Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Mettertyd raak mense moeg om bloot te bestaan en nie te droom nie ...


Marthinus Basson, regisseur van AARS! (Anatomiese studie van die Oresteia), in gesprek met

Jean Meiring


JM Dag, Marthinus. Jy is een van die mees gerespekteerde teaterregisseurs in Suid-Afrika, en jou naam het ’n handelsmerk geword vir ’n bepaalde tipe teater — ’n teater wat buitengewoon uitdagend en onverskonend is. Jou produksie AARS! het onlangs by Spier se amfiteater gespeel, en is ook eersdaags op die Rimpelfees van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn te sien. Waar en hoe het jy AARS! ontdek?

MB So ’n paar jaar gelede het ek in Gent in België gewerk en toe die Nederlandse regisseur Ivo van Hove se produksie van Peter Verhelst se Romeo en Julia gesien. Dit was ’n verbysterende ervaring en ek was verskriklik beïndruk met die teks en het dit — sowel as van sy gedigte en novelles — dadelik aangeskaf. Voorverlede jaar was ek weer daar en kon ek ongelukkig — en goddank — nie die produksie van AARS! deur Luk Perceval te sien kry nie. Ook maar goed, anders sou ek nie self ’n produksie wou aanpak nie. Teks aangeskaf, verlief geraak en goddank Saartjie was dapper genoeg om die ding te produce ...

JM Wat het jou as regisseur aangetrek omtrent die stuk?

MB Ek werk die afgelope paar jaar uitsluitlik met inheemse tekste en, alhoewel dit opwindend is, sluit dit ’n mens af van ander ervaringe en uitdagings. Ek het jare gelede in ’n produksie van die Oresteia onder regie van die Duitse regisseur Dieter Reible gespeel en het daardeur ’n groot respek en ’n voorliefde vir die Griekse tragedies ontwikkel. AARS! is só ’n briljante, poëtiese, kontemporêre weergawe en dit het vier van my dapperste teatercomrades só soos ’n handskoen gepas dat dit bloot onweerstaanbaar was. Natuurlik het dit veel te sê aan ons hier. Ek hou ook van die universele kwaliteite daarvan, die analitiese aard en die stigtende kwaliteite van die stuk. Dit is in die suiwerste vorm heilige teater. Ons wat in die sestigs en sewentigs ons beslag gehad het, soek mos maar nog vir betekenis.

JM Wat was die moeilikste aspekte van AARS! regisseer?

MB Ná die eerste optrede by Aardklop het ek ’n middeljarige vrou hoor sê: “Geen man sal ooit weer aan my slaan nie.” Van dié wat uitgeloop het as gevolg van die “sensasie”, soos die pers dit wou hê, het in die foyer staan en huil. Dit slaan hard en ongenaakbaar.

JM Die oorspronklike teks het ontstaan ten dele in reaksie op die vlaag insidente van kindermishandeling en -pornografie wat oor die afgelope jare in België oopgevlek is. Ook hier ter plaatse is ons vir etlike jare reeds akuut bewus van hierdie sosiale kwessie. Watter tipe reaksies ontlok die uitbeelding in AARS! van seks tussen pa en dogter, ma en seun, en ook tussen broer en suster by Suid-Afrikaanse gehore?

MB Maar die stuk beeld nie net seks tussen famililede uit nie; dit word ’n metafoor wat uitkring tot geweldspolitiek tussen mens en mens; mens en staat; en mens en natuur. Ons wat grootgeword het met die skeppingsmite van Adam en Eva behoort tog nie so geskok te wees nie. Hoe anders is die aarde bevolk?

JM Die stuk is in ’n sekere sin ’n respons op die Oresteia-trilogie. Hoe? Wat moet die moderne teaterganger, wat straks weinig van die klassieke Griekse teater weet, daaroor leer om die stuk en sy literêre antesedente te verstaan?

MB Die stuk is geïnspireer deur drie Griekse tragedies: Dele 1 en 3 van AARS! deur die Oresteia; deel 2 deur Ajax, en deel 4 (wat terloops nie in België opgevoer is nie; wat vir die eerste keer hier gedoen word) deur Ifigeneia. Die publiek hoef regtig nie daarvan bewus te wees nie. Die karakters Agamemnon, Klytaemnestra, Orestes en Elektra is argetipes, en daar word in die stuk self nooit direk na hulle by name verwys nie. Meer belangrik is dat die ouers hul kinders as Broer en Suster aanspreek. Dít sê iets oor wederkerige patrone en die vloeibaarheid van verhoudings tussen mense, en tussen minnaars. Daar is ook genoeg verwysings na die tipe oorlog in Bosnië, en ons grensoorlog, vir mense om sekere emosionele landskappe te herken.

