Kannemeyer-toereArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Toere in 2000

Die volgende toere sal nog plaasvind
  • 23-24 September, Die skrywers van Onrus
  • 2 Desember, Afrikaanse Taaltoer: Kaapstad, Dal Josafat en Stellenbosch
  • 7 - 10 Desember: NP van Wyk en WEG Louw toer

Nota bene

  • Die Kalahari toer is gekanselleer en die
  • Leipoldt / Boerneef toer is reeds vol en besprekings het gesluit.

Rig navrae aan

    STORIETOERE
    Posbus 1306
    Stellenbosch
    7599
    tel./faks: (021) 887–2744

boontoe


Argief van vorige toere

By Pramberg blêr ’n moflam

Kannemeyer se literêre toerbus skuif alweer in rat


STORIETOERE
1999


Posbus 1306
Stellenbosch
7599
tel./faks: (021) 887–2744
e-pos: hwinter@24.com

In 1999 bied ons, met John Kannemeyer as gids, weer van die nou reeds bekende literêre reise aan, tesame met ’n aantal nuwe roetes.

Die toere is besonder gewild; dit is raadsaam om vroegtydig te bespreek.

Bel Santa of John by (021) 887-2744 of Wium by (021) 96-5775.

Let asseblief op die volgende:

  • Die koste aan die reise sluit alle vervoer, oornagting, toegangsfooie, etes en verversings in (behalwe alkoholiese dranke). Jy hoef dus net geld vir soeweniers en persoonlike uitgawes saam te bring.
  • Bybetalings vir enkelkamers sal nodig wees.
  • Koste van toere kan verander indien drastiese prysverhogings plaasvind.
  • Meld asseblief met bespreking indien jy om mediese redes sekere geregte nie kan eet nie.
  • Na bespreking moet ’n inbetaling gemaak word op die kaartrekening van JC Kannemeyer, Nedbank, Stellenbosch, 4923–1210–0969–8432.
  • Faks asseblief jou inbetalingstrokie aan (021) 887-2744 of pos ’n afskrif daarvan aan JC Kannemeyer, Posbus 1306, Stellenbosch, 7599.

BY PRAMBERG BLÊR ’N MOFLAM
By Pramberg blêr ’n moflam, Bredasdorp lê nog altyd onder ’n koepel erdeblou lug soos in ’n Audrey Blignault-skets en die venster waarby Hettie Smit Sy kom met die sekelmaan geskryf het, kyk nog altyd met ewe veel verwagting op die voorhekkie. Maar hy kom nie ...

In September trek John Kannemeyer weer met volle krag los met sy literêre toere na ’n winterslapie. Natuurlik nie werklik nie, want hy woel aan sy Uys Krige-biografie, al is die ink van die Leipoldt-boek nog nat.

Op 8 September vertrek sy Leipoldt/Boerneef-toer hoeka na die hartland van beide skrywers, die Bokkeveld, Sederberge en Hantam. Na die duiselingwekkende rit oor Katbakkies op die pad waarmee Boerneef en sy kornuite destyds skaap aangejaag het Kro toe, word digby Pramberg koffie gedrink.

Agterna wag daar ’n bak stomende boontjiesop in die opstal van Boplaas waar die soveelste geslag Van der Merwes heers. ’n Jaar of wat gelede het Tafelberg by Boplaas wit gelê van die sneeu toe die toergroep aankom. ’n Mens wonder wat die weer hierdie keer gaan maak. By Calvinia is daar glo nou al mooi blomme te sien.

Op 18 September volg die nou al beroemde eendagreis op die spore van die Afrikaanse Letterkunde deur Kaapstad, Stellenbosch en die Paarl. Hierdie toer is nou al meer as 20 keer aangebied. John het op 14 Augustus saam met prof. D’Assonville, die Potchefstroomse teoloog, die Paarlse bakens in die lewe van S J du Toit nageloop en so nuwe inligting ingewin.

Prof. D’Assonville se S J du Toit-biografie is op dieselfde dag bekend gestel. Met die faksimilee van Du Toit se Di konging fan Skeba wat verlede jaar verskyn het en goed verkoop, lyk dit asof hierdie pionier weer terugkeer in die kalklig. Die toer sluit ook besoeke in aan ander bakens soos die blyplek van Hettie Smit se grenselose verlange van Sy kom met die sekelmaan.

Op 20 September volg die reis na M.E.R., dr. Con en Audrey Blignault se Overberg. Daarna volg Opperman se Franskraal-verblyf, die Sestigers en nog ’n hele aantal ander skrywers se Onrus-bakens asook D F Malherbe se rotsstoel waarop hy Hans-die-skipper by Kleinmond geskryf het. Die toer bied dus ’n buitengewone bloemlesing van figuur, boek en plek.

