Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die backstreet yuppies se suburban bliss ...

Andries Bezuidenhout

Iemand het ’n paar jaar gelede ’n onderhoud oor die radio met ’n bekende filmregisseur gevoer. Sy moes vir ’n tyd lank in Kaapstad woon — dit was dan ook die onderwerp van die onderhoud. Die regisseur het, tot die ontsteltenis van die onderhoudvoerder, nie baie van Kaapstad gehou nie. Haar gevoel was dat mense heeltemal by mekaar verby geleef het. Die voorstede het hoë mure tussen die huise gehad, en mense het mekaar glad nie geken nie. Dit was ook vir haar baie moeilik om nuwe vriende in Kaapstad te maak.

Teen die einde van ’n baie negatiewe onderhoud wou die onderhoudvoerder aan haar die geleentheid gee om tog iets positiefs oor Kaapstad te kan sê:

“What about the mountain? Don’t you think the mountain is just wonderful?"

Die antwoord was heel saaklik:

“Well … it sort of gets in the way."

Die onderhoudvoerder was sprakeloos. Maar as ’n mens daaraan dink, is Tafelberg nogal onprakties. Dink aan al die verkeersknope. Dink aan die mission wat dit is om tussen byvoorbeeld Houtbaai en Kalkbaai te moet ry. Teoreties sal Kaapstad baie meer prakties wees as jy die berg platslaan en gebruik om die stuk tussen die hawe en Robbeneiland droog te lê. ’n Mens kan selfs van die fynbos bewaar deur dit oor te plant, want dan sal Kaapstad nogal soos Perth lyk.

Gelukkig is praktiese oorwegings nie altyd die belangrikste redes hoekom mense dinge doen nie. Dit wat mooi is, en dit wat prakties is, is baie keer nogal teenstrydig. Dit geld nie net vir stede nie, maar ook vir stoele, karre, vliegtuie, huise, en die plekke waar ons woon.

In Suid-Afrika is die uitgestrekte voorstede van plekke soos Kaapstad, Pretoria en Johannesburg uitgelê omdat dit praktiese plekke is om mense te laat woon. Dis gemaklik. Dis georden. Maar oor die algemeen is byvoorbeeld Grasfontein Uitbreiding Whatnot ’n ongelooflik lelike plek — met al die klinkersteentroshuise, uitheemse palms, fake water features, kitskos-drivethru’s, en verbeeldinglose winkelsentrums. Van alles is die kitsch namaaksels van Toskaanse huise die ergste.

Maar nou ja. Smaak is subjektief. Die inwoners van suburbia wonder seker wat iemand besiel om in Brixton te woon.

* * *

Ai, hoe vinnig verkoop die helde nie uit nie! Die een oomblik is hy nog ’n bebaarde revolusionêr, en die volgende stel hy “image consultants” aan om hom in ’n konserwatiewe minister van finansies te verander. Die een oomblik is hy ’n vuurvreter-unionist, die volgende bou hy vir hom ’n paleis in Kampsbaai.

Soos Riku Lätti en Jean Marais van 12Hz so ewe sinies sing:

ek’s bly jy’s bevry
nou kan jy en jou pelle in ’n groot kar ry
kyk na my
ry verby
lyk bevry

als goed in jou neighbourhood
met jou sestienkamerwoning is nou in jou bloed
eet vrek goed
drink sterk goed
robin hood se voet

in jou suit
wonder hoe jy jou comrades groet …

Later in die song sing hulle hoe die “suit" ’n goue graaf spit voor ’n ooggetuie.

Ja, so val die helde. Ten minste eet hulle lekker.

* * *

Ons lewe voorwaar in tye van verandering. Een deel van daardie verandering is die spoed waarteen mense oor klasgrense heen spring — ’n era van sosiale mobiliteit vir sommige, maar steeds verarming vir ander.

Armoede en die ontvlugting van armoede is beslis nie vreemde onderwerpe nie. Dink maar aan die musiek van die Briels. Ook in die Afrikaanse letterkunde is van hierdie temas aangespreek. Van Bruggen se Ampie is ’n armoedige karakter, maar hy kan tog “opgehef" word. Ook Van Melle wys in Verspeelde Lente hoe Pop le Roux met ’n ryk man trou om van haar status as bywoner te ontsnap, en in die proses haar rug op haar groot liefde keer.

