Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

In gesprek met PG du Plessis oor dáárdie boek

Een van die mooiste stories oor PG du Plessis kom uit JC Steyn se Van Wyk Louw, ’n lewensverhaal (Tafelberg 1998: p1109). PG sou glo aan Louw vra hoekom ’n sekere kritikus altyd so suur is, waarop Louw geantwoord het: “Man, moet jou nie aan die vent steur nie, hy is ook maar ’n kween.”
    PG het klaarblyklik net daar in sy motor geklim, aan homself beloof om nooit ’n kween te word nie en daardie nag nog begin skryf het aan Die nag van Legio.
    Einde 1997 (amper dertig jaar na genoemde insident) bars daar toe ’n bom in die moederstad—PG het ’n rooi boek met ’n kaal vrou op gaan staan en publiseer.
    Izak de Vries het al die pad winkel toe gehardloop om The married man’s guide to adultery te gaan koop. Hy het dit vreeslik geniet (onder sy vrou se immer wakend oog), en het besluit om PG trompop te loop met ’n paar vrae.

Izak oor PG

Ek was—moet ek erken—effens lugtig vir die slim doktor wat deesdae siek trekkers reg dokter op sy plaas, en wat reeds weer ’n Arikaanse drama geskryf het (Inkleurboek vir twee—opgevoer op die KKNK-verhoë). Dit blyk egter toe dat PG du Plessis so vriendelik kan wees as wat hy slim is.
    Ek het eers heel “akademies” begin, soos dit ’n goeie kritikus betaam, maar hoe later, hoe kwater ... Uiteindelik had ek genoeg moed om hom te vra vir die adres van daardie sexy vrou op die buiteblad. Lees maar self wat sy antwoord was!
    Maar wie is hy?
    PG du Plessis behaal in 1966 sy doktorsgraad onder NP van Wyk Louw oor Die verwysing in die literatuur en baan sodoende die weg vir latere studies oor die intertekstualiteit.
    Hy sou later bekend word vir sy drama’s: Die nag van Legio (1969), Siener in die suburbs (1971), Plaston: DNS-kind (1973) en ’n Seder val in Waterkloof (1977).
    Du Plessis is destyds bekroon met die WA Hofmeyr-prys (twee maal) en die CNA-toekenning. In 1972 is die Herzog-prys aan hom toegeken vir Siener in die suburbs.
    Jan en San Publiek het Siener baie goed ontvang, want enige tjorliefhebber kon identifiseer met sy uiters menslike karakters. Hulle het Du Plessis egter beter leer ken op TV-programme soos “Spies & Plessis”, “Die Maplotters” en “Koöperasiestories”—laasgenoemde ’n verwerking van sy suksesvolle bundel kortverhale Koöperasiestories op Donderdag.

Toe gaan staan en publiseer hy ’n boek met ’n kaal vrou op die voorblad.
    Ag sies, sê die feministe.
    Ag, te rooi, sê ander.
    Ag, te lekker, sê ek.

The married man’s guide to adultery en die dramas

IDV: Daar is dikwels ’n goddelike figuur aan die werk in PG du Plessis-tekste. In Plaston: DNS-kind, was dit die Prof, in Die nag van Legio was dit Dogoman, in Siener in die suburbs was Jakes die een uit wie se kloue niemand kon kom nie. Hier is dit Franz Yonkers ...

PG: Ek weet nie of dit juis goddelike figure is nie—meer magsfigure, manipuleerders, dreigers, ens. Seker dan maar om by dramatiese botsing uit te kom, bedreiging en spanning te skep, en op ’n sekere vlak kommentaar op die dinge ónder die sosiale strukture en aanvaardhede te laat deurskemer—dus nie net sosiale kommentaar per se nie (dié lê in en om die oppervlak) maar die sisteme wat die onherkende grondslag vorm van aanvaardhede en aanvaardings wat verskuil lê in meestal onbewuste, ongedefinieerde brokke houdings, ingesteldhede, gesindhede, instinkte, drange, emosionele reaksies en ontkennings. Dis waarmee ek redelik openlik in Die nag van Legio begin het en steeds mee voortwoeker. (Barthes tot Derrida—was/is elk op eie wyse tog daarmee besig, en soos hulle sal agterkom, dié wat nog lewe, ook die sosiobiologie en evolusionêre psigologie.)
    Mag (ook soos Toffler daarmee boer) is deel daarvan en een van die uiterlike manifestasies van duiwels wat onder in ons ronddraai. Kyk só daarna: daar is eintlik net enkele plekke waar ons die duiwels van onder uit ons psiges in hulle bleek naaktheid blootstel: as mag maak dat ons nie meer bang is vir blootstelling nie (dink oor wat ek sê) en ons dus meer van ons diepste wense in die ope kan laat botvier, en in ons strewes (die soeke na daardie mag) en in ons seks/liefdeslewes (die diktaat van gene, voortplanting en voortbestaan)—en in ontreddering, natuurlik—mens kan so diep in die gemors kom dat jy nie meer omgee nie. Dit was oor die eeue die literatuur se voedingsbodem, want die skynheiligheid, die ontkennings, die maskers, die gefnuikte dieper mens kom na vore uit die teenstelling tussen die geformuleerde, deur die opvoeding deurgegewe, skyn (wat ons voorgee om te wees en te glo) en dit wat werklik onder in ons dieper waters rondwoed. Dis kos vir die letterkunde; die onbewuste ambag van meeste skrywers; en, as ek dit reg verstaan, die sin van die ewige gedoe rondom dekonstruksie waarmee soveel mindere denkers hier by ons nou so verdwaasd rondhoer.

IDV: Die godheid het dikwels ’n teenpool. In Die nag van Legio is dit Dirk Jooste (Jones?). In Plaston: DNS-kind is daar die gedurige verwysings na die gewete (aan die begin). Jan begin ook sy liefde teenoor die kind openbaar. Daar is natuurlik ook die prediker ... In The married man’s guide to adultery is die teenpool Peter Billings, daar is die Jones-familie (as ’n tipe Broederbond / Gemeente van die Getuiebroeders?), die prediker (wat soos Eerwaarde Genopen) in die hande van die godheid (Yonkers) speel. Hierdie teenpool tot die goddelike is nie altyd die bose nie ...

PG: Ja, dis nodig vir die dramatiese, die storie. En nie om dowe neute nie: die literatuur het in dié oerteenstellings ’n deel van sy openbarende, sy beeldingswaarde (kyk maar die Grieke) gevind, en omdat ’n onbewus-herkenbare waarheid altyd êrens in die estetiese ervaring rondlê, ook ’n groot deel van sy “skoonheid”.
    Oor die Carters voel ek nogal sterk, want toe die konstruksie in my wakker geword het, het ek iets gesoek wat die werking van die altruïstiese geen (deesdae heeltemal ’n ding) in ’n opperste gedeelde genepoel kon illustreer (dus in bloedskandelike inteling—hoe lief is hulle nie vir mekaar nie); om op ’n ander vlak die blik wurms van die onder-/onbewuste te verteenwoordig soos die kinders die gamut van sosiale vlakke (ook) as beeld van die psige ervaar; om iets te wys wat van die profete se leringe word; om dalk van die ou-ou lied van die oerdinge wat in ons leef, te laat klink. Maar ek wil nie die boek (jy sou sê teks) hier oorverduidelik nie, dis eksplisiet genoeg vir enige leser met oë.

Du Plessis die skrywer oor Du Plessis die verteller

IDV: Dr Du Plessis, die verteller, is ook maar ’n lekker ou godjie, besig om sy eie beultjie te blaas?

