Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

ZB du Toit se ongrondwetlike boek

Opmerking: Chris Louw het my gevra om kommentaar te lewer oor ZB du Toit se Die Nuwe Toekoms — ’n perspektief op die Afrikaner by die eeuwisseling. Ek het die boek reeds enkele weke gelede aangeskaf, maar nou eers opgeneem. Nou ja, mnr. Louw, hier is dit.

Vanuit linkse geledere is daar baie jare lank geskryf oor die geslotenheid van ideologie wat die mens, en veral die werker, verhoed om sy “ware situasie” raak te sien. Marx se opmerking oor godsdiens as die opium van die volk is nooit ver by dié denke nie. Nou is dit egter so dat ’n latere skool van linkse denke juis die marginale persoon wat tot ’n minderheidsgroep behoort, hetsy kultureel, hetsy in ’n klassesin, sien as iemand wat dikwels in staat is om die heersende ideologie te deurpriem en die veronderstellinge daarvan omver te werp in ’n oomblik van heldere en rewolusionêre insig. Die gemarginaliseerde Afrikaner as radikale denker? By die lees van ZB du Toit se Die nuwe toekoms — ’n perspektief op die Afrikaner by die eeuwisseling (Pretoria: JP van der Walt en Seun, 1999) raak dit al hoe minder vergesog.

Self het ek min kennis van wat die outeur voorheen geskryf het, dog dit wil my voorkom asof hy uit ’n min of meer “behoudende” Afrikanerperspektief gevorder het tot hier waar hy eintlik ’n radikale hersiening van die huidige grondwetlike orde in Suid-Afrika bepleit en sterk kritiek lewer op alle vorme van behoudendheid, beide histories en eietyds. Soos die rewolusionêr wat ná die eerste tree in die donker sy “skipbreuk van sekerhede” ervaar en daardeur aangespoor word om toenemend radikaal te begin dink, lewer ZB du Toit hier vir ons ’n les in die denke wat as ’t ware gedryf word deur sy opstandige misnoeë met die huidige bestel. In baie opsigte is dit ’n bevryding om hom te lees, want hy verseker ons oor en oor dat die huidige aandrang op sentralistiese meerderheidsregering eintlik ’n oudmodiese staatsvorm is en ’n oppervlakkige vorm van demokrasie, selfs pseudo-demokrasie. Sy pleidooi vir minderheidsregte sluit beslis aan by ’n sekere ultralinkse tradisie, en plek-plek sou ’n mens sy nugtere, enigsins joernalistieke diskoers wou aanvul met enkele aanhalings uit byvoorbeeld die skiso-rewolusionêre filosofie van ’n Gilles Deleuze waar die minderheid as ’n bevoorregte draer van maatskaplike kritiek en verandering gesien word.

Dog eers ’n punt van kritiek, sy dit dan sonder betrekking op die inhoud van die boek. Dit is naamlik die voorblad, wat ek erg kitsch en verbeeldingloos gevind het, asook die versorging wat etlike setfoute bevat, asook dinge soos “ikon” in plaas van “ikoon”, “ancient regime” pleks van “ancien régime”, “Brussels” eerder as “Brussel”, ens. Indien die boek herdruk word, kan dit baat by ’n smaakvoller omslag en noukeuriger versorging.

Komende kort op die hakke van Afrikaner Afrikaan deur Van Zyl Slabbert, is dit duidelik dat die kultuurpolitieke debat in Afrikaans sterk op dreef kom. Ook kan ’n mens nie anders as om vergelykings tussen die twee boeke te tref nie, en myns insiens is Du Toit se bydrae verreweg die vernuwendste en veel helderder as Slabbert se dikwelse geneigdheid tot die anekdoties persoonlike. Dit is ook omvangryker (ongeveer 400 bladsye) en tref allerlei internasionale parallelle tussen Suid-Afrika en lande soos Kanada, België, Noord-Ierland, Joego-Slawië en Israel.