Sosiale mobiliteit — of dit nou na “bo" of na “onder” van die pikorde van die klassestelsel is — is dus nie ’n nuwe tema nie. Tog is dit interessant hoe die helde in Afrikaanse rockmusiek ook húlle skuiwe gemaak het — uit die slums tot reg in suburbia.

* * *

Sweetheart, at dinner for two
I think how it’s all gone so horribly right
For you.
Your love, too big to hide
Mine stays buried inside

Inside this place of our own,
We heave domestic sighs
Now the wind, once in our sails
Blows the washing dry …

Dis natuurlik Matthew van der Want wat só sing — van die wind wat nou die wasgoed droogwaai. Die siniese bokker is toe self net ’n rukkie na hy die song geskryf het, getroud.

* * *

In die vroeë 1990’s het ek saam met ’n paar vriende in ’n woonstel in Burnettstraat in Hatfield in Pretoria gebly. Dis nou vóór Hatfield so vreeslik yuppie geword het. Die woonstel was bo-op ’n BP-petrolstasie se werkswinkel. In die dag kon jy die spanners en moere teen mekaar hoor slaan. Aan die agterkant van die gebou het die balkon op die treinspoor uitgekyk. Soms het daar nog stoomtreine met ’n vreeslike lawaai verbygekom. In die vroeë oggendure kon jy hoor hoe Ed’s Easy Diner se hordes bottels met ’n verskriklike geklangel in groot dromme uitgegooi word.

Die straatblok tussen Burnett- en Prospectstraat was nog nie die Hatfield Square nie. Dit was ’n aantal bouvallige studentekommunes, waarvan die mees berugte een waarskynlik Huis Kuis was. Huis Kuis se eienaar, ’n eiendomsontwikkelaar, het die inwoners gereeld in kennis gestel dat die huis gesloop sou word. Die inwoners het dan ’n “demolition party” gereël waartydens plafonne uitgeskop is, mure afgebreek is, en vensters uitgeslaan is. Dis mos maar die tipe ding wat ’n mens van hou as jy jonk en dronk is — Akkedis het juis ’n song daaroor. Telkemale, die dag na so ’n demolition party, het die ontwikkelaar laat weet dat die studente maar nog ’n paar maande daar kan bly. En die studente het aangebly — elke keer met minder plafonne, mure en vensters.

(Dalk het die ontwikkelaar gehoop dat hy later nie eers stootskrapers nodig sou hê om die mure plat te stoot nie!)

Huis Kuis se doodskoot het gekom toe die studente een aand op die mure geskryf het wat hulle van die betrokke ontwikkelaar gedink het. Hy het die volgende dag toevallig self opgedaag. Daarna was die skrif spreekwoordelik aan die muur vir die hele blok kommunes. Die resultaat is ’n aantal luukse woonstelblokke en Hatfield Square. Ek wonder wat ABSA sal sê as hulle uitvind dat, waar hulle trotse tak nou is, eens ’n baie winsgewende sjebien was wat deur ’n student met ’n besigheidskop bedryf is.

Vir ons was die vroeë 1990’s ook die tyd toe ons baie na musiek geluister het. Dit was die tyd van Houtstok, van die eerste OppiKoppi’s. Ons het gereeld vir Koos Kombuis en Valiant Swart by plekke soos Navigators (vroeër Grand Central) in Kerkstraat en Cherries Too in Proesstraat gaan luister. Dan was daar After Dark, net ’n blok van Kerkplein af, waar mense soos Nataniël en Thandi Klaassen gespeel het. Ek onthou ook dat ek vir Anton Goosen en sy band hier gaan sien het. Skuins oorkant After Dark was daar vir ’n tyd lank ’n Goth-klub — ek dink dit was een van die vele plekke waar The Fridge vir ’n tyd lank “gewoon" het. Soms het ons ons swartste klere uitgehaal om na die Gothic bands hier te gaan luister. (Om een of ander rede was daar nog altyd baie Goths in Pretoria.)

