Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

VersKliniek: Marlene van Niekerk*

Madri Victor

Wat is die VersKliniek?

Ons vra vyf standaardvrae aan spesialiste op die gebied van die poësie. Hulle antwoorde kan jong digters help om hulle eie gedigte te ondersoek, die nodige inspuitings te gee, mooi te versorg en dan die wêreld in te stuur.

Kyk uit vir die gedig wat elke spesialis-digter saam met die vrae op LitNet plaas.
Spoedige (ver)beterskap!

Madri Victor

1. Wat maak ’n gedig goed?

Elke gedig stel vir homself sekere eise wat hy waarmaak of nie waarmaak nie. ’n Gedig kan dus slaag of misluk in terme van sy eie projek. So elke geval moet wat dit betref op sy eie beoordeel word. Eksterne eise wat ’n mens stel het te doen met jou uitgangspunt binne ’n tradisie en jou persoonlike smaak. Ek eis van myself dat ’n gedig (ideaal gesproke) voldoen aan ’n ou formalistiese beginsel, naamlik dat dit ’n sekere hoeveelheid interessante en beduidende inhoud op formeel bevredigende wyse integreer. Nie dat ek dit in die onlangse verlede hoegenaamd reggekry het nie. Ek skryf deesdae sulke slampamperliedjies, no great shakes. Gedigte moet verder handel in konkrete dinge – abstrakte en interpretatiewe woorde in ’n gedig is dikwels die dood in die pot. ’n Gedig moet die skrywer daarvan verras. As dit haar nie verras nie, sal die leser ook geen plesier daaruit put nie. En let op: verrassing in hierdie konteks werk in ’n dialektiek met herkenning, soos in: Hiert, dis wonderlik; ek het dit nog nooit so gesien/verstaan nie, maar nou herken ek dit!

2.  Watter vyf boeke dink jy behoort alle digters te lees?

Die boek van die natuur(geskiedenis), die boek van die kuns-, musiek- en literatuurgeskiedenis, die heilige boek, byvoorbeeld die Bybel, die Koran, die boeke van die Oosterse godsdienste ens, die telefoongids, die boek met kaarte van die wêreld, die boek van die psigologie en die antropologie, en alle boeke van die digters in soveel tale as moontlik. Is dit al vyf? Digters moet wyd en voortdurend lees, oor grond en die dinge in die grond; ditto vir lug, water en vuur, sodat hulle weet wat alles reeds geskryf is. Dan moet hulle alles weer vergeet en begin mediteer, sodat hulle kan leer om aan niks te dink nie.

3. Jong digters maak al hoe meer gebruik van die vryeversvorm. Is rym oudmodies? Dink jy dit is nodig om rym, ritme, metrum en ander tegniese vaardighede te bemeester en te beoefen om ’n goeie digter te wees?

Ja, ek dink absoluut so. Kyk hoe leer mens ’n perd om sy knieë hoog op te lig: jy bind ’n rek om sy enkels en laat hom daarmee draf, dan haal jy dit af en hy tel sy knieë vanself hoog op! Formele dissipline werk soos oefening in natuurtekene. As jy ’n goeie naakstudie kan maak na die lewe, dan kan jy altyd daarna ’n kubistiese of surrealistiese weergawe waag! Dis soos toonlere oefen. Deur harde formele oefening bly mens soepel. As jy oefen om met ’n vaste vorm te dig, dan leer jy een baie belangrike ding baie gou aan, en dit is die kuns van skrap. Baie jong digters wat die vrye vorm gebruik, kan die helfte van ’n gedig met goeie gevolg skrap, maar hulle weet nie wat nie. Maar as jy in gebonde vorm skryf, dan skrap jy aanmekaar, want jou metrum is nie reg nie, en jou rymwoorde werk nie uit nie, en jou sinne lees nie logies nie. Baie belangrik is egter dat daar ’n rekord op papier is van jou skrappings. Die delete-knop op die rekenaar is die digter se grootste vyand. Ek dink mens moet sewentig bladsye op papier skryf van weergawes van dieselfde gedig en elke bladsy nommer. Dan kan jy sien wat aangaan, of uitvind wat aangaan – ás daar iets aangaan, bygesê. Om ’n goeie gedig te skryf is dit nodig dat die digter haarself verstaan soos ’n vlieg op ’n oop drom melasse: die vlieg hardloop om en om op die treacle en na verloop van baie dae begin die hele prutsel te draai.

