|
Kinders van die internet: Wêreldburgers?Carel BoshoffDie Burger-lesingreeks, KKNK, April 2002
1.
Een wat geweet het ek verwys nie na n argument om die tafel nie, maar na die soort geformaliseerde eenrigting-kommunikasie wat mens n lesing noem en wat by my altyd tot so n ondeurdringbaar digte verpakking van gedistilleerde stellings in plaas van bewegende argumente lei, vat my toe na die tyd aan die arm en sê: doen die ding soos jy gewoond is, dan vat jy die res van die tyd om te verduidelik wat jy bedoel, want dit weet niemand in elk geval ooit nie.
Teen hierdie agtergrond sou my oordeel wees:
Wat lê agter die oënskynlike gemeenplaas? Maak dit sin om die stelling, of dit wat agter die stelling lê, in n vraag om te sit of n debat daaroor aan te knoop? Is dit, met ander woorde, hoegenaamd n belangrike saak? My voorlopige antwoord sou wees dat dit inderdaad die moeite werd is om hierdie vraag te stel, en wel om die eenvoudige rede dat die ortodoksie wat dit oproep, een van die sterkste kragte wat op ons lewenswêreld inwerk, verteenwoordig. Die internet en wêreldwye web is naamlik nie net die bekendste en kragtigste simbool van globalisering nie, maar dit bied aan ons elkeen tot n mindere of meerdere mate die geleentheid of die gevoel van die geleentheid om aan die globaliseringsproses deel te neem, om in n globale konteks n handelende subjek te wees; dit gee aan ons n soort globale gevoel, watever dit ook al mag beteken.
Nou ja, ek is seker u herken dit dadelik as een van my grappies. Sonder om te kenne te gee dat grappies geen sui generis-bestaansreg het nie en aangesien hierdie n lesing en nie n komedie is nie, sou u in alle billikheid kon vra wat die toepassing of betekenis daarvan dan kan wees. Ek wil dit gebruik as aanknopingspunt vir n relativerende kritiek op die onbehoorlike status wat die konsep inligting en kommunikasie in hierdie diskoers beklee. Ek baseer dit op die enigste 20 bladsye uit die werk van die Franse denker Regis Debray wat ek nog gelees het.
Kommunikasie in soverre so n algemene en holrug geryde term nog n duidelik onderskeibare betekenis kan hê verwys na die aktiwiteit waar daar tipies n sender, boodskap en ontvanger by betrokke is en waarby iets so abstrak as n gedagte of betekenis oorgedra word. Transmissie, daarenteen, verwys na die oordrag nie net van betekenis nie, maar ook van dinge. Eiendom of n kind se ballon, sê hy, kan in hierdie sin oorgedra word. So ook n erfenis, fisies of geestelik, en n kollektiewe verband waarbinne dit in besit geneem kan word. Debray beskryf dan ook die teenstelling tussen transmissie en kommunikasie aan die hand van drie aparte terreine of dimensies. Waar transmissie eerstens die oordrag van materiële en fisiese goed insluit, sluit kommunikasie dit uit. Dat dit egter nie van bloot praktiese belang is nie, blyk uit die rol wat rituele en simbole byvoorbeeld in die oordrag van die christelike geloof oor eeue en millenia gespeel het. Ten spyte van ons eie ietwat droë protestantse voorkeure het ons christelike tradisie sy taaiheid minder aan bybelstudie en eksegese te danke as aan ontsagwekkende geboue en aangrypende tonele wat in skilderye en loodglasvensters vasgevang is, aan meesleurende musiek, die gesamentlike beoefening van sakramente, pelgrimstogte en wat nog meer. Dit gee aan transmissie n materiële dimensie wat kommunikasie nie het nie. Waar transmissie tweedens die oordrag oor tyd en tydperke heen insluit, vereis kommunikasie fundamenteel iets van n gelyktydigheid. Transmissie vind plaas op n skaal van dekades, eeue en millennia, terwyl kommunikasie op n skaal van weke, dae, ure, selfs minute plaasvind. Kommunikasie poog om die tydsgaping te oorbrug, terwyl transmissie sigself as t ware in die tydsverskil tuismaak, dit selfs wil uitrek deur permanente dinge, byvoorbeeld geboue en waarhede, daarin op te rig. Dit gee aan transmissie n diachroniese dimensie wat kommunikasie nie het nie. Waar transmissie derdens durende betekenis probeer vestig, word n geordende geheel van