Die toer op die spore van N P van Wyk Louw en W E G Louw in Desember is al lank volbespreek. Later in Desember volg nog ’n herhaling van die eendagtoer van 18 September.

Belangstellendes kan prof. Wium van Zyl bel by (021) 96 5755.

boontoe

1. KAAPSE RONDRIT, DAL JOSAFAT EN STELLENBOSCH NUUT!
’n Snuffeltog deur Kaapstad en omstreke verby huise van bekende skrywers; besigtiging van manuskripte op Stellenbosch; besoek aan Dal Josafat, bakermat van die Afrikaanse taal en letterkunde; Taalmonument en -museum in die Paarl. Sluit middagete in.

Een dag per luukse bus: R195,00
18 September en 11 Desember

boontoe

2. WELLINGTON–TOER
Ons besoek die historiese geboue en wynplase van dié streek en volg die voetspoor van Breyten Breytenbach en ander skrywers van hierdie dorp. Ons besoek ook Dal Josafat, bakermat van die Afrikaanse taal en letterkunde. Die toer sluit koffie en middagete in.

Een dag per luukse bus: R195,00
16 Junie

boontoe

3. LUUKSE LANGENHOVEN–TOER


Langenhoven-toer
Uitgewer Danie Botha tuur op die Hoeko-vallei in herfskleur
’n Reis na Ladismith en Oudtshoorn, met besoeke aan Hoeko en Prins Albert en reise oor die indrukwekkende passe van die kontrei, insluitende Meiringspoort en die Swartbergpas. Ons vertoef drie nagte in ’n voortreflike hotel in Oudtshoorn, van waar ons die wêreld van die Klein Karoo verder verken: die geskiedenis, die boereplase, die volstruisnywerheid, die grotte, die folklore en die spookstories.

Vier dae per luukse bus: R2 450,00 (R300,00 enkelkamer-bybetaling)
2 — 5 Julie


Een van die eerste groepe op die gewilde Langenhoven Toer
Een van die eerste groepe op die gewilde Langenhoven Toer

Dr. Kannemeyer, die gids (regs), trotseer saam met twee Langenhoven-toergangers die koue op die besneeude “top” van die Swartbergpas

Dr. Kannemeyer, die gids (regs), troseer saam met twee Langenhoven-toergangers die koue op die besneeude “top” van die Swartbergpas

boontoe

4. LOERIE-TOER NA KNYSNA EN ANDER DELE VAN DIE SUID-KAAP NUUT!
Hierdie nuwe negedaagse reis munt uit deur die groot verskeidenheid wat toergangers ervaar: vanaf die Klein Karoo en Overberg tot die nat suidelike gebiede van bosse en see; van olifante, apies en die veelkleurige Knysna-loerie tot die ruie varings en bome van die oerbos; van skilderagtige bergpasse en klowe tot die uitgestrektheid van die Groot Karoo. Ons oornag op Montagu en Mosselbaai voordat ons Knysna vir vier oornagtings bereik. Onderweg ry ons deur die Worcester-Robertson-vallei, met aandag aan die kunstenaars en skrywers van dié streek en die renperde waarvoor Robertson beroemd is. Op Montagu besigtig ons die skilderye van François Krige, broer van die digter Uys Krige. Op Mosselbaai besoek ons die Dias-museum en kom ons op die hoogte met die “oervaarder en oervader” van die suidelike waters wat in werke soos NP van Wyk Louw se Dias en DJ Opperman se Joernaal van Jorik figureer.

In Knysna onderneem ons ’n vaart op die meer en ’n wandeling langs die Koppe, ons besigtig die talle winkeltjies van dié dorp en reis na Plettenbergbaai en die Stormsrivierbrug. Ons beleef die Tsitsikamma-woude te voet, en stap by twee geleenthede in die Knysna-bos op die voetspoor van Dalene Matthee se karakters. U sien waar die goud in die negentiende eeu by Melkbos ontgin is en besoek die mynwerker-spookdorpie. Naby die Diepwalle-bosboustasie stap ons op die Olifantspad of die asemrowende mooi kort roete tot by die Groot Boom, en ry deur Kom-se-bos en Gouna terug na Knysna.

Op die terugreis slaap ons twee nagte op Oudtshoorn. Ons ervaar die wêreld van Langenhoven, en kom op die hoogte met die volstruispaleis-“weeldedae”. Ons keer terug deur gedeeltes van die Klein en Groot Karoo, met ’n besoek aan Matjiesfontein.