PG: Dié pyn-in-die-gat het ’n lang aanloop. Verskoon nou maar die lang verduideliking.
    In my toneel- en ander werk, en ook in die prosatjies wat ek mettertyd gepleeg het, was ek altyd besig met ’n ding wat die ou Russiese Formaliste skaz genoem het. Boris Eichenbaum (Ann Banfield het dit later netjies opgetel) had dit onder meer oor skaz. Ewentwel, dit beteken so ongeveer (heel ongeveer, hoor!) die nabootsing van die mondelinge vertelling. (Een van Eichenbaum se briljante stellings is nog steeds by my: skaz is die konstruktiewe beginsel in die plotlose storie. Dit sê vir my ’n wêreld oor die literatuur.)
    Natuurlik skakel dit met ellelange dinge in die moderne literêre teorie oor vertellers, narrators, geïmpliseerd of nie—maar dit ken jy beter as ek en die implikasies is helder.
    Spook ek dus toe daarmee in my werkies, dialoë en eerstepersoonvertellings, en ek luister Jan Spies se boere-skaz aan en ons praat oor die ding in al sy implikasies. Maar my agterkop neuk al in een rigting: hoe sal die ding lyk as jy hom tot net deuskant die absurde voer? Hoef jy, as jy ’n bore laat vertel, met redelik stewige skaz, noodwendig ’n boring boek te maak? As die verveler namens jou vertel, kan jy ’n boek maak wat nie vervelig is nie? Wat byvoorbeeld van ’n opperste pedant aan die vertelle? Sê nou maar ’n man wat akademiesbefok is, vrot is van die vooroordele, met ’n soms goeie kop maar ’n lae sosiale IK, heelhartig gegewe aan ’n redelose, amper perverse lojaliteit, pedanties tot in sy vesel met elke tweede stelling ’n aforisme, maar in sy dodelike erns en verontwaardiging tog met ’n sin vir die ironiese ... ens. En wat sal gebeur as jy die man darem tog soms die waarheid in die mond gee, tog dalk ’n eenling maak wat iets sien aankom en uit sy onoortuigende aard niemand kan oortuig nie? Die fool-prophet wat amper argetipies in alle literature uitslaan—maar aansienlik slimmer in die kop as gewoonlik? En slaan skaz net op móndelinge vertelling? Wat van akademiese vertelling? En sal dit nie sports wees as jy dan (want soveel van die hedendaagse speel daarmee rond) sommer die vertellers by name vermeng én distansieer nie, ’n soort spel met die alter-ego aan die gang sit? Dit kan ’n speletjie word. En gooi dan so ’n man in ’n vergesogte storie wat jy bou op ’n enkele beeld uit die kernfisika, Freud, stukkies Jung, sosiobiologie, ens., ens.
    Twee probleme: jy moet hom aan die begin as verveler bekendstel, en al waarsku jy in die inleiding, gaan jy baie lesers verloor as hulle dink die hele boek gaan so wees. Maar: dit kan lekker wees om die ou se skaz elke keer met groot akademiese pretensie te laat afskop en hom dan later te laat vang deur humor, patos, of wat-ook-al. Nog ’n ekskursie in die nuanses van skaz, dus.
    Verder (en dis die tweede probleem) moet die storie uit sy aard bietjie walglik afskop, want met Freud moet jy half anaal begin anders klink hy nie reg nie, en die regressie waarop jy mik (om uiteindelik ’n benadering van die mysterium iniquitatis te laat klink), soek die heel basiese (en sosiaal ontkende of minstens ongenoemde) aksies soos spoeg, byt, kots, poep en ander dinge wat babas en kleuters lekker argeloos doen, maar volwassenes nie eers noem nie. Daarmee gaan jy nóg lesers vroeg verloor—anties van albei geslagte wat skelm agter die owerspel wou aanlees, maar dan met ander liggaamsfunksies gekonfronteer word. En die titel is hoeka vatbaar vir misverstand! Ek is, weloorwoë, ’n onverstandige man, maar erg braaf.
    Dan maar vrede maak met ’n begin teen alle professionele reëls van skryf in, en deurdruk. (Om die eerste hoofstuk presies te A tot Z en rein te hou, is binne my vermoë, trouens makliker.) Maar ongelukkig dan sonder lesers wat te gou oordeel—soos oor die titel, die omslag en die taal waarin dit geskryf is. Wat het dít met die organisme, wat die ding veronderstel is om te wees, te doen? Seker tog nie álles nie, alhoewel seker wel. Die hele storie van teks/artefak(t), meen ek, word in ons letterkunde ook maar soms effens sielig verstaan. (As jy net die boek gesien het, dan het jy darem seker nog nie ’n grondslag vir ’n volledige waardeoordeel nie, en as jy ophou by die eerste hoofstuk ... dis ’n progressie wat ’n st 3 in een huiswerksessie kan uitwerk.)
    MAAR: het ek die boek ánders begin, was ek ontrou aan sy aard, het ek my deur literêr-tegniese oorwegings laat sensureer. Om die ding getrou te hou aan sy aard, was ek bereid om ’n paar lesers (en enkele minder intelligente kritici) in te boet, heelwat vermaledyding te sluk, en die gevaarlikste mynveld van die skrywery te betree: om iets te maak wat nie die geykte literêre reëls volg nie en sy eie voor spoel. ’n Poging tot oorspronklikheid, dus—altyd gevaarlik en deesdae in die tyd van soveel skeefverstaande opvattings oor intertekstualiteit, postmodernisme en daardie snare, ook nie eintlik hoog geag nie. Erger nog: jy stel jou bloot aan die oerdomheid van die minder intelligente leser wat alle ironie gaan miskyk en domweg gaan glo dat wat die gemaakte verteller en die karakters sê die direkte evangelie van die skrywer is—dié wat jou “mock pedantic” (soos die kennelik goedlesende resensent van die Star gesê het) letterlik gaan loop opneem en jou ironie gaan miskyk. Dis die mynveld, ek weet dit en het dit geweet, maar ek het my voorgeneem om geen toegewings aan die domheid of die oningeligtheid, of oormatige lees-gemaklikheid te maak nie—of aan die verskriktes wat weghol van iets wat nie die ou bekende reëls volg nie. Iemand wat die hele boek in die stofomslag, die taal, die titel of die eerste hoofstuk wil klaarlees, hoort nie in boeke nie. As dit verwate klink, sela.
    Maak dan so, besluit ek toe. Laat daar ’n man wees en gooi hom met teenpole soos Annalind, ’n pedant-verteller, en so voort.

IDV: Sien PG du Plessis homself in totale beheer van die karaters wat uit sy PC vloei?

PG: Na jy hulle aanvanklik gemaak het, beheer jy sommige omstandighede. Nee, uiteindelik loop hulle baie eiesinnige paadjies—en Annalind het haar eie ding ongeveer kom doen. Ek het altyd uitgesien na haar binnekoms.

PG oor ’n sagplekkie vir dié wat nie het nie

IDV: Die probleem is dat dié wat die hardste veg teen die bose, ook dikwels diegene is wat instrumente word van die bose. Charlie van Die nag van Legio, Tjokkie in Siener in die suburbs, Eerwaarde Genopin in Plaston: DNS-kind en uiteindelik Petey B in The married man’s guide to adultery ... Dit is heel ironies dat Billings se ywer om die Carters te red uiteindelik die oorlog veroorsaak.

PG: Dit is die lot van goeie bedoelings. Dit is wat te lese staan in Buster Carter se geskiedenis ... ons aller geskiedenis en geskiedenisse en bowenal in die geskiedenis van die profete en hulle navolgers.

IDV: PG du Plessis se werk was nog altyd ’n ode aan die “klein man / vrou”: Sielsiekes (Die nag van Legio), suburbbewoners, maplotters, bêkvellerfamilies en tange (Siener in die suburbs, ’n Seder val in Waterkloof, Maplotters, Koöperasiestories in boek- en TV-formaat), nou die Carters. Selfs ou Plaston was in sy briljante onskuld maar ’n basket case.
    Jy is lief vir die Carters. Hoekom?

PG: Ja. Of dit uit my aard is, weet ek nie, maar ek ken min skrywers wat ’n leser kon saamvat met net ’n gebitch en iets maak wat darem met die mensdom praat. Ek deel die feile en fale van almal, en ek glo dat in die breedste bestel van alles wat geweet en gedink kan word daar (op ’n soort ewigheidsgrondslag bereken) slegs miniskule verskille tussen slim en dom, goed en sleg is. Dit lyk maar net vir ons van naby af so groot—die heelal gee nie juis om nie, en verander kan jy tog nie aan die menslike aard wat in almal (slim-en-dom en beskaafd-onbeskaafd) sit nie. Tot sover dan sosiale hervormers.

IDV: Selfs Joon (van Plaston: DNS-kind) vind hier (in The married man’s guide to adultery) ’n skare mede-“losers” in die Carters. Ek vind ontsettend veel ooreenkomste tussen die twee tekste. In hoe ’n mate is Petey B geprogrammeer deur Annalind om op te tree soos hy optree? Die verteller wil dit immers so hê?

PG: Haar invloed op sy lewe is baie bepalend—soos ook dié van sy ma, maar dis glad nie so oorheersend soos die arme verteller wil uitmaak nie. (Dis een van sy vele denkfoute, want ek het dinge ingesit wat nie heeltemal klop nie, sodat sy obsessie met sý verklaring van die gebeure vir die oplettende leser bietjie uit die verf kan kom.)
    Noudat jy praat, sien ek ook ooreenkomste met Plaston, maar bewus was dit nie. Terloops oor Plaston: Voor die eerste opvoering had ons ’n voorvertoning vir ’n klomp adolessente uit een van die minder intellektuele inrigtings. Toe Plaston uiteindelik sy waarheid in ’n monoloog beween, leun een outjie wat voor my en Francois Swart sit oor na sy maat toe en sê: “Jeez, maar daardie ou kan tjol praat!” Ongeveer die reaksie van sommiges oor die verwysings na Billings se werk in die Guide—dié is nie altyd net daar om vervelende pedantiek te illustreer nie. In Plaston se tyd dag ek teatergaande mense weet wat is DNS—min wetende dat die meeste tot vandag toe dink dis ’n spatsel presidensiële semen op Monica Lewinsky se rokkie. Ek dag hulle weet van Watson en Crick. Met die Guide dag ek hulle weet darem—al is dit net uit 50-50—van die sosiobiologie. Toe net sommiges. Maar moet mens nou in jou skryf dinge vermy wat die hele mensdom se denke aan die verander is omdat jy soms intellektueel-agterlike lesers gaan aantref? (Dié wat net letterkunde lees en die res van die wêreld ongesiens laat voortdonder? Iets soos: vermy die “tjol” van die nuwe kosmologie, want ons wil nie daarvan hoor nie omdat ons nie in st. 4 daarvan geleer is nie.) As jy verder wil weet hoekom ek juis die sosiobiologie as een van die ondergronde gebruik het, lees Edward Wilson se boek Sociobiology: the New Synthesis en sy On Human Nature. Of as jy daarvoor nie die tyd het nie, sommer die laaste paar bladsye van Paul Johnson se A History of the Modern World. Hy vat die spul mooi saam.
    Ek weier om te glo dat ons dinge wat die hele mensdom lewensbeskoulik beroer (soos Darwin destyds, toe Einstein, toe ... tot by Wilson) uit ons skryfwerk moet weer. Hel, ek wil darem sélf ook in my eie werk geïnteresseerd wees! En om te probeer afpraat na, en te onderskat aan jou leser, is ’n gruwel. Wat lekker is aan die paar bladsye uit Johnson (’n historikus wat ek met ’n sak sout langs my sit en lees, maar geniet) is ook die knap en kort uiteensetting van die knuppel wat die sosiobiologie in die hoenderhok, bevolk deur die sosiale hervormers (hy noem Marx, Freud, Lévi-Strauss, Lacan en Barthes), gegooi het. Dit interesseer my, en jy sal ’n neerslag daarvan in my werk vind. Dis vir my prettig dat Wilson se epogmakende boek met ’n aanhaling uit Camus begin! (In die Guide het ek ’n hele paar vorme van die hervormers ingeklits.)

IDV: Is die mens ’n genetiese of ’n geprogrammeerde wese? Dis die vraag wat in Plaston: DNS-kind en in The married man’s guide to adultery gevra word. Hoe sien PG dit?

PG: My eie opvatting is: meer as wat ons dink, maar nie heeltemal nie. Toe hulle begin het met die ontleding van die altruïsme van die gene—hoe meer gene jy met iemand deel hoe meer gee jy vir hom om—het heelwat mense hieroor gewerk. Dis ’n wonderlike enigma: ons instinktiewe reaksies is ingebore; ons drange is; die meeste van ons emosionele reaksies is; ons brein en emosies kan herlei word na bv. chemiese balanse. (Ek bedoel: jaag genoeg alkohol in jou bloed en kyk waar kom jou persoonlikheid uit; verklaar jou jaloesie; hoekom hou jy redeloos nie van dit of dat, of wie of wat nie, laat iemand jou nekhare rys, hoekom baklei broers dan, ens.) Daar’s baie wat nie net uit die kognisie en die aangeleerde of selfs lewens-gekondisioneerde kom nie—ek glo verreweg die meeste. Kyk na ’n skare wanneer die woede oplaai, ens. Ek het ’n lang teorie van so ’n sneeubal wat met ’n aangebore gegewene begin en deur die lewe rol, met ’n helling gebeure waarlangs dit afrol—alles is sneeu, ook die aangebore balletjie waarmee die spul begin. Maar dis ’n totaal oorvereenvoudigde beeld—vir ’n lang simbiotiese proses tussen ’n ongevraagd-gebore individu, sy ontwikkeling en omstandighede. Ek sal jou vir driehonderd bladsye moet vermoei om die idee oor te dra. Maar “geprogrammeerd” is dalk die woord: met die gegewene wat van buite onbeheerbaar aan die individu afgesmeer word op ’n daaglikse basis. En dit laat hom daagliks veranderd sodat hy môre anders sal reageer. Jy kan die ketting uitwerk—begin by die fetus, en kyk hoeveel van homself uiteindelik op tagtig sy eie maaksel is ... ’n soort naturalistiese noodlot uit die tyd van Zola; ’n soort praktiese Calvinistiese determinisme. (Dáár’s nou vir jou bedmaats!) Lees die jongste ouens oor die wyse waarop die gene voorafbepalend word vir aksies en reaksies (individu en groep.) Jou hare sal rys—dis aangebore! Een van my geliefde begrippe soos gestel deur Wilson: Mind is an epiphenomenon of the brain. En die brein, wat alles dikteer, is ’n fisiese, oorgeërfde gegewe. Moenie dat ek myself te buite gaan nie.

IDV: Anna, die heilige profetes van die verlossing uit die maagd, Lind(e), die slang / draak? Ek glo nie daar is ’n ander teks wat ek al gelees het waar die hoer en die maagd so duidelik een is nie? Is dit waarna al ons warmbloedige mans soek om mee te adultereer? Deur die eeue heen, dus?

PG: Slim bliksem, ek dag ek steek dit voldoende weg vir die nageslag! Mag ek u verwys na die briljante artikel van prof WCH Billings oor die Madonna/Moeder/Hoer? Wat jy wil vra, is dít: hoekom gee ons psiges antwoord op dié soort vrou? Hoekom resoneer sy in ons psige en begin ons soos adolessente bewe in haar teenwoordigheid? Hoekom is juis sý soveel fun? Hoekom kry ons lief en lus waar ons weet dis nie goed vir ons nie, dis doodgewoon gevaarlik? Wat, verdomp, in ons gee antwoord? Kan dit die geengedrewe ou dinge wees wat hul ongenoemde herkenning in haar vind? ’n Argetipiese herkenning van ... (Ek is bly ek kon ook die maagd in haar inmeng!) My liefde huiwer tussen Annalind en die tweespaltige godin, Sheen/Maria Carter/Jones, maar die antwoord moet jy loop soek by die feit dat ons kan liefhê selfs waar ons van die persoon niks hou nie.
    Ons kan eendag praat oor die liewe Mendel en die genetiese redes waarom ons in twee (nee, dalk drie, ja, vier) sekse gesplyt is—hoekom ons dan so oor die kruishout van seks gespalk moet hang, soos die aanhaling lui.

