Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kan David ons wys waar die wortels begrawe lê?

Andries Bezuidenhout

Die outentieke of die nostalgiese: Kan David ons wys waar ons wortels begrawe lê?

Populêre musiek as 'n industrie teer op subkulture en kontrakulture in die underground. Trendspotters kuier in kroeë rond om uit te vind wat die nuwe tendense is. Dis hoe rock 'n roll op die radio en TV beland het. Dis hoe raves deel van die mainstream geword het. Dis hoe hip hop so 'n groot aanhang gekry het. Elkeen het as 'n subkultuur iewers begin - gewoonlik in ghetto's of tronke. In Suid-Afrika laat die trendoids hulle broeke afsak sodat die onderbroek uitsteek. Sommige van die broeke het mooitjies 'n toutjie binne wat hom gemaklik in die middel van jou boude laat hang. Min weet hulle dat daardie mode uit Amerikaanse tronke kom, waar bandiete nie belde mag dra nie. Dis die ironie van trendspotting in populêre kultuur: jy vat die kultuur van die armes, sit dit in 'n mooi pakkie en verkoop dit dan aan die middelklas. So word dit 'n produk - 'n kommoditeit.

Deesdae krap trendspotters in die underground van die verlede rond. Daar is wêreldwyd 'n beweging van mense om weer hulle roots te ontdek. Hierdie soeke na identiteit word dalk so dringend as gevolg van die feit dat die hele wêreld 'n mens se woning geword het. Om sin van alles te maak soek ons ietsie van ons eie. In die VSA is daar 'n beweging in musiek wat Americana genoem word. Mense herontdek country en bluegrass. Ewe skielik kom alle country nie meer uit Nashville nie, maar ook uit New York.

Nostalgies soek almal nou na die "outentieke eie". Dalk het dit 'n bietjie te doen met die reaksie op mense wat vliegtuie deur jou geboue kom jaag. Maar so gou as wat die outentieke verpak en verkoop word, is dit nie meer outentiek nie, maar bloot nostalgies. Dit reis oor grense heen en word regdeur die wêreld aan mense verkoop. Mens moet nie verbaas wees as ons ewe skielik 'n oplewing in country in Suid-Afrika ook gewaar nie!

* * *

Dis Vrydagaand en ek en Irma besluit om te gaan eet by Ulla-la, die plek in Randburg waarvan almal praat. Dis Ulla Pakendorf en haar pa Harald se nuwe kuierplek. Hulle bedien blykbaar boerekos in die hart van Johannesburg. Ek bestuur en Irma navigeer met die kaart van Johannesburg, Sandton en Roodepoort.

Ons spoor dit heel maklik in 'n regte voorstedelike winkelsentrum op. Die bure aan die een kant is 'n kroeg en aan die ander kant 'n apteek. Dis jammer die twee is nooit gelyktydig oop nie, dink ek, dit sou heel interessante moontlikhede kon bied. Ons draai egter nie links of regs nie, maar slinger tussen die karre deur tot ons voor die Pakendorfs se eetplek staan. Dit vat 'n rukkie om iemand se aandag te trek en uiteindelik maak ons ons tuis op die stoep wat op die parkeerterrein uitkyk. Harald Pakendorf bring tafeldoeke. Eers 'n wit een en dan 'n kleiner bont lap wat jy dwars oor die wit tafeldoek drapeer. "My vrou sê ek moet dit so doen," sê Harald. "Mens noem dit granny-print," sê Irma en wys na die blommepatroon op die tafeldoek.

Harald bring 'n olielampie, maar dit waai onmiddellik dood. Dit maak nie saak nie. Die maan se weerkaatsing teen die bleek Hoëveld-naghemel verskaf genoeg lig. Dit het vroeër gereën en die wolke lyk nou soos nat stortgordyne.

