Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Mbeki daar toe Sjina verder integreer met wêreldhandel

Chris Heymans

President Mbeki se vroeg-Desember-besoek aan Sjina het net mooi met ’n kritieke stadium in die sluimerende supermoondheid se internasionale verhoudinge saamgeval. Vir Suid-Afrika self is daar die vooruitsigte van groter toegang tot die ontsaglike markte van ’n land met 1,3 miljard mense, en een wat deur ’n verreikende ekonomiese rewolusie gaan. Die handels- en beleggingsgeleenthede wat hieruit voortspruit, kan nog baie vir Suid-Afrika en ander dele van Afrika beteken.

Maar die breëre konteks strek verder as Suid-Afrika se onmiddellike belang en rol. Op 11 Desember het Sjina uiteindelik tot die Wêreldhandelsorganisase (WHO) toegetree. Die Sjinese self het maar met min fanfare die WHO-era betree. Die aanloop was egter dikwels onstuimig en die implikasies van die toetrede potensieel beduidend.

Vir vyftien jaar is daar met die organisasie beding, en moes die grondslag vir lidmaatskap verby beduidende Amerikaanse en Europese voorbehoude onderhandel word. Sakelui in die Weste was meestal gretig om die Sjinese markte te ontgin, maar nie altyd so entoesiasties oor die vooruitsigte van Sjinese mededinging binne hul eie lande nie. Die politici was dikwels ook maar erg versigtig vir die impak wat dit mag hê. Deels weens menseregte-oorwegings was daar heelwat voorbehoude, en natuurlik was daar vrese dat ’n ekonomies aggressiewe Sjina sekere komponente van die Amerikaanse en ander ekonomieë kan knou.

Die Sjinese het alreeds Westerse buitelandse beleggings ten koste van ander Asiatiese lande begin trek, en hul markaandeel in veral die VSA is besig om teen ’n snelle pas te groei. Goedkoop arbeid, en ’n ferme dissipline in die werksplek, stel die Sjinese in staat om ander produsente, veral in die tekstielbedryf, die stryd aan te sê. Aanduidings bestaan reeds dat Sjina selfs in elektroniese produkte ’n vergelykende voordeel begin ontwikkel. Teen hierdie agtergrond is selfs die toelating tot die WHO gekwalifiseer deur bepalings - grootliks op aandrang van die VSA en die Europese Unie - dat sommige invoere uit Sjina beperk kan word.

Binne hierdie konteks was vordering na groter formele integrasie in die wêreldekonomie nie altyd ’n eenvoudige proses nie. Ná heelwat toutrekkery het ooreenkomste met die VSA, Japan en Kanada in 1999 uiteindelik die weg gebaan vir toelating tot die WHO.

Tog is die toetrede tot die WHO in wese ’n hupstoot vir die internasionale ekonomiese stelsel. Skielik open dit die grootste enkele nasionale mark, juis op ’n tydstip waar die wêreldekonomie noustrop trek as gevolg van ’n algemene sikliese resessie wat deur die gebeure na 11 September vererger is. Volgens sommige vooruitskattings sal Sjina se groter deelname aan wêreldhandel tot addisionele internasionale ekonomiese produksie van soveel as drie persent teen 2010 kan lei.

Binnelands wag daar groot uitdagings vir die Sjinese leierskap. Om aan die reëls van die WHO te voldoen, gaan groter oopheid in die ekonomie verg.

’n Omvattende proses om ekonomiese regulasies te hersien het reeds begin. Daar word verwag dat dit tot 1000 wette en regulasies kan affekteer. Dit raak aspekte soos wisselkoerse en buitelandse valuta, invoere en uitvoere, tariewe en belastings en die vrye vloei van inligting. Baie staatsbeheerde instellings is reeds in die proses om geprivatiseer of gekommersialiseer te word.

Vir ’n samelewing waar soveel geheimhouding en afgeslotenheid hoogty gevier het, en waar ekonomiese bestuur vir dekades as die staat se prerogatief gesien is, beteken al hierdie dinge ’n groot kultuurskok. Dinge sal van nou af anders gedoen moet word.

Liberalisering is natuurlik nie heeltemal nuut nie; trouens, dit het reeds in 1979 begin. Die oorname van Hongkong ná Brittanje se onttrekking het een van die kerne van die kapitalisme direk in die Sjinese bestel geplaas. Hulle kon nie daardie impak ignoreer nie, en die leierskap het gou die waarde van die dinamiese Hongkong ekonomiese kultuur en bydrae raakgesien. Die hele ontwikkeling van Sjanghai as een van die ekonomies mees dinamiese stede in die moderne wêreld staan ook in die teken van die groot verskuiwings wat oor die afgelope twee dekades plaasgevind het. En na die 1999-ooreenkoms met die Amerikaners het veral die finansiële sektor reeds groot veranderings - meestal deur die toetrede van internasionale groepe - ondergaan.

Tog was die beheer nog oorwegend binnelands en polities bestuur, met min blootstelling aan die regulasies van internasionale prosesse en die direkte aanraking van groot korporasies. Die toetrede tot die WHO plaas Sjina nou onomwonde binne die internasionale stelsel en gaan van sowel die politieke leierskap as ekonomiese produsente en handelaars verg om binne die spelreëls van die internasionale stelsel te funksioneer.

Gevolglik bring die verandering nou onsekerheid. Daar is vrese dat die kompetisie van buitelandse maatskappye Sjina werksgeleenthede gaan kos, en dus ekonomiese en politieke ontwrigting gaan veroorsaak. Veral die landelike gebiede, waar sowat 70 persent van die bevolking van staatsplase afhanklik is, sal die impak van mededinging met ander ekonomieë voel. En ondanks die dramatiese vooruitgang in tegnologie is daar ook twyfel of die Sjinese effektief met buitelandse tegnologiese produsente kan meeding.

Die formele aansluiting by die WHO is dus ’n belangrike stap in die vorming van ’n oper en meer globale ekonomiese bedeling. Uiteraard gaan dit met onsekerheid binne en buite Sjina gepaard. Die meeste lande en besigheidsorganisasies is nog onseker oor die volle implikasies, en daar is twyfel of alle partye te alle tye volgens die reëls gaan speel. Hopelik sal die Mbeki-besoek verseker dat Suid-Afrika, en Afrika as geheel, betekenisvolle voordeel uit hierdie verwikkelinge kan trek, en die simboliek daarvan dat ons president in Sjina was op die dag toe die lidmaatskap in werking gekom het, kan hopelik van meer betekenis word namate die nuwe stel verhoudinge in die wêreldekonomie ontplooi.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.