|
Het hierdie soort beginsels ouderwets geraak?Dorothea van Zylis die Woordfeesdirekteur en 'n akademikus aan die Universiteit Stellenbosch.Onlangs is die Woordfees versoek om 'n uitnodiging aan 'n skrywer terug te trek - nadat hy sy deelname reeds bevestig het, die feesprogram reeds gefinaliseer, gedruk en versprei is, tien dae nadat die kaartjieskantoor geopen het. Die hoofrede was dat die betrokke skrywer, Dan Roodt, veral in 'n onlangse stuk, "Adapt and die", hom skuldig sou gemaak het aan haatspraak. Die Woordfees en Universiteit van Stellenbosch moes hulle dus van hom dissosieer. Hierdie versoek, saam met 'n verskeidenheid aksies om dit te probeer afdwing, het die Woordfees voor 'n dilemma geplaas, omdat dit kernbeginsels in gedrang bring, soos: Dit is alles baie belangrike kwessies - myns insiens te belangrik dat 'n debat daaroor op 'n eng manier ontaard in standpunte vir of teen Roodt as persoon: speel die bal, nie die man nie. Dit beteken nie dat die Woordfees, of ek self, ons op enige wyse assosieer met rassistiese stereotiperinge in Roodt se "Adapt and die" of met enige van sy ander uitsprake nie. Hierdie onderwerp word ook deur sprekers soos Etienne Britz en Hermann Giliomee bespreek in "Waar trek jy die streep? Vryheid van spraak vs haatspraak" op Saterdag 12 Maart. Dit is werklik jammer dat die beswaarmakers die uitnodiging afgewys het om aan hierdie bespreking deel te neem. Antwoorde op enkele vrae word vervolgens gegee voordat ingegaan word op die Woordfees se standpunte oor die genoemde beginsels: Waarom is Roodt na Woordfees 2005 uitgenooi? 1. In aansluiting by vanjaar se fokus op die Tagtigerjare, omdat hy in daardie periode as outeur 'n belangrike rol gespeel het. Deurdat hy onder andere misstande aan die kaak gestel het met betrekking tot die vorige regering, is sy eerste roman, Sonneskyn & Chevrolet, selfs verbied (dit is ook as te grensoorskrydend ervaar op seksuele gebied). 2. Omdat hy onlangs 'n nuwe roman gepubliseer het wat baie goed ontvang is deur resensente, ook deur diegene wat hulle van sy ander standpunte distansieer. Hoe figureer Roodt in die Woordfeesprogram? Hy speel 'n redelik ondergeskikte rol by die Woordfees: 1. As een van meer as 180 Woordfeesdeelnemers vorm Roodt deel van 'n paneel van vyf wat oor die rigtinggewende rol van die uitdagende "little magazines" in die tagtigerjare praat en oor hul bydrae tot 'n verandering van 'n geslote na 'n (hopelik) meer oop maatskappy. 2. 'n Kort onderhoud word op Saterdag 12 Maart om 13:00 met Roodt gevoer in Protea Boekhuis. Dit handel oor sy ontwikkeling as skrywer van sy eerste tot en met sy jongste roman, veral omdat hy bekend staan as 'n persoon wat oënskynlik 'n radikale verandering in sienswyse ondergaan het. Die Woordfees se opvattinge oor die genoemde beginsels: 1. Die besware teen Roodt se deelname het skielik 'n nuwe situasie geskep: skrywers het hulle in die verlede soms om een of ander rede aan die fees onttrek; nou word van 'n (literêre) fees verwag om hom van 'n skrywer te onttrek. Daarteenoor het die Woordfees nog altyd skrywers se belange juis voorop gestel en beskerm - veral binne 'n samelewing waarin hulle meermale nie juis 'n prominente posisie gegun word nie. 2. Die Woordfees word aangebied by die Universiteit van Stellenbosch. Tot dusver is die fees, met enkele klein uitsonderinge, as onafhanklik en outonoom beskou. Dit pas daarby in dat universiteite tradisioneel liberale instellings is. Ruimte word aan alle stemme gegun, selfs al wyk hulle af van die norm. As selfs universiteite nie meer ruimte laat vir vrye meningswisseling nie, wie en waar dan wel? Daar is na ons mening ook geen sprake dat uitsprake deur individue op 'n universiteitskampus beteken dat die universiteit hom op enige wyse daarmee vereenselwig nie. 3. Vryheid van meningsuiting en so min sensuur moontlik was nog altyd die hoeksteen waarop die Woordfees gebou is. Om dit te laat vaar, tas die fees se integriteit aan. Dan kan die hele Woordfees net so wel agterweë bly. En waar trek jy die streep indien jy teen skrywers begin diskrimineer op grond van hulle uitsprake? Skrywers is nie mak troeteldiere nie - dissidensie word tradisioneel as hulle reg beskou. Daarom sien sommige hulle selfs as 'n noodsaaklike purgasiemiddel wat kan lei tot 'n skoner sisteem, al is die proses nie altyd welriekend nie! Daarby: Wie moet sensuur toepas oor skrywers se uitsprake? In 'n land waar daar redelike regsmeganismes in plek is, is 'n hof die aangewese plek daarvoor - nie selfaangestelde boendoehowe nie. Die beginsels wat hier genoem is, kan almal goed gemotiveer word. Hulle berus op 'n jarelange studie van en liefde vir die letterkunde. In die lig hiervan kon die Woordfees slegs die volgende besluit: Die versoek om deelname aan Dan Roodt te weier, word van die hand gewys.
Maar ons hoor graag of ander mense dieselfde dink. Het hierdie soort beginsels ouderwets geraak? Geld ander norme tans?
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |