|
Skrywersberaad-argief Skrywersberaad
n Doodshemp mag wel sakke hêEk het grootgeword met die idioom n doodshemp het nie sakke nie, en het geglo dat dit n Stormbergse idioom is. Later het ek besef dat die aanmaning landswyd bekend is, en onlangs het ek ontdek dat dit van Nederlandse herkoms is. Maar hier hou dit nie op nie. Toe ek met my vriend Cyril Orolowitz oor die idioom gesels, sê hy dat dit n oerou Jiddische waarheid is, en laat die idioom flink in Jiddisch volg, net-net verstaanbaar vir my oningeoefende oor.
Van der Zeijden verwys vroeg in sy essay na die Doesburgse kunstenares en tekstielweefster Henny Willems wat n doodshemp met sakke ontwerp het. Die sakkies bied die naasbestaandes van n oorledene die kans om by wyse van n geskenkie afskeid te neem; iets heel persoonliks en intiems, soos byvoorbeeld n brief. Willems wil dus n kultuurraamwerk voorsien waarbinne die agterblywendes hul verdriet kan verwerk. Albert van der Zeijden wys tereg daarop dat die moderne mens, dikwels kerklos en gesekulariseerd, nog altyd n behoefte aan n rouritueel het, en haal die navorsing van antropoloë en sielkundiges by, wat fases van verliesverwerking by die familie en vriende onderskei. Die doodshemp met sakke sou as n oorbruggingsfase gesien kan word, en dis op dié fase dat ek my verbeelding wil laat inwerk. n Doodshemp is nie vir my n abstraksie nie. Ek het my ouma sn gesien, en ook dié van my ouers. Dis nie dat hulle morbied wou wees nie. Hulle was doodnugter: naasbestaandes moet nie eendag onwaardig staan en rondhol en soek nie. Daar, in die onderste laai van my hangkas, in die linkerkantste hoek, net daar, toegedraai in sneespapier, daar is my doodshemp. Die doodshemp vir vroue, in vroeër tye ook vir mans, was n eenvoudige naghemp. En so wil ek my doodshemp hê, as naghemp, maar n iets langer, tot aan die voete toe. Voete, volgens my, moet kaal bly in die kis, of dit nou kindervoetjies of oumensvoete is. Daar is vir my iets obseens, iets byna lagwekkends omtrent n lyk met sokkies aan. En boonop kanselleer dit simboliek. Ou, verknotte, vereelte, beaarde voete, moeg tot die dood toe, sê in soveel woorde: ons het n lang pelgrimspad afgelê en wil nou rus. Swart vir n doodshemp lyk vir my universeel uitgesluit, maar dit moes tog in n stadium gebruiklik gewees het, want my ouma het soms die somber raaisel opgesê:
Die het ziet begeert het niet Die het heeft bemerkt het niet. Lakenwit, aan die ander kant, is ook nie my keuse vir n doodshemp nie. Ek wil iets hê wat sy onvervalste plantverlede lyk; iets naaswit, selfs bruinerig, soos neteldoek, ongebleikte linne en ruwe sy. Laat onthou word dat die woord hemp verband hou met hennep, n kruid wat tegnies Cannabis sativa heet, en in die omgangstaal, dagga; en van sy vesel word hemde gemaak. Die woord lykswaad (vir lyksgewaad) het argaïes geword, of so vermoed ek, want die WAT gee dit nie aan nie. Dit staan wel in Kritzinger ea se Verklarende Afrikaanse Woordeboek; maar nêrens word lykswaad en lykskleed met n spesifieke materiaal verbind nie. By hemd in Nederlands word wel van linne en katoen gepraat. Wat snit en styl betref, kan n tipiese Afrikakleed ons model wees vir n doodshemp: n loshangende, vloeiende kleed, met wye, los moue, sonder enige knopies. Dit lyk my onnodig om aparte klede vir mans, vrouens en kinders te ontwerp. Een en dieselfde basiese ontwerp, sou ek sê: dood is die groot gelykmaker. Die sakkies op die doodshemp, volgens Henny Willems; waar sou hulle sit? My bron oor Willems se skepping sluit ongelukkig geen tekening in nie. Maar hierin lê n wins: elkeen kan nou besluit hoeveel sakkies sy doodshemp moet hê en waar hulle moet sit. Ek dink aan ses sakkies op die bolyf af, drie links, drie regs; die boonste sakkie op tepelhoogte, die ander laer af. My sakkies moet van Duitse sis wees, die regte outydse sis wat in my jeug in dik rolle op rakke in plaas- en grenswinkels gelê het. Ek was altyd gek na sis, en die kleremaakster op Jamestown moes vir my hemde van sis maak, met n netjiese polisiekraag. Dit het jare gelede gebeur, voordat sulke hemde hul weg na boetieks gevind het waar hulle nou teen onchristelike pryse verkoop word. Ek wil n variasie op Henny Willems se wenke omtrent doodshempgeskenke voorstel. Van die sakkies twee in my geval moet vooraf deur die eienaar van die doodshemp gevul word. Ek sou graag n brief van n ouer en n geliefde in die een sak wou steek, in die ander, n gedig of drie, met die hand oorgeskryf uit Van Wyk Louw, Eybers of Opperman. n Helder, eenvoudige herinneringsgedig, soos:
weer op ons dorp en by ons dorpsdam staan Of dalk moet ek Psalm 23 met die hand uitskryf, of Prediker 12? Toe ek Cyril Orolowitz vra wat by in sy doodshemp wil saamvat, sê hy met n ironiese flonkering: Reisigerstjeks. En dalk is Cyril nader aan poësie en mitologie as ek, want wie sê daar word nie n obool van ons verwag op die grens nie? Dit is vir my n opbeurende gedagte dat ek eendag in vlamme sal opgaan in n spiksplinternuwe kleed. Alle vrees vir verassings as ek dit ooit gehad het is finaal besweer deur George Bernard Shaw se wonderlike brief aan Mrs Patrick Campbell, waarin hy die verassing van sy geliefde moeder beskryf. Die kis verdwyn in n oond, sê hy, voete eerste, en dan breek die voete en die hele mens in granaatkleurige vlamme uit; vlamme soos linte; lieflike, rooklose vlamme, soos Pinkstertonge; en dan word sy, die moeder, voor sy oë die pragtige vuur. Sheila Cussons het dit ewe mooi uitgesê. Sy praat van:
in haar gedig Bedekte naakt. Moet daar na hierdie suiwerende, heiligende vervlamming nog n ritueel volg? Wat my betref, beslis nie. Dit sal net n emosionele slordigheid word; n antiklimaks. En daarom wil ek by my agterblywendes pleit: gooi daardie lelike kruikie van die ondernemer onmiddellik in die naaste asblik. Verwysings LitNet-leser: Wat dink jy van hierdie bydrae? Twee pryse van R1000 elk word toegeken aan die interessantste reaksies op referate. Stuur jou opinie aan SêNet by redlitnet@mweb.co.za Besoek die beraad se virtuele boekuitstallings en ondersteun ons skrywers deur hul boeke via LitNet te bestel. |
|||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |