Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Man and Boy

Haydee Morgan

Teks: Terence Rattigan
Regie: Maria Aitken
Met: David Suchet (Gregor Antonescu), Ben Silverstone (Basil Anthony), David Yelland (Sven Johnson), Will Huggins (David Beeston), Helen Grace (Countess Antonescu), Jennifer Lee Jellicorse (Carol Penn), Colin Stinton (Mark Herris)
Dekorstel/Kostuums: Simon Higlett
Beligtingsontwerp: Mick Hughes
Komponis en Klankingenieur: Howard Davidson

Duchess Theatre
Catherinestraat Londen WC2B 5LA
Trein: Charing Cross (8 min)
Tube: Temple (5 min)/Covent Garden (5 min)
Speelvak: 1 Feb 05-6 April 05

'n Goeie toneelstuk - of dan: die sukses daarvan berus eerstens op 'n goeie teks. Dit is tog die fondasie. Selfs al het jy die beste akteur en 'n stewige rolbesetting, moet hulle nog woorde hÍ om te kan interpreteer.

Omdat ons nie 'n sorgsame kultuur van dramapublikasie in Suid-Afrika het nie, gaan heelwat substantiewe tekste verlore en professionele en amateurtoneelgroepe sowel as navorsers is nie bewus van ongepubliseerde werk nie. Die redes waarom dramas (met meriete) gepubliseer moet word, is legio: spellesings of dramaleesgroepe, toekennings (wat meestal nie sonder publikasie geskied nie), opdragwerk, skrywerbio's, biblioteke, produksiegegenereerde inkomste en natuurlik bewaring - en dis maar enkeles. 'n Kopie van elke Suid-Afrikaanse publikasie kan by die NTB (Nasionale Toneelbiblioteek) en sekerlik ook Dalro gevind word, maar reeds in 1983 was Maxine Arvan, destydse hoof van diť biblioteek, besorg oor die geringe aantal Afrikaanse dramas (600) teenoor die sowat 6 000 Engelses op hul rakke: "Sometimes a year will pass without us buying a single Afrikaans play: none will have been published" (The Friend, Friday 5 August 1983).

Waar is die (goeie) dae toe jy Afrikaanse dramas in boekvorm (sagteband is ook gaaf) kon koop met volledige programnotas (en gepaardgaande foto's in sommige gevalle) van die opvoerings daarvan? Athol Fugard se Die Besoeker (Ad. Donker Uitgewers), stukke van Gerhard Beukes en Henry Fagan se eenakters val mens by. Maar ek dwaal af. Of nie, want danksy publikasie is Rattigan se Man and Boy ook beskikbaar in boekvorm, 42 jaar nadat hy dit geskryf het.

Man and Boy handel oor die verhouding tussen 'n pa (finansier Gregor Antonescu) en sy seun (Basil), met New York in die 1930's as agtergrond (dieselfde 1930's waarteen Agatha Christie se Poirot, waarvoor Suchet bekendheid verwerf het, geprojekteer word, hoewel die karakters wÍrelde van mekaar verskil.) In Man and Boy is pa en seun vervreem van mekaar, dit is 'n rampspoedige tyd vir besigheid, en in Basil (of Vasily, soos sy pa na hom verwys) se Greenwich Village-woonstel konfronteer die karakters mekaar. Met die FBI op sy spoor verlaat almal behalwe Basil hom (onbewus van sy pa se selfmoordgedagtes). Gregor se onverskillige houding jeens homself word ook belig en die titel kry 'n heel ander betekenis. Wie is "man" en wie "boy"?

Allesbehalwe sop, net ingeval jy gedink het hierdie is 'n Amerikaanse resep. Tydgenote het die Brits-gebore Rattigan as die koning van die West End beskou. Bernard Levin skryf in die Daily Mail in 1963 oor die stuk: "Mr Rattigan's best play and one of the most fascinating pieces of theatre to come our way in many years."

Volgens Suchet het Rattigan diť toneelstuk as sy meesterstuk beskou en was daarom gebroke toe die stuk in die sestigerjare so swak ontvang is. Die teater was maar yl gepak die aand van 24 Maart (2005) - ironies, want Rattigan het vir die gewone man op straat geskryf en was beskou as "the voice of the common theatregoer". Hy het die denkbeeldige "Aunt Edna" uit die middelklas versin as verteenwoordigend van sy tipe gehoor. Die middeljarige vrou uit West Kensington was baie voorskriftelik ten opsigte van intrige en storielyn (aldus Rattigan natuurlik) en sou uiteindelik sy grootste en bekendste karakter word.

