Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Simbiose van oorsig en insig

Wium van Zyl

Op 5 November 2005 is JC Kannemeyer se Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 by Protea Boekhuis op Stellenbosch bekendgestel. Wium van Zyl het ’n onderhoud met hom gevoer.

Koop hierdie boek nou!Hierdie boek is nou beskikbaar by enige goeie boekhandelaar, of vanaf kalahari.net. Klik op die boekomslag om dit nou by kalahari.net te koop!

Die Afrikaanse literatuur 1652-2004
JC Kannemeyer
Human & Rousseau
ISBN: 0798144734
Prys: R250.00



Dit is ’n enorme opgaaf om ’n literatuurgeskiedenis te skryf. Die eerste deel van die uitgebreide weergawe het in 1978 verskyn. Hoe het jy destyds op die idee gekom?

Dit was nie heeltemal my idee nie. My vroeë belangstelling in die letterkunde was oorwegend tekstueel en teoreties gerig, hoewel ek altyd ook ’n belangstelling in die historisiteit van die teks gehad het. In 1973 verskyn toe my Nederduitse digkuns waarin ek, naas kommentaar, ook inleidings tot ’n aantal digters uit die Nederlandse Goue Eeu geskryf het. Die twee geskiedskrywers van die Afrikaanse letterkunde is albei vroeg in die jare sewentig oorlede en Human & Rousseau was op soek na iemand wat die hele gebied opnuut kon dek, verkieslik, met die nodige uitgewersinisme, ’n jong persoon wat telkens kon bywerk. DJ Opperman, indertyd direkteur van die firma, was beïndruk met my oorsigtelike opstelle oor die Nederlandse digters en het gevoel ek is die aangewese man vir die taak. Op ’n aand het Koos Human by my huis in Pinelands met die voorstel opgedaag. Twee weke later het ek my, met ’n aanhaling uit Germanicus (“Ek aanvaar dit soos ek ook die dood aanvaar ...”), oor ’n ete by Lanzerac teenoor Opperman en Human bereid verklaar tot die taak.

Ek weet nie of dit ’n literêre legende is nie, maar toe die destyds beroemde Nederlandse geskiedskrywer gevra is of hy wel al die boeke ook self gelees het, het hy dit glo ontken. Hy was selfs verbaas oor die vraag. Het jy wel alles self gelees?

Ek het in my lewe báie gelees en kon in die verlede goed onthou. Ek meen alle belangrike werke in Afrikaans het ek deeglik gelees – my boek gee daar trouens blyke van. Sommige werke het ek egter, as ’n mens dit so kan stel, “verken” – die soort boek wat ek in ’n frase of hoogstens ’n sin karakteriseer. Merwe Scholtz het eenkeer in ’n gesprek ’n prikkelende vraag gestel, naamlik: Wanneer bereik ’n leser die stadium dat hy ophou om ’n boek te lees, dat hy weet dat die volgende honderd bladsye vir hom geen nuwe lig gaan werp of sy oordeel gaan wysig nie? Daar vind dus iets plaas wat jou laat besluit jy het nie verdere ontsluiting van die teks nodig nie. Ek moet darem ook byvoeg: ek het nie alleen baie gelees nie, maar ook baie boeke baie kéér gelees!

Die verskyning van jou band Band I het tot ’n enorme boekgeveg gelei met jou destydse Potchefstroomse kollega. Waaroor het dit nou weer gegaan?

Ek sou sê – om die ding op sy naam te noem – dit was basies ’n magstryd, wat Robert Ardrey die “territorial imperative” genoem het. TT Cloete het onder meer gesê my beskouinge was oorwegend “globaal”, sonder ’n “peiling van indiwiduele werke”, ’n uitspraak wat vir my nogal verstommend was en in teenspraak met Ernst Lindenberg se opmerking dat geen Afrikaanse literatuurgeskiedenis op soveel besonderhede ingaan nie en dat ek dikwels op eie stoom die eerste verkenner van ’n gedig of ’n roman is. Verder was sy beswaar dat ek my nie vooraf teoreties behoorlik verantwoord het nie, ’n uitspraak wat deur Ena Jansen in ’n artikel weerlê is. Buitendien kon niemand nog daarin slaag om hier óf elders ’n literatuurgeskiedenis te skryf wat aan Cloete se “voorskrifte” voldoen nie. Sy belangrikste beswaar was dat my boek deur oornames van ander se uitsprake ’n blote beaming en kanonisering was van wat reeds gesê het. Ek het in ’n hele paar artikels dié aantygings weerlê. In sy replieke het Cloete telkens my reaksies geïgnoreer en met terreinverleggings gekom, iets wat ’n polemiek met hom bemoeilik het. Ek het, ook deur allerlei inligting wat my bereik het, oortuig daarvan geraak dat daar ’n sterk persoonlike motief by Cloete aanwesig was, onder meer deurdat sy en enkele kollegas se boek Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig in die maak was.