Die spyskaart maak my skoon opgewonde. Boerekos is kos wat uit verskillende wêrelde gekom het en in 'n groot land kom droogword het. Dit wat jy nie vars gebruik nie moet jy kan preserveer. Jy moet daarmee in jou saalsak kan rondry: biltong, droëwors, gedroogde vrugte, beskuit. Die spyskaart bied 'n aantal van hierdie opsies. Siende dat dit Johannesburg is, is daar ook moontlikhede vir volksvreemde mense wat nie vleis eet nie. Die vegetariese bord se naam is Hensopper. Ek bestel egter skaapboud met aartappels, boontjies met amandels en die lekkerste pampoenkoekies wat ek nog in my lewe geëet het. Irma eet kingklip met konfyt en 'n mosbolletjie. Vir nagereg kry ek sommer Harald se varsgebakte brood met botter en konfyt en Irma eet souskluitjies.

Dis nie net die kos wat lekker van Ulla-la nie is. Dis die gemaklikheid waarmee alles gedoen en bedien word. Hierdie is nie 'n opgesmukte, pretensieuse, ingat kuierplek nie. Dis net 'n lekker plek met ongelooflike kos. En as jy jou neus optrek vir die boerekos, soos blykbaar al gebeur het, sal Harald jou vriendelik vra om asseblief nie weer terug te kom nie.

Hierdie Vrydagaand sit die regulars sommer en rugby kyk terwyl hulle van hulle CD's oor die restaurant se klankstelsel speel - meestal Valiant Swart en Koos Kombuis. Die mense van Bowline, die maatskappy wat ons CD's versprei, kuier blykbaar elke dag daar. Daar is ook mense van Carletonville af wat hulle aan ons kom voorstel. Hulle het al die pad gery om die plek te kom uitprobeer. Maar die vreemdste van alles is dat al die mense wat by die tafels rondom ons gesit het, Engelssprekend is.

Irma sê sy dink granny-print moet van Engeland af kom. Daar is baie elemente van die Engelse kultuur wat ons in ons eie opgeneem het. Mense wie se kultuur deur 'n ander oorgeneem word, het gewoonlik gemengde gevoelens daaroor. Aan die een kant haat hulle daardie kultuur en sy mense. Aan die ander kant het hulle baie respek daarvoor en aspireer selfs om deel daarvan te word. Sodoende ontstaan daar baie keer nuwe kulture en selfs dialekte of tale. Die Engelse taal en kultuur is self 'n goeie voorbeeld hiervan, met die vermenging tussen die Romeinse oorheersers en die plaaslike stamme.

Dis dalk hoekom Engels die wêreldtaal geword het - omdat dit so aanpasbaar is. Van vroeg af het dit verstaan dat jy nie mense net moet onderwerp nie, jy moet ook van hulle woorde, hulle gesegdes, hulle klanke in jou eie opneem. Dan hoef jy nooit húlle taal te leer nie. Wat die trendspotters nou met subkulture doen, het die Groot Britse Empire jare terug reeds besef. Dis dalk hoekom populêre Engelse musiek die wêreld oorheers. Die res is bloot "World Music".

As iemand in die buiteland my vra om 'n ware Afrikaanse dis voor te berei, kies ek gewoonlik bobotie. By Ulla-la kan 'n mens dit in 'n vetkoek eet. Bobotie se oorsprong is natuurlik deel van die Oosterse erfenis in Afrikaanse kookkuns. Gelukkig gee die Ooste ons kookkuns 'n bietjie spice, anders sou dit dalk so smaakloos soos Engelse kos gewees het. Die Engelse glo mos jy kook enige iets tot dit grys is - dan's dit gaar.

Die koeksister kan ook 'n interessante studie in verskillende style Afrikaanse kookkuns wees. Daar is die weergawe wat gevleg word met gemmer en stroop. Maar die oorspronklike weergawe is ronderig, minder stroperig en het meer klapper en kaneel. 'n Mens eet dit gewoonlik warm. In Johannesburg kan jy dit in Fordsburg opspoor. Die een met die vlegsels kry jy deesdae sommer in Woolworths. Ek wonder soms hoe die oorspronklike weergawe (soms "koesister" genoem) verdraai het tot die koeksister-model.

