Afrikaanse letterkunde. Dit gaan as ’t ware Swart Afrikaanse skryfwerk beperk tot diegene wat glo in ‘n eksklusiewe Standaardafrikaans-Stellenbosch. Omdat daar onlangs ook kommer uitgespreek is oor die posisie van swart skrywers in Suid-Afrika, kan die gedeelde insinking in beide swart skryfwerk en swart Afrikaanse skryfwerk gebruik word om ‘n alliansie te vorm om nuwe lewe te blaas in gekleurde letterkunde. Veral vanweë die feit dat daar algemeen aanvaar word dat bestaande wit hoofstroom-uitgewerye nog nie gereed is vir die stories van gekleurde skrywers nie. Of hulle ooit gereed sal wees, weet niemand nie. ‘n Nuwe uitgewery kan so gebore word wat kan help bou om die droom van gekleurde skrywers om net bloot as Suid-Afrikaanse skrywers bekend te staan, te realiseer. Dit sal ‘n uitgewery wees wat reg aan Afrikaans, in al sy verskillende dialekte, kan laat geskied. So ook aan al die inheemse tale van ons land. Dit klink miskien na wensdenkery, maar swart Afrikaanse skrywers en swart skrywers het mekaar nodig om weer nuwe lewe in die boek en die jeug te blaas – om ook ‘n nuwe leeskultuur aan te wakker. ‘n Nuwe inklusiewe Suid-Afrikaanse letterkunde binne die konteks van nierassigheid en veeltaligheid kan hierdeur gebore word. Die verstarde politieke filosofie van die Afrikaner-uitgewerye kan dan agtergelaat word. Die toekoms van Afrikaans kan sodoende op ‘n onselfsugtige manier saam met ander inheemse tale verseker word. Dit is beter as om die taal op Stellenbosch in te hok waar dit saam met die ideologiese bagasie van die instelling aan die doodgaan is. Miskien sal ons dan die eerste tekens van nuwe swart Afrikaanse skrywers op die horison sien. Ook sal dit miskien daartoe bydra dat die hekwagters van die wit Afrikaanse kanon sal verseker dat meer gekleurde Afrikaanse skrywers hulle hekke binnegaan. Dit sal ook Naspers se monopolie oor Afrikaans kortknip en die mark vir swart Afrikaanssprekendes op beide die literêre en mediavelde ontsluit. Ja, eers dan sal ‘n mens kan vra: Hoelykkit met Jong Swart Afrikaanse Skryfwerk? Dankie dat u na my geluister het …
Toespraak gelewer tydens die Derde Swart Afrikaanse Skrywersimposium op 20, 21 en 22 Oktober 2005 by die Universiteit van Wes-Kaapland, Kaapstad.*GR von Wielligh in die studie Onse Geselstaal (1925)
LitNet: 22 November 2005
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |