Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die euro

Chris Heymans

Op 1 Januarie het die oorgrote meerderheid Europese lande die euro as hul geldeenheid ingestel. Daarmee is 11 geldeenhede geamalgameer in wat ekonomies sowel as polities een van die belangrikste onlangse gebeurtenisse in die internasionale politiek is. Oor die volgende paar weke word die ou eenhede uitgefaseer. Europeërs betree ’n nuwe fase, en diegene wat met hulle handel dryf, daar belê of reis, sal deur hierdie gebeurtenis geraak word.

Daar is beduidende gevalle van lande wat wel deel van die Europese Unie is, maar wat nie nou al na die euro oorskakel nie. Brittanje is die vernaamste, en daar woed ’n hewige debat, selfs binne die regerende Arbeidersparty, oor die wysheid daarvan om wel die pond met die nuwe eenheid te vervang. Alhoewel die Britse minister van finansies, Gordon Brown, volhou dat die vernaamste toets ekonomies is — oor werksgeleenthede, beleggings, verwisselbaarheid en finansieringsdienste — is die kwessie hoogs polities. Voorstanders van die euro argumenteer dat die Britte hul invloed op die nuwe Europa verbeur deur nie oor te skakel nie, en glo dat Brittanje op langer termyn ’n prys sal betaal vir hierdie weiering.

Wyer as Europa, lyk dit of die Amerikaners dalk met ’n waardige mededinger vir die dollar sal moet handel. Sjina glo byvoorbeeld dat die euro hul ideaal van “multipolariteit” ’n bietjie nader bring, omdat dit ’n teenwig vir die mag van die dollar in internasionale transaksies kan vorm, en dus kan bydra tot ’n internasionale orde wat minder deur die VSA gedomineer word.

  • Waar kom die euro vandaan?

    Maar waar kom die euro vandaan? Die opbou gaan oor meer as ’n geldeenheid, maar eerder oor groter integrasie van Europese ekonomieë and nouer politieke samewerking.

    Streng gesproke kan die storie van groter eenheid en die nuwe geldeenheid na 1957 herlei word toe Frankryk, Wes-Duitsland, Italië, Luxemburg en België ’n verdrag in Rome onderteken het wat vir die skepping van ’n Europese Steenkool- en Staalgemeenskap en ’n Europese Atoomenergie-gemeenskap voorsiening gemaak het. In April 1958 is ’n verdrag in Parys onderteken wat die Europese Steenkool- en Staal-gemeenskap tot stand gebring het: die eerste belangrike na-oorlogse handels-en nywerheidsooreenkoms in Europa met die doel om groter gemeenskaplike voordele vir deelnemende state te bring. Brittanje was ook tóé nie deel van die prentjie nie.

    Teen die laat 1960’s het stemme begin opgaan vir ’n meer gekoördineerde makro-ekonomiese beleid oor nasionale grense in Europa en vir ’n vryer vloei van goedere. Die beëindiging van die stelsel van vaste wisselkoerse op internasionale vlak, toe president Nixon in 1971 die proses gelei het om die goudstandaard af te skaf, het wydverspreide wisselkoers-onstabiliteit veroorsaak en die gedagte van een Europese geldeenheid het geensins oorweging gekry nie.

    Teen 1979 is daar egter ’n groot tree in hierdie rigting gegee toe die Europese monetêre stelsel tot stand gekom het. Die doel was om wisselkoerse binne die streek te stabiliseer en inflasie te bekamp; en ’n informele wisselinstrument — ’n soort van ’n “abstrakte” geldeenheid — die ECU of EGE (Europese Geldeenheid), is ingestel om berekenings van wisselkoerse te vergemaklik.

    Die ondertekening van die Een Europa Wet in Februarie 1986 het die Rome-verdrag van 1957 gewysig en politieke samewerking tussen Europese lande verstewig. Deur die tagtigs het die proses momentum ontwikkel namate die Europese regerings al hoe meer saamgewerk het.

    In Februarie 1992 was daar ’n groot stap vorentoe met die Maastricht-verdrag wat oorkoepelende Europese politieke regte en burgerskap, die vestiging van die Europese parlement en groter ekonomiese en monetêre eenheid verseker het. Hier is die instel van ’n Europese geldeenheid teen Januarie 1999 as doel gestel. In 1994 is die Europese Monetêre Instituut geskep — die voorganger van wat vandag die Europese Sentrale Bank is.