4.  Word mens gebore as digter, of is die digkuns iets wat ’n mens kan aanleer?

Party mense het seker ’n aangebore (of oorgeërfde) talent vir byvoorbeeld klank en ritme, dink ek; party kan hulle lyf goed beweeg op musiek, en kan voëlfluite naboots; ander lyk maar lomp en klink maar vals. Dit help as jou ma mooi vir jou gesing het en jou pa weird rympies gemaak het. Maar ek dink mens kan nagenoeg alles aanleer. Partykeer is die mense wat hard leer en hard probeer, beter toegerus as dié wat op hulle natuurlike talent staatmaak. Om ’n goeie gedig te skryf is meestal harde werk. As jy meestal hard werk, het jy dalk die kans dat jy op ’n dag ’n reusegeluk tref en ’n waarlik goeie vers skryf. Ek dink dis harde werk wat uit die mode geraak het. Ek dink mense weet nie meer wat dit is om jou in te span nie. Inspanning, kry ek soms die gevoel, word as super-uncool gesien!

5. Is dig vir jou ’n emosionele of ’n logiese ding? Het jy met ander woorde eers inspirasie nodig om te kan dig? Wat dryf jóú om te dig?

Albei in ewe groot mate, dink ek. Wat die digter die meeste nodig het, is nóg “inspirasie” nóg verstand, maar tyd om te dwaal en tyd om te droom, saam met tyd om te lees. Die digter moet homself doseer met periodes van intense inspanning en fokus en periodes van verwylende aandag. Dis soos visvang. Visse skrik vir oorhaastige en senuagtige hengelaars en vir vals aas. Wat my meestal “dryf” tot ’n poging om ’n gedig te probeer maak, is ’n sekere gevoel van verbondenheid met die “natuur”, en verder musiek – enige musiek. Ek dink musiek lok die onbewuste na die oppervlak, en dit is ons grootste bron, maar dan moet jou hoeke en jou stok en jou katrolletjie alles in baie goeie toestand verkeer, anders gaan jy niks vang nie!

Behalwe tyd en harde werk is afsondering vir my heel belangrik. Maar jy moet dit  bietjie kan struktureer, anders raak jy mal. Jy moet gereeld lekker lag en grappe maak met goeie vriende, en jy moet sorg dat jy fiks bly, want dit vat baie spiertonus om op jou stert te sit so lank as wat dit vat om ’n goeie gedig te skryf. Soms vat ek ’n bandopnemer as ek gaan stap en dan praat ek wat in my kop kom. Die stapritme help soms om die poorte te open. Maar as jy dan by die huis kom, moet jy sorg dat jy nie sewe honderd e-posse het om te beantwoord of enige ander burokratiese en administratiewe verskrikkinge het wat jou gorrel toeknyp nie. Wat ek vind baie help, is om na musiek te luister en woorde te skryf wat skandeer op die musiek en in die stemming van die musiek bly. Musiek is die eerste kuns, die poësie is die tweede. Prosa is die vaal suster.

Lees Marlene van Niekerk se gedig "nagpsalm"

Marlene van Niekerk is op 10 November 1954 op die plaas Tygerhoek naby Caledon in die Wes-Kaap gebore.  Sy gaan skool op Riviersonderend en Stellenbosch en matrikuleer aan die Hoërskool Bloemhof.

Na skool studeer Marlene tale en filosofie aan die Universiteit van
Stellenbosch waar sy haar MA in 1978 verwerf met ‘n tesis oor “Die aard en belang van die literêre vormgewing in Also sprach Zarathustra”.  Gedurende haar studentejare skryf Marlene drie dramas vir amateurteater.  Nadat sy haar studies voltooi, reis sy na Duitsland waar sy vanaf 1979 in teaters in Stuttgart en Mainz as leerling-regisseur werk.  Sy sit in 1980 haar studies voort deur filosofie in Nederland te studeer en voltooi in 1985 haar doktorale tesis op die werk van Claude Lévi-Strauss en Paul Ricoeur (“Taal en mythe:  een strukturalistische en een hermeneutische benadering”).  Net haar terugkeer na Suid-Afrika doseer sy eers filosofie aan die Universiteit Zululand en Unisa en daarna vanaf 1989 Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand.  Sy is tans betrokke by die Universiteit van Stellenbosch waar sy aan hoof staan van die kreatiewe MA. 

Marlene van Niekerk word aan die voete van storievertellers groot met haar pa wat lang “stories” uit die koerant voorlees.  Sy debuteer in 1977 met Sprokkelster waaraan die Eugène Marais- en Ingrid Jonkerpryse in 1978 toegeken word.  Sy skryf gereeld rubrieke vir koerante en tydskrifte en bied skeppende klasse aan.

Toekennings:
1978: Eugène Marais-prys en Ingrid Jonker-prys vir Sprokkelster Kanseliersprys van die Universiteit van Stellenbosch
1995: M-Net-prys, CAN-prys en Noma-prys vir Triomf
2005: Die UJ-prys vir skeppende skryfwerk vir Agaat.

LitNet: 23 Augustus 2006

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.