SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Kinders van die Internet: wêreldburgers?

Clinton V du Plessis

Die Burger-lesingreeks, KKNK, April 2002


Van Verwoerd tot Gates — hierdie land (en wêreld) is my woning nie

Every generation blames the one before,
And all of their frustrations come beating on your door.
       — “The living years”, Mike and the Mechanics.

Well we sure picked the spot, I’m thinking. One great place for a kid to ride out the western wave. I mean back then we could have gone anywhere. Okay so Australia’s also a cultural backwater but it would have done. And even though I heard you’ve got to have a blanket for your car’s engine in the winter otherwise it won’t start, I’m sure I would have got used to the cold in Canada. America, now that would have been nice, the land gave birth to rock ’n roll and all that. So where did we end up? South Africa. Shit. Nice one grandad.
       — Robin Auld, Zambies-gebore sanger van die eertydse pop-groep Z-Astaire, in sy debuutroman, getiteld Tight Lines.

In ’n onlangse artikel in Rapport onder die opskrif: “Jy kán Afrikaner én wêreldburger wees” skryf Johann Rossouw:

Met ander woorde: wêreldburgerskap begin allereers binne jou eie politieke konteks.

Ook verder:

Dié aanwending van wêreldburgerskap kan verklaar word deur die feit dat heelwat jong Afrikaners nog vars herinnerings het aan hoe hulle hul individualiteit ter wille van die groter groepsbelang in die apartheidsbedeling van die jare tagtig ontneem is. Jy kon slegs iemand wees deur dit as lid van ’n groep te wees. Hiervan wil hulle wegkom.

Voordat ek dus enige aannames kán of wíl maak oor die vraag of Kinders van die Internet inderdaad wêreldburgers is, moet ek in gesprek tree met twee vorige Suid-Afrikaanse generasies vir wie die konsep van wêreldburgerskap, uit die aard van die politieke konteks waarbinne hulle bestaan het, sekerlik nie aangestaan het nie. Ook dan om vir myself staanplek binne hierdie politieke konteks te kry.

Ek verwys na dié twee generasies as: (1) die Kinders van die Republiek (of dan van Verwoerd) en (2) die Kinders van die Revolusie (of dan van Mandela); en kom dan uiteindelik uit by (3) die Kinders van die Internet (of dan van Gates).


1. Die Kinders van die Republiek (of dan van Verwoerd)


Yesterday, all my troubles seemed so far away,
now it looks as though they’re here to stay,
Oh, I believe in yesterday.
       — “Yesterday”, The Beatles

Vir hierdie generasie was die drie belangrikste dinge in die lewe: die Volk, die Land en die Kerk (in hierdie volgorde). Uit volle bors en met absolute oorgawe kon hulle sing: “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika.”

En lewe het hulle gelewe — die goeie lewe. Die era van oorvloed … toe die rand spiere kon bult vir die dollar en pond, die tydperk van die bekende clichés: braaivleis, rugby, sunny skies en Chevrolet. Bevoorregting — elke kaffer snags lokasiever weg, maar bedags gerieflik tuin- en kombuisnaby. Soos die advertensie vir die sanitêre doekies lees: “Out of sight, out of mind.”

Ja, die lewe was goed — maar bygesê, sterwe het hulle ook gesterwe. Bloedig aan die hand van Tsafendas, of myle ver barbaars onder die ongenaakbare Afrika-son, iewers op die grens van Suidwes; maar nooit, nee nooit in Angola nie.

Die prys was hoog om te betaal. Wat het geword van al die seuns van Tannie Esmé op Springbok-radio? Al die troepies, al die “vasbyt-min-dae-baie-hare-kinders” wat uit ’n knus voorstedelike bestaan gepluk en in die voorste linies ingestoot is, Bybels-gesanksioneer deur die kapelaan, met die bevel: “Skiet die kaffer, skiet die Kommunis.”

