Wie is ons? - van die redaksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Van die Redakteur: LitNet na nege maande

Oktober 1999

Op 30 November 1998 is ek met ’n voorstel vir ’n literêre webjoernaal na Hugo Truter van 24.com. Beplanning het gou gevorder en LitNet het op 11 Januarie 1999 aanlyn gegaan as ’n gesamentlike onderneming bedryf deur die betrokke partye.

Die joernaal sluit op 11 Oktober 1999 — nege maande later — sy eerste siklus af. Die tweede fase, wat eweneens nege maande sal duur en hopelik ook dieselfde groei sal toon, lê dus nou voor — en ons spring weg met die aanstelling van Izak de Vries as Redaksionele Bestuurder. Izak het onlangs met Kom slag ’n bees gedebuteer en het pas sy MA met lof aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Hy behartig reeds geruime tyd die ruimtes LeesKringe en Die mond is nie geheim nie op LitNet. Ek sal steeds as Uitvoerende Redakteur optree, terwyl Hugo Truter in beheer van administrasie en produksie sal wees.

LitNet het oor die afgelope nege maande gegroei tot ’n lewendige virtuele gemeenskap met bykans 26 subruimtes. Getrou aan sy slagspreuk, “Die boekehuis met baie wonings”, maak LitNet voorsiening vir allerlei sake rondom skrywers, boeke en lesers.

Nuwe materiaal word normaalweg twee keer per week toegevoeg. Die bydraes is bykans deurgaans oorspronklik en byna al wat bekende naam in die Afrikaanse literêre bedryf is, het al ’n buiging op LitNet gemaak.

LitNet se borge is tans: die Arts and Culture Trust of the President, Nasboek, Tafelberg-Uitgewers, die ATKV en Kalahari.net. Ons waardeer die ondersteuning van hierdie borge baie. Om te oorleef sal ons in die maande wat kom baie hard moet werf aan verdere borgskappe!

LitNet word nie in isolasie bedryf nie, en is dankbaar vir samewerkingsooreenkomste wat reeds gesluit is — onder meer met Radio Punt se Boekepunt, wat iedere Saterdagmiddag skuins na twee ongeveer twintig minute aan LitNet afstaan. ’n Groot romanwedstryd, aangebied deur Insig en Sanlam, word eersdaags in samewerking met RSG, Tafelberg-uitgewers en LitNet geloods. Spookstasie, ’n RSG-program wat laat op ’n Saterdagaand uitgesaai word, het op LitNet ’n ruimte, SpookNet, waar vrae wat in die radioprogram ter sprake kom, verder uitgepluis word. Die filosofietydskrif, Fragmente, het ook ’n samewerkingsooreenkoms met LitNet, waarvolgens LitNet telkens ’n aantal bydraes uit die tydskrif voor publikasie van die papierweergawe sal dra. Ons nuwe ruimte, “OnderwysNet”, word onder meer behartig deur Richard Stanley, vakadviseur van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement. Wat betref SkryfNet, ons aanlyn-skryfskool, verleen Tafelberg-Uitgewers en Nasboek hul steun. LitNet en Kalahari.net sal in die toekoms ook nouer saamwerk.

Wat bemarking betref, het Pasella ’n insetsel aan LitNet gewy, Dan Roodt is deur Freek Swart as ateljeegas tydens ’n TV-nuusuitsending uitgevra oor sy rubriek, Grasperk, en LitNet het heelwat aandag gekry in beide Afrikaanse en Engelse koerante en tydskrifte, asook op verskeie radiostasies. Veral SkryfNet het baie aandag in die media geniet — en tereg ook, want dit is ’n unieke opvoedkundige konsep wat, indien dit as eksperiment slaag, baie kan bydra tot die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse skryftalent. Hier is LitNet bevoorreg om as eerste virtueel inwonende skrywers vir Hennie Aucamp en André P Brink te hê. Hulle tree as prinsipale op en behartig skrywersleiding.

Diengevolg het LitNet in Augustus 1999 16200 bladsy-onttrekkings gehad — ’n uitstekende syfer vir ’n nistydskrif.

Die doel van LitNet se eerste fase, wat nou afgehandel is, was om ’n hoofsaaklik Afrikaanse komponent te vestig en om geloofwaardigheid op te bou as joernaal wat vars, oorspronklike materiaal dra. LitNet het gepoog om ’n virtuele gemeenskap te kweek — mense wat sy bladsye iedere paar dae besoek en weet dat daar interessante materiaal te lese sal wees — materiaal wat nie elders, in die gedrukte media, verskyn nie.