IDV: Wat was die ding wat jou die teks laat skryf het? Daardie eerste klein vonkie, die oomblik van konsepsie?

PG: Ek weet eerlikwaar nie. Die idees kom broei mos maar so uit en toe skryf ek ’n paar proewe en toe gebeur dit. Ek kan onthou ek het met style geëksperimenteer, die naamsverandering gekry, en Billings se naam om twee redes gekies—maar toe Snot Carter spoeg, toe begin die hele ding voor my ooprol. Met die advent van Annalind het die karakterbalans my doodgewoon gegryp—en die moontlikhede vir alles wat ek al hierbo geskryf het en vir die misterium.

Terug na die vervlakste verteller

IDV: Die verteller is ’n redelike pyn in die agterend. Die eerste hoofstuk is byvoorbeeld (myns insiens) steurend, omdat hy so rondspring. Later word dit duidelik waarom, en moet ek sê dit werk vrek goed. Die vraag is egter: Is dit nie uiters gevaarlik om met ’n verteller te werk wat jy opsetlik ’n bietjie verkleineer nie?

PG: Ek het bo verduidelik, en skuldig gepleit, en destyds hardegat besluit. Dit was gevaarlik, soos ek aangedui het, en ek ly.

IDV: Ek weet dis deesdae mode om met karakters te werk vir wie jy nie regtig lief is nie, maar jou teks betoon ’n ongelooflike hoeveelheid liefde aan die karakters. Dis net Du Plessis wat ’n bietjie tweede kom ...

PG: Die toneelspelers gebruik altyd die anglisisme “opstuur”. Ek moes hom enigsins “dekonstrueer” (as ek die woord effens verkeerd mag gebruik) want dan word die spel met die werklikheidsillusie hewiger, ens. Ek het lang rasionalisasies daarvoor, maar dis hel-uit geleerd en tegnies, en dalk bietjie mallerig. Sê maar die gees het so gelei.

IDV: Die deurmekaar verteller verskaf egter weer ’n besondere ryk teks. Juis die “onbenullighede” wat die regter so irriteer, maak van ons deelnemers aan ’n lewe—waar die onbenullighede die meeste van die tyd botoon voer?

PG: Ek kan maar net sê dat die verteller pynlik daarvan bewus is dat die triviale ’n bepalende rol speel om die grotere dinge te laat gebeur. Al gedink aan Napoleon as hy die dag ’n onbenullige kopseer ronddra? Of Idi Amin? Of die huisbaas? Of die huisvrou? Regter Walls was erg bekommerd oor tersakenhede en kon nie kop of gat uitmaak wat die arme verteller probeer “oorkry” nie. Alles groot is tog uit bitter klein opgebou, en ons pedant het ’n muggie in die oor daaroor.

IDV: Die verteller met sy “akademiese” sieninge stuur ook maar mense soos ek, wat so graag die intertekste raaksien, lelik op, nè?

PG: Ag, hulle is so satiriseerbaar, so vasgebroei in hulle departementele wedyweringe, hulle afgebakende vakgebiede, ens. So ernstig. Vakkundig so beterweterig, wedywerend en verwate. Maar Billings had ’n punt oor sintese—ons het dit gesien in die natuurwetenskappe waar die ondergronde mekaar begin vind het en nou begin die geesteswetenskappe inmekaarvloei, en die skrif is aan die muur dat natuur- en geesteswetenskappe mekaar in baie verklarings gaan vind tot al twee se heil ... Maar dis nou weer iets anders en voor die hand liggend selfs vir iemand wat net Time lees.

Kritiek

IDV: Daar is ontsettend gepraat oor die teks in Engels verskyn het. Ek weet jy sê jy wou “iets nuuts” doen, maar is dit al rede?

