Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Ben Dekker

Philip John

Poësie in Pondoland: ’n Onderhoud onder ’n koejawelboom met Ghaitshi Ghubi, oftewel Ben Dekker
Poësie in PSJ (spreek uit “pie-s-djy”)

’n Entjie anderkant die brug oor die Umzimvubu op die pad na Lusikisiki draai ’n paadjie na regs tussen die bosse in, verby modderhutte, ’n moderne vissersblyplek, wilde suikerriet en verdwaalde jakarandas. Iskiligindi word dié driehoek grond tussen die berg en die rivier genoem. ’n Tweehonderd meter of so verder en ’n vervalle bordjie (soos alles in Port St Johns) dui aan: Pondo People, Curios and Gifts. Hier het ek ’n Afrikaanse digbundel met agtien gedigte in gekry, geskryf deur Ben Dekker. Dié “vonds” — Afrikaans op gelyke voet met kleipotte, Xhosakrale, geborduurde lappies en kreatiewe uitskot van ’n groot verskeidenheid — het my na Ben Dekker gelei. (’n Verdere interessantheid is dat die Pondo People-winkel in die gebied staan wat vir ’n kort rukkie Neue Deutschland geheet het. In 1878 het ’n Duitse ekspedisie “wetenskaplikes” ’n basis op die oostelike oewer van die Umzimvubu opgerig, heel moontlik in reaksie op die Britse anneksasie van die kus van oostelike Pondoland, nadat hulle ’n ooreenkoms met koning Ngwiliso van die Oostelike Pondo’s aangegaan het. Die Duitsers is verjaag deur sir Henry Elliott, die hoofmagistraat van Umtata, met die hulp van ’n aantal soldate van die Cape Mounted Rifles.)

Onder ’n koejawelboom:
    “Ja, jou ou donner, daar is jy. Hei, waar is my twak, hè? Weer alles opgerook, nè?”
    “Heh, heh, hoekom slaap jy so laat, is jy moeg?”

Die ou man kom te voorskyn van onder die blare van die koejawelboom — ten minste dertig voet hoog — en gaan sit oorkant my aan die ander kant van die vuurmaakplek. Hy het ook daar gesit toe ek vroeër hier aangekom het en hom met ’n “Molo” gegroet het. Volgens Ben is hy by die agt en negentig jaar oud. Sy naam is John Tabete. Was ook ’n krygsgevangene van die Italianers in die Noorde van Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hy beduie na die brandewynbottel:
    “Gee hierdie kant toe vir die Oubaas, man, komaan.”
    “Nee wat, jou bliksem, ook al die bier uitgedrink, niks meer vir jou nie.Gaan haal my pyp vir my, toe, my rug is seer.”
    “Ha, ha, wil mos grappies maak. Kyk daar voor jou is die bier — ek het dit opgepas.”

Ben kyk na die bier en gee dit dan aan. John skink vir hom in ’n blikbeker uit die bottel. My brandewyn in ’n styrofoam-koppie wat iemand seker die vorige aand gebruik het, begin goed te trek. Die “onderhoud” is verby en ons sit buite in die skadu van die koejawelboom en ’n groot frangipani. Orde en Chaos loop tussen my bene deur (Ben se twee katte, so drie maande oud, al twee pikswart, die een met ’n wit kolletjie op die neus).

“Nee man, Oubaas, wat doen jy, seker vir die voorvaders, nè?” skerts Ben met John as hy van die bier stort terwyl hy dit skink. John kyk effens gesteurd op, asof hy Ben wil betig:         
    “Ja, my voorvaders, ek moet hulle onthou, hulle is goed vir my.”
    “Komaan, jou ou donner, wanneer laas het jy vir jou voorvaders gesorg. Ek is seker hulle wil nie meer van jou weet nie,” skerts Ben verder. John lyk al meer asof hy aanstoot neem.
    “Hei, hei, kyk hier, hoekom lê jy hier op jou rug, vra my om jou pyp te gaan haal, is jy klaar, hè?” kap hy terug.

