Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Meester spreek sy geheime

Chris Barnard is al ’n ou hand in die literatuur. Hy het al vele style met groot sukses bedryf. Aspirantromansiers wat wil deelneem aan Sanlam en Insig se groot romanwedstryd kan dus gerus kennis neem van sy werkwyse.
    Ek het hom uitgevra oor sy jongste roman, Boendoe, die redes waarom hy deesdae lekkerlees stories skryf, hoe sy karakters werk en, dalk nog belangriker, hoekom hy kies om oor hierdie onderwerpe te skryf.

Maar wie is hierdie sagsinnige man wat my glad om verskoning vra dat hy nie gou genoeg gereageer het op sy stempos nie? Dis ’n moeilike een, want hy ís so baie.
    Hy is sestig jaar gelede gebore, en debuteer in 1961 met twee novelles wat uitgegee word onder die titel Bekende onrus. Dieselfde jaar verskyn Die houtbeeld, ook ’n novelle.
    Man in die middel, ’n roman oor die vrese van ’n man wat sy ware (gekleurde) identiteit wegsteek, verskyn twee jaar later. In 1964 en 1965, onderskeidelik, verskyn nog twee werke wat novelles bevat, naamlik Dwaal en Die swanesang van majoor Sommer. (Ek verwys na laasgenoemde, ’n langerige en baie digte prosawerk oor ’n sukkelende ou man, hieronder.)
    Drie jaar na sy prosadebuut, in 1964, verskyn sy eerste drama, Pa maak vir my ’n vlieër, pa — ’n werk wat steeds baie hoog aangeslaan word.
    Sy kortverhaalbundel, Duiwel-in-die-bos (1968), lei al ’n ekologiese kleurtjie in, as ’n mens onthou dat die kosmosblommetjies, ’n indringerplant, altyd groei waar die aarde deur die mens omvergewerp is.
    In 1971 verskyn sy roman, Mahala.
    Hy gee daarna die Chriskras — reeks uit — vertellings en essays wat in Huisgenoot verskyn het — en skryf nog ’n paar dramas, waaronder die baie goeie radiodrama, Die rebellie van Lafras Verwey.
    Hierdie spel tussen prosa en toneel lei hom na die TV en die silwerdoek. Sonder hom sou ons nie die verhaal van Paljas in ons filmbedryf gehad het nie.
    Sy jeugverhale oor die seun met die ark vol diere, Danda en Danda op Oudeur, het my as kind reeds aangegryp.
    Dit neem ’n volle een en twintig jaar voordat hy weer ’n roman skryf, maar Moerland, die storie van Lukas van Niekerk, het die land laat regop sit.
    En nou is hy terug met Boendoe.
    Nee, hy plant nie harte oor nie.
    Kom ons stel hom aan die woord.

>Izak de Vries (ID): Mag ek, in die lyn van die Insig/Sanlam-romanwedstryd, begin deur te vra: As jy vir aspirantskrywers moet raad gee, wat sal jy antwoord op die vraag: “Hoe begin jy daardie roman skryf?”

Chris Barnard (CB): Ek sou lank kon karring oor “weet waaroor jy skryf” en “weet waarheen jy skryf”, ens. Maar jy vra net oor die BEGIN. Jou eerste bladsy is belangrik. Jou eerste paragraaf is baie belangrik. Jou eerste sin is vrek belangrik. Stap môre in ’n goeie boekwinkel in. Kies een roman elk van tien goeie storievertellers. Lees van elkeen die eerste sin, die eerste paragraaf, die eerste bladsy. En probeer op al tien verbeter.
     Nou het jy ’n eerste bladsy. Oor bladsy twee en die res van die roman is daar nie reëls wat nie verbreek kan word nie.

ID: Boendoe is beslis die lekkerste storieboek wat jy nog vir volwassenes geskryf het. Dis amper iets soos ’n Danda vir grootmense. Stem jy saam?

CB: Dis min of meer reg, ja. Die tyd is verby toe die staat alles wat voorkom, kon subsidieer. Hulle het boere finansieel bygestaan, navorsers, rolprentmakers, kunsterade, en (danksy die voorskryfmark) ook uitgewers en skrywers. Dis hoeka nie meer so nie. Uitgewers begin almal wat wil luister benoud waarsku ’n boek wat langer as ses maande op die winkelrak staan, gaan verwyder (en verpulp?) word. Die tyd van die presieuse digbundeltjie en die esoteriese versamelinkie verhale is dus ook verby — en die tyd van die slim maar vervelige roman.      Ek het dit nie van die begin af self toegepas nie, maar ek het nog altyd geglo ’n goeie romanskrywer se eerste en laaste uitdaging is om ’n storie goed te kan vertel. Met Moerland en Boendoe het ek probeer om hierdie uitdaging te aanvaar.

ID: Dis ook wonderlik om ’n betrokke roman te lees wat niks met apartheid, of die waarheid-en-versoening-kommissie, te doene het nie. Hoe voel jy as skrywer (van vele genres) oor die toekoms van die storieboek in Afrikaans?

CB: Jy praat heeltyd van storieboeke. Ek hou daarvan. Ons het die storieboek dalk te lank allerlei ander name gegee. Die sinvolste bydrae wat die Afrikaanse skrywer kan lewer om Afrikaans se toekoms te verseker is om goeie stories te vertel. Goeie stories skep ’n lewe van hulle eie en oorwin in die proses min of meer alles. ’n Goed vertelde storie sal hom nie maklik laat voorskryf deur iets anders nie — nie eens deur die sug na politieke korrektheid nie.

ID: Ja, ek wil juis vir jou vra oor die lekker storie in Boendoe. Jy was nog altyd iemand wat die letterkundige tradisies van jou tyd deeglik onder die knie gehad het. Reeds met Lukas van Niekerk in Moerland het jy volronde karakters geskets (toegedraai in nieu-joernalistieke wol). (Ek weet dis outyds om van sulke goed te praat, maar ek lees tog lekker aan ’n “geloofwaardige” karakter.) Hier kom jy nou en skets ’n storie wat werklik kan vergelyk met ’n Hammond Innes-riller in terme van spanning. (Daar is ’n Innes-boek oor die Duitse lugbrug.) Ek kan eerlikwaar sê ek het daardie Dakota in die lug in gebid saam met al jou nonne. Mag ons as lesers hoop op ’n vryer storie noudat die land ook vryer is?

CB: As jy bedoel vryer omdat kerk en staat hulle nie meer inmeng nie (sensuur) en die skrywer homself al hoe meer losmaak van die Groepvormers en die Politieke Klieke en die Groot Literatore en die Professionele Boetedoeners — ja, wat nog alles? Dan sekerlik ’n “vryer storie”. Maar ons gaan nog baie Afrikaanse stories lees wat worstel met juis hierdie verlede van onvryheid.

ID: Betrokke is Boendoe wel. Is armoede en burokratiese rompslomp die nuwe “issues” waarmee ons gaan worstel in die nuwe millennium?

CB: ’n Mens hoef nie ’n wafferse profeet te wees om te weet armoede gaan nog baie lank een van die groot vraagstukke van Afrika wees nie. En daarby seker ook alles wat uit armoede voortvloei. Waarvan siektes en korrupsie en gebrekkige onderwys seker die belangrikste is. Maar ek wil iets byvoeg wat almal onderskat: die vernietiging van Afrika se natuurerfenis waaroor almal gerieflikheidshalwe swyg omdat dit in die naam van armoede geskied. Dit gaan vorentoe ’n groot kwessie word.