Jy het begin met ’n literatuurgeskiedenis toe so iets as uit die bose beskou is in Nederland en seker ook elders in Europa. Een van die redes daarvoor was dat daar geen bevredigende antwoord bestaan oor wat literatuur is en wat nie. Op grond daarvan wil ek opnuut vir jou vra wat vir jou die verskil is tussen letterkunde en literatuur. Ten tweede wil ek graag weet hoe jy onderskei tussen die werke wat jy insluit en dié wat jy uitsluit. Dus: Wat is vir jou literatuur?

Ek het my by geleentheid beroep op Van Dale se eenvoudige en ruim omskrywing dat letterkunde, of sy sinoniem literatuur, “het geheel der schriftelijke overlevering van een volk of een tijd” is. Ek sou vandag egter hierby twee verdere faktore wil voeg wat insluiting bepaal: die kwessie van historiese prioriteit en die bellettristiese waarde van ’n geskrif. Laat ek enkele voorbeelde noem. Ek neem Jan van Riebeeck se dagregister en Adam Tas se dagboek op, omdat hulle as karteerders van die vroeë lewe aan die Kaap sowel ’n prioriteit geniet as boeiend skryf, iets wat nie van alle latere dagboeke en registers in die dorre amptenarestyl van die agtiende eeu gesê kan word nie. Wat ’n genre soos die speurverhaal betref, neem ek Donker spore en die boeke van Hendrik Brand op, maar nie byvoorbeeld Alexander Moolman se In die kloue van die spinnekop nie. Waar ’n latere speurverhaalskrywer egter met besondere werk kom, soos in die geval van Deon Meyer, word hy weldeeglik vermeld. Preller se Piet Retief en Andries Pretorius kom op grond van die historiese prioriteit en bellettristiese inslag ter sprake, maar nie die historiese werke van SFN Gie, FA van Jaarsveld of Hermann Giliomee nie. Waar ’n geskiedskrywer, soos in die geval van JC Steyn, ook bellettristies werksaam is, word sy historiese werke egter ook bespreek.

Jou vorige eendelige literatuurgeskiedenis het by 1987 geëindig. Ek, en sekerlik ook baie ander mense, is ontsettend bly dat jy nou die gaping gevul het. Hoe verskil die nuwe uitgawe van die vorige?

Ek het in die nuwe uitgawe algemeen-historiese oriënterings as aanlope tot die verskillende hoofafbakenings bygevoeg en ’n nuwe (en debatteerbare) inset aangedui wat omstreeks die jaar 1976 ’n aanvang neem. Naas nuwe werk van ouer skrywers wat sedert 1987 ontstaan het, kon ek ook byvoegings maak waar navorsing sedertdien nuwe en betreklik onbekende geskrifte ontsluit het, soos die Arabies-Afrikaanse tekste van die Bo-Kaap en die Genadendalse impuls.

Hoe staan jy teenoor ons vorige literatuurgeskiedenisse: Dekker, Antonissen en dan ook die steeds voortgesette Perspektief en profiel? Met ander woorde, vind jy dat jy ’n ander aanpak het?

Ek meen die werk van Dekker is weens sy gebrekkige struktuur vandag heeltemal verouderd, ook omdat dit wemel van feitelike onjuisthede. Vir Antonissen se werk het ek baie groot respek, al het ek in my eie werk van sy neiging tot afbakenings in desenniums weggeswaai. ’n Literatuurgeskiedenis wat ’n hele literatuur wil dek, kan myns insiens nie los staan van die literêre kritiek nie. Die skrywer moet ’n simbiose van oorsig en insig bereik en daarvoor sal hy sy fokuspunt voortdurend moet wissel van genese, teksgeskiedenis, resepsiegeskiedenis en analise van spesifieke werke. Ek hoop dat ek in my boek ten minste in dié rigting gewerk het.

Hier in die jare tagtig was daar heelwat besinning oor literêre geskiedskrywing, maar dit het in die praktyk ’n ronde nul opgelewer. In Nederland het letterkundiges aan ’n post-Knuvelder-sindroom gely en Schenkeveld het met talle medewerkers met ’n nuwe oorsigtelike werk gekom. Dit was nodig dat iemand met die gesag van Sötemann kort en kragtig moes sê: fraai in onderdele, maar geen literatuurgeskiedenis nie.

In die jongste uitgawe van Perspektief en profiel staan van die beste kritiek wat die afgelope dekade in Afrikaans geskryf is, maar die oorsigtelike perspektiewe laat veel te wense oor.