Ek het Ben eintlik net gevra of ek ’n foto van die huis kan neem, maar toe het hy opgestaan, ’n laphoedjie van ’n spyker teen die muur afgehaal en steun-steun tot by die bankie gekom, ’n mes wat op die deurmekaar tafel gelê het, opgetel, in ’n grondboontjiebotter-bottel gesteek en ’n allamintige mespunt grondboontjiebotter uitgehaal en behaaglik gesluk. Toe neem ek maar ’n foto van hom, later ook van John.

Iewers gedurende die loom oggend het twee van Ben se vriende teruggekom van ’n duikekskursie — dis hulle brandewyn wat ek en hy sit en uitdrink het, oorblyfsels van die vorige aand. Al die aktiwiteit om die vuurmaakplek bring die langsame gesprek tussen Ben en John waarna ek tussen slukkies skoon brandewyn sit en luister het tot ’n einde.

“Look, see, you hold it like this, the sharp end pointing away and cut at half-past eight. That is where the mussel is. Then it opens easily. Just watch out for the sulphur in the recess,” verduidelik Ben vir die jong man, Greg, wat die ene aandag langs hom staan. Greg en sy vriend Brian het net terug gearriveer van die rotse waar hulle oesters uitgeduik het. Hulle het ook ’n paar koppe rooi-aas vir my gebring, vir hoogwater, later. ’n Vuur word aangepak, nou is hulle honger. Greg bring vleis nader.
    “Look, it’s green,” kondig hy aan vir algemene kennisname.
    “No problem, just put it in the flames. Hulle moes dit nie in die plastiekomhulsel gelos het nie. Verder op teen die ooskus slag mense in die oggend ’n bees, nè? en teen die aand is die vleis al klaar groen,” sê Ben. Die vleis het uiteindelik goed gesmaak tussen die oesters, brandewyn en grondboontjiebotter. Ek het vroeër die oggend op Second Beach aangeland, sonder dat ek geweet het of hy hier gaan wees en eintlik ook sonder om doodseker te wees waar hy bly. Ek het by die huis geklop waar ek hom voorheen gesien het, maar daar was geen antwoord nie. Na ek ’n rukkie rondgestaan het, het ek nog ’n paadjie verder die bosse in sien kronkel, en in die skadudonker van die bome, ’n huis. Maar daar gaan vra.

Ek kyk by ’n lendelam venster in. Op ’n rofweg geprakseerde bed lê ’n groot figuur met ’n bos gryswordende hare. Ek maak my keel skoon en die figuur se oë gaan oop. Dis net die persoon na wie ek soek. Heel bedaard, asof ek verwag is, kyk hy my aan en verduidelik:
    “My rug voel asof dit af is. Gisteraand hout gekap toe ek nie moes nie, dit het koud geword.”
    Ek stap by die deur in. Hy wys my ek moet op ’n klein bankie by die voetenent sit. Die sinkplate van die dak vorm die plafon. Die balke waarop die dak rus, is eintlik houtskool. (Daar was ’n vuur gewees, vertel hy later.) Ek kan nie verhelp om te dink dat ek voel soos iets uit Heart of Darkness, en veral Apocalypse Now nie. Ek besef ook skielik, maar ek was al hier, in hierdie huis met die deur wat nie eintlik ’n deur is nie. Een aand, baie jare gelede, het ek by Vuyani se kafee-restaurant gedrink en hierheen gekom saam met ’n ou wat gesê het hy is ’n bankrower uit op parool (“Ben het gesê ek moet praat, dit help”), en ’n vriend, Manie, wat net gepraat het oor sy Wellconall-probleem. Die bankrower het een van Ben se skilderye aan my probeer verkoop. Ek sê vir Ben almal weet van die tyd toe hy gestaan het in Kaapstad teen De Villiers-Graaf.

B: Ek het basies toe gestaan in 1980, uhm, ’70, 1970, was dit, vir algemene stemreg. En dis nou sestien jaar later en ’n realiteit. Toe het almal mos gesê jy’s ’n kommunis, gaan rewolusie veroorsaak. En nou vind hulle uit dis glad nie so erg nie, dis eintlik nogal lekker.