In Afrikaanse kookkuns kan 'n mens gelukkig die oorsprong van verskillende disse naspeur deur 'n bietjie deur die land rond te reis, aan geregte te proe, familieresepte van mense af te bedel of te smeek (hulle los altyd een belangrike bestanddeel uit), of 'n mens kan daaroor lees. C Louis Leipoldt het baie resepte vir ons opgeteken. Dan is daar die verwerplike Kook en Geniet, wat vele kinders vir ewig van spinasie en blomkool vervreem het met vervelige Engelse resepte. Die Wenresepte het randrekkers vervolmaak (voeg net broodkrummels by).

Ek is bly dat ons kookkuns 'n bietjie terugkeer na die roots toe. Ulla-la is 'n voorbeeld van hierdie nuwe nostalgie in die Afrikaanse wêreld.

Daar is ook 'n nuwe nostalgie in Afrikaanse musiek. Dink maar aan die terugkeer van die "volksliedjie" in die kroeg. Martjie Bosman het 'n baie interessante artikel hieroor in Tydskrif vir Letterkunde geskryf. Maar erken ons die verskillende roots van Afrikaanse musiek genoegsaam? Waar kry ons die bobotie van Afrikaanse musiek?

* * *

Ek herkou nou al 'n hele rukkie aan die gesprek tussen David Kramer en Koos Kombuis wat hier op LitNet plaasgevind het.

Soos baie "wit" Afrikaanse mense nie bewus is van die bestaan van 'n ander weergawe van die koeksister nie, sê David dat 'n groot deel van die erfenis en oorsprong van Afrikaanse musiek ontken word. Hy skryf in een van sy briewe aan Koos:

In die afgelope 30 jaar probeer ek in party van my songs sê dat bruin en swart mense óók Afrikaans praat en dat hulle óók op die plaas gebly het … Wat my altyd die moer in gemaak het, was dat alhoewel hulle 'n groot deel van my lewe was, was hulle altyd "invisible". Hulle was nie deel van ons geskiedenis nie. Ek dink die Afrikaanse/Boeremusiek het seker dieselfde geskiedenis as Afrikaans. En dit lyk vir my asof die oplewing van die "ou liedjies" weer gebruik word as 'n kulturele glue vir die boere, sonder erkenning van die oorsprong of bydrae van daai deel vannie familie.

Harde woorde. Maar hy los dit nie daar nie. Hy stel dit sommer prontuit: "Ek dink Afrikaanse musiek is diep in die kak." (Verskoon dat 'n mens dit nou op só 'n onsmaaklike wyse moet verwoord terwyl ons oor kos gesels!) Hy sê hy het nie veel oor die lirieke te sê nie, maar musikaal verval Afrikaanse musiek in die bestaande clichés van rockmusiek:

I don't find "alternative" Afrikaans music interesting. The problem is not so much with the lyrics as with the music. This borrowing of the blues/rock/punk idiom is so tired and such an easy option.

Later in sy brief skryf hy:

If we look at a genre like rock, then I'd say that what was once fresh, exciting and alternative (within the Western context, particularly America) became stale and clichéd a long time ago. That the so-called alternatives use rock (in a broad sense) as the musical vehicle for their lyrical expression is what I find particularly boring. Particularly in the light of our recent emancipation and the current state of American politics.

Dit laat my dink aan die keer toe Johannes Kerkorrel vir Paul Riekert gesê het dat hy te veel Led Zeppelin geluister het toe hy jonk was. Paul Riekert het in Vrye Weekblad geantwoord dat dit dalk waar is, maar dat hy met 'n skoon gewete kan sê dat hy darem nie na Shakin' Stevens geluister het nie.

