Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Milosevic-verhoor

Chris Heymans

“Dit is jou probleem” — dit was die antwoord van die voormalige Joego-Slawiese staatshoof, Slobodan Milosevic, op ’n regter se vraag of hy die aanklagte by die internasionale tribunaal in Den Haag aan hom voorgelees wil hê. Daar mag nie veel van ’n Churchill-gevatheid by hom wees nie, maar die wrange Milosevic — aangekla van oorlogsmisdade — gaan gewis vir hierdie tipe afwysende uitsprake onthou word.

Ongelukkig gaan hy vir veel meer as gevatte uitsprake onthou word. Sy rol om sy land in talle fatale konflikte te betrek, etniese verdeeldheid te vererger en die staat te laat verbrokkel, en die uitwissing en hervestiging van groot getalle mense aktief te sanksioneer, plaas hom in die geselskap van die ergste diktators. Dit op sigself gaan nie maklik vergeet word nie — en behóórt ook nie vergeet te word nie. Maar die blote feit dat dit die eerste keer is dat ’n (voormalige) staatshoof self teregstaan op sodanige aanklagte, verseker dat die geval Milosevic ’n merk in die wêreldgeskiedenis gaan laat.

Die uitlewering

Reeds in Mei 1999 het ’n tribunaal van die Verenigde Nasies bevind dat Milosevic skuldig is aan wandade teen menseregte. ln die Joego-Slawiese verkiesings verlede jaar in September was die moontlike uitlewering ook ’n kwessie. Ná sy oorwinning oor Milosevic het die nuwe president, Vojislav Kostunica, egter onomwonde verklaar dat hy nie die oudpresident sal laat uitlewer vir ’n verhoor in die Weste nie. Selfs nadat Milosevic in April gearresteer is, het die nuwe Joego-Slawiese leier volgehou dat hy nie aan ’n internasionale tribunaal uitgelewer sal word nie. Na die April-arres was daar wel sprake van ’n verhoor in Belgrado oor mindere klagtes van korrupsie, maar die regering wou hom nie uitlewer vir ’n verhoor elders nie. Boonop het die grondwetlike hof beslis dat uitlewering onwettig sou wees.

Intussen het die Serbiese premier, Zoran Djindjic, egter op ekonomies gronde die Westerse druk ernstig begin opneem. Gedryf deur ’n agenda om ekonomiese herkonstruksie te laat gebeur, het Djindjic gesien dat Amerikaanse en ander donateurs bes moontlik aan ’n onderhandelingsproses oor ekonomiese bystand gaan onttrek. Daar was heelwat weerstand van ander leiers wat geglo het dat dit Joego-Slawië se integriteit aantas, en Milosevic-ondersteuners hou vol dat die verhoor effektief Westerse wandade wil verdoesel, en dat die omvang van sy vermeende misdade blote versinsels is. Tog het Djindjic ’n nuwe geleentheid gebruik om die uitlewering wel te laat plaasvind. Ironies genoeg het hy een van Milosevic se eie instrumente gebruik: ’n maatreël dat Serbië enige Joego-Slawiese wet kan ignoreer. Kort na die besluit geneem is, is Milosevic uitgelewer.

Nog altyd ’n verdeelde staat

Die eerste kwessie om te verstaan, is wat Joego-Slawië behels. In die twintigste eeu was daar drie verskillende state met hierdie naam. Tussen 1918 en 1941 was ’n federasie van uiteenlopende gebiede deur sterk etniese verdeling gekenmerk. Uiteindelik kon dit nie die geskille tussen Serbiërs en Kroate oplos nie, en die nuwe Joego-Slawië, onder die kommunistiese beheer van Josef Tito, het probeer om die talryke etniese verskille rondom ’n sentrale ideologie te integreer. Die land was altyd meer sensitief vir interne verskille as ander kommunistiese state soos die Sowjetunie, maar Tito is deur baie waarnemers geprys vir sy pragmatisme om die hoogs verdeelde land regeerbaar te probeer maak. Sy fokus was op ’n Joego-Slawiese identiteit; en dat mense daar daardie identiteit as hul trots sal sien eerder as om hulself as Serbiërs, Kroate of Slowene te sien.

Ná Tito se dood in 1980 het die sentrale greep verder verswak, en met die val van die kommunistiese regerings in Oos-Europa in die laat tagtigs was dit onvermydelik dat hierdie poging om ’n staat uit soveel verdeelde groeperinge te skep, nie sou kon oorleef nie. Die politieke verwikkelinge daarna, na die val van die vorige staat, het — gegewe die diep verdelings — die etniese geskille opnuut na vore gebring.

Milosevic se bewind en impak

Milosevic se opkoms as ’n leier het in die konteks van die hernieude verdelings plaasgevind. Hy het naam gemaak in Kosova, ’n tradisieryke deel van Serbië, waar die meerderheid mense Albaniërs was. In 1987 moes hy, as ’n kommunistiese burokraat in die stad Pristina, sien hoe die polisie Serbiese betogers onder beheer probeer bring. Die Serbiërs was ontevrede met die groter outonomie wat aan die area gegee is, en wou dit eerder onder Serbiese beheer sien. Milosevic het hom vir Serbiese beheer oor die gebied beywer. Later, na die val van die kommunistiese regering, het hy sy magsbasis hierop gebou. Op grond van die Serbiese ondersteuning het hy in 1989 president geword van Serbië, die sterkste republiek in Joego-Slawië. Met hierdie etniese mandaat was die tafel gedek vir die tragedies wat gevolg het.