In hierdie jare het Valiant vir ’n tyd lank in Pretoria kom bly — sy tydelike exile uit Stellenbosch. Daardie hartseersong “Samesyn” op Dorpstraat Revisited gaan oor hierdie tyd. Die Springbok Nude Girls het pas hulle band begin en het soms, tot vreugde van die groupies, vir ’n aand of twee in van die kommunes geplak. Koos en Dagga-Dirk Uys was ook gereeld daar, en soms het hulle by ons woonstel kom oorbly. Ek onthou hoe geskok Gawie (een van Koos en Dirk se vriende) was toe hy hoor ek het ’n werk. (Gawie sou later saksofoon vir die einste Akkedis speel). Om ’n werk te hê was heeltemal raar — ’n uitsondering. Dit was die tyd van suf woonstelle, agterkamers, slaap op straat, van outsider wees. En Hatfield was die perfekte plek hiervoor. Orals was vervalle studentekommunes en woonstelle, en daar was The Hat-koffiewinkel waar jy jou babelaas kon gaan nurse. In die land as geheel was dit ook ’n tyd van oorgang, van die Vrye Weekblad se onthullings oor Vlakplaas, van derde magte en onderhandelings. Scope het heel waaghalsig begin met daardie sterretjies wat jy kon afkrap, en later het die sterretjies heeltemal verdwyn.

Vir ons was die suburbs ’n bose plek: die plek waar mense in hulle klinkersteentronke gewoon het. Die plek waar mans met bierpense komplotte langs die swembad en die lapa gesmee het. Die plek waar al die neuroses van die Suid-Afrika waarvan ons wou wegkom, uitgebroei het. Die suburbs was die simboliese Hel waarheen niemand van ons wou terugkeer nie — die stug kerke, die beklemmende skole, die honde wat aanhou blaf. Soos Kerkorrel gesing het op Eet Kreef!

in die tronk
is dit ’n gewone dag
in die tronk
net soos elke ander dag
in die tronk
hoor jy laat in die nag
die honde blaf
laat in die nag
die honde blaf
.

So word die suburbs ’n tronk. Dis nie bloot die hoë mure met die elektriese drade wat soos tronke lyk nie, maar die suburbs word ’n simbool van die tronke vir ons koppe — die “kettings" aan ons kollektiewe “voorkop vas”.

Ook André Letoit het gesing oor die Lady van die Bodorp:

Ek kuier in jou voorhuis
tussen mikrogolwe se gesuis
jou pa rook pyp, jou ma is kuis
en each status symbol’s in its place
julle kennis en kultuur die wys
in elke meubelstuk se prys
jou broer studeer nou in Parys
jou ouma maak groentesop en vleis
die bediende is ’n mental case
in die nuutherontwerpte houtkombuis.

Hoe’s daai vir rym? Nie eers “a a b b” of “a b a b” nie. Sommer “a a a a”!

“Lady van die Bodorp” spot meesterlik met die waardes van die establishment-suburbs. Die sanger aan die woord het nog olievlekke op sy hoed van “Langstraat, Hillbrow en Goodwood” — die plekke waar die outsiders uithang. Tog is hy moeg, en verlang ’n bietjie na ’n meisie wat liefde maak “sonder om te raas”.

In “Paranoia in Parow-Noord” word gespot met die inwoners van die uitgestrekte suburbs van die Kaap:

Ek weet ek is verslaaf aan drank
ek is oortrokke by die bank
my dogter is ’n boere-punk
maar dank God ek’s ten minste blank …

Valiant Swart het weer oor die son wat in Durbanville sak, gesing, met Kobus en Karen wat ’n bietjie dronk word:

jou mamma se gesig is stil
wie gaan nou vir die gelag betaal?
want Kobus is in die Transvaal
en Karen is op die paal …

Ook Randy Rambo en die Rough Riders steek die mes diep in met “Jong Dames Dinamiek”:

Ons huis is massief en ons kar baie blink
Ons swembad is groot en die tuinjong so flink
Die dahlias blom mooi en die kinders is soet
Hulle hou ons naam hoog as hul oom dominee hoflik groet …

Die song word gesing uit die oogpunt van ’n voorsitster van Jong Dames Dinamiek, wat onder andere baie trots daarop is dat haar man die voorsitter van die Potjiekosklub is. Hy’s ook natuurlik in die Broederbond. Hulle glo aan kuns en styl, en haar siel is ’n groot, blink shopping centre. Aan die einde word die song nogal heel raunchy, met die man wat sy skote altyd raakskiet.

Ongelukkig is Randy Rambo en die Rough Riders se plaat summier verban. So erg was dit dat ’n mens dit nie eers in jou besit mog hê nie!

Maar orals in die land was daar plekke waarheen die disillusioned rebelle kon ontsnap en waar jy jou verbode plate kon wegsteek. Gelukkig soms met ’n tikkie self-ironie: “Die Here weet, ek ruik na sweet,” het Koos Kombuis gesing, “net nog ’n backstreet yuppie.”

