Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Chelsea Hotel en Hotel Royale …

Andries Bezuidenhout

Ek is in Roxy Rhythm Bar, een van Melville se musiekplekke, om te luister wat Karen Zoid deesdae doen. Ek voel effe ontuis in die glitzy omgewing. Laas toe ek na haar geluister het, was in Brixton, in die Abelarde Sanction. Maar dié is intussen gesluit en Karen het baie vinnig baie famous geword. Voor sy begin, stel sy 'n nuwe band voor. Hulle noem hulself Kobus! Die mense gaan mal. Karen staan self nie terug nie. Almal spring as sy sing: "Afrikaners is plesierig …" Dit moet 'n vreemde ervaring vir Roxy se eienaars wees.

Ewe skielik nooi Karen nóg 'n gas om op die verhoog te klim. Roxy word stil terwyl sy op haar eie sing:

Oh Lord, won't you buy me a Mercedes Benz?
My friends all drive Porsches, I must make amends.
Worked hard all my lifetime, no help from my friends,
So Lord, won't you buy me a Mercedes Benz?

Oh Lord, won't you buy me a colour TV?
Dialling For Dollars is trying to find me.
I wait for delivery each day until three,
So oh Lord, won't you buy me a colour TV?

Oh Lord, won't you buy me a night on the town?
I'm counting on you, Lord, please don't let me down.
Prove that you love me and buy the next round,
Oh Lord, won't you buy me a night on the town?

Haar stem het 'n rou kwaliteit soos 'n Janis Joplin van ouds. Maar sonder die hulp van die band vul sy Roxy se drieverdiepingruimte met haar stem.

'n Jaar of wat later met Aardklop gebruik ek die geleentheid om haar weer te sien. Die Elgro Hotel se saal is stampvol. Hierdie keer het sy 'n hele band om haar te ondersteun terwyl sy sing:

Sy was 'n engel met 'n angel
in 'n swart limousine
Verslaaf aan rock 'n roll
en aan nikotien
Sy het 'n chauffeur en 'n lyfwag
en 'n huisie by die see
Sy het 'n shrink wat na haar luister
en pille vir haar gee

En sy ry te vinnig
sy ry te vinnig vir my
Sy ry te vinnig
by die rooi ligte verby.

(Klik hier om te luister na "Engel met 'n angel")

Die applous wil nie ophou nie. Mense klim op hulle stoele. Amanda buig en glimlag. As hulle stil word, sê sy: "There's life in the old lady yet."

* * *

'n Mens raak altyd opgewonde as daar jong musikante is wat nuwe dinge doen. Elke geslag musikante rebelleer darem gewoonlik so een keer en bring sodoende vernuwing mee - deur gebruike en reëls te verbreek. Daar was die geslag van musiek-en-liriek. Dan was daar Voëlvry. En toe bars dinge los en ontplof in alle rigtings …

Maar daar is musikante wie se loopbane oor 'n aantal generasies strek. Om een of ander rede kry ek altyd 'n gevoel van vervulling as die veterane stééds goeie musiek maak. In die proses wys hulle hoekom mense hulle in die eerste plek bewonder het. Dink maar aan Bob Dylan en Leonard Cohen, of aan Anton Goosen en Amanda Strydom.

Ongelukkig is daar altyd sommiges wat in die slag bly - vir wie rebellie op 'n persoonlike vlak te veel raak. Daar is Janis Joplin en Jim Morrison. Of Koos du Plessis en Johannes Kerkorrel. Hulle word legendes, maar word die voorreg ontneem om nog songs te skryf. Ons moet tevrede wees met wat hulle vir ons nagelaat het.

Dié wat oorleef, moet op 'n wrang manier saamleef - of soms selfs kompeteer - met hoe ons die ontslape legendes onthou.

Amanda Strydom sing in "Hotel Royale" van mense soos Janis Joplin, James Phillips en John Lennon. Leonard Cohen het weer vertel van die keer toe hy Janis Joplin in die Chelsea Hotel in New York ontmoet het. Toe hy by die hysbak instap, vra sy vir hom of hy Kris Kristofferson is. Hy antwoord toe, "Lady, I am Kris Kristofferson." Hulle is toe saam na haar kamer toe, waar hulle toe vir iets soos drie dae gebly het sonder om uit te kom. Cohen beskryf die toneel so:

I remember you well in the Chelsea Hotel,
you were talking so brave and so sweet,
giving me head on the unmade bed,
while the limousines wait in the street.
Those were the reasons and that was New York,
we were running for the money and the flesh.
And that was called love for the workers in song
probably still is for those of them left …

You told me again you preferred handsome men
but for me you would make an exception.
And clenching your fist for the ones like us
who are oppressed by the figures of beauty,
you fixed yourself, you said, "Well never mind,
we are ugly but we have the music."

Ons is lelik, maar die musiek behoort aan ons. 'n Mens kan Cohen se wrang glimlag hoor as hy dit sing.

Maar Janis Joplin is vroeg in haar loopbaan dood, toe die slang wat sy in haar arm ingespuit het, haar pik. Leonard Cohen kan dit op so 'n mooi manier stel:

Ah but you got away, didn't you babe,
you just turned your back on the crowd …

'n Ster wat verskiet. 'n Smack shooting star, wat heeltemal te vinnig gery het - al was dit met 'n Volksie en nie 'n Mercedes Benz nie.

* * *

Vir my was Amanda Strydom altyd nog daar. Sy was deel van my kulturele landskap. Dís hoe nuwe generasies voorgangers ervaar. Hulle was net dáár - op die radio, die TV, en in die teaters. Ek was verstom toe ek onlangs weer 'n opname van 'n TV-reeks oor die geskiedenis van Afrikaanse musiek kyk. Daar was mense met polkadot-rokke en Purdy-bobs, en programme met name soos Musikale Mallemeule. 'n Hele paar name was baie bekend - soos Amanda s'n.

Waar Leonard Cohen sing oor die stedelike landskap van New York, gaan een van Amanda se mooiste songs oor die landelikheid van Suid-Afrika. Dis woorde soos doringveld, slingerpad en koppies wat beskryf waar ons woon:

Ek loop die pad al lank, my lam
so kaalvoet deur die kou
van doeriekant se doringveld
en kyk hoe lyk ek nou

Ek loop die pad so sonder hoed
deur son en wind en grou
so kaalvoet op die slingerpad
en kyk hoe lyk ek nou

My lam, die gras is soms so groen
die son is soms so lou
maar ek loop hierdie pad alleen my lam
en kyk hoe lyk ek nou

Onthou jy nog hoe ons kon loop
so loslyf en verspot
so vlieg-vlieg oor die koppies heen
'n Ragab en 'n Lot?

Van die ander name op daardie program het ek glad nie geken nie. Baie van die mense het van die toneel af verdwyn. Van hulle het darem geld gemaak, en woon waarskynlik in gerieflike aftree-oorde. Die skoonmaker moet elke week die goue plaat teen die muur afstof. Besoekers probeer verbouereerd onthou hoe daai deuntjie nou weer geklink het … die vyf weke wat hulle daarna geluister het was net so kort. Maar daar was so baie …

Wat maak dat sommige mense se stemme sterk bly in die ewige kakofonie van reklame en populêre kultuur? Wat maak dat hulle kan praat oor generasies heen?

* * *

Om 'n boek met lirieke te kan publiseer beteken dat 'n liedjieskrywer 'n sekere status bereik het. Aanvanklik begin 'n mens met 'n paar note, 'n paar woorde. Dan word dit songs. Later, as jy hard werk, en met 'n bietjie geluk, kan jy 'n plaat maak. As genoeg mense daarvan hou, kan jy 'n tweede een opneem. Na 'n aantal plate kan jou "best of …"-versameling uitkom. Maar dis slegs vir 'n paar beskore om daardie songs in boekvorm te publiseer.

In die wêreld van Afrikaanse musiek is daar 'n klein en uitgelese gemeenskap mense wat nog hul lirieke in boekvorm kon publiseer. Gewoonlik word dit gedoen met die oog op ander mense met kitare of dergelike instrumente - dan word die woorde saam met kitaar-akkoorde en soms melodielyne gepubliseer. Anton Goosen het lank gelede reeds so 'n boek gepubliseer. So ook Koos du Plessis. Valiant Swart het een gepubliseer toe sy veertigste song opgeneem is. Koos Kombuis se song-boek is onlangs weer uitgereik - met 'n paar nuwes by. Anton Goosen sal waarskynlik binnekort 'n nuwe een uitgee - dit sal 'n baie lywige boek moet wees.

Klik hier om te bestel by kalahari.net!Nou kan ons Amanda Strydom se naam by die lys voeg. Kaalvoet word deur Genugtig! uitgegee. Die omslag beskryf dit as 'n bundel met "liedtekste". Benewens 37 lirieke bevat die boek 'n hele aantal foto's. Kaalvoet is dus beide 'n liriekbundel en 'n foto-album.

Dis die algehele benadering wat dit so 'n interessante boek maak. As 'n mens 'n bundel met jou lirieke in publiseer, moet jy dink oor hoe om dit te orden. Soms gebruik mense die plate waarop die songs verskyn het - soos met Nick Cave s'n. Soms laat hulle die songs sommer in alfabetiese volgorde aantree. Amanda het anders besluit. Haar lirieke word in temas ingedeel en in verskillende onderafdelings georden.

Uit die afdelings kom 'n mens agter hoe universeel die temas is wat sy deur die jare in haar musiek aangespreek het. Sy haal die indeling uit die liriek van "Trippe Trappe Trone" op Op 'n klein blou ghoen:

Om 'n sonkie te skryf vat baie my pel
Dit kom soms so maklik en soms is dit hel
Gaan hierdie woorde sinmaak?
Gaan dit wat ek wil sê uiteindelik
Soos bedoel was
In jou hartkamer kom lê?

Moet ek skryf oor die liefde
Moet ek skryf oor politiek
Oor die menslike kondisie
Oor ons blou planeet se siek?

Wel, met Kaalvoet beantwoord sy self die vraag. Oor alles. Waar Amanda 'n uitstekende vertolker van ander mense se songs is, wys sy ons met hierdie bundel in hoe 'n mate sy deur die jare 'n aansienlike versameling songs opgebou het - met baie dink, baie voel, en baie struktuur daaragter.

Die eerste afdeling gaan oor die liefde. Hier tref ons byvoorbeeld "Ek loop die pad", "Stoom" aan. Ook een van haar mooiste songs, juis omdat dit die idee van 'n liefdeslied ondergrawe, is "Liefdeslied":

Almal smeek my maande lank om 'n liefdeslied te skryf
Asof ek maklik kan geboorte gee met die leegheid in my lyf
"Ons sien jy's so gelukkig," skoor 'n tydskrif nou die dag
"Deel tog met ons lesers wat jou deesdae so laat lag" …

Almal smeek my maande lank om 'n liefdeslied te skryf
En ek onthou hoe jy hier weg is - al die rusies en gekyf
Hulle sou dit so geniet het - die verwyte en die pyn
En my liggie wat verbete teen jou aanslag probeer skyn …

Almal smeek my maande lank dat ek 'n liefdeslied moet skryf,
Asof ek maklik kan geboorte gee as dit leeg is in my lyf
Ons huis het oop en stil geword
Ek word elke aand bemin deur ekstatiese gehore
Wat die web al stywer spin

Ek sê maar niks nie - glimlag net gedweë
Hoeveel moet mens die wêreld wys, hoe sit 'n mens jou teë
Teen nuuskierigheid van mense wat so graag wil weet en ruik
Aan die muskus van jou lelie en die mufheid van jou lyf.

Die tweede afdeling handel oor politiek. Hier is "Die lied van ou Suid-Afrika" en "Die Pas". Ook "Hoor hoe brom die wind", waarin sy rock in haar taal, is hier ingesluit. Die afdeling kyk dus ook vorentoe. Gaan lees gerus - en luister ook na, dit gee 'n mens koue rillings! - "Izinyanya (Die Vergetenes)". Dis op Verspreide Donderbuie:

Daar onder in die mielies langs 'n
groen doringboom
het 'n klomp mense
in sinkhuise gewoon
toe kom daar eendag stootskrapers
en slaan die huise plat
toe bou hulle weer huise langs die
nasionale pad

Liewe Jesus ek is klein
hou my net vir langer rein
ek woon hier in Suid-Afrika
en ek's bang vir my oom
en vir my pa

Izinyanya … die vergetenes.

Vreemd genoeg is "Strydom/Amandla" nie by die afdeling oor politiek ingesluit nie, maar saam met die songs oor die menslike kondisie, soos "Hotel Royale" en "Brille en pille blues". Dalk sê dit vir ons iets oor hoe Amanda politiek beleef - as iets baie persoonlik. Hierdie afdeling is die een met die meeste lirieke in. Oor die nagevolge van daardie berugte "Amandla" wat die volk so geskud het, sing sy:

Strydom/Amandla manies depressief
So staan dit opgeteken in my dokter se argief
Ek praat te veel
Ek lag te hard
Daar's stemme in my kop
Die wanbalans is bipolêr
- ons sluit haar liewers op …

Die tralies voor my venster is vir veiligheid bedoel
So sê nurse Van Staden en sy glimlag ewe koel
En die dapperes bring blomme
Die skugteres bly weg
Die pers kom loer soos jakkalse en skryf
"Meisie, dit gaan maar sleg"

Hit me with valium
Fill me up with lithium
Stick me full of needles
'Cause I'm crazy crazy …

Ek vleg bedags macrames
Speel smiddae terapie
En saans help ek Dolores om met waardigheid te pie

In Junie word ek vrygelaat ek's vet en lui gelê
Die pyn en die vernedering - wat gaan die mense sê?
Ek liefkoos nou my stilte, daar's watte in my kop
My dokter het my mak gemaak - kyk
Ek lyk nou nes die trop …

Hierdie een bly een van my gunstelinge!

"Ek het gedroom", die lied wat "Miss Mandy" vir Johannes Kerkorrel geskryf het, is ook in hierdie afdeling. Soos Leonard Cohen, het Kerkorrel ook oor 'n Chelsea Hotel geskryf - die een in Hillbrow, waarvan die vensters en deure nou met houtplanke toegespyker is:

En die ligte gaan aan in die Chelsea Hotel
en stemme en musiek klink in elke woonstel
ons sit in die son en drink wyn
ons survive met 'n helse lot pyn, in hierdie land, ja
kom ons drink op die een wat sy drome oorleef
op die een wat kry wat hy vra …

Amanda verwys ook hierna as sy Ralph aan die woord stel:

"Miss Mandy, onthou jy hoe't ons Saterdae geloop
Deur Hillbrow se strate was ons jonk en vol hoop
En onthou jy die pub lunch in die Chelsea Hotel,
Ons het die slegste bord vis en tjips op aarde bestel …"

Die Chelsea Hotel en Hotel Royale …

Dan is daar 'n afdeling oor die blou planeet se siek, met lirieke soos "Doekvoet" en "Vistenk", wat handel oor ons voorstedelike hokke. Die bundel word afgesluit met 'n afdeling oor reise en gebede, met die Karoo, water, donderbuie - weer die Suid-Afrikaanse landskap van "Ek loop die pad". Die uitstekende titelsnit van Verspreide donderbuie is ook in hierdie afdeling.

Wat maak dat Amanda nog die pad kan loop? Wat maak dat sy steeds uitstekende albums kan maak wat die SAMA-toekenning wen? Ek weet nie. Dit sou aanmatigend wees om antwoorde te wil gee. Wat 'n mens egter opval van Kaalvoet, is dat sy skryf oor dinge waarvan sy baie weet. Sy slaag daarin om die persoonlike te verwoord op 'n wyse wat dit universeel maak. Baie het al oor dinge soos die liefde, politiek, die menslike kondisie en die blou planeet se siek geskryf, maar min kry dit reg om daaroor te skryf op 'n nuwe manier. Min mense slaag daarin om die Suid-Afrikaanse landskap se kontoere, of ons eie kamers se mure, op so 'n wyse te ontgin dat ons op 'n ander manier daarna kyk of luister.

* * *

Leonard Cohen sluit op sy siniese manier af as hy oor Janis Joplin sing:

I don't mean to suggest that I loved you the best,
I can't keep track of each fallen robin.
I remember you well in the Chelsea Hotel,
that's all, I don't even think of you that often.

Dis al, net soms dink ek weer aan jou. En dis die Chelsea Hotel wat my daaraan herinner.

In landelike Suid-Afrika sing Amanda Strydom:

Maar nou loop ek alleen, my lam
so kaalvoet deur die kou
en soms, net soms, dan wonder ek
my lam, waar is jy nou?

Op die ou end moet ons wat agterbly maar oorleef.

  • Klik hier om Amanda Strydom se webwerf te besoek.
  • Klik hier om te luister na "Verspreide donderbuie".



    LitNet: 3 Desember 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.