So dalk is David Kramer reg. Die musiek-en-liriek-beweging het baie sterk invloede van die Amerikaanse folksangers van die 1960's en 1970's. Baie bands van Stellenbosch word beïnvloed deur blues. Valiant gaan reis deur die suide van Amerika en wys op die ooreenkomste tussen ons en hulle. Die bands van die Cape Flats doen hip hop African American styl maar net in Afrikaans. As iemand hier 'n plaat opneem, word daar gesê "hy is ons eie Bob Dylan", of "sy is ons Cheryl Crow". Dit wil voorkom asof ons hele musikale verwysingsraamwerk uit Amerika en Engeland kom.

'n Rede hiervoor, volgens David Kramer, is "this shame and denial of what has happened." Hy skryf verder:

So a kind of inbreeding occurs and a constant reworking of an idea that is so far removed from its source it becomes anaemic. So much of the music is bloodless and pretentious. Or nostalgic for a fictitious, happier time.

Nou harloop mense weg vir hulself en hulle verlede. Hulle probeer in die wêreld inpas sonder dat iemand hulle opmerk. Ek dink in Afrikaans noem 'n mens so iemand 'n "suutjiespoep".

Verder skryf David: "And so you wear someone else's shoes and pretend you've walked the same road."

David Kramer wil verder weet hoekom Afrikaanse musikante nie plaaslike style ontgin nie. Hy praat oor navorsing wat mense by die Universiteit van Kaapstad oor Khoi-musiekinstrumente gedoen het - oor blikviole en ramkies:

[F]or me, the blikviool is not nostalgic, but a discovery and a confirmation of my premise about the roots of this music. It is a raw, exciting sound with the unique voice of the Kammiesberge or the Koue Bokkeveld. It is real and exists and it is played and enjoyed and danced to. It is connected to a painful history, and when you hear it, it sings of the past and the present and it is as jagged and as fucked as the musician playing it. And when you hear it, "dan is jou bloed soos 'n snaar" and you know in your being because you were born here and because you are human that this is not someone else's shoes, this is not hillbilly waltzes or bluegrass.

As 'n mens hierdie woorde lees, kry David Kramer dit reg om 'n mens soos 'n regte fake te laat voel. Swart musikante het mbaqanga en maskande. Ons het ons eie style van jazz in marabi. Kwaito sal jy nie in Amerika vind nie. Boeremusiek het darem 'n sterk inheemse klank, maar as jy enige van die Afrikaanse musikante se woorde net in Engels vertaal, sal jy nie kan sê dat die musiek uit Suid-Afrika kom nie. Is dit al wat dit uniek maak? Die taal? Waar is ons musikale bobotie en koeksisters?

Waar mense in die VSA na die elektroniese fase in musiek weer terugkeer na hulle roots, wil David Kramer hê dat ons hier dieselfde moet doen. Hy wil ons wys waar ons wortels begrawe lê. Op die ou end lyk dit vir my of David Kramer 'n argument teen die nuwe nostalgie voer. Ons moet eerder soek vir die outentieke en dit gebruik om iets nuut te skep.

Maar kom ons kyk hoe hy self so 'n projek aanpak. Hy reis deur die Karoo op soek na kitaarspelers. Hy sit hulle op 'n verhoog en maak saam met hulle musiek. Hy skryf saam met die mense songs en kombineer hulle herhalende refreine met nuwe verse wat hy byskryf. Vat maar byvoorbeeld "Almal het iets te sê", wat die Mouers-familie op Karoo kitaar blues sing. Die woorde word oor en oor herhaal, amper asof die sangers daarvan in 'n trans verkeer:

almal het dan iets te sê en dit oor my
almal het dan iets te sê en dit oor my
ek hettie mama nie ek hettie papa nie
swaar om 'n weeskind te wees.
Op sy eie CD Huistoe het David Kramer die woorde gebruik as refrein vir "Weeskind". Van die woorde wat hy byvoeg, klink so:
die waarheid vang jou asem
slat jou sommer stom
die waarheid is so mooi
al is jy oud en krom
almal die wat slim is
hul kop is in hul dinges
kannie waarheid koop'ie
dit vat jare te bekom.