* * *

“Backstreet yuppies” — hoeveel is daar nie hierin opgesluit nie? In die 1980’s en die vroeë 1990’s het die “alternatiewes” in die agterstrate rondgehang en songs geskryf wat die rigting van Afrikaanse musiek heeltemal verander het. Die bands het gigs in rokerige kroeë gespeel wat op goedkoop gefotokopieerde plakkate geadverteer is. Hier en daar was versiende joernaliste wat begin het om stories te skryf oor die nuwe “beweging”.

En toe kom die Voëlvry-toere. En kort daarna Houtstok — een van die grootste rock festivals in die land se geskiedenis. En toe die land se eerste werklike verkiesings.

Aanvanklik was daar ’n tydperk van verwarring; Koos Kombuis noem hierdie tyd “die donker tyd tussen Voëlvry en Battery 9”. Maar daarna het die hele ding éérs momentum gekry. OppiKoppi word ’n gereelde instelling waar die Afrikaanse rockers saam met baie ander genres en tale gehoor kan word. By die kunstefeeste word groot rock festivals gehou. Die yuppies van die backstreet kom wys hulle gesigte in die kollig. Sommige beland op die voorblad van Huisgenoot, ander kry rolle in TV-reekse, en ander tree weer by Sun City op. Binne ’n dekade word die backstreet yuppies deel van die royalty van Afrikaanse musiek.

Die alternatiewes is lank nie meer alternatief nie — hulle is nou deel van die mainstream, met platemaatskappye, bestuurders, lawyers en blink plakkate.

* * *

Hatfield is nie meer dieselfde plek as wat dit in die vroeë 1990’s was nie. Japies, die kafee waar ons vir baie goedkoop pap en vleis kon koop, is gesluit. Tokka, die teekamer met die muurpapier van Europese woude, is gesluit. The Hat is gesluit. Selfs Ed’s Easy Diner, met die bottels wat my so wakkergeraas het, het sy gat gesien.

Waar die bouvalige studentekommunes was, is nou glitsy winkelsentrums. Maar daardie bouvallige kommunes was eens pragtige huise. Nie huise met klinkerstene nie, maar met lieflike houtvloere en staalplafonne. Dit was huise wat gebou is toe mense nog behoorlike dik mure gebou het — en groot kamers met bay windows. Dit is daardie huise wat platgeslaan is deur die ontwikkelaars — nadat die studente hulle deel gedoen het.

So verander stedelike landskappe maar, soos musiek ook verander. ’n Posh woonbuurt soos Hatfield kan in studentekommunes verander word, daarna weer ’n gebied wat toegebou word met winkelsentrums en woonstelle, en later selfs weer ’n slum. Soms trek die kunstenaars by die slums in en dan volg die yuppies op hulle hakke — soos met Melville hier in Johannesburg gebeur het. Die proses van stedelike verval en vernuwing is maar ’n langsame siklus wat herhaal en herhaal.

Dinge verander maar.

Ek weet nie waar Pretoria se “backstreet yuppies” nou bly nie. Dalk in Sunnyside. Maar baie van my ou vriende woon nou in die suburbs in die ooste — al die uitbreidings met klinkersteenhuise, swembaddens en lapas. Baie van die rockers word ’n bietjie ouer en gaan woon self in die suburbs — daardie bose plekke waar mans met pense komplotte om braaivleisvure smee. Maar die voorstede is tog gemaklik. Dis naby die skole. Dis naby die McDonalds en die opritte na die snelweg. Daar is lang wasgoedlyne waar die wind jou wasgoed kan droogwaai. Daar is groot tuine waar kinders lekker kan speel. Mense gaan woon tog daar vir ’n rede.

Om ’n rocker te wees is harde werk — soms lê jy met ’n verskriklike babelaas “in die boot van ’n kombi”. Soms is al die maande op die pad en in vreemde beddens net te veel. Dan wil jy ’n plekkie kry waar jy jou welverdiende rus kan geniet. Ek hoop net dat, tussen die wonderlike gemak wat die voorstede bied, daar ’n bietjie van die gees van anargie van die backstreet in die yuppies sal oorgebly het. Die hemel behoed ons as Afrikaanse rock in der waarheid voorstedelik begin klink.

Of dalk het die tyd aangebreek vir nuwe anargiste om gefotokopieerde plakkate op te plak.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.