Valiant Swart - NagstoriesArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kontak

Valiant Swart oor nameEen skemer op ’n halfvol vliegtuig na die Noorde, pas nadat ek my losgeklik het en die vlieënier ons mooi netjies neusreguit getrek het, hoor ek die welkome gerinkel van die drienkstrollie agter my in die paadjie aankom. Ek skuif reg en laat sak by voorbaat my tafeltjie, en toe die kelner stop is ek reg met my “whisky, please”.

Ons herken mekaar dadelik. Ons was saam in die weermag in 1988. Hy was so drie, vier jaar jonger as ek, en verskriklik arrogant. Hy was ’n korporaal, ek was ’n troep. Hy Engels, ek Afrikaans. Ek het min van hom gehou. Hy was een van daai souties wat ’n chip op sy skouer gehad het oor Afrikaanssprekendes. Hy het gereeld na my verwys as “bonehead” of “clutchplate” of “Dutchman”, terwyl ek daar in die bungalow gesit het met my graad in Engels.

Ek onthou hoe ek hom in stille meewarigheid sy ignorance gegun het: sy dynserige onkunde oor enigiets rakende kuns en kultuur en politiek en die wêreld buite die Vaaldriehoek. En sy fighting sticks en sy liggaamsboutydskrifte. En die racing gloves waarmee hy sy beach buggy (ha!) bestuur het — soms as hy my ’n lift stad toe gegee het. En sy verwronge rassisme: hy het “kêffirs” onbeskaamd geminag, maar het aggressief geraak wanneer enigiemand dit sou waag om na sy beste buddy se swanger bruin girlfriend te verwys. My menings is gewoonlik afgemaak as òf “typical Dutchman”, òf “liberal bullshit” (go figure).

Hy het my eenkeer met ’n weermagstewel teen die kop gegooi. Nou goed, dit wás halfdrie in die nag en ek en twee ander troepe het pas die bungalow binnegetuimel na ’n awol-suipsessie, en ons het waarskynlik ietwat te baldadig rondgebons en “Pretty Vacant” (Sex Pistols, junior) uitgeblêr met my kitaar en my mini-amp op full blast, maar nog steeds.

Maar ek het hom vergewe, en van hom vergeet — onmiddellik nadat ek hom die laaste keer gesien het; tipies van daai diensplig-”vriendskappe” van weleer.

En hier staan hy voor my in sy lugredery-waiter-uitrusting, en sê verbaas: “Howzit man, long time no see! What have you been up to?”

“Ek’s op pad Jo’burg toe,” sê ek onnodig. “Hoe gaan dit met jou? Ek sien jy vlieg nog steeds ... “

Hy het destyds ’n dashing lugmaguniform gedra, al was hy bloot ’n klerk (soos ek) wat beslis nooit die binnekant van ’n vlugkajuit gesien het nie. Nooit die klankgrens gebreek het nie. Nooit gewondes ge-airlift het nie. (Ons het darem eenkeer met ’n Flossie Kaap toe gevlieg vir ’n kursus.)

“Yes, I’ve been on local flights for a while now,” druk hy deur in Engels, effens gekwes, en vra weer: “What have you been up to?”

“Well,” slaan ek oor na sy mother tongue, “I sing and play guitar in a band.”

Ek sien dadelik dat hy nie so mooi verstaan nie, daai wasige uitdrukking waarmee ek so gereeld gekonfronteer is in ‘88, spoel weer oor sy gelaat. Ter verduideliking wei ek so ’n bietjie uit oor die CD’s en die shows en die reise en die fans en so aan.

“In fact, I’m flying up to play at a rock festival later tonight. You know, that big one that’s all over the radio?”

“No, I don’t think so ... “ sê hy verlore. “Er ... Would you like something to drink?”

“Yes, whisky please. Lots of ice.”

Hy plaas my dop voor my neer. “I’ve got to move on,” beduie hy flouerig in die paadjie op, “I’ll speak to you later. Enjoy your flight!”

“Thanks, jy ook!” glimlag ek terug.

Hy vertrek met sy trollie in die paadjie op. Ek sak terug in my stoel, steeds matig geamuseerd toe ek die miniatuurbotteltjie se proppie kraak en die whisky oor die ys skink.

Vir die res van die vlug sien ek hom glad nie. My tweede dop kry ek by ’n kreukeltrae lugwaardin met nét genoeg eyeshadow aan. Van sy “speak to you later” kom niks.

Dis eers nadat ons met die gebruiklike gedruis op die aanloopbaan in Johannesburg tot stilstand gekom het, dat ek hom weer gewaar, waar hy by die deur bo die trappies staan en gemaak afskeid neem van die skuifelende passasiers.

“Cheers man, enjoy your music!” groet hy my.

“Dankie man, lekker vlieg!” groet ek ewe gul terug. Ek wonder vir ’n oomblik of hy my naam ook vergeet het.