Die woorde val in die idioom van die refrein. Maar die struktuur wat hy op die songs toepas, is dié van 'n tipiese rock song - met verse, 'n refrein en dan 'n brug voor die laaste refrein waar daar na 'n hartseer mineurakoord toe oorgeslaan word. Deurgaans word die blikviole en kitaarstyle van die Karoo kitaar blues-span gebruik, maar word gebruik saam met 'n tipiese four-piece rock band - tromme, baskitaar, lead-kitaar en rhythm-kitaar. Hier is, met ander woorde, 'n tipiese cross-over metode aan die werk. Baie soos Johnny Clegg.

Myns insiens slaag hy baie goed daarin om iets nuut te skep. Huistoe is 'n CD wat ek oor en oor kan luister. Maar tog voel dit effe onwerklik vanuit die stedelike wêreld van Johannesburg. Dis so 'n bietjie soos die vars brood by Ulla-la. Dis noodwendig nostalgies, omdat dit so onwerklik is. Daar is nie meer plase in die middel van die stad nie. Ons eiers en meel kom van elders, maar ons voel goed as ons die free range eiers koop by Woolworths.

David Kramer sê die nostalgie moet deur die outentieke vervang word. Die heersende nostalgie ontken die bydrae van die "ander deel van die familie". Hier stem ek met hom saam. Karoo kitaar blues en Huistoe doen baie om daardie ontkenning reg te stel. 'n Mens moet ook in gedagte hou dat mense soos Anton Goosen, James Phillips en Mr Mac and the Genuines ook reeds baie gedoen het in hierdie verband. Miskien is Anton Goosen ons pionier-ontdekker van roots. Hy het lank voor almal sy musiek gefuse met boeremusiek en ander plaaslike tradisies.

Maar is dit noodwendig meer outentiek as Afrikaanse musiek in die idioom van blues, rock en punk? 'n Mens moet hip hop ook hier byvoeg. Alle rockmusiek is tog nie 'n cliché met 'n lang kitaarsolo nie. Wat van Alabama 3, Tom Waits, Nick Cave, Calexico en Steve Earle? En wat van Franz Ferdinand, White Stripes en Peaches? Ironies genoeg gryp baie daarvan terug na die musiek van die seventies en die eighties. In die kort geheue van populêre kultuur is dit eeue terug! Maar om musiek te waardeer moet 'n mens die verwysingspunte daarbinne verstaan. Dit geld nie net vir die simboliek agter die woorde nie. Dit geld vir die musiek - die ritme, melodielyne en harmonie. Dit geld vir die tipe instrumente wat gebruik word en vir die kombinasie van klanke wat dit tot gevolg het.

Dis nie werklik 'n opsie vir rockers van Johannesburg om deur die Karoo te ry en te gaan luister na hoe mense daar sing en hoe hulle hulle kitare tune nie. Dit sou alte naby aan uitbuiting kom. Ons is gedoem om outentieke klanke uit ons eie wêreld te kry.

Maar wat is ons eie wêreld? Waaroor kan ons op 'n outentieke wyse nostalgies raak? Die mynhope en die hijackers? Die elektriese heinings en panic buttons? Die rykdom en armoede wat so naby mekaar ingetrek het? Dis tog dinge waaroor ons eerlik kan skryf. Maar musikaal gesproke, waar sal die vernuwing vandaan kom om ons te red van die clichés van Amerikaanse rock, blues, country en hip hop?

Miskien moet ons anders oor die saak dink. Dalk moet ons alles wat in Engelse musiek gebeur, nie sommer as verwerplik afmaak nie. Dalk voer David Kramer sy punt 'n bietjie te ver. Die huidige nostalgie in Afrikaanse musiek raak werklik baie beklemmend, veral as Afrikaanse musikante niks met ander musikante in die land te doen wil hê nie. Om 'n laer om Afrikaanse musiek te bou sal maak dat die verwysingsveld net te klein word vir enige iets interessants om daarbinne te gebeur. Ons is gelukkig dat ons 'n groot deel van die Engelse musiekwêreld verstaan - dat dit deel vorm van ons verwysingsveld. Ons verstaan waaroor Elvis, Bob Dylan en Radiohead gaan. En vreemd genoeg kom die plaaslike musikale innovering juis van Afrikaanssprekende mense wat Engelse musiek maak. Die nuwe klanke het van mense soos die Springbok Nude Girls, Boo! en The Narrow gekom. Dalk is dit omdat hulle nie net na Afrikaanse musiek luister nie, maar hulle ore oophou vir alles wat in die res van die wêreld gebeur.

