Argief
                            Koördineerder: Naomi Bruwer
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor INSIG en oppervlakkigheid

Izelle Venter

Izelle Venter is sedert Februarie 2006 die nuwe redakteur van die tydskrif INSIG. Izelle, voorheen ook redakteur van tvplus en Move!, het haar joernalistieke loopbaan begin by De Kat en het sedertdien by verskeie tydskrifte gewerk. Sy was ook die Johannesburgse verteenwoordiger vir INSIG.

Verlede Woensdagaand by sy vertoning het Koos Kombuis sy “Longdrop-song” (wat hoeka gaan oor verandering) aan die INSIG-span opgedra. Want hy sê hy hoor die mense kla dat ons nie depressief genoeg is nie en as hierdie song ons nie onderkry nie, dan weet hy nie.

Ons kon nie help om ’n bietjie lekker te kry nie.

Ons het die tydskrif inderdaad hernu en dit het sekerlik van ons vorige lesers ontstem, maar hier verduidelik ek hoekom ek as redakteur (oftewel redakteurtjie, soos sommige van die Sênet-skrywers verkies om na my te verwys) en die INSIG-span die redaksionele skuiwe gemaak het.

Om onduidelikheid te vermy, laat ons begin by ons definisie van die INSIG-mark (soos ook bevestig deur onlangse navorsing): Suksesvolle Afrikaanses wat dink oor die wêreld waarin ons woon én dit geniet.

Tweedens moet ek net noem dat tydskrifte vandag ’n sekere rol vervul. Met die koms van blitsboekpublikasie, nuwe koerantinhoudstrategie en die web, moes tydskrifte hul posisie hervestig. Dié wat lesers help ontsnap en die swaar werk vir ander mediums los, se sukses is só groot dat enige redakteur die neiging ernstig moet opneem. Dit is ook nodig om te sê dat ons nie beplan om Huisgenoot se verkoopsyfers verby te steek nie. INSIG word steeds geposisioneer as ’n tydskrif met ’n unieke inhoud wat veral fokus op demokratiese waardes, suksesvolle mense, sake-inspirasie en die goeie lewe.

Ons word deur ’n paar Afrikaanses daarvan beskuldig dat ons diepte vir lekkerte verruil het. Daarmee stry ons nie. Dit was in der waarheid een van ons mikpunte. Ons verstaan lekker soos Pharos se Sinonieme en verwante woorde dit verduidelik: heerlik, aangenaam, genotvol, plesierig, vermaaklik, onderhoudend, interessant. Tydskrifte is deel van ons teikenmark se af tyd en staan in die tou ná ’n braai met vriende, ’n naweekmiddagslapie, ’n bottel wyn, ’n fliek of ’n boek. As ons nie ’n element van lekker op ons blaaie gaan kry nie, is dit neusie verby.

Dit was ’n prioriteit vir ons nuwe redaksie om juis dié element te vestig met die herbekendstelling van INSIG in April. Boonop het verbruikers lui geraak: hulle koop minder tydskrifte, maar is meer lojaal teenoor hul gunstelingtydskrifte. Ons moes dus ’n inhoudverskuiwing maak om ’n groter lojaliteitsgroep te vind. Moontlik het dit – en ons nuwe uitleg – dié groep so laat skrik dat hulle nie gesien het dat ons steeds intellektuele kwessies aanraak en steeds artikels van hoë gehalte plaas nie.

Boonop gaan dit goed met ons teikenmark. Met my aanstelling het ek ook die Stellenbosse taaldebat vurig dopgehou as ’n verdere aanduiding van waar ons mark se hartklop lê. Volgens Die Burger het net 8 700 oud-Maties gestem. Ek dink dis bitter min mense – as redakteur sê dit vir my die Afrikaanse mark is nie so passievol oor die taaldebat as wat ’n mens dink nie en dit gee vir my ’n goeie aanduiding dat ons nuwe niepolitiese inhoudaanslag nie verkeerd is nie.

Ons fokus verder nie eksklusief op Afrikaner wees of Afrikaans wees nie, maar op Suid-Afrikaans wees.

Ek dink ook dis onregverdig om te sê die mark het afwaarts beweeg net omdat ons nie net meer die Afrikaanse (party van ons ekslesers sou sê Kaapse) binnekring van intellektuele en letterkundiges omarm nie. Dis lekker om weer briewe te kry van mense, ook joernaliste, uit Pretoria wat sê: Nou kan ons INSIG ook weer lees! Dis mense wat verveeld was met die binnekring en nou die tydskrif ook op hul bedkassies aanhou omdat hulle hul met die onderwerpe, meningsvormers en bronne kan identifiseer. Pleks van menings voorskryf, gee ons menings weer. Ons voel R25 verwerdig ook die plasing van bruikbare feite en inligting. En ons het ’n humorsin bygekry.

Wat laat ’n tydskrif werk? My antwoord is: inhoud, inhoud, inhoud. Goeie verspreiding (wat aangehelp word deur stabiele verkope) en bemarking help, maar inhoud bly jou beste verspreider en bemarker. Media24 is nie onrealisties as dit kom by sirkulasiedoelwitte nie. As die inhoud van ’n tydskrif met sy teikenmark praat en dié mark koop jou tydskrif op ’n gereelde basis, dán kan ’n tydskrif as goed bestempel word. Dis dus nie suinigheid, bemarking of verspreiding wat die lae sirkulasiesyfers veroorsaak het nie.

Ongelukkig is dit ook nie toekennings, of wat Engelse joernaliste daarvan dink, wat ’n tydskrif goed maak nie; dis natuurlik ’n heerlike meevaller. Ek het terloops ’n probleem met baie tydskriftoekennings wat gewoonlik net die glanstydskrifte ernstig opneem: tydskrifte behoort pryse te wen vir markpenetrasie.

Korter artikels vereis dikwels meer bedrewe joernalistiek. Die besluit om van ons artikels in ’n korter formaat te gebruik, is onder meer om meer verskeidenheid op ons 96 bladsye te kry en om ons mark se tekort aan leestyd te akkommodeer. Nie om dit makliker te maak nie – allermins!

Bydraes van stewige skrywers soos Sonja Loots, Helena Wasserman, Dave Pepler, Marianne Thamm, Wilma de Bruyn, Dine van Zyl, Peter van Noord, Jorisna Bonthuys en Erns Grundling is nie te versmaai nie. INSIG bly ’n tydskrif vir ’n verskeidenheid joernalisstemme: ons soek jonk en oud se bydraes wat ons mark se versugtinge verstaan.

Ten slotte iets oor voorblaaie: ons nuwe strategie vir INSIG se voorblaaie is herkenbaarheid. Om onsself van nuuts te vestig en potensiële lesers te wen, is daar geen ander keuse nie. Baie van die Sênet-skrywers het dit veral teen ’n 7de Laan-gesig gehad. Sy (Elma Postma) was ’n voorbladkeuse deels omdat dit ons KKNK-uitgawe was en sy een van die aktrises by die fees was. Herkenbaar veral. Ek moet sê, voorblaaie is bitter moeilik, dus sal ons graag jul voorstelle verwelkom.

Ten slotte: doen jouself ’n guns – gaan koop die tydskrif, lees dit met ’n oop gemoed en jy sal sien daar is nog baie insig te put hieruit. En lekkerte.



LitNet: 24 Mei 2006

  • Klik hier vir nog bydrae tot die Oppervlakkigheidsgesprek.

    Wil jy reageer op hierdie mini-seminaar? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

  • boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.