Tussen ’n reeks steune, wat my baie wreed laat voel, gee hy my ’n paar dun boekies aan. Ek lees die titels, Dialogue, Forum, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Wysbegeerte.
Hy verduidelik:

B: Forum was op Rhodes. Dialogue was op UCT. Ek het die goed begin om ’n soort gesprek aan die gang te kry. Ek het eers op Rhodes drie jaar gedoen, BA Sielkunde, Wysbegeerte. Maar ek moes vir myself betaal, so ek moes eers vyf jaar werk in Bosbou.

Bosbou?

B: Ja. Ek was twee jaar op Saasveld, en drie jaar onder kontrak. Ek was in opmetings en navorsing, orals, van Holfontein, tot Noord-Transvaal, tot Zoeloeland, Wes-Kaap. Toe is ek Rhodes toe, kon net die drie jaar bekostig. Toe het ek ’n jaar vir KRUIK gewerk. Hulle was toe nog in die Tuine gewees, Hatfieldstraat, die werkswinkels. En die teater was onder, die Hofmeyr, in die Groote Kerkgebou. Toe het ek ’n jaar in Afrika gaan rondloop. Toe ek terugkom, baie vis gevang. Ek het vir my drie bootjies gekoop en twee pêls en ek het gaan snoek vang. En toe kon ek die volgende jaar honneurs doen. En dis die jaar wat ek hulle by UCT uitgegee het. Toe het ek probeer my Meesters op Rhodes, en hulle het my toe uitgeskop. Eerstens Ikeys wou my ook uitskop, want ons het daar so ’n sit-in gehad. Hulle het Rafe Kaprinski uitgeskop en Rick Turner het toe Natal toe gegaan, waar hy later doodgeskiet is. Rafe is na Santa Barbara Universiteit, hier was hy natuurlik heel links gesind, en dit was die tyd van daardie negerin, Angela Davis, daar was hy natuurlik extreme rightwing. Ons het so ’n senior-grade groep gehad. Enigeen wat ’n graad het, ons het so een keer ’n maand bymekaargekom en een of twee papiere gepresenteer, en dan kon die ander departement jou uitkoggel, of afbreek, of kritiseer. Rick, Rafe en ek het dit begin, toe probeer hulle ons verban. En die volgende jaar kon ek weer bekostig om Rhodes toe te gaan. My professor daar was taamlik simpatiek, my tesis was in Bantoefilosofie. Op daardie stadium, volgens baie mense, veral die goewerment, “kon kaffers nie eens dink nie”. En hier is daar nou ’n whitey wat nou sê dat hulle ’n filosofie het. Maar Daantjie Oosthuizen was lekker oop. Maar hy is toe dood in die eerste jaar van my Meestersgraad. Hy het sommer grasgesny, 42 jaar oud, en hy het gaan lê, en dit was dit.

Ek vra of hy iets van die skrywerstoneel van daardie tyd meegemaak het?

