Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Mbeki is reg: afsondering is nie ’n opsie nie

Chris Heymans

Vigs en Zimbabwe het — soos ’n mens te wagte kon wees — die analises van president Mbeki se parlementêre openingstoespraak oorheers. Maar een van die beduidendste opmerkings in die toespraak was dié oor die onafwendbaarheid van deelname in die wêreldekonomie en die globaliserende internasionale orde.

Dit was belangrik dat die President hieroor ondubbelsinnig moes wees, te midde van spekulasie dat die beplande hersiening van makro-ekonomiese beleid dalk sou kon beteken dat Suid-Afrika die veldtog teen globalisering sal ondersteun. Die President was egter onomwonde daaroor dat Suid-Afrika ’n oop ekonomie het en dat die bestuur daarvan nie in isolasie van internasionale verwikkelinge en standaarde kan plaasvind nie. Dit is ook meer as toeval dat hierdie ferm standpunt kom so kort na Suid-Afrika se deelname aan die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) in New York, waar globalisering so integraal tot die hele beraad was.

Heelwat belangegroepe voel om verstaanbare redes kwetsbaar in die lig van groeiende internasionale integrasie.

Werkers in nywerheidslande vrees dat hulle hul werk kan verloor as goedkoper arbeid vanuit die ontwikkelende lande beskikbaar kom. Soos Suid-Afrika maar te goed weet, stel die omvang en onstabiliteit van finansiële transaksies ekonomieë — veral in ontwikkelende lande — bloot aan potensiële bank- en wisselkoerskrisisse. Groot transnasionale maatskappye is in staat om tot hul eie voordeel internasionaal te koop, verkoop en belê sonder dat hulle noodwendig veel doen om ontwikkeling te bevorder of hulle oor die omgewing te bekommer. Kulturele homegeniteit bedreig vergelykende voordele gewortel in die dinamiek van kulturele verskeidenheid. State en regerings loop gevaar om hul invloed te verloor in ’n wêreld waar mag relatief in internasionale terme gemeet word.

Daar is ook kommer dat die spelreëls nie regverdig is nie.

Ontwikkelende lande kla dat hulle gepeper word met retoriek oor die noodsaak van oop ekonomieë, maar hulself dan gedurig vasloop teen tariefbeperkings en invoerkwotas in Eerste Wêreld-lande. Daar is ook vrese dat lande wat nie die spelreëls aanvaar nie, wat die wyshede van Washington, New York, Londen, Brussel en Tokio verontagsaam, of doodgewoon nie in staat is om effektief deel te neem en mee te ding nie, randeiers word, gemarginaliseer en gedoem tot verdere agteruitgang.

Kritici voer aan dat die “wenresepte” wat sterk lande en internasionale organisasies oor die wye wêreld heen opdis, dikwels uit voeling met die unieke omstandighede van ontwikkelende lande is, en hulle dus moontlik op ’n valse roete met min voordele plaas. Die mees siniese kritici glo natuurlik dat daar ’n hele uitbuitingsagenda op die spel is, gemik op benadeling van hierdie lande.

Teen hierdie agtergrond was daar oor die afgelope paar jaar militante opposisie teen die internasionale ekonomiese en politieke orde. Prominente byeenkomste soos dié van die Wêreld Ekonomiese Forum, die Internasionale Monetêre Fonds, die Wêreldbank en die Wêreldhandelsorganisasie is deur betogings ontwrig en daar is baie uitgesproke stemme teen die integrasie van ekonomieë en beleidsprosesse.

Die feit van die saak is egter dat globalisering een van die werklikhede van die moderne wêreldpolitiek en -ekonomie is. Inderdaad kan lande probeer om daardie werklikheid tot hul eie belang te bestuur, maar jy kan nie veel aan die verskynsel van globalisering uit eie reg doen nie. Afsondering is nie ’n opsie as jy ekonomiese groei en ontwikkeling soek nie; gesonde politieke waardes baat by blootstelling aan internasionale prosesse; en verskeie kulture is dinamies aan die floreer as gevolg van nuwe geleenthede wat moderne kommunikasie en interaksie skep om by ander te leer en van hulle te leen.