Nege dae per luukse bus: R4 250,00 (R650,00 enkelkamer-bybetaling)
8 — 16 Julie

Kannemeyer se literêre toerbus skuif alweer in rat
Drie skrywers saam op Wellington: P H Nortje, mev Ina de Villiers van Kook en Geniet-faam en dr John Kannemeyer, die toergids.
Drie skrywers saam op Wellington: P H Nortje, mev Ina de Villiers van Kook en Geniet-faam en dr John Kannemeyer, die toergids.
Dr John Kannemeyer het op 16 Junie, Jeugdag, gewys dat hy ondanks sy dawerende sestigste verjaardagfees wat ’n stuk of 80 toergangers op 31 Maart vir hom aangebied het, inderdaad nog topfiks en jeugdig is.

Hy het slegs ’n dag ná sy terugkeer uit Europa as gids op die bus geklim. Volgens sy vennoot, Wium van Zyl, was daar wel ’n benoude oomblik met die eerste aankondigings. Nadat hy ewe professioneel aangekondig het wie die bus bestuur en wie Wium is, het hy vir ’n minuut of wat vergeet wat sy eie naam is!

''Die brug op ons plaas'' buite Wellington waaroor Imker Hoogenhout sy bekende lied geskryf het.
“Die brug op ons plaas” buite Wellington waaroor Imker Hoogenhout sy bekende lied geskryf het.

Die toer na Wellington met 40 entoesiatiese deelnemers het ook vooraf spanning opgelewer toe die Kaapse winter opeens besluit om uit te breek. Dinsdag die 15de was dit nog die ene reën. Toe die dag van die 16de breek, was daar egter geen wolkie te sien nie. Ook maar gelukkig, want die pad na “die brug op ons plaas” wat Imker Hoogenhout in sy trefferliedjie van destyds beroemd gemaak het, verander maklik in ’n moeras.

Dit het inderdaad soms geknyp vir die bestuuder van die groot luukse bus.

Intussen maak toerlede hulle gereed vir die Loerie-toer van 9 tot 15 Julie na Knysna en omgewing. Dit sluit ’n aandete met Dalene Matthee in en ritte en wandeltogte op die spore van haar bos-romans. Tussendeur figureer ander Suid-Kaapse skrywers soos CJ Langenhoven en Jan Rabie (wat sy kinderjare by Riethuiskraal naby Riversdal deurgebring het).

Daar word ook druk gewerk aan die Boerneef / Leipoldt-toer in die blommetyd na die Koue Bokkeveld, Clanwilliam en die Hantam. Na die voltooiing van die Leipoldt-biografie is John meer as ooit die aangewese gids op so ’n roete. Wium het ook verlede jaar gesorg vir ’n nuwe Boerneef-bloemlesing, Die berggans het ’n veer laat val.

Die Louw-toer op die spore van NP van Wyk Louw en WEG Louw in Desember is glo reeds vol bespreek. Dit sal wel kners deur Ceres se Karoo teen daardie tyd van die jaar, maar die datum word bepaal deur die ope nag van Sutherland se sterrewag wat deel uitmaak van die program.

Belangstellendes kan prof Wium van Zyl bel by 021-965755.

boontoe

5. LEIPOLDT-BOERNEEF-TOER

Leipoldt-Boerneef-toer

Ervaar die wêreld van dié twee skrywers in die blommetyd van die Koue Bokkeveld, met oornagtings op Ceres en Clanwilliam. Teen die agtergrond van die dramatiese Sederberge verken ons Wuppertal en die Olifantsriviervallei, en besoek ons die rooibostee- en velskoenfabrieke.

Vier dae per semi-luukse bus: R2 350,00 (R400,00 enkelkamer-bybetaling)
7 — 10 September

Daar word nogeens koffie gedrink — op Swartrug in Boerneef-kontrei. Die man in swart wat die koffiefles hanteer, is die reisgids, dr. John Kannemeyer

Daar word nogeens koffie gedrink — op Swartrug in Boerneef-kontrei. Die man in swart wat die koffiefles hanteer, is die reisgids, dr. John Kannemeyer


’n Toergroep stap uit vir koffie op die Leipoldt-Boerneef-toer. Voor lê Pramberg wat in  Boerneef se poësie figureer. Die groep skep asem nadat hulle pas die berugte Katbakkies-pas uitgery het
’n Toergroep stap uit vir koffie op die Leipoldt-Boerneef-toer. Voor lê Pramberg wat in Boerneef se poësie figureer. Die groep skep asem nadat hulle pas die berugte Katbakkies-pas uitgery het

boontoe

6. OVERBERG-TOER
Hierdie reis neem ons deur die wêreld van Con de Villiers, MER, Audrey Blignault en ander skrywers van hierdie streek, met oornagtings op Witsand, Waenhuiskrans en Hermanus. Ons onderneem ’n vaart op die Breërivier en besoek die Genadendal-museumkompleks, die suidelikste vuurtoring in die land en MER se “hol krans”.