B: Uys en ek was goeie vriende gewees. Ek het Jan Rabie taamlik goed geken, Jack ook, ons het by Clifton gaan duik. Ons het ook ’n hele paar Uys Krige-stukke op die planke gebring. Wat was dit nou weer? ... Die loodswaaiers ... het ek die set gedoen en die musiek en een van die rolle. Dit was een van Uys Krige se bekendste stukke. Uys was besig met vertalings van Dylan Thomas se gedigte. Toe het ek gesê, ja, wel ek gaan hulle ook vertaal. Ek het hulle natuurlik weer verwerk sedertdien. Dit was vir my die maklikste, hy is eintlik ’n Waller wat in Engels geskryf het en ek is ’n Hollander wat in Afrikaans skryf, so die vertaling was vir my baie makliker. En ek glo nie dat hy ooit gepubliseer het nie. En ons het toe, jy weet, heeltemal verskillende style van vertalings, eintlik verwerkings. Uys kan vreeslik langdradig gewees het, jy weet, hy kan sommer so ... sê “ek kom vanaand” kan hy in sewentien sinne omskep. En toe ek my twintig klaar het, toe sê hy, nee hy wil syne eers uitgee. OK, fyn. Toe het ons so min of meer kontak verloor, maar ek is toe universiteit toe, hy is toe meer Onrus toe en het toe meer bietjie sieklik raak, en toe’s hy dood, wat, ... eighty-six. Ou Doug Skinner het een van my Dylan Thomas-vertalings gepubliseer in Contrast. Dit was so ’n snaakse trippie, want ek het toe nog elke jaar vandat ek hier is afgegaan Kaap toe, enne, die eerste sewe mense wat ek langs die pad gekuier het, is almal binne twee weke dood. Dit gebeur net so. Margaret Smith ..., het net ..., al die mense wat ek gewoonlik gekuier het. Ons gaan maar deur sulke periodes waar skielik almal vrek. Die ou John ook, hy sê, al my vriende is dood, jy weet selfs sy vriende se seuns is dood. Dis die een nadeel as jy so lank lewe, of ’n voordeel ... Enne, omdat ek in die teater was ... ek het Ingrid Jonker maar net ’n paar keer ontmoet.

Nog ’n ding waarvoor jy bekend is, is as akteur. Een van die rolle wat miskien die meeste indruk gemaak het, was dié van Ghaitshi Ghubi in Die vlakte duskant Hebron?

B: Ghaitshi Ghubi. Ja, dis maar net een van baie movies. Ek het begin, ja, wat was dit, seventy-one, met Wildtemmer, Seun van die Wildtemmer, Sam en Sally, twee reekse. Ek dink ek het nou die dag uitgewerk, dit was so twee en dertig movies wat ek al in was. Die vlakte duskant Hebron is so bekend omdat dit ’n reeks was, so tien. Daar was Outcast, so in die Knysna-bosse. Met Marcel van Heerden, Sandra Prinsloo, twee wit broers en so ’n kleurling half-broer. Gray Homeyr het die regie gedoen. Ek sien nie my eie movies nie, omdat ek maar min TV kyk. Vlakte het ek maar net die laaste tien minute van die laaste episode gesien. Dit was toe ek teruggekom het van oorsee af. Ek gaan by vriende in en hulle kyk TV en ek kyk ook — nee, hulle wil net die laaste tien minute van hierdie ding kyk. Ek sit maar ook en kyk en ek dink, hei, daardie donner lyk bekend. Dis !Kung Boesman. En dit was die bynaam van ’n landmeter wat daar in die Upington-area gewerk het, daar op na Twee Rivieren toe en op in Suidwes. Die ou was nog daar toe ons die movie gemaak het, so dit was lekker om hulle as mense te leer ken en natuurlik dit was ’n, uh ... Danie Opperman wat die draaiboek geskryf het. Dit beteken iemand wat velle dra, wat wildsvelle dra, so ’n soort Tarzan, iemand wat velle dra eerder as katoen.

Ek sê dis een van die dinge waarvoor hy bekend is, dat hy anders leef. Ek onthou hy het eenkeer in ’n onderhoud gesê daar is maar so vyftig plekke ter wêreld soos Port St Johns.

B: In Afrika, so tien. Nie almal by die see nie, maar meestal is by die see of by ’n meer. Daar’s twee plekkies in oos-Malawimeer, dis die heel onbekende kant, by Mosambiek, en jy kan amper nie daar kom, behalwe met ’n boot nie. Dan Nosibe in die noorde van Malagas, dan’s daar Santa Marie, aan die oostekant van Malagasie, Lomu, op die Tanzanië-grens, so 150 kilometer suid van Dar-es-Salaam, Uhm, twee plekkies in die baai to Benin, dis waar Nigerië begin, so ’n lekker plekkie in die Sud, dis die Sudan, waar die Nyl skielik wyd word, ’n honderd myl wye rivier word, eintlik net ’n moeras. Daar’s baie plekkies in Afrika — Murchison’s valle is nog altyd een van my geliefkoosde plekke, dis waar die Nyl afgaan uit Lake Victoria, na die Laeveld, dis van die Sud, net voor die blou en die wit Nyl bymekaarkom.

