Kannemeyer-toereArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Storietoere se reiskalender vir 2004

Medewerker

In 2004 plaas John Kannemeyer en Wium van Zyl weer ’n aantal van hul gewildste reise op die kalender.

As voorbrand tot Kannemeyer se Jan Rabie-biografie, wat in Oktober verskyn, word ’n vierdaagse reis na onder meer die skrywer se jeugwêreld naby Stilbaai aangebied, voorafgegaan deur besoeke aan die Kaapstad en Onrus waar hy en sy vriend en geesgenoot Uys Krige ook gewoon het. Verdere vierdaagse reise is dié na Leipoldt en Boerneef se Clanwilliam en Koue Bokkeveld onderskeidelik, en na NP van Wyk Louw en WEG Louw se Roggeveld. Ook die bekende eendagtoer deur Kaapstad, Stellenbosch en Dal Josafat word weer aangebied. Die grootste onderneming vanjaar is egter die negedaagse reis na die Kalahari.

Telkens word toergangers gelei op die voetspoor van skrywers, maar terselfdertyd word hulle goed op die hoogte gebring van dikwels haas onbekende aspekte van die streke waardeur die roetes gaan. Om teleurstelling te voorkom, word voornemende deelnemers gevra om so gou moontlik hulle plekke by prof Wium van Zyl by (021) 976-5755 (telefoon en faks) of wvanzyl@uwc.ac.za te bespreek.

Die program vir 2004 is soos volg:

1) Krige-Rabie-Opperman-reis, 30 Junie tot 3 Julie
Hierdie reis sluit oornagtings op Onrus, naby Buffeljagsrivier en Stilbaai in. Tydens die reis sal deelnemers die Kaapstad en Stellenbosch van hierdie drie skrywers leer ken en kennis maak met Onrus, waar Krige se oupa sy vakansiehuis gehad het. Daar het Krige die laaste agtien jaar van sy lewe in sy huis Swartdakkies langs die “flikkerende vlei” gewoon. ’n Besoek word ook gebring aan Onrus se tweelingdorpie Vermont, waar Jan Rabie en sy kunstenaarsvrou Marjorie Wallace hulle in 1971 gevestig het en waar hulle, soos vroeër in hulle Groenpuntse huis, baie skrywers en skilders gul ontvang het. Die reis gaan verder na Franskraal, waar Opperman kom uitspan het en waar hy opwindende gesprekke met sy baie vriende kon voer. Van daar ry ons deur die golwende Overberg vir die tweede oornagting by Buffeljagsrivier. Die volgende dag gaan ons na Stilbaai met sy ou visvywers, en die plaas Riethuiskraal langs die rivier, waar Jan Rabie ’n heerlike jeug gehad het. Op die terugweg ry ons deur Riversdal, waar Rabie gematrikuleer het, verby Krige se geboorteplaas Bontebokskloof en deur Montagu, waar sy skilderbroer François lank gewoon en gewerk het. R2 900.


Toergangers op die stoep van Swartdakkies, Uys Krige se huis op Onrus.

2) Leipoldt-Boerneef-toer, 26 tot 29 Julie
’n Vierdaagse toer na die wêrelde en oorspronge van die skrywers C Louis Leipoldt en Boerneef. Afgesien van baie inligting oor die twee skrywers word deelnemers aan die toer bekend gestel aan boeiende dele van ons land, met ritte oor ongelooflike bergpasse. U besigtig Boerneef se geboorteplek Boplaas en gaan op die roete waarlangs die boere wintertyd met die skape na die warmer Ceres-Karoo getrek het. Verder sien u Leipoldt se heimat waaraan hy die naam Hantam gegee het en beleef u iets van die vroeë jare van Clanwilliam en sy “blomtuin-vol van kleure”, ’n streek wat naas sy natuurrykdom en -skoonheid ook ’n ryk en interessante geskiedenis het. R2 900.


John Kannemeyer by Leipoldt se graf.