Ek meen ook ’n literêre geskiedskrywer moet onomwonde sy waarde-oordele laat hoor. Onlangs het ’n prolifieke rubriekskryfster haar waardering uitgespreek vir Anatomy of criticism (1957), waarin Northop Frye hom teen waarde-oordele uitspreek. Ek herinner my dat ek in die jare sestig die boek gelees het en dat ek en kollega Lindenberg dit eens was dat ’n mens met Frye se werkwyse nie ver in die wêreld van die letterkunde sou vorder nie. Die rubriekskryfster se waardering het my laat dink aan die werklik verdoemende oordeel van ’n helder denker soos René Wellek wat ek destyds in my uitgawe van sy History of modern criticism aangestreep het: “The attempts made, e.g. by Nortrop Frye in the ‘Polemical Introduction’ to his Anatomy of Criticism (1957) to divorce theory (which he calls criticism) from the history of taste and to argue that ‘the study of literature can never be founded on value-judgments’ (p. 20) are surely doomed to failure. Literary theories, principles, criteria cannot be arrived at in vacuo: every critic in history has developed his theory in contact with concrete works of art which he had to select, interpret, analyze, and, after all, judge. The literary opinions, rankings, and judgments of a critic are buttressed, confirmed, and developed by his theories, and theories are drawn from and supported, illustrated, made concrete, and plausible by an inspection of works of art. The subject forms a totality from which we cannot abstract single strands without serious damage to its understanding and meaning.” Die boek van Frye is vandag so goed as vergete. Dit het net iemand van die formaat van Wellek gekos om dit met ’n enkele paragraaf te vernietig.

Jy het uit ’n baie interessante bron finansiële steun gekry vir hierdie jongste stuk werk. Kan jy asseblief vir die mense daarvan vertel?

Ek wil graag my dank uitspreek teenoor Alida Potgieter van Human & Rousseau vir haar harde werk aan die manuskrip en vir die redigering deur Danie Botha en PA Joubert. Daar was by meer as een geleentheid onsuksesvolle pogings van die uitgewer om geld vir die navorsing en skryf bewillig te kry, maar toe het daar in 2002 onverwags hulp gekom uit die Nelson Mandela-fonds wat my in staat gestel het om die projek te onderneem. Daarvoor is ek baie dankbaar.

Hoe sien jy ons jongste literatuur, die groeipunte, die belangrikste figure?

Dit is nogal ’n hele mond vol om op te antwoord, maar ek sal enkele dinge probeer aandui. Van die belangrikste nuwe motiewe ná die grensverhaal en die betrokkenheid van Sestig teen Apartheid is nou ’n onvergenoegdheid en disillusie met die Nuwe Suid-Afrika. ’n Skrywer is altyd aan die kant van die “underdog”, het Opperman jare gelede reeds gesê, en nou is die wit mense en die Afrikaners, óók die bruin Afrikaners, die “underdog”. Verder is daar die “struggle” en daarna die opkoms van die bruin skrywers, maar ten spyte van goeie werk deur Scholtz, Nel en Dido is daar dikwels ’n gebrek aan gehalte en is daar in die “struggle”-poësie vir my min wat dié van Small uit die jare sestig ewenaar. Small se Kanna hy kô hystoe is nog steeds ’n baken as een van die heel belangrikste dramas in Afrikaans. Daar is verder die prominensie van vroueskrywers soos Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Marita van der Vyver, Reza de Wet en Antjie Krog. Naas die baie goeie werk van die deurwinterde Karel Schoeman en Etienne van Heerden, wie se jongste twee romans tot die mees beleë werk in Afrikaans behoort, is daar sterk jong stemme soos Herman Wasserman (kortverhale) en Ilse van Staden (poësie). En dan moet ’n mens werke so uiteenlopend soos Dan Sleigh se Eilande en Jan van Tonder se Roepman nie vergeet nie. Vir my het Afrikaans tans ’n bruisende literatuur.

Sien jy enige gevaarpunte vir die Afrikaanse literatuur?

Ek sou sê daar is in die eerste plek die gevaar van verliteratuurheid, ’n Narsissisme en ’n inbuig op die self, en dít terwyl Suid-Afrika so ’n boeiende land met al sy mense is. Ek sal dié soort skrywer met die woorde uit Opperman se Vergelegen wil vermaan: “U moet minder op boeke en meer op mense let.” Die gesprek tussen kunswerke en die intertekstualiteit is dikwels vandag ’n verskoning vir onmag en ’n gebrek aan oorspronklikheid. Daar ís so iets as ’n aantoonbare beïnvloeding van een skrywer op ’n ander!

In die tweede plek is daar ’n neiging om die werk van ouer skrywers af te kraak. Natuurlik moet daar telkens deur ’n nuwe geslag ’n heryking en ’n stellingname teen voorgangers wees, maar daar is ’n neiging om, soos Breyten dit stel, “verby die moederspeen ... te skel”, “die sandkastele van kinderjare/ roekeloos om te skop” en “op die grafte te spoeg”. Ek was verras toe my seun Mark onlangs aan my sê dat jong kunstenaars dit nie waag om Pierneef te kritiseer nie, omdat hy, ten spyte van sy nasionalistiese en polities niekorrekte motiewe, so verbrands goed teken en ets. Hulle waag dit nie om hom “aan te vat” nie. ’n Skrywer behoort, soos Eliot en Marsman, ’n sekere respek vir die tradisie te hê en hy hoef nie alles van sy voorgangers ter wille van ’n bietjie “Lebensraum” te verwerp nie.




LitNet: 6 Desember 2005

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.