ID: Kom ek vra jou baie pertinent oor die wit mens in Afrika. Mahala stem baie ooreen met Elsa Joubert se Bonga en selfs, hoewel minder so, met Ons wag op die Kaptein. Joubert skryf toe oor ’n swart, Afrikaanssprekende vrou se beproewinge in Suid-Afrika (Die swerfjare van Poppie Nongena) en jou Moerland vertel weer van ’n ontuis, swart Afrikaanssprekende man in ’n heel ander opset. Haar laaste roman, Die reise van Isobelle, het egter grootliks versoening gemaak met Afrika, en in Boendoe is die rasse verenig teen Afrika se natuur vir Afrika se mense. Boendoe is nader aan Bessie Head se When rain clouds gather as aan Mahala. My parallelle is miskien gewaag, maar die vraag is of die wit Afrikaanse skrywers nou dalk kan begin meedoen aan die “skryf” van Afrika? Met ander woorde, mag ons nou die wêreld wys dat ons Afrikaskrywers word?

CB: As ons dit nie voorheen gewys het nie, was dit nie Afrika of die politiek se skuld nie. Maar ek glo ons het dit al lankal begin wys. Nie een van die boeke van Elsa Joubert wat jy hier noem, sou uit ’n ander kontinent kon kom nie. Maar dieselfde geld reeds vir baie van Opperman en Van Wyk Louw se verse; en ook van Brink en Haasbroek en Strachan en Van Heerden en Matthee se beste werk, om maar net ’n paar voorbeelde te noem.

ID: En interpersoonlike verhoudings? Boendoe is ’n baie erotiese boek, maar omtrent elke man en elke vrou in hierdie boek hardloop weg van iemand — meestal die teenoorgestelde geslag.

CB: Dit was nog altyd ’n bestanddeel van byna elkeen van my stories. Hierdie uitreik uit jou eensaamheid uit na iemand anders se eensaamheid toe. Ek moes in my lewe dikwels diere uit strikke en wippe uit probeer bevry. En dit was elke keer dieselfde storie: hoe seerder die dier gekry het, hoe hewiger was sy verset teen jou goeie bedoelings. Dis hoe mense met mekaar maak terwyl hulle na mekaar toe probeer deurdring. Dis tragies en onbegryplik. En dit sal nooit verander nie.

ID: Mag ek jou terugneem na bladsy tagtig van Mahala? Daar staan: “... hy sal soos ’n vuur in die boendoe van haar lyf invaar en haar in ligte laaie laat, en sy sal ’n wind wees in sy vlamme en nie rus nie voordat al die onsekerhede en verlange nie verteer en onherkenbaar agtergelaat is nie.” Dié scène bly natuurlik maar ’n verbeeldingsvlug van Delport. In Boendoe word die ontdekkings darem voltrek, maar ... Die vraag is: gaan die mens op ’n persoonlike vlak maar altyd ’n buitestander wees in terme van “die ander”?

CB: Ek sou die aangehaalde sin vandag nie meer so skryf nie. Maar dis nie jou vraag nie. Dit hang af vir wie ’n mens hierdie vraag vra. Ek glo die mens se inherente gebreke en feilbaarhede veroorsaak dat ons almal mettertyd sit met ’n helse erfenis van wantroue teenoor ons medemens. En wantroue, dink ek, is die grootste enkele oorsaak van wat Opperman genoem het “die kring om jou, die kring om my” waarvan ons nooit bevry sal word nie.

ID: Kom ons gesels oor die karakters in die teks. Daar is opvallende ooreenkomste tussen Vusi, Brand de la Rey en Strydom — die soeke na die voormense (elk op ’n eie manier) en die aanmekaarsit van geraamtes. Het ek reg?

CB: Ek glo so, ja.

ID: Hierdie “verwarring” kom al voor in Mahala, met die Ritter-figuur, en natuurlik die Kirst-figuur wat in jou kortverhale opduik, nie waar nie?

CB: Dalk is “verwarring” nie die regte woord nie. Twee kante van dieselfde mens. ’n Soort Janus-verskynsel.
     Ek wil verder gaan en sê: Elkeen van die karakters in Boendoe het ooreenkomste. Die grootste is maar dat dit almal ’n klomp mense is wat kies om eenkant te staan.
     Die verteller sê self iets soos “daar waar jy die eensaamheid opsoek, sal jy die eensames kry”.