mense eerder as n ongedifferensieerde massa mense veronderstel en opgeroep terwyl kommunikasie tipies enige boodskap van enigeen aan enigeen en binne die konteks van individuele verbintenisse kan behels. Deur transmissie word n kollektiewe organisasie teen wanorde en aggressie beskerm. Dit gee aan transmissie n politieke dimensie wat kommunikasie nie het nie. Een belangrike gevolgtrekking waartoe dit Debray bring, is dat transmissie kommunikasie kan insluit, met die gevolg dat die student van transmissie mettertyd baie van kommunikasie sal weet, maar dat die omgekeerde nie ewe waar is nie. Die student van kommunikasie sal glad nie noodwendig n sin vir transmissie hê nie, omdat dié enkele faset en onderdeel daarvan nie die omvattende begrip transmissie in geheel aan die orde kan stel nie. Hy bring n hiërargie tot stand: kommunikasie sorg vir die oordrag van inligting en nuus, transmissie sorg vir die oordrag van tradisie en kultuur. Vir my is hierdie onderskeid tussen kommunikasie en transmissie een van twee onmisbare stukke gereedskap om die akkertjie van ons tema mee te bewerk. Dit is soos n vurk en n hark waarsonder jy nie sal weet hoe om te begin nie. Om die waarheid te sê, die spitwerk het eintlik al begin. 11. Nietemin, ek dag dit sal oulik wees om met dié klein brilletjie aan te kom kateder toe, hom te probeer opsit en dan te besef dat ek duidelik n bril van n heel ander skaal nodig het. Nou is die moeilikheid dat u nie sou kon sien wat ek probeer aanvang nie, en my naam is ook nie Casper of Pieter Dirk of wie ook al wat weet hoe om sulke grappies te maak nie. So ek dink nie dis een van die ses nie, want van hierdie grappie vertel ek u net. Hoe ook al, waar ek die kommunikasie-transmissie-storie met betrekking tot ons beoordeling van die internet wil inspan, wil ek met hierdie skaal-onsinnigheid die gedagte van wêreldburgers of wêreldburgerskap toets. Dit doen ek aan die hand van Hannah Arendt se werk waarvan ek gelukkig al meer as 20 bladsye gelees het. (Dit is natuurlik makliker om te praat oor iemand van wie jy 20 bladsye gelees het as iemand van wie jy 2 000 bladsye gelees het. Vir een kan jy nogal sukkel om een of ander treffende sinsnede weer op te spoor, maar dit nou daar gelaat.)
Arendt se uiteensetting van die handelende lewe berus op ideaal-tipiese, maar uiters aanloklike vertolking van die Griekse polis-lewe, oftewel die politiek. Volgens die klassieke Griekse beskouing is die menslike toestand in die eerste plek dié van die animal laborans, die arbeidende mens. Menslike arbeid is dit wat altyd weer en by herhaling verrig moet word om aan die eise van die biologiese lewe te voldoen. Daar moet byvoorbeeld altyd weer geëet word, met die gevolg dat daar altyd weer geplant, benat en geoes moet word, altyd weer versorg, geslag en bewerk moet word, altyd weer gekook, opgedien en gewas moet word. In dié sin is die menslike lewe een van slawerny, van eindelose herhaling en terugkeer sonder dat daar ooit iets van tot stand kom anders as net die kans om naas arbeid, ook werk te verrig. Dit bring ons dan by die mens as homo faber, of die werkende / fabriserende mens. Die mens beskik naamlik ook oor die vermoë en die behoefte om naas die voorsiening in sy of haar eerste, biologiese behoeftes ook sy of haar kragte op doelgerigte en planmatige wyse aan te wend en die dinge te maak waarmee sy of haar wêreld uitgerus word. Hierdie produkte van die mens se doelrasionele rede en die mens se werk besweer die altyd terugkerende eise van die animal laborans omdat dit permanente dinge soos stoele en tafels, huise en tempels tot stand bring, dinge wat dikwels langer as hulle makers bestaan. Maar ook hierin, soos in die daaglikse arbeid, is die mens se optrede deur noodsaak en gebrek gemotiveer, selfs wanneer die goeie geluk tydelik oorvloed voorsien. Hoe fantasties ook al die produkte van homo faber mag wees en hoe dit die lewenseise ook al mag besweer, is dit nog nie vrye handeling in die positiewe sin waarvan hier sprake is nie. Eers wanneer