Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hierdie bydrae maak deel uit van die geskiedkundige Afrikaanse Taalberaad (aangebied deur die NTLA) wat onlangs op Stellenbosch plaasgevind het. LitNet plaas in die komende weke van die lesings wat by hierdie beraad gegee is. Klik gerus hier vir die volledige program en lys van deelnemers.

Afrikaans: Dienslewering en taalkursusse*

Tersia King

Met die deurlees van die taaloudit word 'n mens verras deur die wye verspreiding van aktiwiteite deur middel van onderwysinstansies, diensorganisasies en selfs individue ten behoewe van Afrikaans, en sommer net in Afrikaans, omdat dit vir vele van nature so hoort. En baie van die grootste inisiatiewe, soos die kunstefeeste, het eers na 1994 ontstaan! Is dit dan moontlik dat Afrikaans se voortbestaan regtig bedreig word?

Ongelukkig glo ek van ja! Ons Afrikaanssprekendes praat met mekaar Afrikaans. Maar dit gebeur net as ons mekaar ken. Sodra ons kontak met 'n vreemde maak, slaan ons direk oor in Engels, in so 'n mate dat twee Afrikaanssprekendes, vreemd aan mekaar, dikwels hul totale gesprek in Engels sal voer. Ek vlieg weekliks tussen Johannesburg en Kaapstad en vind dat weinig, indien enige, Afrikaans in gesprekke tussen beamptes en passasiers plaasvind. Wanneer ek my brandewyn en lemonade in Afrikaans bestel, is daar vinnig 'n medepassasier wat gou tolk vir my speel. Op een of ander wyse moet ons ons mense aanmoedig om nie skaam te wees nie, en altyd eers op 'n beskaafde wyse hul moedertaal te gebruik, en as die ander persoon dit nie kan hanteer nie, dan oor te slaan na Engels.

Een van die vorige sprekers het genoem dat ons self dikwels ons eie grootste vyand is. Dit is baie waar. Een van die koshuise van die inrigting waaraan genoemde spreker verbonde is, het geen badkamers nie, net bathrooms. En dit is die geval vir alle ander aanwysings in daardie gebou.

Wat gaan help om Afrikaans te bemark as 'n produk wat ander wil bemeester? Ons moet waarde toevoeg!

Die taaloudit toon dat daar reeds baie uitreikaksies in Afrikaans is en dat vele bemagtig word deur medium van Afrikaans en deur Afrikaanssprekendes. Maar daar is so vele met wonderlike ervaring en talente wat hulself afsny van die behoeftes van so baie agtergeblewenes na wie hulle sou kon uitreik en wat hulle sou kon help bemagtig. So sou ons nie net baie meer welwillendheid teenoor Afrikaans kan wen nie, maar sou ons ook die taal self kon uitdra.

Terselfdertyd kan ons gerus baie meer klem lÍ op die uiterste belang van moedertaalonderwys vir alle kinders, en dus ook vir Afrikaanse kinders. Ek kon nie anders as hartseer word toe ek enkele maande gelede lees van 'n baie senior aanstelling van 'n Afrikaanssprekende met 'n Afrikaanse van in 'n groot finansiŽle onderneming, wat in 'n onderhoud vinnig bygevoeg het dat sy kinders Engelse name het en na 'n Engelse skool gaan.

Ek glo daar is in elke dorp die geleentheid om Afrikaanse taalkursusse aan te bied aan beide volwassenes en kinders, bloot om spraakvaardigheid te ontwikkel. Dit is tog die maklikste manier om 'n taal aan te leer.

Toe ek op skool was, was daar gewoonlik boekpryse vir prestasie in Afrikaans wat deur oa die Rapportryers en andere geborg is. Kan dieselfde en ander organisasies of individue nie uitreik na skole waar Afrikaans as tweede taal aangebied word en Afrikaanse boekpryse skenk nie? Op die eerste blad plak u die vormpie wat vertel van die prestasie, die ontvanger en die skenker.