3) Kalaharitoer, 4 tot 12 September
’n Opwindende toer met oornagting in twee nasionale parke — Augrabies en die Kgalagadi-Oorgrenspark — op die voetspoor van die Hobsons en PJ Schoeman, maar ook van hedendaagse skrywers soos Donald W Riekert en Willem D Kotzé. Ons slaap drie keer in die Kgalagadi-park en ook by Augrabies. Met hierdie reis kom u op die hoogte met die wêreld van die Noord-Kaap, wat vir baie mense onbekend is en ongenaakbaar lyk. Tydens die toer sal u aan die hand van deskundige gidse met die geografie, geskiedenis, fauna en flora van die gebiede wat u gaan besoek, bekend gestel word. Om die Kalahari-leeus met hul bruin maanhare te sien, is ’n belewenis. R6 600.


’n Nagtelike besoeker op Springbok aan Lina Spies tydens die Kalahari-toer van 2002.

4) Louw-toer, 1 tot 4 November
’n Toer na die wêreld van NP van Wyk Louw en WEG Louw en Karel Schoeman se Hierdie lewe. Ons besigtig die Louw-manuskripte in die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek. Dan vertrek ons na Tulbagh, waar ons die middagete geniet. Ons oornag in Kagga-Kamma, waar ons die sonsondergang teen die kranse van die Skurweberge kan bewonder. Die volgende dag reis ons na die Roggeveld oor die Ouberg-pas, waar ons stop om die panoramiese uitsig oor die Ceres-Karoo te beleef. In Sutherland geniet ons die gasvryheid en boerekos van die plaasmense en bekyk Van Wyk Louw se “blomgroot sterre”. Ons laaste oornagting is in Matjiesfontein met sy koloniale glorie. R2 900.


Die korbeelhuis op Gunsfontein, plaas van die Louw-broers se Van Wyk-oupa in die distrik Sutherland.

5) Eendaagse literêre rondreis deur die Boland, 27 November
Die eendaagse literêre reis deur die Wes-Kaap, wat nou reeds ’n instelling geword het en waaroor deelnemers in die verlede in ekstase was. Die reis begin by die Waterfront in die Kaapstadse hawe en gaan van daar via Groenpunt, Drieankerbaai, Clifton en die middestad op die spore van digters en skrywers na Stellenbosch, die Paarl en Dal Josafat. Binne die bestek van een dag kan u dus ’n hele stuk fassinerende geskiedenis meemaak. R260.

En verder, NB: ’n Moontlike toekomstige reis na die Lae Lande
Met die stewige rand en die gunstige wisselkoers dink ons sterk daaraan om die suksesvolle toer deur die Lae Lande, wat ons in 2001 aangebied het, in 2004 of 2005 te herhaal. ’n Ideale tyd om hierdie reis van agtien dae aan te bied is van einde April tot Mei. Die bedrag vir die reis sal afhang van die wisselkoers en die vliegtuigkoste, maar sal alle ontbyte, die meeste aandetes, toegang tot museums, koste aan stads- en interstadsverkeer en die meeste uitstappies insluit.

Op die eerste dag vertrek ons vanuit Kaapstad met ’n vlug na Amsterdam, waar ons onmiddellik oorstap vir Brussel. Na ’n besigtigingstoer deur die Belgiese hoofstad reis ons na Antwerpen, waar ons vier dae lank vir die Vlaamse deel van ons toer in ’n aangename sentrale hotel oornag. In die namiddag stap ons deur Antwerpen waar ons op die Grote Markt ’n Belgiese bier drink en met die paardenkoets rondry. Ons gaan vroeg na bed, want op die derde dag van ons reis gaan ons na Brugge vir ’n besoek aan die ou stad met sy museums en ’n rondvaart op die leie. Hierna word die stadswandeling toegespits op die Burg en die Markt, met opsionele besoeke aan besienswaardighede soos die Gezelle-huis.


Toergangers by die Multatuli-standbeeld op die singel.