mense hulle kragte saamsnoer en ten aansien van die eise van hulle bestaan luister verleen aan die gemeenskaplike aard van hulle antwoord daarop, kom iets tot stand wat nie net die nood wil verlig of die begeerte wil stil nie, maar betekenis kan gee. Die vita activa veronderstel dat die mens nie alleen nie, maar voor en saam met ander optree om deur hulle voortreflike woorde en dade aan n gedeelde, gemeenskaplike ruimte, prakties die polis of stad en teoreties die res publica of publieke domein, beslag te gee. Slegs hierdie publieke ruimte bied aan mense die geleentheid om hulle beste bydrae tot die gemenebes te lewer, om nie net meer en beter voldoening aan die lewenseise te gee nie, maar iets biologies oortollig en kwalitatief anders tot stand te bring. Waar animal laborans tot die orde van die huishouding en die private ruimtes verdoem is (tipies die plek wat in die klassieke geskiedenis aan die slaaf en vrou toegeken is) en waar homo faber tot die orde van die mark beperk is (tipies die plek van die vakman en handelaar), voltrek die vita activa haarself in die openbare domein deur die optrede van diegene wat aan die eise van die huishouding en die mark kan ontkom, in die openbare handelinge van burgers. Om daaraan deel te neem is die vryheid en verantwoordelikheid van elke burger, sodat vryheid en burgerskap hierin saamval. Om vry te wees is om n burger van hierdie stad te wees en om burger van hierdie stad te wees, is om vry te wees. Vryheid en burgerskap is dus die oerpolitieke begrippe, presies in soverre hierdie polis of my polis juis die voorwaarde vir my burgerskap is. Die polis, en per definisie dus ook politiek, en bygevolg ook burgerskap en vryheid, sluit in en uit; daar is diegene binne die grense en diegene daarbuite, anders sou niemend ooit nodig gehad het om vir vryheid te veg nie! Iets soos n onpolitieke burgerskap, n burgerskap van die wêreld wat alles insluit en niks uitsluit nie, is n spel met woorde sonder diepte en met min betekenis. Die openbare domein is abstrak in soverre dit nie konkreet en fisies is nie, maar dit is nie die soort vryswewende abstraksie wat sonder fisiese voorwaardes en eise kan bestaan nie.
Laat ons onomwonde sê die internet het n kommunikasierewolusie veroorsaak wat niemand onaangeraak gelaat het nie, of dit nou is omdat jy tot die middelklas behoort en die vrugte van vrye toegang pluk en of dit is omdat jy daardeur agtergelaat word terwyl die rykdom in ander se hande nogeens net groter en meer gekonsentreerd word. Die Afrikaanse gemenebes van gemeenskappe, die Afrikaanse federasie van republieke, die leefwêrelde wat in Afrikaans oopgehou word, verteenwoordig n oorvloed van beide. Nietemin, die internet en wat daarme saamgaan, open vir ons nuwe moontlikhede en nuwe vorme van mobiliteit wat ons en ons kinders wil en moet aangryp; maar hoe skouspelagtig die kommunikasiemiddels en netwerke ook al mag wees, praat ons ten diepste nog van kommunikasie en nie van transmissie nie, is dit nuus en inligting wat oorgedra word en nie sonder dat die medium die boodskap medebepaal nie en nie tradisie en kultuur nie. Buiten natuurlik in n groot en oorsigtelike sin en in diens van globalisering en Amerikanisering; maar met die onderskeid tussen kommunikasie en transmissie in gedagte is ons ten minste nie daaraan uitgelewer nie. Kinders van die internet? Ja, maar kom ons oorspan nie die betekenis daarvan nie. Wêreldburgers? Dit bly tog maar iets van n onsinnige woord. Tuis in die wêreld? Ja, hopelik wel, maar nie omdat ons te groot vir ons eie skoene geword het nie. Inteendeel, dis omdat ons ons eie leefwêreld, ons Afrikaanse bestaan, ons lokale tradisies en verhale in beskerming geneem het. Omdat ons burgers van ons eie plekke en gemeenskappe is, is ons ook in staat om die wêreld in tallose verbande tegemoet te gaan en onsself nie aan n ongedifferensieerde massa oor te gee nie, maar definisie aan n wêreld wat vol en ryk aan betekenis is, te help gee.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |