Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die kassies waarin ons ons CD’s bêre …


Andries Bezuidenhout

Daar is hard rock, folk rock, prog rock en blues rock. Ook rock ’n roll. Dan is daar folk, country en, natuurlik, bluegrass. Verder is daar punk, hardcore, alternative, indy, en industrial — en die Goths het ook ’n plek. En wat van jazz, marabi, acid jazz, fusion, funk en R&B? Die ouens wat headbang, praat van metal, heavy metal en thrash metal. Dan is daar ska, dub en sommer net reggae. ’n Hele klomp word saamgebondel in die kolonie van world music. Daar’s natuurlik ook kwaito en mbaqanga. Die danskultuur praat verder van house, techno, trance, jungle, trip hop en drum & bass. Op ’n stadium was daar die new romantics, of new wave. En later weer Generation X se grunge. Daar’s hip hop. Daar’s ook blues. En, natuurlik, die allesomvattende “pop”.

Om een of ander rede het mense ’n behoefte om dinge name te gee.

Soms gebruik mense tydperke — soos “Die Romantiese Era” — as hulle praat van skilders soos Turner en Constable, skrywers soos Bronte en Blake, of komponiste soos Wagner en Chopin.

In Suid-Afrika sal iemand met ’n veelseggende knik van die kop sê: “Hy het in die 1970’s sy belangrikste werk gelewer, maar in my opinie was hy ’n sestiger.” Daar word dan van jou verwag om ook jou kop te knik, ’n slukkie van jou koffie te neem, en iets ongeloofliks oor Jan Rabie of Etienne Leroux kwyt te raak. Verkieslik moet jy woorde soos “kollektiewe onderbewussyn”, “Griekse mitologie” of “Angst” gebruik as antwoord. “Angst” is waarskynlik wat ’n mens in so ’n gesprek ervaar.

Dis nie net die pseudo-intellektuele met tweedbaadjies om hulle pense en brilletjies op hulle neuse wat ’n mens Angst gee nie (toemaar Professor, voor jy in jou boek verstik — ek weet ek gebruik die woord verkeerd). Ons het een keer by ’n club naby Kerkplein in Pretoria gespeel toe ek in gesprek met ’n Goth moes tree. “Ek kan sien jy’s ’n metalhead,” het hy gesê. “Maar toemaar, hier kom die Goths en die metalheads goed oor die weg. Daar’s in elk geval so min van ons albei oor.”

“Uhm,” het ek gemompel, “ek is nou nie juis ’n metalhead nie …”

“Nou wat is jy dan?”

Hoe antwoord jy nou so ’n vraag? Hy dring aan op ’n klassifikasie. Wat sal hy nou sê as ek byvoorbeeld sou antwoord: “Elemente van rock, maar met ’n sterk invloed van folk, maar ons drummer hou veral van funk beats, die baskitaarspeler se begronding is in punk (maar die eerste wave), en die lead guitarist fuse elemente van metal en rock.”

Waarskynlik sal Moord (ons drummer), Brixton (die baskitaarspeler) en Pat (die lead guitarist) onmiddellik uit die band bedank as ek hulle so in bokse probeer druk.

Dis die ding van kategorieë. Soms identifiseer jy self daarmee — soos die Goth met wie ek gepraat het. Ander kere identifiseer ander mense jou met ’n voorveronderstelling wat hulle oor jou eienskappe het — soos die Goth. Ek kon mos sien hy’s ’n Goth — onderlaag, pikswart hare, stywe swart klere. Enige kind sal onmiddellik huil as hy hom in die dag in die straat raakloop. (Behalwe natuurlik dat hy in die dag lyk soos die computer programmeerder wat hy is.)

Goths is in werklikheid baie vredeliewende mense. Die Goth-subkultuur is baie romanties, al sou hulle dit nie graag self erken nie. Hulle lýk maar net soos Sataniste of vampiere. Die ou by die plek onder in die straat waar ek my prego roll gekoop het, wou juis weet of die club ’n kerk is.

Maar die Goth wil weet wat ek is. Ek antwoord toe maar net: “Alternatief Afrikaans …” (Oeps … Hier sit ek nou my voet daarin.)

Die Goth was tevrede. Hy’t presies geweet wat ek bedoel. Maar Dirk Uys sou nie baie gelukkig gewees het nie. Koos Kombuis sou ook gefrons het. In der waarheid stem ek ook nie saam met die klassifikasie nie.

Die hele proses om Afrikaanse musiek te klassifiseer het natuurlik ’n komplekse geskiedenis — een waarin ego’s en gevestigde belange baie keer ’n groot rol speel. Woorde soos “kommersieel”, “luisterliedjie”, “musiek en liriek”, en “alternatief” word soms gebruik. Maar dis tyd dat ons van hierdie klassifikasies vergeet. Ek dink Dirk se argument dat ons eerder oor Afrikaanse rockmusiek moet praat, is baie oortuigend. Maar dan moet die definisie van rock baie inklusief wees.

Vat nou byvoorbeeld Koos Kombuis se musiek. Ver van die ou Kalahari, daardie eerste kasset van hom, sou ’n mens waarskynlik as folk klassifiseer. Elke Boemelaar se Droom is seker rock, en sy latere Blameer die op Apartheid, die een wat hy saam met Die Warmblankes gemaak het, het baie sterk grunge-elemente. Koos is immers ’n groot aanhanger van Nirvana.

Valiant Swart se musiek het invloede van folk, blues, rock en selfs country. Daar is ook sterk verwysings na boeremusiek. Valiant self noem dit “Boland Punk”.

Anton Goosen het ’n hele aantal invloede. Sy musiek is sterk begrond in rock. Ek was nog in die laerskool toe ek vir die eerste keer in Parys se stadsaal ’n four-piece rock band gesien het. Dit was natuurlik Anton met sy Liedjieboerbus op toer. Maar hy het vroeg reeds begin om elemente uit tradisionele Afrikaanse en African musiek te gebruik. So mense sukkel maar om vir Anton te klassifiseer.

Johannes Kerkorrel se Eet Kreef! is ’n rock-album. Van sy latere musiek het sterk elemente van techno, alhoewel ’n mens dit allermins as techno sou kon beskryf. Amanda Strijdom doen soms kabaret, maar sy gooi lekker rock ook, soos sy self uitwys met “Ek kan rock in my taal”. David Kramer kombineer ’n hele aantal invloede, baie keer ook begrond in tradisionele musiek uit die Wes-Kaap en ander dele van die land. “Budgie and the Jets” is so ’n lekker rock ’n roll-klank in die klassieke sin van die woord.

Verder is daar Brasse Vannie Kaap, Battery 9, Kobus!, Plank, Karen Zoid, Akkedis, Spinnekop, Diff-Olie, Piet Botha, Alta Joubert, Benguela, Beeskraal, Riku Lätti en nog baie meer. Oor elkeen sal ’n mens kan skryf oor die verskillende invloede uit die verskillende takke van die stamboom van musiek.

Maar van een ding is ek tog seker: dis beslis nie meer “alternatief” nie.

Ek stap nou die dag by ’n CD-winkel hier naby in. Daar teen die muur is Valiant Swart se Song vir Katryn op die Top 20 — saam met Steve Hofmeyr se Toeka, Thys die Bosveldklong se In die Middel, Blackie Swart se Pers Kombers en Kurt Darren se Sê net so.

Op die Top 20 kompeteer die Afrikaanse musiek heel goed met musiek in ander tale. Maar op die rakke is al die Afrikaanse musiek nog in ’n volkstaat van sy eie. Dit word in vier kategorieë ingedeel: “Boeremusiek”, “Kontemporêre Afrikaans”, “Alternatief Afrikaans”, en dan die nimlike “Afrikaans gospel”.

Die winkelassistent moes gedink het ek is heeltemal mal, maar ek het ’n heerlike tydjie gehad om vas te stel hoe hierdie gerespekteerde kettingwinkel hulle Afrikaanse musiek klassifiseer.

Onder “Boeremusiek” het ek so ewe die twee volumes van Alternatief op sy beste opgespoor. Dan was een van ons eie songs, “Brixton-dae”, wat op Afrikaans met attitude is, ook in hierdie geselskap. Beeskraal se Sonskyn Elvis het dalk beter as die ander in hierdie kategorie gepas, alhoewel hulle CD’s veel gelukkiger onder rockmusiek sou wees. Tussen al hierdie ander boeremusiekkunstenaars het ook wyle Bles Bridges gepryk met Sweef soos ’n arend.

Die afdeling vir “Kontemporêre Afrikaans” was eweneens ’n vreemde hutspot. Hier bevind Steve Hofmeyr se Southern Cross en die Gereformeerde Blues Band se Eet Kreef! hulself onder dieselfde dak. Sowel Karla as Koos du Plessis was hier, in die verfrissende geselskap van Kobus! se CD Kobus! Christa Steyn het almal hier vermaak deur die meesters op haar klavier te speel.

Teen hierdie tyd was ek so dik van die lag dat ek eers moes gaan asem skep. Die sekuriteitswag by die deur het my agterdogtig aangegluur. Gelukkig is ek weer in die winkel toegelaat om uit te vind wat alles onder “Alternatief Afrikaans” beland het.

Teen hierdie tyd was my lagbui heeltemal ontembaar. Trots pryk die Groot 5 en die Lollipop-toer se Ontembaar … die CD in die boonste rakke onder “Alternatief”. Ai, hoe dinge nie verander nie! Reg onder die Groot 5 was die jumbo pack met Koos du Plessis se drie CD’s. Dalk is dit heel gepas dat ou Koos onder meer as een klassifikasie val, het ek gestaan en dink.

En toe sien ek dit. ’n Trotse toevoeging tot die kanon van Alternatiewe Afrikaans … Leon Schuster met Catchup Song and Every Kricket Hit!

Howzat!

Tussen my lagtrane deur het ek besluit om die winkel te verlaat. ’n Gesteurde winkelassistent het van agter die toonbank gegrom. Toe hoor ek ’n stemmetjie in my kop sê: “Kyk na die gospel … kyk na die gospel …”

En daar vind ek toe die waarheid. In my stomme onkunde het ek nooit besef dat, saam met Danie Botha en Jan de Wet, ons eie Piet Botha ook die boodskap bring met Jan Skopgraaf en Die Hits nie. Ek hoop tog as hulle Die Mamba bestel, dink hulle ’n bietjie na oor waar hulle Piet sou sit.

Nou ja toe. Daar hou my lagbui ook op en ek stap na die winkelassistent toe en vra of hulle op hulle rekenaar sal kyk of hulle enige van Valiant Swart se ander CD’s ook het. Ongelukkig kan hulle nie. “The computer doesn’t work today …”

“Oh,” sê ek. “Is Song for Katryn selling well?”

“Very well!” sê die assistent. “Last week all of our stock sold out. If we could order them faster, we would sell much more!”

“Have you thought about ordering any of his other CDs?” wil ek weet.

“Uhm … no …”

Wel, daar het jy dit. Ek hoop die mense wat besluit wat om op die radio te speel, dink ’n bietjie meer na oor die kassies waarin hulle die CD’s bêre. Baie keer help klassifikasies ons om dinge beter te verstaan. Maar ander kere verhinder dit ons om op nuwe maniere daarna te kyk.

Ek sien uit na die dag wanneer Mel Botes se CD langs Metallica op die rak staan, Koos Kombuis langs Korn, en Amanda Strijdom langs … Alphaville?

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.