PG: Die versoeking word al groter om te sê: sommer oor ek lus was. Nee. Ek wóú weg uit ons politieke en rasse-obsessie, uit my eie hebbelikhede, uit my oorbekende wêreld, uit al die inhiberende dinge waaraan ek vasgegroei het, uit ... noem maar op. Ek verstaan ook nie mooi hoekom almal van Leipoldt en Marais af tot by Breyten, André, Etienne, Antjie, ens., dit met groot vergiffenis (deur onse volk) kon/kan doen nie—maar ek begaan ’n doodsonde as ek, mindere, durf probeer. Ek het ’n skyt aan die gekategoriseerdery (want dit word ’n diktaat) van skrywers: vroueskrywer / noordelike skrywer / manlike skrywer / gay skrywer / Engelse skrywer / uitgeweke skrywer / swart skrywer / jong skrywer / lelike skrywer / katolieke skrywer / Moslemskrywer. Hoe vlak kan ons denke word?
    Ek vra vir niemand verlof waarin ek mag skryf nie en ek weier om te erken dat ek nou juis só erg volksbesit geword het dat my werkwyse aan my gedikteer kan word soos sommige mense met dié boek probeer doen. Watse tjol is dit? Dan moet oom Piet van Rantjieslaagte nou maar vir my my Afrikaner-parameters kom afbaken dat ek my kan gedra. John Miles het dit op ’n keer mooi gestel: “Dis vreeslik om in die hande te val van die lewende volk.” Ek is lief vir hulle en vir my taal, maar ek is nie meer ’n slaaf van een van die twee nie. In my skrywery vir koerante, TV, film en verhoog het ek ’n leeftyd van voorgeskrewe moraliteitsgrense en sensurerende toegewings aan die gemiddelde intelligensiekurwe agter die rug—daarvoor was ek onder meer gatvol tot by my kroontjie. Daarom het ek ook in die Guide ’n ruimte gemaak waarin jy nie op die landkaart ’n speld kan loop steek nie. Al wat hulle nou doen, is om my te dwing om uit hardegatgeit nóg ’n ding in Engels te maak—die kreef moet maar gewoond word. In ’n ander taal skuif jou eie persona (en afstande) ook ’n bietjie, en dis nogal ’n avontuur.

IDV: ’n Afrikaanssprekende persoon wat die letterkunde waarskynlik beter ken as ek en ’n helse goeie leser is, het aan my gesê (na hy die teks gelees het) dat hierdie teks nie in Afrikaans sou gewerk het nie. Hy beweer die gemiddelde Afrikaner sou dit nie verstaan nie? Ook sê hy dit sou ’n tweede Magersfontein word—mense sou koop en sê: “Ons verstaan nie?” Kommentaar?

PG: Ek weet nie of dit anders sou gewees het nie. Meer geïnhibeerd? Dalk tog, want die voorskrifte van jare groei in jou selfsensuur vas. Hoe die Afrikaners dit sou ontvang het? Ja, dalk soos Magersfontein, en watter skrywer is daarvoor lus? Dit sou stilisties anders gewees het, en die vervreemde landskap sou effens oneg geklink het. Dink ek maar. Maar dan sou ek weer moes hoor: Hoekom skryf julle tog die vreeslike dinge in ons dierbare taal, juis noudat die taal so vir sy voortbestaan veg, ons is tog ’n Christelike volk en ... en ... en ... Die verkettering het vele vorme, mens moet maar kies. Die voorspelbaarheid van die ontvangs sou die resepsie-teorie-mense laat horries kry het.

IDV: Die feit is egter dat mense kwaad is daaroor. Heelwat mense het al gesê hulle gaan dit nie lees nie, want dit is Engels.

PG: Nie getel nie, maar daar was al—ook om die onvermoë.

IDV: Ek neem aan dat verkope ook in ag geneem is. Afrikaanssprekendes koop maar stadig ...

PG: As jy professioneel werk, is die mark altyd ’n faktor, maar vir my te onleesbaar om spesifieke kommentaar daaroor te lewer. Mens hoop maar ’n paar mense geniet die boek en die word of mouth kom aan jou kant.

PG oor daai girl, daai girl, daai sexy girl ...!

IDV: Kom ons praat oor die buiteblad. Die titel het mense al aan die praat gehad. My vrou wou byvoorbeeld weet of dit bloot ’n verkoopstruuk was?

PG: Nee, daar sit tog meer agter die titel as net ’n verkoopsfoefie.

IDV: Weg van die titel af. Ek gaan besoek ’n skeptiese leser en sê hy kan maar my teks leen, ek weet hy sal daarvan hou. Hy neem dit so, weeg dit in sy regterhand en sê: “PG raak middeljarig. Kyk mooi. Dit is Danielle Steele hierdie. PG is weer op soek na daardie adolessensie wat hy verloor het.”
    Dieselfde ou het nou sy eie kopie gaan koop, want hy dink dis een van die beste tekste wat nog in Suid-Afrika verskyn het. (Ek het hom mos gesê.) Hy sê nou, na hy die inhoud onder oë geneem het, dat die voor- en agterblad nie beter kon wees nie.
    Wat sê jy vir kritici oor die mooi girls, ensovoorts?

PG: Daaroor kan ek nie praat nie. Sommige mense lees iets daarin, andere nie. Maar oorweeg: die bemarkingsafdeling van Tafelberg het daar ’n hand in gehad; ’n ander kunstenaar was betrokke; ens. Ek het die buiteblad goedgekeur, maar nie gemaak of voorgeskryf nie. Maar onthou mense hier by ons nog die ou Engelse spreekwoord: “Never judge a book by its cover”? Oor mooi girls praat ek nie met kritici nie—dink so deur hulle, dan sal jy sien hoekom. Dit sal te letterlik pêrels voor swyne wees.
    (Sien ook PG se slotopmerking oor die buiteblad, aan die einde van dié onderhoud, dis klassiek—IDV)

IDV: Terloops, mag ek haar adres kry?

