Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Etienne Bloemhof — ’n uiters bekwame skrywer-drywer

Ingrid Lehmensich

Nice guys can come first. Dis nou met apologie aan John Gainsford. Dis ook miskien wensdenkery,” voeg Etienne Bloemhof vinnig by toe ek hom pols oor wat sy outobiografie sou heet, sou hy dit eendag skryf.

Etienne Bloemhof ís ’n nice guy.

Hy is ook pas as LAPA se nuwe senior uitgewer aangestel, en hy voel baie positief oor sy nuwe beroep. “Dis vir my die regte uitdaging op die regte tyd, dis hoe eenvoudig dit is. Ek dink dis ’n baie goeie tyd om hier te werk — jy kry die indruk dinge is hier aan die gebeur, hier’s mense met dryfkrag.”

LAPA (Lees Afrikaans Praat Afrikaans), is in 1996 gestig onder die naam JP van der Walt en Seun. Nadat die ATKV dit in 2000 gekoop het, het die naam verander na LAPA Uitgewery.

Etienne het op Wellington en Parow skoolgegaan, wat hom so Kaaps soos moskonfyt en hotnotsvis maak. Sy ouer broer is die bekende rillerskrywer Francois Bloemhof. “Ons kom wonderlik oor die weg. Ek dink die feit dat hy gepubliseer het nog voordat ek by ’n uitgewer begin werk het, het my gehelp om na die boekmaakproses te kyk vanuit die skrywer se oogpunt. Ek het begrip dat dit geestesgoedere daar op papier is, en ’n mens stel jouself onvermydelik bloot; dis seker daarom dat ek warm onder die kraag raak as ek voel ’n skrywer kry ’n 'raw deal’, ongeag op watter gebied.”

Na matriek het Etienne voorgraads en nagraads op Stellenbosch studeer en hy het ’n D Litt op sy kerfstok. Sy eerste werk was by Quellerie Uitgewers, as algemene redakteur, en daarna as fiksieredakteur vir Human en Rousseau, in Kaapstad.

Maar hy sê hy bly nou baie lekker in Pretoria. “Florauna in Pretoria-Noord herinner Susan [sy vrou] baie aan Durban, waar sy grootgeword het. Ek kan nie sê ek mis die berg en see te veel nie; mens mis egter maar jou familie. Daar’s vir my iets baie aantreklik omtrent Pretoria, al skree hulle vir die verkeerde rugbyspan. Toe ek twaalf jaar terug hier in die weermag was, was die platteland/stad-spanning vir my as Capey veel opmerkliker as deesdae. Ek mis wel die óú Sunnyside, maar daar’s vir my eerlikwaar ’n energie hier wat ek nie verwag het nie. Miskien het dit met die Curriebeker te make.”

Hoe het hy in die uitgewersbedryf beland? “Ek het op skool selde enigiets inspirerend op letterkundige gebied teëgekom — die voorgeskrewe boeke was om van te ween. My kennismaking op universiteit met die werk van Rabie, Miles, Leroux, Breytenbach, Eybers — daar’s te veel om op te noem — het egter my lewe verander. Ek wou aanvanklik verder studeer met ’n vak soos Geskiedenis, maar Afrikaans het my gebyt en nie weer gelos nie.”

Etienne sê die mense kan hom maar idealisties noem, maar dit gee hom plesier om te werk in ’n bedryf “waar ek iets vir Afrikaans kan probeer doen”. Hy het al die geleentheid gehad om met die heel beste Afrikaanse skrywers te kan saamwerk. “’n Mens kan nie vra vir groter werksbevrediging nie.”

Etienne voel heel positief oor die verkope van Afrikaanse fiksie op die oomblik, al is daar doemprofete wat dink Afrikaans se dae is getel.

“Die afgelope tien jaar het daar ’n hele aantal uitstekende boeke verskyn. Hier en daar was ook mindere publikasies, natuurlik, maar die geheue self is ’n swak redigeerder. As ’n mens terugdink aan die jare sestig, is daar baanbrekerstekste wat hulself dadelik aanmeld … maar moenie vergeet hoeveel uiters middelmatige publikasies daar ook daardie tyd was nie. Dit geld alle genres. Ek dink die hedendaagse trefratio is dus glad nie sleg nie.

“Wat verkope betref: dit sou naïef wees om te beweer dat ons leeskultuur met byvoorbeeld Engeland of Nederland s’n kan vergelyk, en dis frustrerend dat sommige knap maar 'aweregse’ boeke slegs ’n nismark vind. Maar genoeg boeke, van populêr tot literêr, verkoop nog goed genoeg om dit vir sowel skrywer as uitgewer ’n lonende oefening te maak. Elke nou en dan verskyn daar ook iets soos prof Hans du Plessis se Innie skylte vannie Jirre wat die verbeelding gaande maak en wondere doen vir vertroue in die Afrikaanse boek in die algemeen.

“Daar is ’n hele paar goeie jong skrywers in Afrikaans, maar dit ís ’n bekommernis dat hulle eerstens nie meer skryf nie, en tweedens, dat nie méér van hulle deurkom nie. Maar die literêre wêreld is snaaks — wanneer jy dit die minste verwag, is daar twee, drie nuwe stemme wat byna tegelykertyd hul opwagting maak. Daar is ’n paar met wie ek tans skakel.”

Vir jong skrywers wat ook hulle stemme wil laat hoor, het Etienne die volgende raad: “Voor jy kan skryf, moet jy eers lees. Wyd. En nooit daarmee ophou nie. ’n Goeie wegspringplek is dan om te skryf oor onderwerpe waarmee jy goed vertroud is — waaroor jy dus met gesag kán skryf. Anders: navorsing, navorsing, navorsing. Skryf ook verkieslik in jou moedertaal, die taal waarin jy dink. Onthou ook, as jy nie self entoesiasties is oor dit wat jy skryf nie, sal jy geen leser daarmee kan inspireer nie. Passie is ’n voorvereiste.”

Breyten Breytenbach het by geleentheid Etienne Bloemhof beskryf as “’n uiters bekwame skrywer-drywer”. Met mense soos hy in die loopgrawe is daar volop hoop vir die toekoms van die Afrikaanse boek.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.