    Oor die jare het meer lande by die Europese Unie aangesluit en teen 1995 is die Europese Sentrale Bank gestig. Dit het meer geïntegreerde beleid moontlik gemaak, maar daar was nog geen onomwonde verbintenis tot volle implementering daarvan nie.

    In Januarie 1999 is die euro finaal ingestel, as ’n eksperiment langs ander eenhede. Die grootste terugslae vir die eenheid was Brittanje en Denemarke se weiering om dit te aanvaar, maar ná die aanvanklike aanloop is finaal besluit om op 1 Januarie vanjaar (2002) die eenheid in te stel.

  • Wat sê die optimiste?

    Optimiste het hoofsaaklik twee argumente. Hulle glo eerstens dat die euro Europa sterker gaan maak — dus in die logika van Sjina wat glo dat dit die internasionale magsewewig gaan verander. As ’n ekonomiese eenheid sal Europa handel en beleggings trek, omdat mense dit makliker gaan vind om in die enkele eenheid te werk. Die kontinent sal in internasionale forums soos die Internasionale Monetêre Fonds en die G7 ’n sterker stem uitoefen. Beleidskoördinasie gaan dit toenemend maklik maak om hervormings deur te voer, en met een geldeenheid word die gesprek oor beleid en die opweeg van opsies en resultate veel makliker. Dit kan dus die algemene ekonomiese welstand van Europa tot voordeel strek.

    Daar is ten tweede ’n siening dat die euro groter doeltreffendheid gaan meebring, omdat dit pryse en kostes oor Europese ekonomieë heen vergelykbaar maak. Verbruikers sal dus in staat wees om die goedkoopste produkte te soek, en die bestaan van een eenheid skakel ingewikkelde wisselkoers-berekenings uit. Tesame met die groei van internet-handel en die vryer vloei van goedere oor grense, word die keuses net eenvoudiger en makliker.

    Die risiko’s

    Maar daar is risiko’s. Die vraag is wat die enkele eenheid en ander vorme van integrasie beteken as daar ernstige verskille tussen lande is. Byvoorbeeld, lande beheer steeds hul eie fiskale beleide; wat gebeur as hulle van die Europese Sentrale Bank verskil? Wat gebeur as partye met verskillende aksente in verskillende lande regeer en prioriteite het wat nie noodwendig binne die Europose mikpunte val nie? Die ekonomiese siklusse van verskillende lande is ook nie noodwendig dieselfde nie, en dit mag beleidsbestuur oor die hele Unie bemoeilik.

    Daar is ook vrae oor die verantwoorbaarheid van sentrale instellings soos die Europese Sentrale Bank. Onsekerheid oor wie hierdie instelling beheer kan algemene stabiliteit nadelig raak.

    In verweer teen die Britse versigtigheid argumenteer Europese voorstanders dat die besluite oor eenheid en oor monetêre integrasie fundamenteel polities is, en dat dit gaan oor die geloof in ’n sterker verenigde Europa of nie. Frankryk, byvoorbeeld, steun Europese integrasie sedert die vroeë negentigs, omdat hulle daarin ’n manier gesien het om die verenigde Duitsland aan te help. Om dieselfde rede het die Duitse regering met groot entoesiasme die hele Europese proses meestal ondersteun.

    Britse premier Tony Blair is entoesiasties, maar van sy eie ministers stem nie saam nie, en die publiek vind dit moeilik om hulself in ’n wêreld sonder die pond in te dink. Hierdie oorwegings is meestal polities, ondanks die argumente dat daar ’n stel ekonomiese oorwegings is wat in gedagte gehou moet word.

    Dit gaan tyd neem om ten volle aan die euro gewoond te raak, en ook om te sien hoe dit presies op die markte vaar. Dit sal veral interessant wees om te sien hoe dit oor tyd met die Amerikaanse dollar vergelyk. Dit is in werking in ’n streek waar afsonderlike politieke identiteite nog bestaan, en nie maklik sal verdwyn nie.

    Maar die nuwe eenheid het gekom om te bly en lui ’n nuwe era in, ’n era wat potensieel die vestiging van ’n baie groot internasionale politieke en ekonomiese mag gaan sien.

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.