SpookNet — rubriek oor aktuele sakeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor die manier waarop paddas paar

Ernst Wolff

Waarin daar eerstens ’n lesing gegee word van ’n artikel van Johann Rossouw wat in Die Burger verskyn het, en tweedens ’n voetnota by minderheidspolitiek uitgewerk word.

In die paarseisoen is daar ’n geskarrel in die wêreld van paddas. Dit is veral die mannetjies wat die geskarrel doen. Want dit is nie sommer enige kêrel wat vir hom ’n maat mag kry nie. Dié reg moet eers verdien word. Elke mannetjie maak dus sy stem dik en blaas sy lyf op. Sorg dat hy gehoor en gesien word. Slaag hy nie hierin nie, sal hy moet wag vir volgende jaar om weer te probeer. Daar is mense wat beweer dat paddas hierdie gedrag aangeleer het om die voortbestaan van hul onderskeie spesies te verseker. Maar aangesien ek nog nooit ’n padda gesien lees het aan On the Origin of Species by Means of Natural Selection nie, vermoed ek dat paddas oor die algemeen deur meer profane oorweegredes gedryf word. Paar is lekker. (Meer hieroor later.)

In ’n onlangse artikel in Die Burger skryf Johann Rossouw oor minderheidspolitiek. Minderheidspolitiek is natuurlik geen nuwe verskynsel vir Afrikaners nie — Apartheid was ook ’n vorm van politiek waarin die belange van ’n minderheid in beskerming geneem is. Wat Johann egter soek, is ’n moreel aanvaarbare vorm van minderheidspolitiek ná Apartheid.

In die proses word hy gefrustreer deur sekere van sy generasiegenote. Hy sê hulle ly aan ’n soort sekulêre Calvinisme wat beteken dat ‘ons nou so skuldig oor die verlede is dat ons ons aan die politiek moet onttrek’. Johann, daarenteen, beoefen (sonder om dit neerhalend te bedoel) ’n soort sekulêre Katolisisme waar die satisfactio (boetedoening) daarop neerkom om ‘die “skuld” van die verlede uit te wis deur op ’n dinamiese, progressiewe manier aan die land deel te neem’. Dit is belangrik om hier te verstaan waarom ‘skuld’ tussen aanhalingstekens staan. In ’n artikel oor die vraag of die Afrikaner kollektief skuldig is aan Apartheid (Fragmente 3, p.165-168), skryf hy dat daar wel onder Afrikaners sekere kategorieë mense is wat daarop sou kon aanspraak maak dat hulle nie skuldig is aan Apartheid nie. Maar of ’n mens skuldig is of nie, die feit is dat die Afrikaners voordeel getrek het uit die sisteem en daarom is die Afrikaner kollektief iets verskuldig. As die Afrikaner nie skielik met geheueverlies getref word nie, sal hulle begrip van geskiedenis ‘kan dien as ’n kragtige vertrekpunt vir ’n toekomstige morele politiek in Suid-Afrika.’ Hierdie morele politiek is die satisfactio waarvan Johann die besonderhede verder in sy Burger artikel uitgewerk het.

Wat sê Johann, waaruit bestaan hierdie ‘morele politiek’? Dit behels ’n besondere intense inspanning van die Afrikaner om nie net vir hulle-selwers te sorg nie, om nie net aan te hou Afrikaans praat om hulle braaivleisvure by die huis nie, maar om drie groot take aan te pak ten bate van die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap. Hierna kyk ek vlugtig agtereenvolgens.

Verset teen die negatiewe aspekte van globalisering is die eerste taak. Dit beteken eerstens dat die opskorting van politiek teëgewerk moet word. Hiermee wil Johann vir ons sê dat ons ons moet beywer vir ’n republikeinse benadering tot politiek, waar ons die goeie ou stryd om die belange en waardes van die gemeenskap met ’n tikkie nostalgie aan die vergange Atheense markplein voortsit. Maar hoe moet ons aan hierdie politisering van ons lewens vorm gee? Dit is punt twee: ons moet die eenduidigheid van die geglobaliseerde wêreld teëwerk. Wat Johann hiermee sê, is dat die neo-liberalistiese gevaar dreig om ons van ons kosbare partikulariteit te beroof; ons moet dus ons en ander minderhede se eiesoortigheid in beskerming neem. Waarop hierdie twee punte dus neerkom, is dat ons almal beter daaraan toe sal wees as ons ’n minderheidspolitiek sal oefen.

