Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Zimbabwe-stuk skitter

Coenraad Walters

Born African
Met: Craig Peter, Adam Neill en Wiina Msamati
Regie: Zane E Lucas
Teks geskryf deur Kevin Hanssen, Wiina Msamati, Craig Peter en Zane E Lucas, met addisionele materiaal deur Adam Neill
Aangebied deur die Over The Edge-teatergroep van Zimbabwe
In die Baxter Sanlam-ateljee tot 24 Augustus

Wanneer 'n duisend mense sterf, is dit statistiek; wanneer een persoon sterf, is dit 'n tragedie. Hierdie ou truïsme ('n waarheid wat voos gebruik is) kan uitgebrei word deur te sê: Elke tragedie of ramp bestaan uit 'n mosaïek van klein persoonlike tragedies; elke triomf bestaan uit 'n veelheid individuele oorwinninkies; en sowel tragedie as triomf bestaan uit klein momente van geluk of ongeluk, van regte en verkeerde keuses, van kruispaaie en besluite.

Iets hiervan word oorgedra deur die toneelstuk Born African. Die programnotas dui aan dat die stuk verhale vertel van gewone mense wat voortgaan met hul gewone lewens terwyl die wêreld bloot 'n sinkende Zimbabwe raaksien. Die grondliggende beginsel is dat almal wat in 'n Afrika-land gebore is, Afrikane is - velkleur speel hier geen rol nie.

Hierdie insigte is nie noodwendig verruklik oorspronklik nie, maar word fyn-uitgewerk aangebied in 'n digte weefsel verhale van baie karakters, elkeen fyn uitgebeeld deur die ensemble van drie akteurs. Die spelers se bydraes tot die skepping van die teks lei daartoe dat hulle duidelik iets van hulself speel.

Elkeen van die drie akteurs speel 'n hoofrol, asook 'n aantal kleiner rolle. Neill is Matthew Johnstone, 'n jong blanke Zimbabwiër wie se ma sterf. Msamati is Constance Muchetu, die huishulp wat dekades al in die Johnstone-huishouding werk en 'n vriendin van mev Johnstone geword het, maar by haar begrafnis deur mnr Johnstone gedwing word om agter in die kerk te staan. Peter is Nigel White, 'n jong bruin Zimbabwiër, getroud met Matthew se suster Julie. Die huwelik is problematies omdat hy haar slaan - gedrag wat hy by sy pa geleer het. Die versoeningstoneel tussen Nigel en Julie (gespeel deur Neill) is een van die vele hoogtepunte van die stuk.

Om die verhaal in verdere besonderhede te probeer opsom, is sinloos - 'n teaterganger moet self 'n pad vind deur hierdie boeiende weefwerk. Verskeie bekende temas word aangeraak, soos die ontwrigting van 'n kind se lewe deur sy ouers se onvrede; rassisme en identiteit; die ingeworteldheid van 'n wit Afrika teenoor 'n swart Afrika, ensomeer. Treffend eerlik word daar nie 'n groot oplossing aan die hand gedoen nie, daar word nie voorgegee dat 'n grootse insig aangebied word nie - die weefwerk word net (tydelik en voorlopig) afgesluit.

Al is die meeste van die verhale hartseer en staan dit in die teken van tragedie, is dit persoonlik en universeel genoeg om die perke van politieke teater te oorstyg. Selfs buite die grense van Zimbabwe kan 'n mens bekende verhale raaksien en daarmee empatie hê.

Die belangrikste rede om so gou as moontlik vir hierdie opvoering plek te bespreek, is die kwaliteit van die toneelspel. Met minimalistiese dekor en rekwisiete stel hierdie drie akteurs al hul karakters, manlik én vroulik, wit, swart én kleurling, trefseker voor. In een stadium word twee tonele deurmekaargesny: 'n blanke ringkop van 'n groot maatskappy (Neill) gesels met 'n jong, gesofistikeerde, verwesterse swart man (Msamati) vir wie die maatskappy wil bevorder. Terselfdertyd praat Constance (Msamati) met haar seun Fungisayi (Peter) wat besig is om in 'n krimineel te verander. Met behulp van 'n Afrika-doek en 'n donkerbril word tussen Msamati se twee karakters onderskei. Soos hy van die een toneel na die ander draai en die rekwisiete omruil, verander sy lyftaal, sy aksent. Dis 'n belewenis om dit te ervaar.

Neill en Peter staan ook nie vir hom terug nie. Hulle slaag daarin om selfs laerskoolkinders met energie uit te beeld. Neill se monoloog by sy ma se graf word gefraseer met lang stiltes - sy krag as akteur blyk uit die manier waarop hy homself en die gehoor hierdeur dra sonder om gedwing te voel om vinniger te speel. Die toneel waarin Matthew byna verdrink, is 'n uitstekende stukkie fisieke teater. Peter wek deernis vir die vroueslaner Nigel met sy sensitiewe uitbeelding van 'n haas identiteitlose persoon.

'n Eersteklas ervaring vir almal wat van ryk, beleë teater hou. Sommiges mag voel dat die stuk sy ideologie te veel op die mou dra, maar die diepsinnige uitbeelding van mense van vlees en bloed vergoed ruimskoots hiervoor. Moenie dit misloop nie!



LitNet: 19 Augustus 2004

Wil jy reageer op hierdie inligting? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.