Maar wat kan ontwikkelende lande doen om die beste uit hierdie prosesse te haal, en dus te verhinder dat globalisering uitbuiting, verarming en marginalisering beteken?

Die belangrikste vertrekpunt in hierdie globale orde is dat nasionale state nie meer die begin en die einde van alles is nie. Dit beteken dat nasionale regerings hul plek moet ken, sowel binne die internasionale orde waar hulle met organisasies en ander regerings moet saamwerk, as binne hul eie lande waar die sakegemeenskappe, burgerlike groepe en ander vlakke van regering belangrike rolspelers en vennote is.

Die les dat lande nie meer op hul eie die uitdagings kan hanteer nie, is aan die insink. In Latyns-Amerika en Asië, byvoorbeeld, is streeksorganisasies soos Mercusor fluks aan die werk om oor landsgrense voordele vir die streke te beding. Afrika se pogings deur streeksliggame in Wes-, Suidelike en Oos-Afrika sukkel maar erg, maar dui op ’n bewustheid van hierdie tendense.

Die Nuwe Afrika-inisiatief — NEPAD — waarin Suid-Afrika so ’n prominente rol speel, kan ’n belangrike instrument word om deelname in die globale stelsel te vesterk in die belang van Afrika-deelnemers.

Die waarde van hierdie poging lê daarin dat dit eerstens oor self-hulp gaan, dat dit oor nasionale grense probeer strek, en dat dit nie die werklikhede van globalisering probeer misken nie. NEPAD aanvaar die belangrikheid van handel, interaksie, samewerking en koördinasie. Die intense inisiatief — wat onder andere baie gunstig by die WEF in New York ontvang is — verg nou dat effektiewe en realistiese strategieë ontwikkel word.

Maar globalisering verg nie net dat lande wyer as hulself moet kyk en deur streeks- of internasionale organisasies moet probeer werk nie. Daar is ook ’n sterker subnasionale aksent nodig, want beleggers kyk na spesifieke areas, eerder as nasionale stelsels. Hulle wil weet dat plaaslike gebiede, veral stede, goeie infrastruktuur het, goed bestuur word, betroubare dienste en geriewe lewer vir besighede en die mense wat daar werk, en internasionaal toeganklik is.

Gewapen met hierdie nuwe perspektief oor die rol en plek van state en regerings in verhouding tot ander rolspelers in die internasionale gemeenskap en binne lande, is die uitdaging om ’n konkrete agenda te vind wat ontwikkelende lande op die pad na effektiewe deelname in die globale orde kan plaas.

’n Omvattende onlangse Wêreldbank-verslag, Globalization, Growth and Poverty: Building an Inclusive World Economy, gee ’n paar idees. Sommige spreek die wyere wêreldstrukture aan en verg — benewens gepaste beleidsopsies en strategieë in ontwikkelende lande — ook doelgerigte inisiatiewe van die Eerste Wêreld. Daar is veral vier sodanige globale struktuurvraagstukke.

  • Eerstens verg dit ’n nuwe handelsbedeling, veral met verslappings van tarief- en invoerbeperkings. Dit is ook nodig om subsidies vir landbouprodusente in ontwikkelde lande te verlaag of uit te faseer. Hierdie subsidies stel die produsente in staat om selfs met blatante ondoeltreffende praktyke, mededinging uit ontwikkelende lande te smoor.

  • Die tweede internasionale respons moet gaan oor skuldverligting vir ontwikkelende lande. Die dilemma hier is om nie swak bestuur te beloon nie, maar terselfdertyd lande wat hul openbare bestuur hervorm en ekonomiese beleidsrigtings versterk, te beloon. Daar is tans ’n poging om sowat 25 lande op hierdie wyse te help.

