Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die hartseer troebadoer met die beautiful woorde

Pieter Redelinghuys gesels met Gert Vlok Nel

Gert Vlok Nel
Gert Vlok Nel
“Gert Vlok Nel is ’n moerse liefdesdigter; hy weet presies waar lê die pit van daardie dêng. Hy draai jou hart op ’n sakdoek droog. Besware is daar tog ... die bundel is te dun. DIE BUNDEL IS TE DUN. Daar moet meer wees van hierdie digter en van hoeveel digters kan jy dit sê?”
Petra Müller (Die Burger Joernaal, Augustus 1993)

“Miskien is wat Gert Vlok Nel aan gehore bied, op genre-vlak ’n betekenisvolle baken in die Afrikaanse kuns. Veel meer as wat dié skaam, kaalvoet man, wat ná die vertoning flessies konfyt en komplimente ontvang, jou sal laat vermoed.” Herman Wasserman (Die Burger)

Sommige sê hy is uitsluitlik ’n digter wat nou en dan kitaar speel en sing. Ander reken hy is ’n troebadoer, ’n hedendaagse Koos du Plessis, wat treffende lirieke skryf. Die meeste glo hy is ’n bietjie van albei. Pieter Redelinghuys het in opdrag van LitNet deur 24.com met Gert Vlok Nel gaan gesels en probeer uitvind hoekom die boorling van Beaufort-Wes na homself verwys as “bietjie van ’n bullshitter”.

Hoe gepas ... ek ontmoet Gert Vlok Nel in een van die magdom Internet-kafees in die middestad (sy voorstel). Hy dra weer ’n wit hemp. Verbeel ek my of is dit die einste een wat hy ’n paar dae vantevore op Riebeeck-Kasteel gedra het toe hy daar by die Royal Hotel opgetree het? Miskien nie, dalk het my meer as een wit hemp ...

Gert vra onmiddellik om verskoning oor hy drie minute laat is vir die onderhoud. Hy was gou by Tafelberg-Uitgewers, verduidelik hy in dieselfde asem. ’n Nuwe boek? “Nee, nie heeltemal nie — hulle wil my show by Oudtshoorn se Klein Karoo Kunstefees (Om Beaufort-Wes se Beautiful Woorde te Verlaat) in boekvorm uitgee ... met foto’s, lirieke en subteks. Dit word by vanjaar se Kunstefees gelaunch.”

Om Beaufort-Wes se Beautiful Woorde te Verlaat

Beteken al die hoe-ha oor sy optredes met kitaar en mikrofoon dat sy digkuns aan die agterste speen suig? Anders gestel: sien hy homself deesdae eerstens as ’n musikant en dan as digter?

“Moeilik om te sê,” begin Gert. Hy frons effens en gaan voort: “Ek kry baie meer erkenning as digter. Maar musiek was uit die staanspoor die vervoermiddel vir my poetry. Jy moet onthou, ek was baie afgesluit op Stellenbosch (waar hy — soos dit al tot vervelens in onderhoude genoem is — as sekerheidswag gewerk het).

“Daar sou fokkol gebeur het as ek nie begin perform het nie. Ek het by Kampusbeheer gesit en dit was geweldig stale om my. Ek het net die bundel gedigte (om te lewe is onnatuurlik, bekroon met die Ingrid Jonker-prys in 1995) gehad waarop ek kon terugval. Ek het vergete gevoel. Niks is oor my gesê of geskryf nie.” Hy teug ingedagte aan die reuse-glas ystee voor hom.

“En toe begin ek perform, eers in kabarette en toe as solo-kunstenaar.” En dis hoe sy groot deurbraak gekom het — by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees waar hy die mense gaande gehad het met Om Beaufort-Wes se Beautiful Woorde te Verlaat. Die kombinasie van getoonsette gedagtes oor sy herinneringe aan die Karoodorp, afgewissel met gedigte, was die grootste trekpleister op die Rimpelfees. Eenvoud (kitaar en mondfluitjie), haunting lirieke en ’n treffende skyfievertoning het feitlik oornag die naam Gert Vlok Nel van almal se lippe laat rol.