In die aankomsaal ontmoet ek vir Ali die drywer en sy span roadies. Ons tel my kitare en my koffer op en gooi hulle agter in die Kombi.

Ek dink vir ’n laaste keer aan watsenaam en ons onverwagse, kortstondige reünie daar bo in die lug, en steek ’n sigaret aan.

Toe skiet ek saam met my makkers die nag in, agter die blink liggies aan.

Ad astra, ek sê.

* * *

So ses ure later is die after-paartie in volle swang in die backstage markiestent. ’n Verskeidenheid muso’s en mediamense en groupies is geesdriftig aan’t skater en struikel en shooters wegslaan. Dekadente nuwe bande word oral gesmee met bier en bear hugs. Ywerige jong verslaggeefsters verdwyn in die donker met baskitaarspelers en Koos Kombuis se “Verslaaf aan ruk en rol” basuin by die P.A. oor die feesterrein uit.

Ek besluit om gou ’n draai by die Kombi te gaan gooi om te kyk of my kitare veilig is (diewe is oral) en sommer nog sigarette te kry. Op pad dink ek aan hoe lekker ons vanaand gerock het. Die jong, oorwegend Engelse crowd het lustig saamgesing en ons luidkeels toegejuig na elke song. Ons was die enigste Afrikaanse band uit al twintig name op die program; vir ’n paar vlietende oomblikke het die ingeboude novelty act-faktor my gepla, maar dit is gou ter ruste gelê deur die gehoor se reaksie en die gebrul van die Stratocasters en die Marshalls.

Ek stap nog so ingedagte by ’n paar karre verby, toe ek ’n luidrugtige span fris bulletjies en hul handvol haarjel-en-rugsakkie-girfriends skuins van voor aangeslinger sien kom. Skielik sê die een outjie kliphard: “Jeez, I hate Dutchmen!”

Ek verstyf effens en dink, ag ek sal hom maar laat begaan, hy’s obviously gesuip en probeer nou die meisies beïndruk en hy kon my tog nie in die donker herken het nie, so dis anyway niks persoonliks nie. Let’s hear him out — miskien raak dit snaaks.

Maar hy gaan staan ’n entjie van my af stil en kyk my vierkant in die oë en sê dronkerig, “In fact, if I see a Dutchman now I’ll fuck him up, you know what I mean?”

“Shut up, Kevin!” sê sy een tjommie.

“You’re pissed!” raas die meisie aan sy linkerkant met hom.

Ek sien dadelik dis ’n skadelose situasie. Maar net om hom ’n les te leer, en aangehelp deur ’n verwoestende lading tequila, gee ek so drie lang treë tot reg voor hom en sê in sy gesig, “Naandsê, Soutpiel.”

Hy kyk my met sulke haas-in-die-koplamp oë aan en sluk. Die meisie aan sy linkerkant pluk hom weg met “you’re such an asshole!” en die res van die troppie skiet agterna.

Een van die ouens draai om en kom sê vir my: “I’m sorry about that, man. You should’ve donnered him. He’s been pissing us off all night.”

“Nah, don’t worry about it,” sê ek, “he’s just pissed and confused.”

“Ja well ... it’s still kak, you know. But anyway, like,” beduie hy met sulke hip hop skateboard-gebare, “ I checked your set tonight and you guys fuckin’ rock, bru!”

“Thanks man, happy if you dig it,” en ons doen die handskudritueel en hy’s daar weg met die finale versekering dat ek sy vriend geen leed toewens nie.

Toe ek by die Kombi kom en die skuifdeur ooptrek, betrap ek vir Fanie die baskitaarspeler agterin, in ’n compromising position met die aanvallige (Engelse) redaktrise van ’n Johannesburgse poptydskrif.

Die kitare was dus veilig.

Gelouter deur hierdie nuwe brokkie gemoedsrus en met ’n vars pakkie skywe in die sak, slenter ek terug na die paartietent toe, die “etniese insident” van so flussies lankal vergete.

* * *

Die volgende nag hou ons stil by ’n garagekafee in die Ooste van Pretoria.

Die plek is half verlate, behalwe vir twee vertrekkende karre vol ekstatiese Afrikaanse tieners en ’n paar verveelde petroljoggies wat daar rondsit. ’n Afgeremde wit sekuriteitswag met ’n hangsnor leun teen die toonbank aan.

Ons is op pad woonstel toe na ’n aand in Bossa Loners met Piet Botha en sy band op die verhoog. Piet se statige, spaced ballades oor verwyt en die liefde en die Anglo-Boereoorlog weerklink nog in ons ore, en die stemming is gemoedelik.

Ons staan nog so daar en drentel tussen die pakkies chips en die pienk melk rond, toe ’n perdfris bakkie met ’n geskreeu en ’n gebrul voor die dieselpomp stilhou. Drie groot kêrels peul met hulle voorarms en hul brandewyn-asems by die deure uit.