Tot 1987 het Milosevic Tito se transetniese benadering gesteun, maar daarna het hy toenemend ’n Serbiese nasionalistiese posisie ingeneem. Sy eerste teiken was die Albaniërs in Kosova. Die Serbiese perspektief is dat hulle oor die jare deur Albaniërs uit Kosova verdryf is. Die spanninge hier was nog altyd hoog, selfs erger as in Bosnië, waar daar wel ’n sekere vlak van verdraagsaamheid was. Boonop het die Moslem-oriëntasie van die Albaniërs van hulle ’n meer gehate teiken gemaak. In 1989 het Milosevic die outonomie van Kosova opgeskort en ’n sistematiese veldtog teen die Albaniërs verskerp. Sy volgehoue weerstand teen groter outonomie vir die republieke het in 1991 tot onafhankliheidsverklarings deur Kroasië en Slowenië gelei, en die Kroate en Moslems in Bosnië-Herzogovina het in 1992 weggebreek.

Oor die volgende paar jaar het die Serbiese aanslag dwarsdeur die gebied intenser geword, en oorlog het versprei oor veral Kroasië en Bosnië. In 1995 is ’n tussentydse verdrag geteken, maar die geweld het nie opgehou nie. Milosevic se verkiesing in 1997 as president van Joego-Slawië het die Serbiese nasionalisme op die hoogste vlak versterk. Pogings in Kosova, sowel polities as deur militêre rebellie, om Serbiese beheer te verseker, het die konflik daar geleidelik verhoog. In 1998-99 het die staat grootskaalse veldtogte daar geloods om Albaniese rebelle en hul ondersteuners onder beheer te bring. Honderde duisende mense is uit hul huise verdryf, en duisende het gesterf in wat kritici as die Serbiërs se veldtogte van “etniese suiwering” gebrandmerk het.

In Maart 1999 het NAVO ’n 11-week-lange bomaanvalveldtog teen Serbiese teikens in Kosova en die wyere Serbië geloods. Aanvanklik het dit tot sterk anti-Navo-sentimente gelei, en Milosevic se gewildheid onder Serbiërs verhoog. Maar die aanslag was groot, en Milosevic het sy troepe en politieke verteenwoordigers aan Kosova onttrek. Hierdie gebeure vorm die kern van die nuwe aanklagte teen hom, vir wat in die klagstaat as “die veldtog van terreur en geweld teen Kosova Albaniese burgers” beskryf word.

Ná die neerlaag het Milosevic se gewildheid gekwyn, en in September 2000 het hy die verkiesing verloor. Dit het die weg gebaan vir sy arres in April, en uiteindelik die uitlewering.

En nou?

Binnelands staar die nuwe regering massiewe uitdagings in die gesig. Daar is vooruitsigte vir internasionale bystand, maar soos die gebeure oor die afgelope paar maande bewys het, sal dit met voorwaardes kom. Dit mag goed wees om verdere etniesgebaseerde slagtings te voorkom, maar vir die leierskap beteken dit beperkte outonomie. Verder moet die wonde geheel word, en die spanninge lê nog maar baie naby aan die oppervlak. Al die afsplitsings het ’n reeks nuwe state gelaat, en dit gaan tyd neem vir hulle almal om gevestig te word, polities sowel as ekonomies.

Internasionaal is daar eerstens die vooruitsigte van ’n nouer band met Europa. Die verwikkelinge rondom die verhoor, en die vloei van ondersteuning vir die herkonstruksie van die Joego-Slawiese samelewing, die ekonomie en infrastruktuur, gaan bepalend wees vir die ontplooiing van hierdie verhoudings. Europese leiers is gretig om ’n nuwe begin te bewerkstellig en vrede mee te bring. Maar die konflik is diep gewortel, en dinge gaan nie oornag regkom nie.

Die feit dat dit die eerste keer in die wêreldgeskiedenis is dat ’n (voormalige) staatshoof teregstaan in so ’n verhoor, is op sigself ’n beduidende verwikkeling in die evolusie van internasionale reg en politiek. Dit bring talle vrae na vore. Byvoorbeeld:

  • Wat beteken dit vir die outonomie van state?
  • Hoe gaan diktators reageer op prodemokratiese druk wanneer hulle weet dat hulle internasionaal aangekla kan word as hulle hul mag oorgee?
  • In terme van watter orde en waardestelsel word sodanige verhore gelegitimeer? Wat gebeur byvoorbeeld as Irak sou besluit om George Bush Snr to probeer gryp vir ’n verhoor oor wat hulle as misdade teen die Irakese bevolking beskou?

Dit gaan dus oor meer as blote straf vir die man wat sy land in verskeie katastrofale oorloë in gelei het en vir groteske menseslagtings verantwoordelik was. Die logika en filosofiese grondslag van die internasionale stelsel is op die spel, en die vehoor is uit eie reg reeds ’n verreikende verwikkeling, met implikasies vir ’n internasionale orde wat om state wentel. Globalisering bereik hiermee ’n nuwe dimensie, en ons kan nie presies uitspel wat die volle implikasies daarvan gaan wees nie. Maar dat Milosevic ’n blywende impak gaan laat, tragies en verreikend, is gewis.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.