Sy oeuvre is omvattend: dramas sluit in A Tale of Two Cities (1936), French Without Tears (1936), The Winslow Boy (1946), Adventure Story (1949), The Deep Blue Sea (1952), The Sleeping Prince (1953), Joie de Vivre (1960), In Praise of Love (1973), Duologue (1976) (vir televisie verwerk as All On Her Own), Cause CťlŤbre (1977) en enkele rolprentdraaiboeke soos French Without Tears (1939), The Avengers (1942), The Deep Blue Sea (1955) en Goodbye Mr Chips (1969).

Met John Osborne se stuk Look Back In Anger in 1956 (en diť van ander soortgelyke "angry young playwrights") is die sjarmante West End-dramaturg beskou as uit die mode en verouder, maar Aitken se ferm regiehand en fyn waarnemingsvermoŽ sorg vir 'n vars beskouing van die wonderlike teks - teks wat ook in gedrukte vorm boei (sy toneelstukke is in twee volumes beskikbaar). Aitken het die tien bestaande weergawes van Rattigan se teks nagevors en die nuwe (getroue) verhoogweergawe is saamgestel uit vier van die tien. Sy het grootliks vir Suchet te danke aan die sukses. Die bekroonde akteur van digby 15 verhoogstukke en 20 rolprente ťn televisiereekse dra die produksie met die gemak en grasie van 'n ou veteraan. 'n Goeie akteur het die vermoŽ om te antisipeer en Suchet se spel komplementeer die teks en produksie as 'n geheel. Hy het 'n voorliefde vir die betrokke stuk en dit was een van sy passies om diť werk te laat herleef.

Jy sien hoe 'n gewetenlose manipuleerder te werk gaan in die toneel waar hy 'n nuwe sakevennoot en die rekenmeester (David Beeston) van American Electrical ontmoet. Beeston waarsku teen 'n samesmelting van maatskappye en Suchet se karakter lei almal om die bos met sy kwinkslae en kamma onskuld. Hy verloŽn sy seun deur hom te "verkoop" aan die homoseksuele Herris, tegelyk skokkend en onsmaaklik, maar Antonescu is 'n ongure karakter en Suchet sorg dat jy nooit van hom hou nie, ook nie in die slottonele nie. Dit is hoekom jy teater toe gaan, sodat goeie dramaturge en akteurs jou kan verplaas na onbekende plekke en emosies, en jy as't ware self 'n katarsis ervaar.

David Yelland as Sven Johnson (Antonescu se handlanger) en Colin Stinton as Mark Herris se vertolkings was ewe treffend. Stinton (met sy perfekte Amerikaanse aksent) is bekend om sy spel in rolprente soos The Hours, Tomorrow Never Dies, en In Love and War en vir televisie A Year in Provence en Poirot. Die spel van Helen Grace (as gravin Antonescu) was teleurstellend op alle vlakke. Trouens, die aktrises het maar sleg afgesteek in die produksie. Grace was ongeloofwaardig (ek dink nie eers sy het haarself geglo nie), en al wat ek van Jellicorse se spel onthou, is drif en gillery (niemand het haar blykbaar attent gemaak daarop dat die Duchess goeie akoestiek besig nie). Miskien skryf party dramaturge net beter vir een geslag, maar mens kan ook nie dialoog (alleen) blameer vir ongeloofwaardige vertolkings nie. Ben Silverstone as Basil Anthony se spel getuig van sensitiwiteit, al was hy soms merkbaar gespanne. Die fisieke ooreenkomste tussen hom en Suchet is merkwaardig.

In die tweede helfte was daar oomblikke toe die stuk momentum gekort het, maar die globale indruk was een van intensiteit en afgerondheid. Die dekor (Aitken maak van 'n denkbeeldige muur tussen die woonvertrek en slaapkamer gebruik en die akteurs handel getrou daarvolgens) en beligting verdien 'n spesiale pluimpie. Die Duchess is 'n klein intieme teater met galerye, en as die sig nie goed is nie, kan jy altyd 'n paar opera-verkykers huur.

Maria Aitken en haar span was getrou aan Rattigan se "A novelist may lose his readers for a few pages; a playwright never dares lose his audience for a minute."



LitNet: 13 April 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


NOT FOUND