“Vyftig rand se diesel, en maak gou!” blaf die bestuurder en gooi sy sleutels vir ’n petroljoggie wat aangedraf kom.

Hulle bars die winkeltjie binne. Die bestuurder klap met sy plathand “kaplaks!“ op die toonbank dat almal wip van die skrik. Die ander twee ouens bars uit van die lag en kyk uitdagend na ons.

“Julle moet lekker wees!” raas die toonbankklapper en kyk van die twee swart vrouens by die til na die versteende sekuriteitswag. “Julle moet wakker wees. Maak hierdie plek geld?”

Bonehead, flits dit deur my kop.

“Frikkie, hier’s nie een fokken paai in hierdie yskaste nie!” bulk die een ou.

Frikkie wend hom in ons rigting, waar ons ons pasteie in die mikrogolfoond staan en warm maak.

“Ons het nou net die laaste drie gekry ... lyk maar ook nie te waffers nie!” grinnik ek hom tegemoetkomend toe in ’n poging om hom te, wel, paai.

Behalwe vir ’n sekonde of twee toe ons oë oor die winkelrak ontmoet, ignoreer hy my flat en draai om na sy pêlle toe.

“Wat se kak plek is dit die?” bulder hy. “Ek vat my besigheid na ’n ander garage toe! Het julle brandewyn?”

Die ander ouens lag weer. “Ja, waar’s die brandewyn!”

Frikkie gluur die een kassiere aan. “Ek sê, het julle brandewyn?”

Met die afsku en vrees van dekades in haar oë sê die vrou saggies: “Nee, meneer.”

Die sekuriteitswag besluit om in te tree. “Meneer, asseblief ... ,” begin hy.

Frikkie draai om en kyk hom dreigend in die oë. “En jy moet hierdie kak plek vir ons maar mooi oppas hoor!” snou hy die arme vent met die knuppel en die fluitjie neerhalend toe.

Hy draai weer om na die toonbank toe. Sy oë vang die pakkies kondome wat ingeryg op ’n rakkie langs die kasregister uitgestal word.

“Kyk die effies!” lag hy vir sy trawante en kyk weer na die kassiere. “Naai ’n mens lekker met die goed?” vra hy haar.

Clutchplate.

“Meneer ... ,” begin die wag weer, maar Frikkie onderbreek hom. “Kom ons fokkof,” sê hy vir die ander twee. “Die fokken plek is kak! En ek praat nie weer met jou nie!” spot hy met die wag.

Toe hulle buite kom, wag die petroljoggie hulle in met die bakkie se sleutels.

“En vir jou gaan ek nie ’n fok betaal nie!” skree Frikkie op hom. “Die fokken plek kry nie my geld nie.”

“Meneer moet betaal,” hou die joggie hom skaam.

“Ja, ‘meneer moet betaal’, ‘meneer moet betaal’,” koggel Frikkie hom. “Meneer moet mos vir fokken alles betaal! Maar party mense kry mos alles verniet! En meneer betaal!”

Die petroljoggie kyk bedremmeld rond. Frikkie knyp ’n vyftigrandnoot tussen twee vingers voor die joggie se gesig vas en swaai dit stadig heen en weer.

“Sê ‘dankie baas’,” sis hy. Sy oë glinster boosaardig.

Die joggie kyk hom vraend aan. Iewers tussen die pynlike herinneringe van ou sambokhale en die onherroeplike vryheid wat Madiba daai dag in 1994 vir hom gebring het, iewers tussen die vrees en die woede en die nuwe hoop, is daar ’n plek in sy gemoed waarheen hy nooit weer wil gaan nie.

“Ek sê nie ‘baas’ nie,” sê hy sag.

Frikkie kyk hom grynslaggend in die oë en laat los die vyftigrandnoot. Die noot dartel stadig tot op die grond voor die joggie se voete. Frikkie lag hom uit.

“Kom ons fokkof! Die kaffers raak hans!” bulder hy vir die ander twee manne wat intussen onheilspellend begin nader staan het. Die drie van hulle bakbeen-en-voorarm hul weg terug na die bakkie toe en trek daar weg met dieselfde geskreeu en gebrul as waarmee hulle skaars vyf minute tevore daar opgedaag het.

Dutchmen.

Die petroljoggie buk en tel die geld op. Ons oë ontmoet vir ’n oomblik.

Syne vra: “Hoekom het jy niks gedoen nie?”

Myne antwoord: “Wat wou jy nou hê moes ek doen?”

Ons klim vernederd in die Kombi en ry in stilte terug woonstel toe. Op pad merk iemand op: “Die pastei smaak na niks.”

Ek gooi myne by die venster uit.

Ver bo ons koppe maak ’n passassiersvliegtuig reg om te kom land.


(c) Valiant Swart 2000

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.