By die onafhanklike skool wat ek 14 jaar gelede in Tembisa begin het, is Afrikaans die tweede taal. Negentig persent van die personeel van 54 is Afrikaanstalig. Dit is verbasend hoe die leerders, wanneer hulle op persoonlike vlak met ons kom gesels, dit in hul gebroke Afrikaans sal doen. Veral as jy reeds 'n persoonlike vertrouensverhouding met die individu gevestig het.

Jaarliks, oor die afgelope drie jaar, word ons leerders deur die ATKV se toneelspan besoek en die kinders geniet dit verskriklik. Is u bewus van die feit dat 'n mens nog Afrikaanse weergawes op video by die SAUK kan koop van programme soos Brakkenjan, Heidi, Liewe Heksie, Aspoestertjie en Wieliewalie, en ook Bybelverhale? Selfs die groter kinders geniet hulle gate uit om al die manewales aan te hoor en te sien.

Maar uiteindelik is dit die lees van Afrikaanse stories vir die leerders, waar hulle geforseer word om net op hul gehoor staat te maak, wat wonderlike vrugte afwerp.

Tot en met hierdie jaar was Afrikaans die tweede taal in die meeste skole in Tembisa. Ongelukkig is dit vanjaar die laaste jaar. Afrikaans word uitgefaseer. Ek is oortuig dat ons dit kon verhoed het.

Ons het twee teikengroepe aan wie ons moet bemark. Dit is, eerstens, Afrikaanssprekendes wat minder 'n houding van "ekskuus ek is Afrikaans" moet handhaaf wanneer hulle met anderstaliges in aanraking kom. Ten tweede is dit anderstaliges self wat ons vir die saak van Afrikaans moet wen, omdat ons deur middel van uitreikaksies dit vir hulle moontlik maak om 'n vertrouensverhouding met ons aan te knoop. En dit is nie net die Afrikataalsprekers waarvan ek praat nie, maar ook die gewone sg "rooinekke" waarvan ons gepraat het toe ek nog kind was.

Die heel belangrikste van hierdie aksies is egter dat ons ons bemarking nie deur blote feite-oordrag probeer vermag nie. Dit moet gebeur dmv die skep van persepsies. Want die weerstand wat daar bestaan of nie bestaan nie, is nie altyd op feite gegrond nie, maar op persepsies. Ongelukkig is dit nie so maklik om 'n persepsie tot niet te maak nie. Dit kos harde werk.

Ongeveer twee dekades gelede het 'n bekende Afrikaanse versekeringsmaatskappy 'n baie suksesvolle bemarkingsveldtog geloods om 'n nuwe veelsydige polis te adverteer. Hulle het 'n bol klei gebruik en dit in verskillende vorme vervorm om te toon hoe veelsydig die een produk is en dat dit in verskillende individue se uiteenlopende behoeftes kon voldoen. Geen feite om die potensiŽle kliŽnt te verwar nie. Net die beeld, die persepsie!

Kom ons doen 'n beroep op al ons Afrikaanssprekende afgetredenes, dikwels nog jonk van vlees en gees, om te kyk of hulle nie iewers 'n paar ure van hul tyd wil afstaan aan uitreikaksies om die massas onopgeleides en werkloses met ons vaardighede te verryk nie. Ek weet dat baie van ons 'n groot vrees het om ons in swart woonbuurte in te waag. Natuurlik moet 'n mens nie dom wees om net in te storm nie. Maak eers vriende en jy sal jou verbaas hoe die mense verantwoordelikheid vir jou neem.

Laastens, as 'n nagedagte, en een wat nou dalk nie hier so direk inpas nie, maar tog interessant is. Dit was oor al die jare die Afrikaanssprekendes wat onderwysers geword het, en 75 persent daarvan was vroue. Ek het self by twee verskillende Engelse skole onderrig in Engels en Aardrykskunde. Waarskynlik 80 persent van die personeel was Afrikaanstalig van huis. Ek glo dit was hierdie invloed wat voorheen vyandige Engels- en Afrikaanssprekende gemeenskappe nader aan mekaar laat beweeg het. Ek weet ons kan dit weer doen!



* Toespraak by die Afrikaanse Taalberaad gereŽl deur die NTLA.


LitNet: 03 November 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.