PG: Sy’s digitaal afgeneem en op die rekenaar effens na die lyf aangepas. So: sy bestaan nie—nie in daardie presiese vorm nie, in elk geval. Op jou rekenaar kan jy deesdae jou eie ideale van die lyf nastreef. Maar haar adres is nie vir getroude mans nie, dit ruik te veel na daardie walglike sonde “adultery”.

En die toekoms?

IDV: Oukei, grappies op ’n stokkie. Daar is mense wat voel dat jy kommersieel geraak het. Een literator van statuur het aan my gesê: “Sê jy nou vir PG hy moet ophou met sy kak. Ons soek weer iets ernstigs uit sy pen.” Kommentaar?

PG: Ek was nog nooit ernstiger nie. As hulle net erns wil hê, sal ek my tyd beter kan bestee om die grappies uit Siener in die suburbs en “Koöperasiestories” te gaan uithaal. Die Afrikaanse letterkunde (maar veral die letterkundige opvattinge, al praat ons van ’n teks in Engels) versuip in erns. Daar is vir my niks so erg as ’n skrywer wat op p1 lostrek in dodelike erns en op p300 nog nie ’n bek getrek het nie, of een wat van begin tot end in een liriese gekweel aanstroop nie, of een wat die dorre saaklikheid boekdeur handhaaf nie. Ek hou van bietjie plesier soms. Maar om die woud mis te kyk oor die aardige ou kreupelbossies tussenin, soos die Engelse spreekwoord lui, sê meer van die kritikus as van die boek. Het jy al getel hoeveel droë of/en sosiaal-agterstevoor drolle by ons in die kritiek gearbei het? Of hoeveel lesers al van die dor, eenselwige erns van ons letterkunde af weggeloop het om elders ’n plesiertjie te loop soek? Dis soos om met ’n humorlose, onoorspronklike huweliksmaat getroud te wees—dié wat woorde net letterlik opneem, die ironie nie verstaan nie, lag vermy en plesier in die algemeen verwerp. Jy verneuk haar met die eerste Annalind wat gewillig blyk te wees. Stomp mense verwag in hulle stompigheid ’n dorre, ernstige gestomp. Ook die erns moet sy plek ken. Jou literator van statuur is kennelik in die Afrikaanse wyngaard aan die arbei—en maak sweerlik goor grappies ten koste van ander mense waaroor hy/sy alleen lag en dit nie agterkom nie omdat hy/sy nie kan sien mense lag sommer uit verleentheid saam nie. Wie die liefde nie het nie ...

IDV: Ek wil self egter ook weet: Gaan daar weer dramas kom uit jou pen? Ek is op goeie voet met van die jonger dramaturge, maar ek is bereid om te sê dat daar nog nie weer iets geskryf is wat vergelyk met Siener in die suburbs nie.

PG: Dankie oor Siener. Die antwoord is ja, maar anders, want die dae van nege karakters, ’n behoorlike dekor, ens., is onkostegewys bietjie verby. Die kulturele “soustrein” staan nou op ’n ander stasie. Ek probeer nou maar kyk of ek two-handers of eenmanvertonings sonder dekor of onkoste in my hand kan laat pas. Ek weet nog nie.

IDV: Ek hoop darem dis nie die laaste roman uit jou pen nie?

PG: Nee, nie as ek lank genoeg voortleef nie, maar die hele gedoe rondom die Guide moet my nog laat besluit of dit Die Bitter van Olyf of The Bitter of Olives gaan heet. Maar hierdie keer ernstig, hoor! Nie ’n grappie in sig vir 500 bladsye nie—die ding trek nie ’n bek nie, behalwe waar daar stil geween word. Ek begin op bladsy een met ’n profetiese trek om die mond en druk presies chronologies deur tot die storie sommer so plotloos in die profetiese sand wegloop aan die einde. Daar’s in elk geval nie ’n rondspringerige pedant aan die woord nie—dis net suiwere derdepersoon en Liewenheer dwarsdeur, en dis literêr-polities presies korrek en sterk feministies. Vir die “gewone leser” maak ek dit lekker dommerig, sonder toespelings, en vir enkele resensente droog soos horing en nog bietjie dommer. En ek belowe om eers toestemming te vra vir alles wat ek skrywe, en om net met die vergunning van ...

IDV: Daarmee groet ek dan — ons kan nog baie lank gesels, maar hier lê al heelwat aan om te herkou. Dankie!

PG: [Maak een of twee persoonlike opmerkings, maar laat dan so terloops val:] Verder sal ek maar “boek” versaak en “teks” sê, maar lig my in: ek verstaan hoekom almal so van teks praat, maar hoekom reken hulle dan buiteblaaie (deur iemand anders gemaak) en flaptekste (deur iemand anders geskryf) by? Die ou kop word oud.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.