JM Jy is ten regte of ten onregte in die populêre gemoed bekend as ’n regisseur wat graag skok, wat naaktheid op die verhoog gebruik om ’n punt te maak. Het Suid-Afrikaanse, en vernaam Afrikaanse, gehore na jou mening in jou tyd as professionele teaterregisseur meer gesofistikeerd geraak? Meer bereid om hul konserwatisme jeens die teater in die ban te doen?

MB Ek glo dat as jy diep wil sny aan die gees, jy die lem skerp moet slyp, en stomp moet laat as jy baie seer wil maak. Beide is soms nodig. Ek weet dat die goed wat die mense nog oor praat, die stukke was wat gesný het. Ander is vergeet of kom nou en dan in ’n gesprek op. En ’n paar baie suksesvolle komedies is sommer totaal vergete. So, ek vermoed dit sê iets ... Gehore sal enigiets aanvaar wat hulle ’n ervaring gee. Maar as gevolg van die omstandighede van die kunste is dit so dat ons al meer geïsoleerd raak en daarom ook minder waagmoedig. Die feeste is ’n jammerlik nodige euwel, maar hulle raak vir my besonder versigtig. AARS! is byvoorbeeld nie op die hooffees van óf Aardklop óf die KKNK gewees nie. Nog minder is daar ’n Ibsen, ’n Tsjechof, ’n Shakespeare, wat nog van ’n Botho Strauss of ’n Marius vom Meyernberg. Hoe kan ons ons publiek kwalik neem as die kunstebedrywers nie die horisonne verbreed nie?

JM Die swaard van Damokles hang vir geruime tyd reeds oor die teater in hierdie land. Staatsubsidies is aan ‘t kwyn; die realiteite van lewe in Suid-Afrika bring die luukse teater gaandeweg in gedrang. Tog, sou baie mense argumenteer, is die teater juis een van die mees kragtige mediums om versoening te bewerkstellig. Wat is die pad vorentoe? Hoe gaan die teater oorleef?

MB Elke jaar raak dit moeiliker om te oorleef en mettertyd raak mense moeg om bloot te bestaan en om nie te droom nie. As ons ernstig wil wees oor die oorlewing van teater — en glo my dit is van superbelang dat dit oorleef — dan moet die powers that be hul verantwoordelikheid aanvaar en geld voorsien. ’n Gesonde gees is net so belangrik as ’n gesonde vlees. Onthou: die vlees vergaan; die gees is veronderstel om te oorleef. En teater is geestesgoedere ...

JM Vertel asseblief die een en ander oor die produksiemaatskappy wat jy saam met Jaco Bouwer en Saartjie Botha bedryf, naamlik Vleis, Rys en Aartappels. Hoe het dit ontstaan en wat is die filosofie daaragter?

MB Vleis, Rys en Aartappels is ’n poging om ’n paar eenders- en andersdenkendes van ’n raamwerk te voorsien. Ons motto is: Stapelvoedsel, broodnoodsaaklik en hopelik mettertyd koningskos. Enigiets wat die gees voed. Dus wil ons alle moontlike kunsvorme probeer ontgin: nuwe opera, nuwe kamermusiek, fotografie, ontwerp, dans, enigiets … Ons is geseënd met iemand soos Saartjie wat, afgesien van haar skryftalent, ’n ongelooflik onselfsugtige vervaardiger is. Sy is boonop goed met fondse vind. Ons hoop dat dit sal groei tot ’n volwaardige geselskap wat langertermynstabiliteit aan die grootste moontlike aantal kreatiewe denkers sou kon voorsien. Dit sal hopelik tyd kan bekostig om projekte tot die nste graad te kan onwikkel en ons ongelooflike talent hier te ontwikkel en te bemark — plaaslik én internasionaal.

JM Watter projekte pak julle volgende aan?

MB Ons is tans besig met planne vir ’n Bacchus in die Boland en Tom Lanoye se Mamma Medea, vertaal deur Antjie Krog. Daar is vroeë planne vir crossover musiekprojekte en ’n Requiem en ’n Gloria. Wie weet? ’n Opera of twee en ’n rock musical en ’n panto. Alles afhangende van geld.

JM As jy R 500 000 gegee sou word om enige teaterproduksie in Afrikaans op die planke te bring, wat sou dit wees? Vertel ons hoe jy die geld sou spandeer.

MB Met R500 000 sou ek ’n handvol ouer en jonger spelers die geleentheid wou gee om mekaar te leer ken en om van mekaar te leer. Iets van meet af te skep soos ’n Tango miskien, of ’n Koning Lear.

JM Dankie, Marthinus, en baie voorspoed met AARS! se speelvak tydens die KKNK.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.