Dis nogal ironies dat musiek jou as digter uit — kom ons sê maar “obskuriteit” — gered het? Die vraag het nie veel impak nie.

“Nee wat, ek geniet wat ek nou doen en ek wil voortgaan daarmee. Ek geniet dit om te sing ... daar is selfs mense wat reken ek sing nie meer so vals soos voorheen nie. Solank die inhoud van die songs net nie te lig of te onbenullig (hy gebruik die woord “vacuous”) is nie. Daar moet poetry wees in dit wat ek voordra. En dit moet treffend maar eenvoudig wees, amper soos Toni Ville sing.”

Skuus vir die wals, Gert, maar Toni Watsenaam? “Toni Ville, die vrou wat al die jare vir Pussycat gesing het. Sy het so ’n ongelooflike evocative stem, daar is longing in die eenvoud. Ek is ’n groot fan van sulke songs,” verduidelik hy en vertel dat hy met sy vorige besoek aan Nederland vir Toni Ville gaan besoek het om sy “ewigdurende liefde” aan haar te verklaar.

Ek is nie bereid om bes te gee nie: Maar digkuns was tog aanvanklik die wegwyser ... ek meen, as jy nie geskryf het nie, sou jy seker nou nog by Kampusbeheer rondgesluip het. Dit het ’n paar deure vir jou oopgemaak, nie waar nie?

“Ja, dis so. Maar op sy eie sou dit maar uiteindelik uitgefaze het. Daar was groot druk op my om nog ’n bundel te publiseer ná om te lewe ... maar dit het met die jare vervaag. As mense my vra, sê ek gewoonlik ek is die 29ste beste (lewende) digter in Suid-Afrika (hy lag hardop). Dit wat ek nou doen, is op alle vlakke ’n beter opsie — dis meer toeganklik, daar is groter interaksie en meer betrokkenheid en dis selfs in ’n mate meer lonend. Ek lees nou die dag ’n bekende skrywer/kritikus (hy noem haar naam) sê sy is teleurgesteld dat ek nie nog ’n bundel gepubliseer het nie. Sy reken my CD/musiek is ’n klomp kak. Maar ek sal selfs so ver gaan om te sê dat daar ’n goeie kans is dat ek nooit weer ’n digbundel sal publiseer nie.”

Sjoe, dis nogal gewigtige woorde. Maar Gert Vlok Nel is ernstig. In ons gesprek laat val hy elke nou en dan groot name so tussen happe geroosterde salami-en-mozarella-toebroodjie en slukke ystee: Bob Dylan, Bruce Springsteen, Elvis en Tom Waits. “Tom Waits is ’n bullshitter, nes ek. Sy lirieke is soos die beste poetry — dit vat soms snydend raak, maar soms sing hy maar net wat mense wil hoor. Dis daardie vermoë — om mense onverwags te betrap — wat my aangryp. David Kramer is ook so. Hy sing vir die groot gehoor, maar so elke nou en dan kry hy ’n stekie in. En kyk maar vir Breyten Breytenbach ... hy betower jou die een oomblik en met die volgende gedig spoeg hy op jou.”

Sedert Gert sy gedigte begin toonset het, is hy (saam met Breytenbach) genooi na die Poetry Africa-konferensie in Durban, het hy saam met Jeremy Cronin, Ingrid de Kok, Antjie Krog, Sandile Dikeni en Lesego Rampolokeng in Rotterdam aan Poetry International se samekoms deelgeneem. En nou het hy so pas uit Den Haag teruggekeer waar hy saam met Loit Sôls en Soli Philander aan die Winternagte Fees deelgeneem het. Hoe was dit?

“Baie gemaklik ... dié keer het ek net gesing en geen gedigte voorgelees nie. Die fees was vol humor, dit was lig en glad nie so ernstig soos verlede jaar in Rotterdam nie. De Volkskrant het weliswaar na my verwys as ’n “Bob Dylan clone” ... maar dis ’n kompliment in my oë. Ek dink nie hulle het dit as een bedoel nie,” vertel hy laggend.

