Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Diverse identiteite: tog, man uit een stuk

Marguerite Black

Jakes Gerwel is welbelese en welberese en is onder andere ’n adviseur vir die Staatspresident. Uiteraard is dit moeilik om ’n uurtjie van sy tyd op te neem en ek kan amper nie my geluk glo wanneer sy sekretaresse my meedeel dat ek hom, vars terug van ’n besoek aan Burundi, kan spreek nie.

Prof Gerwel beklemtoon die feit dat ras nie die belangrikste indeks is nie, alhoewel mense miskien nog steeds tot ’n groot mate in terme van ras dink as gevolg van ons land se politieke geskiedenis. Jakes voel dat die belangrikste onderskeid in Suid-Afrika, dié is van haves and have nots en ryk en arm.

MB: Hoe ondervind u Bruinwees in die Afrikaanssprekende milieu in Suid-Afrika?

    JG: Daar is ou debatte oor of daar so iets is soos ’n definieerbare en kenbare groep soos die bruin mense. Ek het altyd gespot en gesê dat die enigste konstante gemene deler van dié groep mense wat die “Kleurlinge” of “bruin mense” genoem word, die gedurige debat is oor of daar so iets bestaan of nie. Onder die intellektuele in die middelklas was daar nog altyd ’n baie sterk ontkenning van groepsidentiteit — ek dink dis wat iemand soos Kirby byvoorbeeld doen. My antwoord sou ook wees dat ek nie dink dat daar iets is soos ’n enkele “Bruin-” of “Kleurling-”identiteit nie. Daar is waarskynlik ’n hele reeks identiteite en die definisie van “Bruinwees” is ’n definisie van buite af eerder as van binne af.

    Die kwessie van identiteit word dikwels aan die hand van die Kaapse Klopse bespreek. Dit is ’n ou “hang-up” onder bruin intellektuele wat dit sien as die uitdrukking van minderwaardigheid, van die “hofnar” wees. Toe ek in Kuba was in die tagtigerjare, het die feestelike parades daar my baie herinner aan die Klopse. Die persepsie van ’n kultuurverskynsel hang alles af van die kulturele inhoude wat daarin geprojekteer word: Pres. Mandela het een jaar die Klopse-parade met Nuwejaar geopen. Voor hy opgegaan het, het hulle vir hom ’n Klopse-pak gegee as ’n dankbetuiging. Toe het hy vinnig die pak aangetrek voordat hy opgegaan het. Die verskil wat dit gemaak het aan daardie bepaalde groep mense se sin vir waardigheid, was merkwaardig. ’n Kultuurverskynsel het nie op sigself sosiale betekenis nie, want dit hang af van wat daarin geprojekteer word.

    Kleur sou nie vir my die bepalende faktor van my eie identiteit wees nie. Op hierdie moment is ek ’n Afrikaans professor, maar later in die dag is ek ’n krieketadministrateur. ’n Mens het ’n klomp vloeiende identiteite en sekere aspekte daarvan kom situasioneel na vore. My “bruin”-skap figureer nie as ’n belangrike deel van my identiteit nie.

MB: In u seminale studie, Literatuur en Apartheid, wat in 1988 gepubliseer is, word konsepsies van ‘gekleurdes’ in die Afrikaanse roman tot 1948 bespreek. Stereotiperings ten opsigte van bruin mense wat algemeen is in dié tydvak, word bespreek, byvoorbeeld die “afhanklike kind” en “jollie Hotnot”. Hoe het persepsies deur die jare verander vandat die boek gepubliseer is?

    JG: Ek wil dit net duidelik maak dat hierdie studie nie ’n beskrywing is van ’n sosiale werklikheid nie. Dit is ’n boek oor literêre persepsies van bruin mense. Eintlik gaan dit oor Afrikaner skrywers en hul denke of konsepsies wat hulle oor die jare opgebou het oor ’n gewaande groep bruin mense. Daar het sekerlik verandering gekom in persepsies: AHM Scholtz het ’n hele literêre tradisie omgedraai met sy roman, Vatmaar, wat ’n beeld van ’n baie geskakeerde en diverse groep mense skep.

MB: In ’n onderhoud met Hein Willemse het hy die volgende gesê: “In die openbare gesprek projekteer Afrikaner segsmanne en -vroue hul behoeftes en versugtinge op die bruin Afrikaanssprekende.” Wat is u kommentaar hierop?

