Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wat is dan nou lekkerder as wors?

Jean Meiring

Die Stellenbosse Woordfees het sedert sy ontstaan enkele jare gelede vervorm. Aanvanklik was dit 'n poësienag waar skrywers tantaliserend uit hul werk voorgelees het. Vandag is dit 'n kunstefees in die kleine. Presies waarheen dit op pad is, sal ná vanjaar se fees sekerlik 'n kernvraag word.

Die flieks van Al Debbo en Frederik Burgers, die Suid-Afrikaanse Laurel and Hardy (net snaakser), het 'n ruk lank toe ek klein was, Sondagmiddae op die TV verskyn. Dalk is húlle vir my Stengeweer-skater verantwoordelik. Dis immers hulle wat my die eerste keer laat stik-stik het van die lag.

Daarom was Al Debbo se verskyning op die Donderdagmiddag van die fees vir my 'n móét. Dis met groot piëteit deur die Afrikaanse Taalmuseum aangebied, maar tog was dit moeilik om na 'n afgetakelde maar manmoedige Debbo te kyk.

Hy't enkele van sy ou komiese liedjies gesing, voor die prent Dis lekker om te lewe vertoon is. Die groot gehoor het hom luidkeels toegejuig. Daar was gryses, jonges en piepjonges. Op 'n vreemde, seer manier was dit sekerlik 'n hoogtepunt.

Verleiding, Reza de Wet se nuwe toneelteks en haar eerste een vir lank in Afrikaans, is interessant. Die veelsinnige titel suggereer reeds dat dit nie maklik vir uitleg vatbaar is nie.

'n Vegknoper (Antoinette Kellerman) gee 'n lesing gebaseer op haar verdwene student (Heike Gehring) se navorsing oor Eugène Marais. Die dramaturg Reza de Wet is een van haar hoofbronne - dié is immers 'n nasaat van Marais se broer en dra allerlei grepies familie-oorlewering met haar saam.

Kellerman staan-en-sit voor in die onderste saal in die Willcocks-saal op die Matie-kampus (o, die onwegdoenbare reuk! Kennis, is dit jy?) en bekyk soos 'n meisieskoolhoof die vergaderdes.

Slim, dié truuk. Jy wonder of jy jou stoel maar kan laat kraak. Dis tog 'n lesingsaal en dié 'n akademiese lesing. En jy 'n balhorige student. Dan besluit jy om tog nie jou alie te versit nie. Dis teater dié, en vra beleefde stilte.

Oudiovisuele insetsels - kwansuis deur vegknoper-en-student opgeneem - word tussendeur vertoon. Veral die karakter De Wet-die-dramaturg is vreemd onderhoudend.

Vir my is Verleiding allereers 'n slim uiteenryging van die akademiese wêreld - van die verhouding tussen promotor, student en onderwerp-van-ondersoek. Marais is maar terloops laasgenoemde. En as sodanig werk die stuk slim. Sy onafgewerktheid, haltende tempo en stukke aanstellerigheid satiriseer die akademiese diskoers op indringende wyse.

As ons uitloop, sê my toneelgenoot: "Oe, Kellerman was darem maar weer wonderlik."

"Mmm," wil ek beaam. Ek kap terug: "Mmm, ek weet nie. Kon sy die karakter nie effe meer lewensgetrou gemaak het nie? Akademici het tog nie meer so 'n domineeagtige, Hollandse diksie nie. Was sy nie te veel van 'n karikatuur nie?"

Woordfeesmense, twee samehangende klagte. Een: Vooraf dié aand was die loket by die deur effe deurmekaar. Twee: Vriendin Dom (maar slim) het midde-in die verleiding 'n fluitjie benodig en die agterdeure in die saal was bot-toe. Ingekerker, had sy groot pyn.

Vrydagoggend is ek Lae Lande toe. Die eerste deel van die Neerlandistiekdag, wat eintlik op nagraadse studente gemik was, maar vir die algemene publiek oop was, was groot pret.

David van Reybrouck, 'n jong Vlaamse historikus en outeur van Die Plaag oor Eugène Marais en die stoute Maurice Maeterlinck, is deur Wium van Zyl en Abraham H de Vries ondervra.

Van Reybrouck is slim en noukeurig en gevat. Dit was uiters genietlik om te hoor hoe sy reisboek/speurboek/dagboek ontstaan het. Sy voorlesinkie uit Die Plaag oor sy besoek aan Naboomspruit het die gehoor aan't basuin gehad.

Ook het mens besef dat so iets dit die moeite werd maak om bietjie werk in te sit en in Nederlands met Laelanders te praat. Die gesprek is deur 'n sagte humor gekenmerk wat nie vertaal kon word nie.

Daarna kom die sjarmante sangeres Julia Bronkhorst - asof uit 'n musiekdosie - te voorskyn. Elke dan en wan spring sy orent met die verskoning "Ek is kort!" Haar praatjie oor Afrikaanse en Laelandse komponiste wat Afrikaanse tekste toonset was uit die vuis én die boonste rakke.

Etenstyd, wat in die lieflike Klein Libertas-teatertjie opgevoer is, is 'n vertaling deur Adriaan Meyer van Berkoff se Lunch, onder Gaerin Hauptfleisch se regie. Floyed de Vaal en Stéphanie Hough speel die twee hongeres wat êrens naby nêrens mekaar teëkom.

Dis een van daardie stukke wat sommiges van sal hou, ander nie. Soos Godot, Die les en Albee se The zoo story bekyk dit die absurde alledaagse interaksie tussen (twee of drie) mense. Meyer se vertaling is knap en Hauptfleisch se regie waarskynlik fisies genoeg om selfs Berkoff tevrede te stel. 'n Poëtiese snit.

Vriendin Griebenow het twee maal voorheen Water pockets gesien en gesê sy wil wéér. In die Klein Libertas-teater tussen 'n skaflike gehoor vir 10-uur op 'n Saterdagoggend vly ons spannetjie (met ouderdomme wat tussen tien en 90 strek) ons neer.

Die drie spelers is energiek en vol bone. Griebenow is weer meesal gaande. Die 10-jarige ook. Ek effe minder so. Dit kon veel meer afwisseling van tempo en vaart gehad het. By tye het dit effe rigtingloos gewandel. Die regisseur se skuld.

Maar wie is ek om van Griebenow en 'n 10-jarige te verskil?

Die veeltaligheidslagsessie (In hoeveel tale kan jy lag?) wat die Saterdagmiddag in die Ou Conserve aan was, was ongelukkig onsnaaks. So 'n boeiende onderwerp en dís die simpel ou grappies wat julle te berde bring? Mmm.

Deurgaans het die son heerlik gebraai.



LitNet: 24 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.