Alhoewel LitNet se fokus Afrikaans sal bly, wil ons in die maande wat voorlê ook na ander Suid-Afrikaanse tale uitbrei. Daar is reeds heelwat materiaal in Engels en Xhosa (ook Nederlands) en inhoud in hierdie en ander tale sal toegevoeg word. Ons hoop dat LitNet ’n veeltalige, multikulturele ruimte sal word waar ons vele tale en kulture ’n interessante gesprek kan voer.

Intussen het LitNet ’n stewige, interessante argief opgebou (alle materiaal word op die onderskeie ruimtes geargiveer) wat reeds ruim deur studente en leeskringe benut word.

LitNet word steeds deur ’n verrassend klein spannetjie versorg. Benewens die bovermelde drie mense, ook: Derek Watling as programmeerder, Houg Winterbach as ontwerper, en Elmarie Engelbrecht en Ettie Labuschagne-Williams as proeflesers. Pieter Redelinghuys van 24.com sit ook dikwels ’n handjie by aan produksiekant.

’n Nuwe ruimte wat binnekort sy verskyning op LitNet sal maak, is “OnderwysNet”, ’n ruimte vir opvoeders (onderwysers in die ou taal) van Afrikaans. Die versorgers van hierdie ruimte is Richard Stanley van die Departement van Onderwys en Chris van der Merwe, mede-professor aan die Universiteit van Kaapstad.

’n Tweede ruimte wat sy verskyning sal maak, is “NeerlandiNet”, behartig deur Renèe Marais van die Universiteit van Pretoria. Hierdie ruimte sal die belange van Nederlands in Suid-Afrika op die hart dra, en die bande tussen Suid-Afrika en die Lae Lande stimuleer. Die ontvangs van Suid-Afrikaanse literatuur in Nederland en België sal steeds aandag geniet in Robert Dorsman se rubriek, Die Vlieënde Hollander, terwyl ruimtes soos SeminaarKamer en PoësieNet ook Nederlandstalige bydraes publiseer. Die intellektuele gesprek tussen Suid-Afrika en die Lae Lande is vir LitNet van groot belang en die Neerlandistiek in Suid-Afrika sal op hierdie manier gestimuleer word.

LitNet het reeds ver gevorder met die stimulering van gesprek. Die intellektuele inhoud van ruimtes soos SeminaarKamer, Grasperk en SpookNet, om maar drie te noem, het LitNet gevestig as ’n voorste dink- en debatsruimte.

Die informele lekkerlees-komponent met verteerbare pitkos word gelei deur ’n reeks rubriekskrywers uit die volle spektrum Afrikaanssprekendes — mense wat strek van EKM Dido tot die digter Johan van Wyk en Koos Kombuis, die koning van Afrikaanse rock. Ons brieweblad, SêNet, is bedrywig.

Vir diegene wat rustig ’n besoek aan die verlede wil bring, is daar Uit NALN se sarkofaag en Kannemeyer-toere, terwyl die jonges van gees hul kan wend tot die nou goed ontwikkelde Bitterkomix-ruimte.

LitNet is ook ’n gemeenskapsprojek deurdat dit bydra tot byvoorbeeld skrywersontwikkeling, en skrywers uit voorheen benadeelde gemeenskappe publisiteitsgeleenthede bied. In hierdie opsig is LitNet se opvoedkundige rol van groot belang.

LiNet betrek ook die jonger generasie by boeke en debatte rondom die intellektuele en kultuurlewe. ’n Ruimte soos “OnderwysNet” kan ook mettertyd baie bydra tot ’n liefde vir lees onder leerders. LitNet hoop dat die samewerking van ons skolegemeenskap in hierdie verband verkry sal kan word.

LeesKringe is gerig op die skep van materiaal vir die honderde leeskringe landwyd. Izak de Vries, wat die rubriek hanteer, reageer graag op versoeke van leeskringe. In hierdie verband gaan LitNet voortaan kontak hou met bykans 300 leeskringe oor die hele land.

Ons ruimte KennisgewingBord word ’n bedrywige aanmelding van kulturele bedrywighede — aktiwiteite wat wissel van boekrestourasie tot poësievoorlesings en kunstefeeste.

LitNet het ook Xhosa na ons bladsye gebring; in die maande wat kom, sal die gesprek rondom Afrika-tale meer aandag op LitNet geniet sodat veeltaligheid in Suid-Afrika ver verby gewone lippediens bevorder kan word. Ons Afrika-fokus word aangevul deur die interessante rubriekreeks oor Afrika-literatuur in die ruimte African Library.

Almal wat as gereelde lesers op LitNet inskakel, asook die klein redaksiespan, die versorgers van die onderskeie ruimtes, en die wye spektrum bydraers wat dikwels spontaan tot ons bladsye bydra, word hiermee hartlik bedank.

Die boekehuis met baie wonings is inderdaad reeds ’n virtuele gemeenskap in die kleine.

Sorg dat u ons gereeld besoek!

Etienne van Heerden
11 Oktober 1999

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.