    JG: Dit is baie waar, maar ook ’n bietjie “overstated”. Daar is ’n groot tendens onder die nuwe geslag taalhandhawers om ’n korpus ondersteuners te kry en bruin Afrikaanssprekendes daarby te betrek. In die ou dae is daar altyd gepraat van die bruin mense wat gebruik is as stemvee deur die Nasionale Party. Net so, word bruin Afrikaanssprekendes vandag as taalvee gebruik. ’n Mens moet versigtig wees vir die gebruik van “ons” en “hulle”, want vandag (al is dit so vroeg na apartheid) is identiteit nie net ras- en kleurgebonde nie. As Hein so maklik praat van “bruin” en “wit”, dan vereenvoudig hy ook ’n bietjie. Ek en Antjie Krog het baie meer in gemeen as wat ek en sekere bruin mense het. Kleurgrense het egter sosiale betekenisse wat in sommige opsigte wél ’n rol speel — dit kan nie ontken word nie.

MB: In ’n onderhoud met André P. Brink voel hy dat die Afrikaner na apartheid op ’n “bandwagon gespring het van oppervlakkige en steriele skuldbelydenis”. Hoe voel u hieroor?

    JG: Ek sal nie te kenne gee dat ek Afrikaners ken nie. Maar dis nie werklik my indruk nie. Ek het nie die mea culpa so hard gehoor as wat mense soos André Brink dit gehoor het nie. Inteendeel, ek stem met Willem de Klerk saam, wat voel dat daar nie genoegsame skuldbelydenis onder Afrikaners, maar ook Afrikaanssprekendes was nie.

    Ek het in die Maart-uitgawe van Insig gesê dat party mense wat aanspraak maak op die nuwe bedeling, dit doen met ’n moreel-onverskillige a-historisiteit. Mense vergeet dikwels waarvandaan ons, as Suid-Afrikaners, kom en hoe die samelewing gestruktureer was. Die term “skuld” is baie kompleks en behels veral ’n besef van aandadigheid en ’n verwerking van daardie besef van aandadigheid. ’n Grondige besef van aandadigheid is miskien belangriker as skuldbelydenis.

MB: Hoe voel u oor Willem de Klerk se voorstel in sy boek Kroes, kras en kordaat, dat die Afrikaner ’n a-politiese identiteit moet aanneem?

    JG: Wat Willem de Klerk ook hierby bedoel, is dat daar ’n nuwe Afrikaanse identiteit sal ontwikkel, anders as hierdie eksklusiewe Afrikaner identiteit wat tot ’n groot mate nog op die voorgrond is. Daar moenie hierdie projeksies van eenselwige begeertes en identiteite op verskillende segmente binne die Afrikaanssprekende milieu wees nie. ’n Inklusiewe Afrikaanssprekende gemeenskap met ’n diversiteit van identiteit, belange en strewes sal mettertyd ontwikkel. Afrikaanssprekendes sal hul politieke tuistes in verskillende plekke vind, nie slegs ’n enkele tuiste nie. Die identiteit sal heeltemal multi-polities word.

MB: Dit kom voor asof dit te maklik geword het om die Afrikaner te stereotipeer as “gevoelloos” en “onsensitief”. Hoe voel u daaroor?

    JG: Ja, nie net Afrikaners nie, maar die meeste Suid-Afrikaners is al van toeka se dae af donners teenoor mekaar. Dis nie net konflik tussen wit en swart nie. Die Zoeloe-nasie het ontstaan vanuit die oorlog van uitwissing en die Basoetoe het ontstaan as gevolg van die verdrywing van mense deur Sjaka. Daar was ook konflikte binne en tussen die San en die Khoi.

    Maar apartheidskuld en-aandadigheid is baie kompleks. Dis nie vir Afrikaners om hulself te verontskuldig nie. Dit sou moreel verantwoordelik van Afrikaners wees om die skuld op hulle te neem wat hulle s’n is. Ek respekteer en admireer FW de Klerk in baie opsigte, maar hy het die Afrikaner tot ’n groot mate in die steek gelaat na die afskaffing van apartheid, deur nie die nodige morele leiding te gee nie. Die kerk was altyd luidrugtig in die voorry ten tyde van apartheid, maar in hierdie tyd van boetedoening en bestekopname, is hulle baie stil.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.