Dis juis die probleem met Afrikaanse musiek. Daar is mense wat spog dat hulle uitsluitlik na Afrikaanse musiek luister. Ek voel jammer vir mense met sulke beperkte musiekhorisonne. Omdat daar so 'n klein mark vir Afrikaanse musiek is, laat dit bitter min eksperimentering toe. Die underground is baie klein. Jy kan nie musiek vir net sewe mense maak nie. In die VSA sou dieselfde musiekvorm byvoorbeeld 'n mark van sewe duisend gehad het. Daarom kan ons nie bekostig om ons met ons nostalgie van die res van die wêreld af te sny nie. Ons is net te min mense.

Maar hoekom juis Engels? Ons landskap bestaan nie net uit Suid-Afrika nie. Die meeste stedelike Afrikaanssprekendes se identiteit is meer tweetalig as wat dit eksklusief Afrikaans is. Waarheen gaan mense wat emigreer? Engeland, Kanada, die VSA, Australië en Nieu-Seeland. Dis waar hulle tuis voel. Hulle ken die klanke, die verwysingspunte en die musiek.

Daarom het die groot Britse Empire ons ook 'n guns gedoen. In die kulturele doolhof van Coca Cola-imperialisme kan ons ons pad heel goed vind. Ons landskap is nie net die Karoo of die Bosveld nie. Dit is dit óók, maar ons ken die klanke van die suide van Amerika, van Ierland en die clubs van New York. Elvis is so deel van ons psige as wat Anton Goosen is. Ons moet ons Engelse roots ook ken en ontgin. Dis soos daardie tafeldoek met die granny-print in Ulla-la. Dis al lank nie meer Engels nie. In daardie konteks word dit Afrikaans. Dit geld ook vir folk- en rockmusiek. Dis al só deel van Afrikaanse musiek dat dit 'n heel nuwe betekenis aanneem.

* * *

Daar is egter ook 'n meer siniese siening van David Kramer se projek. Is hy nie besig om daardie mense se musiek te gebruik vir eie gewin nie? Ek dink darem nie so nie. Die omslag toon waar Kramer saam met ander mense aan die songs gewerk het. Hulle sal met ander woorde tantieme ontvang vir hulle werk. Maar wat van die mense wat deur die eeue help skryf en skaaf het aan die songs? Kry hulle erkenning vir hulle bydrae? Moderne regstelsels dig intellektuele eiendom aan individue toe. Dis die gevaar wat 'n mens loop as jy kollektiewe besit in die wêreld van moderne populêre musiek insleep. Die outentieke is geneig om 'n wrang vorm aan te neem in die kapitalistiese wêreld van die vermaaklikheidsbedryf.

Dis die dilemma waarmee ons almal sit. Is daar enige iets wat outentiek kan wees in hierdie wêreld? Erkenning beteken dat dit 'n bliep maak op die radarskerm van die trendspotters. Op David Kramer se hakke volg mense met minder edel motiewe - met digitale klankopnemers, koperdraad, kontrakte met kleinskrif en techno beats.

In die kloue van trendspotters kan die outentieke baie vinnig bloot nostalgies word. Of nóg erger - kitsch.

Lees ook Erns Grundling se resensie van Huistoe op LitNet.

Ulla-la… Die Kuierplek is in die Boskruin Village-winkelsentrum op die hoek van President Fouché en Hawkenlaan in Randburg. Bel hulle by (011) 791-3024.




LitNet: 09 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie "[Re: Perkussie]"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.