Is dit nét Chris Louw wat bebliksemd en Boetmanbedonnerd oor is om aan te dring op antwoorde? Het iemand al ooit vir dié generasie gesê: “Ons is jammer dat ons julle so gruwelik mislei het”? Of, erger nog, besef dié generasie ooit dát hulle mislei is? Waar is die res van die slagoffers wat nie so woordwelleerd soos Louw is nie? Of is hulle dié wat hulle frustrasies op ’n ander gewelddadiger manier uitleef? Dié wat hul jeugdige kinders se koppe met byle oopkloof, die lyke met petrol besprinkel en saam met hul moeder se liggaam in vlamme laat opgaan? Of hul dertienjarige dogter saam met die huishulp verkrag en daarna doodskiet? Of hul bejaarde ouers, tesame met die gesinshond, die ewigheid in haelgeweer?

Die ander groep, hulle wat dit kon bekostig, vir hulle is die “chicken run” beskore, die sorgvrye “Castle Lager-advertensie-bestaan” iewers ver weg van hier.

Maar waar hulle ook al sit, daar sal hulle nooit wortelskiet nie; hulle bly net passasiers in transito — in die woorde van Koos du Plessis: “… op reis van perron na perron, en ’n ewigheid ver van die son.”

In ’n artikel in Beeld, waarin ’n paar uitgeweke Suid-Afrikaners hul standpunt in die “bly-of-gly-debat” stel, skryf ’n ander Louw, ene Liesl Louw, joernalis wat ’n tyd in Frankryk gewoon het en haar tans in Senegal bevind, as volg:


Dit is wanneer ’n mens ’n ompad om die bidders loop dat ’n soort angs soos ’n hand om jou hart toeknyp: Wat maak ek hier? In dié volksvreemde plek? Hoe ver het ek nie gekom van ds Johan Symington se Bybelstudie-aande in Pretoria nie?

Verder:

Wie is ons en wat maak ons hier? Waarom moet ons so sukkel met kragonderbrekings, slegte paaie en massas ongeletterde mense as ons in ’n boomryke voorstad in Suid-Afrika kon bly?

Baie het uiteindelik die maklike keuse gemaak. Soos sy dit stel:

... moet jy by die ANC aansluit en gaan marsjeer en dalk tronk toe gaan om te wys jy is teen apartheid? Of sal jy maar jou ouers en die dominee gehoorsaam, want dis tog nie regtig in jou hande om sulke politieke kwessies op te los nie — en om jou studie te voltooi en ’n goeie werk te kry, is tog belangriker?

Laasgenoemde opsie het hulle in staat gestel om iewers anders te gaan nesskop — die hart nog hier, maar die breinkrag elders.

Al wat ek uit dié era kan onthou, is dat die Kinders van die Republiek uitsluitlik (of dan hoofsaaklik) wit was. Ek onthou John Vorster se kenmerkende Afrikaanse aksent in sy uitdagende Engelse toesprake (en ek steun nou grootliks op my geheue):

People say that I’m a warmonger and that I want war. Ladies and gentleman, I don’t want war. I have gone out of my way like no man has gone out of his way before to seek peace. Because ladies and gentleman, if I fail, I have to ultimately look my sons in the eye, and I have to look your sons in the eye, and I would have to tell them, I have done my level best, so help me God.

Talk is cheap, sou ons almal later uitvind, and politicians get a discount!

Toe reeds was ek ’n volslae vreemdeling in hierdie land — het ek min gemeen gehad met hulle, geen gedeelde patriotisme nie. Meer nog, selfs al wou ek, kon ek nie, mag ek nie deel van hierdie Republiek gewees het nie.

Op Republiekdag het ons halfdag skool gehad, die volkslied gesing, uit Sangiro voorgelees en in ruil vir ons “lojaliteit” is ons beloon (deesdae noem ons dit bemagtig) met toffielekkers, coke en ’n roomys. Dit was ’n klein prys om te betaal. Al wat ek wel met hulle gedeel het, was ’n taal en net af en toe ’n behaaglike gevoel van toonkrullekkerkry, soos in, was dit 1974? — toe Gerrie Germishuys in die doodsnikke die hoekvlag platgeduik het. Those were the days, my friends, those were the days.


2. Kinders van die Revolusie (of dan van Mandela)

Hoekom blaf die honne by die hekke van paradise?
       — David Kramer

Vir hierdie generasie weer was die drie belangrikste dinge in die lewe die Grond, Bevryding en die Party. Hulle hoef, anders as die voorafvermelde generasie, nie hul studies te voltooi om ’n goeie werk te kry nie — of altans, so het hulle geglo: “By the blood of the struggle, we would be set free.”

