Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Van 'n reggae-rabbi tot 'n idioolpop

Theunis Engelbrecht

CD’s van die maand

Matisyahu: Youth en
Matisyahu: Live at Stubb’s

Matisyahu is die verhoognaam van Matthew Miller. Tans trek hy wêreldwyd baie aandag vanweë die feit dat hy ’n ortodokse Jood is en hoofsaaklik reggae-musiek maak. Nou ja, dit blyk nie nodig te wees om ’n Rastafariër te wees om eksklusief te kwalifiseer vir die eer om reggae-musiek te maak nie. ’n Mens twyfel of Matisyahu dagga rook, alkohol drink en hoer en rumoer, want hy is so ’n ortodokse Judaïs dat sy geloof hom byvoorbeeld verbied om saam met vroue op te tree. Hy weier ook om op die Joodse Sabbat op te tree en luidens ’n berig in die Britse koerant The Independent (20 April 2006) het hy ’n uitnodiging van die hand gewys om saam met Shakira te toer, ’n advertensie vir Burger King op te neem en op die sogenaamde shockjock-omroeper Howard Stern se radiogeselsprogram te verskyn.

Dalk is hy net ’n onwaarskynlike popheld, want hy klee hom ook soos ’n ortodokse Judaïs – hoedjie en ernstige bril en baard, die works – dus lyk hy soos ’n rabbi, al is hy nie een nie.

Matisyahu het eers ’n helse groot indruk gemaak met ’n semi-bootleg-opname van ’n konsert, Live at Stubb’s.  Dat hy daarin slaag om nuwe lewe in reggae te blaas en boonop sy eie stempel daarop af te druk, is voor die oor liggend. Reggae het lanklaas so lekker en vars en oorspronklik geklink. Matisyahu meng dit ook met ander style, soos rap en rock en beatbox, en sy lirieke handel hoofsaaklik oor die spirituele leegheid waartoe materialisme en geldgierigheid en Babilon lei, en al die sosiale verskynsels wat daarmee saamhang, soos gebrek aan respek vir lewe en hoër waardes as alledaagse banaliteit. Dis ook nie asof Matisyahu preek en veroordeel nie; voordat hy ortodoks geraak het, was hy self ’n wilde mannetjie wat baie gejol en dwelms gebruik het. Op ’n dag het hy toevallig met ’n rabbi in ’n park gepraat, en dit het gelei tot sy bekering. Dié rabbi het aan hom gesê hy moet sy kreatiwiteit op ’n konstruktiewe manier uitleef, en so het Matisyahu begin om liedjies te skryf in die musiekstyl waarvan hy nog altyd gehou het: reggae.

Die gehalte van die konsertopname op Live at Stubb’s is uitsonderlik goed. Matisyahu se vokale eksperimentering op sekere snitte val ook sterk op, veral wanneer hy die hoër note aandurf en dit soos een of ander ortodoks-Judaïstiese inkantasie onder die invloed van speed klink. Sy groep is uitstekende musikante – en volgens my vriendin Jana-Mariana kan ’n mens as jy magic mushrooms gevat het, byvoorbeeld net luister wat die kitaarspeler of baskitaarspeler of dromspeler alles afsonderlik doen en dit op sigself sal al ’n verrykende ervaring wees. Aldus Jana-Mariana.Wanneer alles dus bymekaarkom, sal ’n mens verstaan hoekom Matisyahu se musiek tans soos ’n veldbrand oor die wêreld versprei.

Kort op die hakke van Live at Stubb’s het Matisyahu se ateljee-album Youth gevolg – eweneens ’n uitstaande stuk werk (al sou ek Live at Stubb’s verkies as ek net een van die twee kon koop – maar dis anyway beter om albei te hê).

Matisyahu verskuif die bakens van reggae op ’n opwindende en kreatiewe wyse en daag jou persepsies daarvan uit. Live at Stubb’s en Youth is ongetwyfeld twee van die beste reggae-CD’s wat ek al in my lewe gehoor het. En ek oordryf nie.