Die vierde dag word gewy aan Gent, met besoeke aan die middestad, die Museum voor Schone Kunsten en die Poëziecentrum, terwyl die vyfde volledig gewy word aan Antwerpen, die stad van Rubens. Op die sesde dag reis ons per trein na Amsterdam, waar ons ná aankoms ten opsigte van die stad georiënteer word en waar ons eweneens by ’n baie aangename hotel in die sentrum oornag. In die eerste ses dae van die verblyf in Amsterdam verken ons op elke alternatiewe dag fasette van die stad. Vir die rondreis in die stad ontvang ons op die eerste dag ’n verkeerskaart wat vir alle trams, busse en die metro geldig is en ’n museumkaart wat toegang bied tot alle ryksmuseums. Ingesluit by die reis is ’n gragtevaart op die eerste dag, waartydens ons die geleentheid het om die stad ná die eerste oriënterende wandeling verder te leer ken. Ons wandel of ry saam met die gids deur die Damrak, Dam en Kalverstraat, besigtig die Rembrandtplein, doen inkopies in die Leidsestraat en verken die restaurants in die omgewing van die Rembrandtplein. Ons stap oor die Magere Brug, sien die Amstel, een van die twee riviere waarop die stad aangelê is, en wandel deur die Jordaan, die skilderagtige ou volksbuurt van die stad. Ons besoek al die bekende museums, waardeur ons op die hoogte kom met die geskiedenis van die stad en die grootmeesters van die Nederlandse skilderkuns. By Madame Tussaud kom ons in aanraking met die geskiedenis van Nederland en op die Prinsengracht besoek ons Het Achterhuis waar Anne Frank haar dagboek geskryf en twee jaar saam met haar ouers ondergeduik het voordat hulle deur die Duitsers ontdek en na die Nazi-vernietigingskampe weggevoer is. Ons maak kennis met die Hollandse en Indonesiese kookkuns in van Amsterdam se beste restaurants en besoek skilderagtige kroeë. Ons sien iets van Van Wyk Louw en Elisabeth Eybers se Amsterdam en bekyk standbeelde van Nederlandse skrywers. Ons wandel deur die walletjies om die dames van die nag en iets van ’n gewaagder Amsterdam te aanskou, met die moontlikheid om een van die vertonings by te woon.


Aan die bier drink voor die Café Reijnders op die Leidseplein tydens die Lae Lande toer van 2001.

Op elke alternatiewe dag beweeg ons buite Amsterdam om ander dele en fasette van Nederland te ervaar. Ingesluit as deel van die reisaanbod is ’n dagrit oor die Afsluitdijk, die polders en die provinsies Noord-Holland en Friesland, en ’n dagrit deur die provinsie Zuid-Holland, met besoeke aan Delft, Rotterdam en Den Haag. Vir mense wat wil meedoen, reël ons ook besoeke aan Marken en Volendam, twee ou vissersdorpe aan die eertydse Zuiderzee, of reise na Leiden of Haarlem (met sy Keukenhof waar die tulpe gesien kan word).

Op die twaalfde dag van ons besoek reis ons na Ijsselstein, ’n klein dorpie waar ons die geleentheid sal hê om die Vrydagse straatmark te ervaar en die lewe op die Nederlandse platteland te sien. Op dag veertien besigtig ons Utrecht, met ’n wandeling langs die Oude Gracht en besoeke aan die Dom, die museum Van Speeldoos tot Pierement en die Hoog Catharijne, die groot moderne winkelsentrum by die Station.

Vir die drie oorblywende dae is ons terug in Amsterdam, waar die besigtiging en uitstappies van die eerste ses dae voortgesit word. Moontlikhede is ’n besoek aan die Muiderslot, die sewentiende-eeuse kasteel waarin die digter PC Hooft gewoon het, ’n besoek aan Arnhem, Nijmegen en die Kröller-Muller-museum met sy Van Goghs, en ’n reis oor die Hoge Veluwe.

Mense wat in hierdie toer belangstel, word versoek om met prof John Kannemeyer in verbinding te tree by (021) 887-2744 (telefoon en faks) of jckannemeyer@absamail.co.za en te meld of hulle in 2004 of 2005 so ’n reis sal wil onderneem. ’n Minimum van twaalf persone is vir die reis nodig.



LitNet: 9 Maart 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.