ID: Sou Julia die anima van Brand wees, en vice versa?

CB: As jy dit so wil lees, ja.

ID: Meer nog: is hierdie karakters eintlik, op die keper beskou, almal onderafdelings van een mens, een buitestanderfiguur in sy/haar stryd met die natuur? Of gaan ek nou te ver?

CB: Wie is ek om te sê? Skrywers getuig baie sleg oor hulle eie werk. Hulle verwar dikwels wat daar geskryf staan met wat hulle WOU geskryf het. Ander lesers het ook al kom vra of Strydom en Vusi nie maar net ander kante van Brand se gesig is nie. Dalk steek daar iets in.

ID: Daar word in Boendoe bespiegel dat die mens se volgende stadium van evolusie “Homo intuitus” gaan wees. Tienie Swanepoel (My hart wil Afrika) sal ongetwyfeld saamstem. Hy beweer die Afrikabeskawing is die Weste vooruit. Dink jý ook dat die Vusi’s van hierdie land “verder” gevorder is as die Brands van hierdie lewe? Een van die goed waaraan Brand op ’n manier nie veel erg het nie, is sy voormense — iets wat net “bekend” word deur ’n paar verwysings na sy van. Daarteenoor is Vusi weer baie na aan die mense wat voor hom uit loop ...

CB: Ja en nee. Ek dink die boek sê juis: ons weet nie. Ek dink die boek probeer juis ’n dispuut verklaar oor ’n kwessie wat lank deur ons Westerse dissiplines as gegewe feite aanvaar is.

ID: Jy verwys baie daarna dat die ekologie maar ’n grootse plan is wat sigself uitwoed. Ek het self nou al gesien hoe die tradisionele Afrikaan baie nader aan die natuur is as die Westerling, of die “Westerse Afrikaan” (ek haat sulke hokkies, dit klink alte vol na afbakening, maar nou ja). Tienie sal weer vir jou sê dat dit dikwels te doene het met ’n holistiese beeld van die voormense én dié wat nog gaan kom, iets wat die Weste verloor het. Hoe voel jy daaroor?

CB: Die geïmpliseerde vraag is seker: hoekom? Kan ek dit ontduik deur te sê ons praat hier van appels en pere. Brand se voorvaders is die dooies van gister wat hom agtergelaat het met ’n ongemaklike (in sommige opsigte onhoudbare) erfenis. Vusi se voorvaders is sy boodskappers, wegbereiders, voorspraakmakers by die Mkulunkulu.

ID: Die Westerse medisyne is (myns insiens) deels verantwoordelik vir die ekologiese rampe wat Afrika tref. Ek is getroud met ’n wonderlike en hardkoppige mediese dokter — ’n Julia-tipe. Sy sal altyd nog iets doen vir die armes. Die teendeel is egter dat ekoloë dikwels sê: Moenie die armes vir kort rukkies help nie. Los hulle, of maak seker dat daar ’n plan is wat hulle die toekoms kan insien. Dit is ’n verskriklike ding: hierdie menslike planne vs die Groter Plan, wat jy in hoofletters skryf, nie waar nie?

CB: In die ongerepte uithoeke van die land het natuurbewaarders lank geglo jy moet die mens uit die natuur verwyder om die natuur te bewaar. Want in die Weste werk dit ongelukkig so. Hulle het mettertyd agtergekom dis nie altyd waar nie. In toestande van droogte en hongersnood miskien wel (maar dan is dit nie in die eerste plek die mens se skuld nie). Onder normale omstandighede is die mens ’n byna onopvallende deel van die proses. Maar ons Westerse samelewing is al lank nie meer “normaal” nie.