  • Derdens is ontwikkelende lande besig om na die aard, omvang en doeltreffendheid van internasionale bystand te kyk. Afgesien van besteding aan infrastruktuur, sosiale dienste en ekonomiese inisiatiewe, is die skep van standhoudende bestuurspraktyke en die bevordering van gemeenskapsdeelname in besluite belangrike nuwe waardes op die internasionale agenda — van groot belang vir die vooruitsigte van ontwikkelende lande.

  • Die vierde globale aspek is die omgewing en daar is veral bekommernis oor voortslepende besoedeling in ontwikkelende lande, dikwels met maatskappye vanuit die Eerste Wêreld as die voorste sondebokke. Daar bestaan reeds verskeie internasionale ooreenkomste in dié verband, maar afdwinging is nie altyd maklik nie. Sommige maatskappye betaal eerder die boetes vir oortredings as om die regulasies na te kom.

    Afgesien van hierdie struktuurkwessies wat oor die grense van die ontwikkelende en ontwikkelde lande strek, is daar ’n paar opsies wat veral vir eersgenoemde van belang is.

  • Die eerste is om gunstige omgewings vir beleggings te skep. Dit verg etiese regering, regverdige regulasies, effektiewe dienslewering, gunstige belastingregimes wat steeds ook die belange van die staatskas aanspreek, en omstandighede wat kleiner ondernemers aanmoedig.

  • Ontwikkelende lande moet ook na hul besteding en dienslewering in gesondheid, onderwys en welsyn kyk. Daar is ’n positiewe korrelasie tussen goeie gesondheidsdienslewering en onderwys enersyds, en die stand van ontwikkeling. Lande soos Maleisië het hul ganse suksesstories op beter onderwys en opleiding gebou. En waar welsyn effektief is, kan die impak van armoede teengewerk word, entrepreneurs voel veiliger om risiko’s te neem en sosiale orde is oor die algemeen sterker.

    Vir diegene wat bekommerd bly dat globalisering uiteindelik maar net nog ’n ideologiese Eerste Wêreld-foefie is om ontwikkelende lande se onafhanklikheid te kompromitteer en hulle uit te buit, is daar minstens twee antwoorde.

  • Die eerste is feitelik: jy kan nie die realiteite ontken nie: weens die internet en ander tegnologiese omwentelings is die wêreld net eenvoudig nie meer af te kamp nie. Ons leef meer geïntegreerd en die uitdaging is nie om dit te probeer ontsnap nie maar eerder om optimale voordeel daaruit te probeer beding.

  • Tweedens, internasionale waardes toon ’n groeiende erkenning dat die rykes nie maar net kan voortploeter langs massiewe armoede nie. Daar word al hoe meer erken dat langtermyn internasionale stabiliteit verg dat die kloof tussen ryk en arm lande moet verklein. Min mense wil ’n wêreld sien waar die terreur van 11 September ’n blywende moontlikheid bly omdat ’n deel van die wêreldbevolking verontreg voel. Die agenda en besprekings van die onlangse Wêreld Ekonomiese Forum weerspieël ’n verskuiwende internasionale agenda — een wat van groot belang vir die wel en weë van die ontwikkelende wêreld kan wees. Die voor die hand liggendste fasette is ekonomies van aard: oor internasionale bystand, ontwikkeling, handel en belegging. Maar daar was ook ’n groeiende ongemak met ’n politieke benadering wat die kloof tussen arm en ryk lande verhoog, en wat faal om die groot geskille — veral rondom die Midde-Ooste — effektief aan te spreek.

    Suid-Afrika se vasbeslotenheid om die realiteit van die globale orde te aanvaar en die beste daarvan te probeer maak, is dus gepas; en die NEPAD-inisiatief toon ’n bemoedigende wilskrag om op konkrete wyse hierdie realiteite tot voordeel van die land — en Afrika — te probeer bestuur.

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.