Die tweede groot taak is die uitbou van demokrasie. Hoe moet dit gedoen word? Deur ons daarvoor te beywer dat alle minderhede as minderhede aktief polities sal deelneem, en ook deur allerhande alliansies met sulke groepe aan te gaan ter wille van kruisbestuiwing en vernuwing. Maar onthou — dit word nie gedoen vanuit ’n parogiale benepenheid nie — dit is ter wille van die demokrasie. Met ander woorde ons sal almal beter daaraan toe wees as ons ’n minderheidspolitiek sal beoefen.

Die eerste twee take kom dus eintlik net daarop neer om ’n motivering vir die derde en dus enigste taak te beskryf, naamlik die beoefening van minderheidspolitiek. Dit is hier wat ons dus moet kyk vir die manier waarop die Afrikaner hulle verskuldigheid na Apartheid moet afwerk. Ja, die Afrikaanse gemeenskap kan nie sommer net deelneem aan die politiek nie; dit moet die voortou neem, dit is, die voortou in die beywering vir die erkenning vir allerhande ander minderheidsgroepe (dit moet ander minderhede — ook ander taalgroepe — in beskerming neem), vir ander politieke en ekonomiese praktyke en vir ’n republikeinse definisie van wat ’n Suid-Afrikaner is. Kortom, minderheidspolitiek gaan daaroor om jouself te wees ten bate van ander.

Tot sover my lesing van Johann se artikel. As dít is waaroor minderheidspolitiek gaan, dan kan ek my daarmee vereenselwig. Maar ek het ’n spesmaas dat ’n staat ’n heel paar eienskappe met ’n kolonie paddas deel en daaroor wil ek nou ’n voetnota skryf.
Een van die onontkombare gegewes van enige samelewing is dat dit te kampe het met beperkte middele. Onder hierdie beperkte middele tel geld, tyd, mag, en ander. Omdat daar beperkte middele is, kan almal nie maar net hê wat hulle wil hê nie; daar is dus aan die een kant ’n voortdurende noodsaak vir individue en vir groepe om hulle prioriteit te orden, maar aan die ander kant is daar ’n botsing van belange. Daar is verskillende maniere waarop hierdie toedrag van sake hanteer kan word. Een daarvan is om die probleem te demokratiseer — dit is ideaal gesproke die manier waarop die Suid-Afirkaanse samelewing die situasie hanteer. Maar ons weet dat ’n demokrasie verskillende strategieë kan hê om die prioritisering, toekenning en administrering van middele te hanteer. Eerstens kan dit speel volgens die wenner-neem-alles-beginsel. Hierdie beginsel laat ons onbevredig, omdat die meerderheid dan volledig oor die lot van die res beheer uitoefen (en ons is die res).

* * *

’n Tweede strategie is dié van proporsionele toekenning. Hiervolgens word aan groepe ’n persentasie van beskikbare middele toegeken na gelang van die grootte van die groep. Die manier waarop daar verteenwoordiging in ons Parlement is, is ’n voorbeeld hiervan. Maar selfs in so ’n situasie is ons nog nie tevrede nie, omdat die moontlikheid bestaan dat ’n groot persentasie van die bevolking iets wil doen wat ’n klein deeltjie daarvan of ’n individu dermate benadeel dat die hele bevolking se ervaring van die staat as regverdig, daardeur geskaad word. Die beste voorbeeld hier is menseregte. Menseregte is in ’n sekere sin ’n ondemokratiese verskynsel, maar die veronderstelling is dat dit in hierdie spesiale regte gaan oor aangeleenthede waarby die gemeenskap as geheel tog belang het. Byvoorbeeld: as die meeste mense wil hê dat ’n sekere aktivis gemartel moet word, en daar potensiaal is dat hierdie optrede tot almal se voordeel sal strek, word dit nogtans nie gedoen nie. Om op te som, daar is twee politieke kragte wat hier teen mekaar inspeel — die een krag is demokraties, dit wil op verskillende maniere op grond van getalle vorm gee aan etiek en begeertes, die ander krag werk met die impetus van morele beginsels. Om te vereenvoudig, aan die een kant die maksimisering van geluk, aan die ander kant die minimum voorwaardes vir geluk.