ID: Ek hoef vir geen leser te vertel dat jy ’n baie ou hand in die toneel- en filmbedryf is nie. Mag ek gou verwys na een van die groot enigmate van die filmbedryf, wat nou weer in die nuus is, naamlik Stanley Kubrick? Is jy ’n Kubrick-aanhanger? (Kannemeyer het jou al by geleentheid met Fellini vergelyk.)

CB: Nee, veel eerder Fellini as Kubrick. Ek vind Eyes wide shut omslagtig en pretensieus. Kubrick, vir my smaak, se kop werk te hard en sy maag doen niks. Fellini ervaar met sy derms.

ID: Kubrick se flieks plaas die mens — dikwels mans — teen ’n wêreld, of selfs ruimte, wat maar bitter koud en eensaam is. As ek nou maar net jou langer prosa neem: die groteske en simboliese aftakeling en moord op majoor Sommer (Die swanesang van majoor Sommer), die onvermoë van Leon en Lukas om in te pas in ’n samelewing wat pigmentbedonnerd was (Man in die middel en Moerland), dan Mahala en Boendoe se natuurelemente. Daar is telkens iets amper apokalipties in jou werk, het ek reg? Moerland het darem amper hoop gehad, Boendoe het beslis hoop?

CB: Moerland is nie vir my sonder hoop nie. Die feit dat mense in Moerland besig is om hulle van die skubbe van die verlede te bevry, al is dit hoe troumaties en pynlik, maak dit nie ’n verhaal sonder hoop nie. Dis ver verwyder van majoor Sommer wat “reguit na die lig toe” spring. Apokalipties? Ons is nêrens so ontbloot soos wanneer ons pyn ervaar of pyn uitdeel nie. Dis die soort materiaal waarvan stories gemaak word.

ID: Jy en Kubrick neem omtrent ewe lank om ’n nuwe werk af te lewer. Tussen Mahala en Moerland het een en twintig jaar verloop, gelukkig net sewe van daar na Boendoe. Ek weet jy het baie ysters in ’n groot aantal vure, maar is daar ander redes waarom ons nie meer gereeld romans uit jou pen kry nie? En die kortverhaal? Is daar iewers ’n paar duiwels aan die dwaal in die bos?

CB: Die belangrikste rede hoekom ek die afgelope jare relatief min gepubliseer het, is omdat ek my brood moes verdien. Ek het nie meer kans gesien vir die joernalistiek nie, ek het glad nie kans gesien vir ’n akademiese pos nie (wat my dalk meer skryftyd sou gee — maar ek is nie ’n akademikus nie) en ek het geglo die dissipline van die filmdraaiboek gaan help om van my ’n beter skrywer te maak. Die filmbedryf is ’n genadelose leermeester. En dit het my baie geleer. Soos hoe om meer storie met minder woorde te vertel. Op enkele uitsonderings na is lywige romans die gevolg van swak redigering en die feit dat papier relatief goedkoop is. Afrikaanse films kos minder om te maak as wat ’n Amerikaanse film vir sy draaiboek betaal — en selfs vir ’n Afrikaanse film kos dit jou ten minste R60 000 om een minuut van die storie te verfilm. Dit bring selfs die mees arrogante skrywer vinnig aarde toe.
     ’n Tweede rede hoekom ek min publiseer, is omdat ek baie stadig skryf. Loshande stadiger as enigiemand anders wat ek ken.
     En ja, daar lê ’n paar kortverhale rond wat, indien die mark dit toelaat, mettertyd seker in ’n bundel opgeneem sal word. Maar eers in die volgende millennium.

ID: Laastens: Jy tem die natuur wel op jou plaas. Is dit lekker?

CB: Nee, ek tem nie die natuur nie. Een helfte van die plaas is met wildwering omhein en ek is besig om die wild wat vroeër daar voorgekom het, terug te bring. Die ander helfte was voorheen tabaklande wat oor die jare vol dongas gespoel het. Ek het die erosie gekeer en lemoene en makadamias geplant. Afrika het kos nodig!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.