Hoekom het jy PSJ gekies?

B: Die rede hoekom ek Port St Johns gekies het, is omdat my pa naby was — in Oos-Londen. Skielik het die stad vir my te veel geword — ek het begin karre skop, vyfuur of vieruur in die middag, en toe besef dis eintlik my skuld dat ek so fyngevoelig is. Dit was in Kaapstad. Jy weet, mense raak upset as jy hulle nuwe BMW’s skop. En toe besef ek, kyk, as ek die vibes van die dorp nie mee kan saamleef nie ... en toe so ’n jaar net rondgereis en gekyk na al die mooi plekkies. Ek het gedink ek gaan in baie meer moeilikheid kom voordat ons algemene stemreg kry, gedink daar gaan baie meer boikotte wees. So, ek het gedink ek moet darem langs ’n hoofpad wees waar ek kan ryloop. Uhm, Rhodesië voor dit Zimbabwe geword het, was daar geen manier waarop jy kon reis nie, daar was net geen publieke vervoer nie. Selfs as jy ’n kar gehad het, moes jy tien, twaalf mense inlaai net om die petrolkoste te kan betaal om tien kilometer te ry. En dit kon maklik hier ook gebeur het, die Transkei sou die eerste gewees het om gemarginaliseer te wees en dan kon ek nog ten minste vyf dae langs die kus afstap om by my pa te kom.

Het jy broers en susters?

B: Ek het ’n sussie hier in Bathurst. Nog twee broers en ’n sussie. Die een broer is ’n Amerikaanse oliemiljoenêr, hierdie wat is dit, ... soos die Ewings-familie, op televisie — dit is my broer deur en deur. Ek het min kontak met hom. Die ander broer is iewers in Bangkok ... Die ander sussie is hier getroud met iemand, in Kloof, ... Durban, uh ... Maritzburg. Bietjie van ’n con artist — kry net ’n posbusnommer van hom — jy kan nie iemand gaan opsoek in ’n posbus nie.

Ek sê iets van die kuns van hom wat ek op ’n kunsuitstalling in Umtata gesien het. Meestal spoelhout wat gepoets is. Hoe besig is hy met kuns?

B: Dit kom al van Bosbou-dae af. Dis hoekom ek baie hou van houtwerk, en klip. Uhhm, ja dis ook nie ’n permanente interest nie, so nou en dan voel ek lus en doen ’n bietjie werk. En ek is van die gelukkiges dat my goed taamlik vinnig verkoop. In Kaapstad het ek agt kinders grootgemaak. Ek het in Tuine gebly. Dis hoekom ek so lank gebly het. Dit was nie my kinders gewees nie, die meeste van hulle was die offsprings van prostitute gewees en natuurlik hulle ma’s moet werk in daardie tyd van die dag dat kinders eintlik die aandag nodig het. Hulle het toe later by my kom bly en ek het baie goed gedoen ... uhh ... so deur kreef steel en visvang en so af en toe teaterwerk.

Ek wil weet hoeveel hy skryf. Een keer, lank gelede het hy op Port St Johns gesê hy is besig met ’n novelle.

B: Ja, ek het al ’n paar boeke uitgegee, uhm, maar dit was almal gedurende die apartheidsjare, so ek kon hulle nie in Suid-Afrika publiseer nie. So ek moes hulle gewoonlik uitgee onder ’n ander naam, dit was meestal novelles gewees, een versameling van kortverhale, reiskortverhale, een detective novel wat ek in Noord-Nigerië uitgegee het. Ag, jy weet, dis maar net as jy ’n tydjie iewers op ’n plek is ... die skryf van ’n novelle is nie so ’n helse job nie, twee, drie weke se werk. Uhm, en as jy nie werklik geïnteresseerd is nie, en jy gee dit een keer uit, dan het jy weer geld vir ’n paar maande, en dan reis jy maar verder. So ek het nooit eintlik opgevolg of die goed weer uitgedruk is of so nie. Totally disinterested in that.