Iemand wat nou te vinnig gelees het, sal sê ons ken mos al hierdie storie, dis mos die eeue-oue storie van die mens wat vir die mens ’n wolf is en daarom liewer ’n sosiale kontrak met mekaar aangaan. So ’n persoon sal in die versoeking wees om te dink dat ek nou ’n saak vir ’n liberale politiek gaan uitmaak. Maar nee, hierdie uiteensetting geld ook vir die republikeine. Die liberalis se mens is ’n individuele wolf vir ander mense; die republikein se mens is ’n wolf as trop vir ander mense/troppe. Die minderheid is voortdurend in stryd met ander minderhede en met die meerderheid om middele te bekom. Net soos by paddas. Die klein paddatjies is moeg daarvoor om nog ’n jaar te moet wag, net omdat hulle klein is. Hulle sal dus ’n klomp strategieë aanwend om te kry wat hulle wil/moet hê. Die eerste manier om hulle aanspraak op die beperkte middele te regverdig is om groter te probeer lyk — die klein paddatjie is eintlik ’n groot padda in eie reg. Mense doen dit ook, byvoorbeeld deur die minderheidsgroep met behulp van die tradisie te verleng: Afrikaans moet as taal vir regsnotulering behou word omdat daar al ’n lang tradisie van Afrikaanse regsliteratuur is. ’n Tweede strategie is om harder te brul. Ja, die klein paddatjie brul nie net omdat hy wil paar nie, maar sodat al die ander kleiner paddatjies ook kan paar. Die mense-ekwivalent hiervoor is die een wat Johann gebruik — ons brul in Afrikaans ook ter wille van die hees stemmetjies van Sotho en gay en gestremde paddatjies. Johann kies hier om ’n Darwinistiese padda te wees; hy regverdig minderheidspolitiek vanuit die perspektief van noodsaak, van die stryd om oorlewing. ’n Padda sou derdens ook kon brul omdat paar lekker is, maar hierdie argument het geen ‘moral highground’ nie. Dit word dus maar gelaat vir dié wat groot genoeg is om te kan sê wat hulle wil hê.

Maar hierdie is ’n denkspeletjie om politieke strategieë mee te illustreer. Ons weet dat daar paddatjies in die natuur is wat geprogrammeer is met die drang om voort te plant, maar wie se waardevolle eiesoortige genetiese materiaal eenvoudig vir die paddaryk verlore gaan omdat hulle nie ’n beurt kry nie. In politiek, ook in minderheidspolitiek, is dit noodwendig so. Etiek, en by uitnemendheid politieke etiek, is noodwendig tragies, omdat daar altyd meer geldige etiese eise aan ’n mens gestel word as wat jy kan nakom. Dit gaan in etiek nie net oor die keuse tussen goed en kwaad nie, maar dikwels ook tussen goed en goed. Selfs al verstaan ons onder minderheidspolitiek om jouself te wees ten bate van ander, word so ’n politiek steeds lastig geval met die gegewe van beperkte middele. Ten minste twee moet genoem word: geld en tyd.

Oor geld hoef ek nie veel te sê nie. My pa het my lankal geleer: niks vir niks en ’n bietjie vir ’n tiekie. Daar moet eenvoudig besluit word wat die werklik belangrike sake is waarvoor geld gegee gaan word en daar sal altyd ’n saak wees wat vir iemand essensieel lyk, maar wat nie geldelike steun kan bekom nie.

Tyd is ’n ander komplekse gegewe. Selfs die welwillendste werkolis kan hom/haar ook maar net vir soveel dinge beywer. Maar tyd is ook op ’n ander manier hier vir ons van belang. Minderheidspolitiek gaan onder andere oor die reg/mag om tyd te mag vertolk. Een van die redes waarom mense verskil oor die politieke rol van die Afrikaanse bevolking ná 1994 is juis omdat hul vertolking van die tyd verskil: hetsy ’n tyd vir terughoudendheid na skuld, hetsy ’n tyd vir aktiewe skepping, of wat ook al. En hierdie tydsbegrippe mede-bepaal ons identiteit en legitimeer optrede. Hoewel die minderheidspolitiese standpunt dus voortdrend ’n pluraliteit van menings aanmoedig, moet dit ten minste ’n sekere minimale instemming kry oor die vertolking van tyd, sodat ons vir optredes gemobiliseer kan word. Dit geld natuurlik ook vir ander middele.