Hy gaan voort: “Ek wil wegkom van daardie bemoeienis met Beaufort-Wes en woorde, wegkom van die taalding. Dit behoort tot die verlede. Destyds toe ek Jack Kerouac se boek Dr Sax gelees het, was dit my inspirasie om oor Beaufort te skryf. Hy het so mooi oor sy tuisdorp (Lowell, Massachusetts) geskryf. Maar nou wil ek gelukkiger goed skryf, happy songs maar steeds iets met inhoud, met skop ...”

Gelukkiger goed? Kan hy verduidelik? “Ja, die fame & fortune game is geneig om ’n mens te vernietig. Sedert my eerste vertoning op Oudtshoorn was daar baie donker oomblikke in my lewe. Ek het so half ’n identiteitskrisis beleef.” Hy dink ’n oomblik. “Ek het in ’n stadium nie mooi geweet wie ek is nie. ’n Mens verloor maklik tred met waar jy is. Ek het besef hoe klein die wêreldjie is waarin ek myself bevind. Om gewild te wees is baie tydelik en ’n mens is blootgestel en kwesbaar.”

Is dit hoekom jy vir ’n tyd lank geepad het uit die kollig en jou op Beaufort-Wes gaan (her)vestig het. “Nee, darem nie ballingskap nie. Ek het my werk bedank op Stellenbosch en dit was uit ’n finansiële oogpunt beter om daar te gaan bly. Dit was nie ’n retreat nie, eerder ’n praktiese oorweging. Beaufort is ook sentraal ... jy spring op die bus en dis tjoef-tjaf dan is jy in Kaapstad of Johannesburg.”

Wat hou die toekoms vir Gert Vlok Nel in? Ek meen, as jy nou die pen en kerslig vir die kitaar en mikrofoon verruil, gaan die musikale hoofstroom van luisterliedjie seker by jou begin spook?

“Nee, my lirieke is nie toeganklik genoeg om die breë luisterkorps gelukkig te hou nie. Ek skryf my gedigte en ek toonset hulle ... nie baie mense kan dit verteer nie en ek is tevrede met die situasie. Ek sal nie swig voor druk om te begin compromise nie (Gert het ’n aanbod om vanjaar by die KKNK se hooffees op te tree van die hand gewys).

“Ek verpes die phoney element daar buite. En die nydigheid — vernaam in die skrywersgemeenskap. As jy die “flavour of the month” is, wil almal jou proe. Ek het nee gesê vir die hooffees omdat dit dieselfde tipe mense is wat destyds met die Voëlvrytoer sekere Afrikaanse kunstenaars geboikot het. Ek is bereid om op my eie aan te karring en sal my nie deur enigiemand laat voorskryf nie.”

Gert Vlok Nel se vertoning by die Rimpelfees vanjaar is “For those in Peril on the Sea” — ’n kombinasie van Engelse en Afrikaanse liedjies. Hy het intussen vyf nuwe songs (of is dit nou gedigte?) getoonset — onder meer Oorkant die Water (met so ’n “trekkerige Leeu-Gamkakoortjie”) en ’n Heel ander Lewe. Dié sal hy op Oudtshoorn by die tienjarige herdenking van die Voëlvrytoer bekend stel. En daar is ’n goeie kans dat ’n nuwe CD later vanjaar uitgereik sal word.

Die onderhoud is verby en Gert dring aan daarop om vir die ete te betaal. “Nee, Gert, dis op LitNet,” hou ek vol. Hy stem teësinnig in en ons groet saaklik. Toe ek wegstap, kom ’n strofe uit sy gedig “die eienaardige verwikkeling op lemoen” by my op: “godweet daar is baie digters in afrikaans Oupa/soveel metafore/(vir alles wat ontsê moes bly/die botterblommetjies, koup & ko-op/is voos gedig, die maan het letsels op die wang/en die meide se haunting hotnosriel is volledig vergestalt ...”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.