Vier dae per luukse bus: R2 650,00 (R450,00 enkelkamer-bybetaling)
20 — 23 September

boontoe

7. NEGEDAAGSE KALAHARI–TOER
Hierdie reis, wat ons van 7 tot 15 Oktober 1999 aanbied, is saam met die Loerie-toer na Knysna die langste en opwindendste toer op ons program. Op die voetspoor van C Louis Leipoldt, die Hobsons, PJ Schoeman en Elizabeth Vermeulen, maar ook van hedendaagse skrywers soos Jan Spies, Donald W Riekert en Willem D Kotze, kom u op die hoogte met die wêreld van die Noord-Kaap wat vir baie mense onbekend is en ongenaakbaar lyk. Tydens die toer sal u aan die hand van deskundige gidse ook met die geografie, geskiedenis, fauna en flora van die gebiede wat u gaan besoek, op die hoogte gestel word. Die reis, wat terselfdertyd ’n heerlike vakansie gaan wees, bied dus vir u die geleentheid om u kennis van ’n afgesonderde deel van ons land te verruim. Ons gee u kortliks ’n aanduiding van die negedaagse reis.

DAG EEN U vertrek per luukse bus (waarin ’n toilet en yskas geïnstalleer is) vanaf Stellenbosch en Kaapstad na Piketberg, geboortedorp van Sheila Cussons, waar u die pragtige Hager-kerk besigtig. Op Clanwilliam besoek u die graf van C Louis Leipoldt, terwyl ons op Vanrhynsdorp by ’n vetplant-kwekery aandoen en naby Nieuwoudtville ’n besonderse waterval besoek. Ons oornag op Calvinia en het tydens ’n wandeling teen die Hantamberg die geleentheid om ’n panoramiese uitsig op die hele omgewing te geniet.

DAG TWEE Kort ná ons vertrek op die tweede dag is ons in Boesmanland wat met sy somerreënval ’n ander tipe Karoo as dié van die Hantam is. Ons ry verby die soutpanne waar Campbell per motor sy aanslag op die wêreldrekord op land gemaak het en sien naby Kenhardt een van die kokerboomwoude van dié gebied. By Keimoes verander die landskap en word die barheid verlig deur die groen streep langs die Gariep (vroeër die Oranje) wat die moontlikheid van druiwe- en perskeboerdery bied. Op Upington eet ons by die allerbeste restaurant in die Noord-Kaap en oornag op die walle van die Gariep.

DAG DRIE Ons sien Hennie Potgieter se standbeeld ter ere van die donkie wat in die pioniersdae van hierdie geweste so ’n belangrike rol gespeel het en besoek die museum waar die vroeë geskiedenis van dié gebied uitgebeeld word. U besoek ’n droëvrugtefabriek, ’n wynkelder en talle interessante winkeltjies in die sentrum van Upington. Deur die soutpanne en verby die versamelneste wat die voëls in bome of op telefoonpale bou, ry ons op die nuwe teerpad na die Kalahari-Gemsbok Nasionale Park waar ons by Twee Rivieren oornag en aan die hand van ’n skuifievertoning in hierdie wildreservaat met sy leeus, elande, wildebeeste en bokke ingelei word.

DAG VIER Ons vertrek vroeg van die oornagplek om die wild by hulle suipplekke te besigtig en aan die hand van ’n deskundige gids iets meer van die diere en plantegroei te wete te kom. Terug by Twee Rivieren sien u ’n videovertoning en word die dag met ’n genoeglike aandete afgesluit terwyl u oor u belewenisse gesels.

DAG VYF Vroegoggend is daar die geleentheid vir ’n wandeling wat deur die kampgids gelei sal word en waartydens u weer diere sal sien. Ons ry terug na die wêreld van die Gariep en geniet die middagete op Kakamas voordat ons by Augrabies die waterval vanuit allerlei hoeke besigtig. Ons oornag in Augrabies.

DAG SES Ná ontbyt sien ons ’n skuifievertoning oor die waterval en die loop van die rivier. Met ’n deskundige gids wat u vrae kan beantwoord, ry ons om die Gariep vanaf ’n paar uitkykpunte te besigtig. In die namiddag het u die geleentheid om die winkel met sy talle aanbiedinge te besoek en in die swembad af te koel.