Ek vra oor die boekie gedigte wat ek by Pondo People gekoop het vir tien rand.

B: Baaibesoekers was maar net vir ’n fees. Ek het ’n ander ene uitgegee vir die Clarens-fees, in die Vrystaat, dit was, ahh, hhm, Aas vir Aspoester. Dit was twintig liefdesgedigte wat Hannetjie LeClerc geïllustreer het. Bertie du Plooy het die illustrasies vir Baaibesoekers gedoen. Bertie en ek is ou pêls, ek het sy eerste kunsuitstalling geopen, toe ek vir die parlement gestaan het. Mense het gesê: “This is no political speech.” Maar Bertie het gesê, nee gaan aan, hoe meer die mense praat, hoe beter vir hom. Dit het gewerk, hulle het al sy goed gekoop. En ek was saam met ’n vriendin af op pad Kaap toe, en toe het ons daar by hom gaan kuier, en terug. Ek het twee dae daar deurgebring, dit was net voor Kersfees, ek wou hier wees vir die Kersfees. En toe sê hy, wat van ’n bundel gedigte, vir die fees, vis- en vrugtefees, of so iets. So ek het die gedigte hier oor Kersfees en Nuwejaar geskryf en afgestuur op een Januarie. Toe ek daar kom, die fees was in Februarie, toe’s dit klaar. Daar’s so ’n paar snaaksigheidjies in, ek het nie geweet dat ’n faks, toe het hulle nog die lyne gehad, sny alles dood buite die lyne. So gewoonlik oor Kersfees duik ek baie dan word ek so effens doof, van die baie seewater in my ore. Pas my heel goed om Kersfees nie baie na mense te luister nie. So ek het daar geskryf ek word nou doof en bedonnerd. Toe het die faks die bedonnerd afgesny en Bertie het toe maar “blind” ingesit.

Nou ja, dan is die lewe hier nie so erg nie. Een van die redes waarom, so dink ek in elk geval, hoekom ’n figuur soos “Ben Dekker” mense fassineer is omdat hy ’n soort lewe lei wat ander mense net oor droom. Hy beliggaam half die hoop of die wete dat daar iets anderkant die supermark is.

B: Daar is definitief. En jy weet dis nie dat ek ... die meeste mense hier lewe so, nie net die witmense nie, die swartmense, kleurlinge, almal. Meeste omdat dit so ’n mooi plek is, maar ook omdat dit so klein is. Jy kan nie net eintlik een professie hê nie. Jy kan nie net ’n visvanger wees, of net ’n bouer, of net ’n duiker nie. Jy moet almal so bietjie kan doen, en verkieslik so ’n paar van hulle taamlik goed, enne, dan ook lang tye niks doen nie, dat jy jouself aan die gang hou. ’n Mens doen nie een ding die heeltyd nie. Heel dikwels weet ek in die oggend nie wat ek gaan doen daardie dag nie. Ek weet gewoonlik as dit springlaaggety is, dan gaan ek duik, dan is daar gewoonlik seekos en ’n paar vriende. Ek gaan gewoonlik ’n net gooi een keer ’n dag, vir die katte. En vir Oubaas ook — hy het ’n hartaanval gehad so ’n jaar gelede. Dis die enigste stukkie kus in die wêreld, tussen Koffiebaai en Lupitana, waar jy die draai van die gety kan hoor, wanneer hy van hoog na laag, laag na hooggety gaan, dan kry jy so drie groot golwe — en jy kan dit hoor. In die dag nie soseer, maar in die nag kan jy dit baie duidelik hoor. Dis ook interessante tye nou. Ons het die stap- en wandelpaadjies begin oopmaak. En ek het nou al ’n paar keer ’n luiperdmannetjie daar bo gesien. Daar is drie pare wat die een of ander tyd weer kleintjies moet kry. Hulle eet meestal honde.

En die toekoms?

B: Ek gaan op na vriende in Pretoria, en hulle gaan saam met my Malawi toe, en Shimanimaniberge toe.

Universiteit van Transkei

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.