Net enkeles van hulle het die goeie lewe beërwe — vir nog ’n ander handvol is net die “pigeon run” beskore, met ander woorde die BMW-emigrasie vanuit die swart township die wit voorstad in. Dié wat oud genoeg is, of lank genoeg in exile was om ’n ordentlike opvoeding te kon bekom, maak ’n goeie bestaan, word bemagtig en word ’n buffer tussen die ander veles wat niks het nie

Dié veles sit net rond — wag vergeefs op ’n nuwe kaptein, soos in John F Kennedy se “A New Frontier”-toespraak oor: “Leadership — not salesmanship. And the only valid test of leadership is the ability to lead, and lead vigorously” — maar al wat hulle kry, is die drie blinde muise in die gedaante van Mbeki, Mantho en Mugabe! En almal wag op grond, maar weet nie J Paul Getty het sinies opgemerk: “The meek shall inherit the earth, but not the mineral rights” nie.

Intussen vind die ledige hand ’n verdwaalde pistool en kaap ’n motor, of ’n mes en sny nog twee oumense keelaf op ’n plaas.

Die Kinders van die Revolusie was uitsluitlik (of dan hoofsaaklik) swart. Ook met hulle het ek, moet ek eerlik erken, min gemeen. Ek het nooit ’n voet verroer om saam te marsjeer nie. Miskien is die tyd nou ryp om te erken dat baie van die bruin leerlinge van 1976 en later wat nou ewe kordaat op die strydwa klim, boggerol vir die struggle gedoen het. In 1976 was ek in standerd ses, en wat in die res van die swart (en miskien bruin skole) aangegaan het (en ek wil nie wild veralgemeen nie), het ten minste by ons skool verby gewaai.

Later, in die politieke smeltkroes in Cradock, het ons een middag per toeval aan die verkeerde kant onder die township se traanrook ingeloop. Dus ’n soort tweedehandse belewenis van die struggle. Verder het ons tydens klasboikotte rondgesit of sokker gespeel. Die stryd is gevoer deur die swart studente, manhaftig, petrolbom en klip in die hand teen die gepantserde strormtroepe. Ons het maar net vanaf ’n afstand gekyk en alles geglo wat die SAUK ons vertel het. Soos Jackson Browne kan ek nou erken:

And from the safety of a dreamer’s head
And the luxury of my own bed
I went on talking about the future
While other people fought and bled.

Hier het ek uit eie keuse fisiek afsydig bly staan — die saak was edel, maar die metodes soms walglik. Soos menige het ek, toe die geleentheid hom uiteindelik voordoen, eerder vir die lang maer man van die oomblik as vir die Party gestem.


3. Kinders van die Internet (of dan van Gates)


Imagine there’s no countries,
it isn’t hard to do
nothing to kill or die for.
       — “Imagine”, John Lennon

Die enigste eksistensiële krisis waarvoor dié generasie te staan kom is: Seks met of sonder ’n kondoom?

Probeer kuberseks is my oplossing!

Ek is definitief te oud om myself uit te gee as synde ’n kind van die Internet te wees — liewer dan deel van die Internet-generasie. Weer eens sit ek vasgevang tussen twee uiterstes.

Aan die een kant, by gebrek aan ’n meer oorkoepelende term, is die wit “Geraas-generasie” met, soos in die woorde van Marietjie Luyt en aangehaal in die Johann Rossouw-artikel waarna ek alreeds verwys het, ’n woordeskat wat slegs sentreer rondom vier woorde, naamlik: “cool”, “amazing”, “stunning” en “cute”. All dressed down and nowhere to run — The Void-Karen-Zoid-groupies — dié wat nie werk kan kry nie omdat hulle wit is; en omdat hulle nie werk kan kry nie, kan hulle nie die geld bymekaarskraap om uit te wyk oorsee toe nie. So hier sit hulle dan en trip uit:

Sy deel haar pad met die heroïenmonster
sy voel hoe sy asem in haar ore fluister
sy sien sy versteen
as die lewe wyk
as die lewe wyk
na die ewigheid
       Uit: Katriena, deur Zoid.