DVD van die maand, seisoen, halfjaar en alle tye

Pink Floyd: Pulse

Mensig, ek het in my dag des lewens nog nooit so iets aanskou nie. Gedink jy het al ’n show gesien wat jou kop laat draai het omdat dit nie net ’n klomp ooms is wat daar staan en tokkel nie, maar ’n hele skouspelagtige multimedia-produksie? Wel, dink weer. The Rolling Stones kan gaan slaap-my-kleintjie-slaap-sag-onder-sterre-vannag. Groot opblaaspoppe van figure uit Jurassic Park en Hustler is nou al behoorlik holrug gery, as jy weet wat ek bedoel (soos in het afgesaag geraak). Jean-Michel Jarre kan gaan dronk word en sy gesondheid-slaai op ’n supermodel braak - sy soniese laserspektakels is niks teen wat jy op hierdie DVD sien nie. Volgens my vriendin Jana-Mariana, wat daarvan hou om haar musiek saam met versnaperings, sigarette en drankies te geniet, is Jarre se skouspelle ’n mindfuck as ’n mens LSD gevat het, maar sy kan Pulse as ’n soortgelyke mindfuck ervaar sonder dat sy enige cocktails of opjackers gevat het. Pulse gee jou vanself vlerke; jy het nie Rooi Bul of so iets nodig nie. Aldus Jana-Mariana.   

Get the picture? Indien nie, laat ek voortrol. Ek dink hierdie DVD verdien nie net ’n Grammy nie, maar ook ’n Emmy en ’n Tony en ’n MTV America Award en ’n MTV Europe Award en ’n Q Award en ’n Mojo Lifetime Achievement Feature en ’n Wall of Fame. (Ek is al deur Jana-Mariana getempteer om in Sound Bites ’n Cyberwall of Fame vir Afrikaanse kunstenaars op te rig, toe sê ek nee, ek sal eerder ’n Hol van Faam wil vestig. Wie weet, dalk gebeur dit nog eendag in Sound Bites.)

Pulse is ’n dubbel-DVD en dit is vier uur lank. Twee daarvan is ’n mind-blowing konsert wat hulle in 1994 in Earls Court in Londen gehou het. Die tweede deel daarvan is die volledige Dark Side of the Moon (as deel van die konsert). Ander classics wat gehoor kan word, is onder meer “Shine On You Crazy Diamond”, “Learning to Fly”, “Another Brinck in the Wall”, “Wish You were Here”, “Comfortably Numb” en “Run Like Hell”.

Daar is ook baie ekstras op elke skyf. Soos ’n afdeling genaamd “Bootlegging the Bootleggers”, die indrukwekkende verhoogplanne en dergelike.

Daar is mense wat sê Pink Floyd is nie dieselfde sonder Roger Waters nie. Kyk, ek laaik Roger Waters fokken kwaai, maar hierdie DVD is ’n stralende bewys daarvan dat Pink Floyd beter af is sonder sy skynbare primadonnateite. Maar ’n mens moet ook nooit Waters se reuse-aandeel aan hierdie musiek vergeet nie.

Koop hierdie DVD sonder om twee keer te dink.

Primal Scream: Riot City Blues

Ná goeie, sterk CD’s soos Screamadelica en Give Out But Don’t Give Up is Primal Scream se nuwe album uiters teleurstellend. Dit klink asof hulle hul fut verloor het en nie eers moeite doen om die ooglopende Rolling Stones-invloed sinvol tot iets eiesoortig te transformeer nie. Sanger Bobby Gillespie kan ook maar sy ou skoene agterna gooi indien hy homself enigsins verbeel hy is die nuwe Mick Jagger. As ’n mens dié CD met veral Give Out But Don’t Give Up vergelyk, is dit nogal ’n skok om die verval en agteruitgang te hoor. Jana-Mariana is egter mal hieroor – Bobby Gillespie het dieselfde soort effek op haar as wat Tom Cruise op die donsdosies-van-beide-geslagte het. Get the picture? Dis musiek met bôls, sê Jana-Mariana. Boonop is dit musiek met attitude en het die attitude ook bôls. Sommer dosyne daarvan. Aldus Jana-Mariana – en sy sal beter weet as ek.