DAG SEWE Deur ’n ander deel van Boesmanland ry ons verby die Gamsberge na Namakwaland wat met sy koper reeds die aandag van Simon van der Stel getrek het. In Springbok, die “hoofstad van Namakwaland”, hoor ons hoe Jan Smuts die dorp tydens die laaste fase van die Anglo-Boereoorlog ingeneem en die Britse fort op die koppie in die middel van die dorp met dinamiet die lug ingeblaas het.

DAG AGT Ons besigtig die Blou Myn, die oorspronklike kopermyn wat in 1852 begin is, en besoek die mynmuseum op Nababeep. Daarna ry ons suidwaarts en slaap die laaste nag van ons toer op Lambertsbaai waar ons by ’n bekende seekosrestaurant eet, ’n genoeglike afsluiting van ’n onvergeetlike toer.

DAG NEGE Ons besigtig die voëls op die eiland voor die hawe van Lambertsbaai en besoek die talle klein winkeltjies voordat ons terugry na Kaapstad en Stellenbosch, wat ons teen die middaguur behoort te bereik.

ONTHOU — BELANGRIK:
Neem asseblief gemaklike klere saam. Aangesien u die geleentheid gaan hê om lekker wandelinge te onderneem, sorg asseblief vir goeie, gerieflike stapskoene, ook vir waar u by Augrabies oor die rotse moet klouter. Vir die besoeke aan die Gemsbokpark en Augrabies is dit belangrik dat u ’n smeermiddel teen muggies en muskiete saambring. Albei die kampe is malariagebiede; raadpleeg u dokter of apteker in verband met voorsorgmiddels. Ons wil aanbeveel dat u ’n blikkie koffie, melk, beskuit en warmwaterfles vir die stilhouplekke inpak. As u foto’s neem, sorg dan dat u u kamera nie by die huis vergeet nie; u sal pragtige tonele tydens die reis sien wat u graag sal wil vaslê. Ons wil voorstel dat u een koffer (met u naam daarop) en verder ’n sak vir handbagasie (wat u in die bus by u hou) saamneem.

LEESWERK:
Ter voorbereiding van die reis beveel ons werke van die Hobsons, PJ Schoeman en Elizabeth Vermeulen aan, maar in die besonder Sangiro se En die Oranje vloei verby en Lawrence G Green se To the river’s end.

RESERVERING:
Die koste aan die negedaagse reis is R4 250,00 vir persone wat deel (met ’n bybetaling van R800,00 vir persone wat enkelkamers verkies) en sluit alle vervoer, oornagting, toegangsfooie, etes en verversings in (alkoholiese dranke uitgesonderd). U hoef dus — behalwe vir soeweniers en persoonlike uitgawes — niks verder saam te bring nie. Bespreek so gou moontlik by Santa by 021-887-2744. Inbetaling van ’n deposito van R400,00 moet nie later nie as 30 Junie 1999 gedoen word op die rekening van JC Kannemeyer, Nedbank, Stellenbosch 4923-1210-0969-8432. Faks asseblief u inbetalingstrokie aan 021-887-2744 of pos ’n kopie daarvan aan JC Kannemeyer, Posbus 1306, Stellenbosch, 7599.

boontoe

8. LOUW-TOER NA SUTHERLAND


Louw-toer
Sterrewag
Sutherland
’n Toer na die wêreld van NP van Wyk en WEG Louw en Karel Schoeman se Hierdie lewe. Ons besigtig die Louw-manuskripte in die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek en geniet ’n koppie koffie by Sondraai, die huis van WEG Louw. Dan vertrek ons rigting Tulbagh, waar ons middagete geniet. Ons oornag in Kagga-Kamma, een van die laaste Boesman-tuistes, waar ons die sonsondergang teen die kranse van die Skurweberge kan bewonder. Die volgende dag reis ons na die Roggeveld oor die Oubergpas, waar ons stop om die panoramiese uitsig op die Ceres-Karoo te beleef. In Sutherland geniet ons die gasvryheid en boerekos van die plaasmense, bekyk Van Wyk Louw se “blom-groot sterre” deur die koepels van die Sterrewag (’n geleentheid wat hom net een maal per jaar voordoen). Ons laaste oornagting is in Matjiesfontein met sy ou koloniale glorie.

Vier dae per semi-luukse bus: R2 250,00 (R200,00 enkelkamer-bybetaling)
18 — 21 November (onderhewig aan die verandering van die Sterrewag Ope Nag)

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.