Ek probeer dus ’n punt daarvoor uitmaak dat beoefenaars van minderheidspolitiek daarmee moet rekening hou dat hulle, soos by alle ander vorme van politieke aktiwiteit, onderhewig bly aan die beperktheid van middele en die tragiek van etiek. Ek wil graag hierdie punt met drie gevalle verder belig.

Kom ons neem eerstens die Nasionale Simfonie Orkes as voorbeeld. Die minderheidspolitici sal sê dat die beëindiging van die subsidie aan die NSO vir my en my klassieke musiek-minderheid die geleentheid gee om as minderheid polities deel te neem. Maar voordat ek my vir die herstigting van die NSO kan beywer, moet ek eers weer na my prioriteite gaan kyk. Hoewel die voorsiening van hoë kwaliteit klassieke uitvoerings vir my as individu van die allergrootste belang is — natuurlik nie net omdat dit lekker is nie, maar omdat dit noodsaaklik vir my welstand is — moet ek erken dat die arme straatkinders in Johannesburg wat nie kos het nie, voorkeur geniet. Maar aangesien my president ’n vliegtuig van R300 miljoen koop, is daar dalk tog geld vir die kos en die NSO. Dus besluit ek om my daarvoor te beywer. Maar teen die tyd dat ek die stryd gewen het, sal ek sien dat al die begaafde persone wat vroeër in die orkes gespeel het, intussen die land verlaat het, sodat hulle broodgeld kan verdien. Politiek vat tyd en in hierdie tyd gaan dinge verlore. Hieraan is alle vorme van politiek uitgelewer.

Tweedens, kan dit natuurlik ook gebeur dat ek in my minderheidspolitiese veldtog my eenvoudig nie genoeg steun kon kry nie en daarom slaag die projek nie. Ook in ’n opset waar minderheidspolitiek vry beoefen word, is daar minderhede wat net nie die nodige kritieke massa opgebou kan kry om dit wat vir hulle van wesenlike belang is, ingestel te kry nie.

Sodat ’n mens vrye politieke aktiwiteit kan hê, moet sekere moontlikheidsvoorwaardes in ’n samelewing geld. Dit beteken dat minderhede ook nog hulle beperkte middele moet aanwend vir die bevordering van ander mense se geluk. Dit geld ook vir ander prioriteite: mens moet jouself byvoorbeeld afvra of primêre volwasse onderwys nie dalk ’n belangriker prioriteit is as ’n Afrikaanse universiteit nie. En aangesien geld en tyd beperk is en die twee sake nie heeltemal met mekaar kan oorvleuel nie, moet die een ten minste tot ’n mate ten koste van die ander bevoordeel word. Daarom is minderheidspolitiek (net soos ander vorme van politieke praktyk) ’n voortdurend poging om die grens tussen reg en voorreg meer regverdig te trek.

Om op te som: ek is oortuig daarvan dat die perspektief van minderheidspolitiek soos Johann Rossouw dit aanbied, ’n geloofwaardige poging is om rigting aan te dui waarin minderhede hulle politiek kan beoefen na Apartheid. Maar ek wil maan teen ’n te vinnige optimisme. Minderhede word gedefinieer teenoor ander minderhede; streef dikwels hulle eie agendas na ten koste van ander minderhede (nie noodwendig uit kwaadwilligheid nie, maar vanweë die tragiek wat ek bo beskryf het). Die verhouding tussen ’n minderheid en die individue wat daarmee geasossieer word of die verhouding tussen ’n groot minderheid en ’n klein minderheid word dikwels presies dieselfde bedryf as die verhouding tussen ’n meerderheid en ’n minderheid. Omdat middele beperk is en etiek fundamenteel tragies is, gaan die definiëring van waardes en prioriteite met konflik en verlies gepaard. Ons sal ook moet dink op watter maniere verlies, die tydsverloop voordat ideale verwesenlik word en die teleurstelling van onbereikte/onbereikbare aspirasies hanteer moet word. Ek glo dat die morele kwaliteit van minderheidspolitiek nie net afhang van die morele regverdigbaarheid van die doele wat dit nastreef nie, maar dit hang ook af van die mate waarin dit weerstand bied teen die onoorwinlikheid van die tragiek van etiek self, naamlik dat die goeie soms ten koste van die goeie gedoen moet word.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.