Ek sal  nie sommer weer na Riot City Blues luister nie; een keer is genoeg, dan bly daar niks meer oor nie – daar is genoeg ander goeie rock beskikbaar. Ek sien in die Junie-uitgawe van Uncut hulle gee die CD vyf sterre. Gelukkig is Sound Bites nie ’n hotel, ’n gastehuis of ’n kunswedstryd nie. Jana-Mariana sê hulle verdien nie net vyf sterre nie, maar ook tien punte. Wat my betref moes hulle die CD maar eerder Cock City Blues genoem het.

El Presidente: El Presidente

Hierdie CD het ’n moerse lekker gatskop vibe en die tunes is kwaai en die groove lekker. Ongelukkig word dit bederf deur die sanger se stem. Hy klink soos ’n mix tussen Prince en die sanger van AC/DC (wie se naam ek nie kan onthou nie – Angus Young of so iets). Dis iets verskrikliks. Hy klink soos ’n spoiled vrot brat en jy wil hom net ’n klap gee sodat daai stem ’n bietjie minder soos dié van ’n gremlin op tik klink. Die songs is egter super (’n oulike uitdrukking wat ek by my Duitse konneksies gehoor het). As die meneertjie se stem jou nie irriteer nie, sal hierdie CD jou op die plafonne van die balsale van blymoedigheid laat dans.

Tool: 10 000 Days

Donker, intens. Ek het Jana-Mariana gevra om dit vir Sound Bites te beskryf. Die resultaat: as die musiek speel en jy probeer om in jou kop te verbeel hoe die musiekvideo vir die song lyk, sal jy kaalgestroopte bome sien wat teen ’n ysreën (eerder acid rain) beur teen ’n silwergrys metaalagtergrond, ’n vervalle muur waaroor die skaduwee van ’n spook of ’n roofdier beweeg, die vlerkgeklapper van krysende kraaie wat kriskras deur kopbene wat soos tolbosse in die wind rol. En dan skielik bars alle donder en vulkaniese energie uit, en terwyl daai kitare so hard donder soos Metallica, kreun en steun die sanger onheilspellend (en effens lewensmoeg) oor al die gevare waardeur hy omring word in die vorm van die stemme van die spoke van dooie voorvaders, verlore girlfriends, oorlog, menseslagtings, geweld en bloed en derms op TV, en die outomatisering van die postmoderne mens. Ek kan nie dadelik dink watter soort prentjies die beste sal wees in ’n musiekvideo van hierdie harde klankslagtings nie, en elke mens sal anyway iets anders sien. Aldus Jana-Mariana.

Get the picture? Luister eers voor jy oorweeg om dit te koop. En sorg voor die tyd dat jy sterk is. Staal jouself. Dis ’n metaalaanslag soos in die dae van radiators.

Lily Allen: Alright, Still

Die multinasionale musiekkorporasie wat hierdie album uitgereik het, bemark dit as ’n prioriteitsproduk. Daar is selfs ’n rooi sticker agterop wat sê PRIORITY. Lily is ’n skrale 21 en volgens die groupie in die platemaatskappy se reklame-afdeling wat haar persversklaring geskryf het, is daar ’n vreemde glinstering in haar oë. Haar liedjie “Smile” boer bo-aan die Britse trefferparades. Dit is lig soos blink borrels, dit wil sê helaas ook effens leeg, aldus Jana-Mariana.