Aan die keersy van die munt is die swart “Kwaito-generasie”. Ook hier is die woordeskat beperk:
“okay”, “aish (?)”, “what’s happening”, en “what’s up”. Hulle het egter geen behoefte om die land te verlaat nie.

Beide die generasies lees nie veel nie. Hulle ankers en ikone lê hoofsaaklik in Amerika of elders. Almal wil ’n Big Brother, ’n Popstar of Idol wees.

Die wêreldkultuur is nie net alles wat uitspoel en oorspoel uit die Amerikaanse netwerke se televisiekanaalriole nie. Meer van ons eie stories in plaas van CNN, Ricky Lake en Jerry Springer. Osama bin Laden kon meer vir die ganse mensdom se kulturele bevryding vermag het deur Hollywood en CNN te vernietig in plaas van die World Trade Center!

Maar presies waar pas ek in die gesketste scenario in?

Ek vind my posisie word die beste beskryf in wat Antonia Steyn, in ’n LitNet-artikel oor ’n groep jonger skrywers, die “ankerlose drifting generation” noem. Die skerm van die rekenaar bring die afstand — jy hoef nie betrokke te raak nie, jou hande vol bloedspatsels te maak nie. Of miskien in ’n moderner idioom van die bekende Gone with the wind-aanhaling: “Frankly my dear, we don’t give a fuck.”

As iemand wat te sinies is om enige sentimentele gevoelens jeens hierdie land of sy simbole te koester, is dit maklik vir my om die konsep van wêreldburgerskap te omarm.

Vir my as skrywer hou die Internet die ideaal voor van dié land waarin daar geen grense, geen beperkinge en geen sensuur bestaan nie, maar die skyn bedrieg ook hier — dit is geen grenslose republiek met vrye toegang nie. Jy het geld nodig — die vryheid kom, soos alles, teen ’n prys. Die voordele van die Internet is dat dit jou help om ’n meer gesofistikeerde wêreldburger te kan wees. Om verby die Amerikaanse strooi te kyk, verby die enorme bandwydtes porno, en te kan delf in die misterie van die Oosterse gelowe, die filosofiese diepgang van die Franse debat, die dissidente menings van die Nederlandse skrywers, sonder om ’n voet uit jou studeerkamer hoef te versit.

Via die Internet het ons ’n nuwe generasie uitgewekenes geskep wat hier gesetel is, maar nie politieke of patriotiese wortels hier hoef te hê nie. Amper ’n apatiese wêreldbeskouing — byna soos die bruines, wie se apologetiese bestaan in hierdie land gekenmerk is deur die nou al bekende houding van “ons-het-saam-met-die-baas-gekom”, “die-baas-het-ons-net-hier-gelos” en “ons-wag-tot-die-baas-weer-terugkom”.

Ek sluit af met Robin Auld:

Some have left and come back, some have never left but we all have paid to be here, everybody here has their story. We are all sorts from artists to computer people and our song has, without design, turned into a pagan ritual. The fire stirs collective memory and we all know we must go back if we are to win the spirits’ approval. It matters only a little what we invent, what modifications and improvements we think up. The grass of Africa is always waiting to grow through the cracks, the darkness at the edge of the firelight has eternal patience, the mocking rust lies in wait for us, but tonight we find favour. We are okay and we are home. Our song rises up into the African skies. Tell me who makes a song like this? Who feels what we feel? This is our dispensation.

Miskien, nét miskien, kan ek eendag ook so voel in ’n plek wat ek “home” kan noem.

Bibliografie

Auld, Robin. 2000. Tight Lines. Compress: Kaapstad.

MacArthur, Brian (red). 1999 (1992). The Penguin Book of Twentieth-Century Speeches: Penguin Books: Londen. p 296.

Louw Liesl. “Met smaak van Afrikaans wil ek aanhou reis.” Beeld, 6 Maart 2002. p 11.

Rossouw, Johann. “Jy kan Afrikaner en wêreldburger wees.” Rapport, 10 Maart 2002.

Steyn, Antonia. 2001. “Abses na protes: die ‘negentigers’ as niegenerasie”. LitNet.

Zoid, Karin. “Onderhoud met Erns Grundling”. Insig (April 2002). pp 26-28.


Wat dink jy van hierdie lesing? Stuur jou reaksie aan SêNet by katvis22@yahoo.com

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.