Lily het op haar brose ouderdom kennelik al geleef dat dit bars, want sy sing onder meer oor boyfriends wat rondnaai en haar boetie wat dagga rook. Die musiek is baie popcorny en het, vreemd genoeg, ’n vervlietende sjarme, en dit is nie pynlik om daarna te luister nie. Volbloed-heteroseksuele mans sal dit ook as pophorny ervaar en volgens Jana-Mariana is Lily ook gewild in die lesbosoniese lae van die atmosfeer. Alright, Still is egter beslis nie iets wat aanbeveel moet word vir die diskoteke van die rockprofessore en hul dwalende studente nie, maar tog ’n CD wat enkele vermaaklike momente, aansteeklike tunes en sexy hooks bevat. Al mense wat hierdie CD werklik sal haat, is die oujongnooiens-van-beide-geslagte.

Vandeesmaand se idioolpoppe

Al gehoor van idioolpop? Volgens Jana-Mariana is dié woord idiool volgens die rockprofessore en hul dwalende studente ’n mengsel van idool, idioot en riool en kan ’n mens vir jouself uitwerk hoekom die woord idiool in dié geval dus die mees gepaste woord is.

Dit is wel polities-inkorrek en gender-onsensitief om in terme van mans of vroue na kunstenaars te verwys: by sekere publikasies word net gepraat van “sanger” en “akteur” vir almal – daar bestaan nie meer iets soos “sangeresse” en “aktrises” nie. Om hierdie lastige probleempie te omseil, sal ons voortaan na hierdie kunstenaars as idioolpoppe verwys. ’n Idioolpop kan dus manlik of vroulik of transseksueel of ultragender of pan-eroties of straight of gay of bi wees. Get the picture?   

Dis nou al baie lank dat ons arme ou ondermaanse mensdom opgeskeep sit met die verskynsel van idioolpoppe, asof oorlog in die Midde-Ooste en Irak en hongersnood en armoede in Afrika nie klaar genoeg is nie. Wie kan nog al die idioolpoppe se name onthou? Die eerste een was Will Young. Daarna het hulle soos mushrooms (of liewer kaktusse in Suid-Amerika) begin oppop en titels verwerf soos American Idol 1, American Idol 2, American Idol 3, Coca-Cola Popstars 1 tot 4, Supersterre 1, Supersterre 2, Zinger 1, Project Fame 3, Afrikaanse Idol, Idols 4, Eskimo Idols ensovoorts ensovoorts. Hulle word soos kommoditeite en seksobjekte bemark en moet dus ook in daardie lig beoordeel word. 

Die jongste idioolpoppe op die toneel is Shayne Ward met sy gelyknamige album, Carrie Underwood met Some Hearts, Teddy Geigermet Underage Thinking en Nick Lachey met What’s Left of Me. Smooth produksiewerk, gawe melodieë, nonintelligente lirieke. Pure popcorny, met ander woorde, en ook pophorny. Op hulle foto’s lyk al vier na mense met wie dit net lekker kan wees om sensuele speletjies sonder klere in die maanlig te speel - verkieslik terwyl hul eie musiek nie in die agtergrond speel nie.

Prul van die maand

Verskeie kunstenaars: Music Inspired by Da Vinci

Almal cash in op The Da Vinci Code. Hierdie CD is egter so afgryslik dat dit selfs ’n pyniging is om daaroor te skryf. Ek sien in ’n nasionale Afrikaanse weekblad het iemand geskryf die musiek is baie mooi, maar dit is nie - Gregoriaanse monnike wat soos breindood zombies klink, ambience musiek wat klink of dit geskryf is vir ’n dokumentêre rolprent oor New Age of pop-psycho-selfhelp of katedraalargitektuur en met ’n piepklein budget opgeneem is. Sy wens net daar kom nou ’n Da Vinci Cockroach sodat sy dit met die hak van haar stewel kan verbrysel, sê Jana-Mariana.

En niemand stry ooit met Jana-Mariana nie.



LitNet: 16 Augustus 2006

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.