Du Toit se ontleding van die totstandkoming van die huidige Suid-Afrikaanse grondwet is verdoemend, as synde die gevolg van ’n daad van politieke en kulturele selfmoord deur FW de Klerk en Roelf Meyer wat so onder die indruk van hul eie belangrikheid, asook dié van die Nasionale Party, verkeer het dat hulle hulself nouliks ’n Suid-Afrika kon voorstel waar die mag nie deur die Afrikaner-establishment met sy Broederbond, Kerke, Staatsdiens en Veiligheidsmagte beset word nie. Hierdie siening van die naïwiteit van De Klerk/Meyer strook ook met Slabbert se opmerkings in Afrikaner Afrikaan, en word gerugsteun deur die analise van die joernalis van die Britse Financial Times, Patti Waldmeir, in haar boek Anatomy of a miracle, waarna Du Toit by meer as een geleentheid verwys. Du Toit se beskrywing van die Boipatong-episode, wat die deus ex machina was waardeur die ANC-onderhandelaars die NP as ’t ware tot oorgawe gedwing het, is boeiend en geloofwaardig. Ook De Klerk se eie beskouing van ’n vrywillige politieke selfmoord strook hiermee; Du Toit haal hom aan waar hy sê:

    “Die besluit om die reg tot nasionale soewereiniteit prys te gee, was sekerlik een van die pynlikste wat enige leier of sy mense ooit gevra kon word om te doen. Die reg tot die handhawing van nasionale soewereiniteit, van mense om hulleself te regeer, word in baie lande as ononderhandelbaar beskou. Die meeste nasies sal bereid wees om die risiko van ’n algehele oorlog en katastrofe te loop eerder as om dié reg prys te gee.” (Du Toit, bl. 68)

As ons vandag slawe is in ’n Clockwork Orange-wêreld van misdaad, geweld en korrupsie met boonop ’n neo-koloniale verengelsingsbeleid wat afgedwing word, dan is dit aan die here De Klerk en Meyer te danke wat hoegenaamd nie opgewasse was teen ’n gesofistikeerde, aggressiewe ANC-onderhandelingspan nie. Laasgenoemde het elke kaart tot sy beskikking by Kodesa gespeel ten einde ’n sentralistiese regeringsvorm af te dwing wat sou verseker dat dié party permanent sou regeer met ’n meerderheid wat volgens Du Toit die grootste in die demokratiese wêreld is. Minderhede sou onder hierdie bedeling skaakmat wees voordat die demokratiese spel nog begin het.

Blykbaar was die vergissing van die Nasionale Party dat die nuwe politiek in Suid-Afrika juis ’n links-regs-politiek sou wees waarin etnisiteit ’n mindere rol sou speel, “nie-rassig” dus. Volgens Du Toit was dit wêreldwyd ’n politiek wat sou uitsterf met die ondergang van die Koue Oorlog en het die “moderne politiek” van die negentigerjare internasionaal meer en meer etnies geword, soos byvoorbeeld vervat in die term “Europa van streke”. Die konsensus oor die vryemark-ekonomie het ook verder die “links-regs-politiek” se doodsklok gelui, en Du Toit wys ons heel oortuigend op die gebrek aan verskille oor ekonomiese bestuur tussen die ANC, NNP en DP in ons eie land. Die NP se hoop dat sogenaamde minderheidspartye ook swart stemme sou trek, is na twee verkiesings uitgewys as absurd aangesien ras meer as ooit die enigste identifikasiefaktor in die Suid-Afrikaanse politiek geblyk te gewees het. Die uitbring van stemme is bloot ’n vorm van rasse-sensus en enige demokratiese dialoog van partye rondom beleid blote oëverblindery.

’n Verdere gedagte wat by my opgekom het, is die parallel tussen die Afrikaner se politieke selfmoord en die offerande van die Xhosas se vee en koring op aandrang van Nongkwawoese in 1856. Die Xhosa het homself in die proses byna vernietig en sy kolonisering verhaas. In die geval van die Afrikaner geld die volgende: pleks van ’n ewige welwillendheid wat van die nuwe maghebber sou volg na die offerande van soewereiniteit, het groter verguising gevolg, “interne kolonisering” veral wat taal en kultuur betref, en die gedagte dat nie-swart Suid-Afrikaners heeltemal uit die land gewerk sou word. Du Toit haal die prominente ANC-intellektueel, William Malegapuru Makgoba, aan waar hy dit onomwonde stel:

    “Met die vertrek van die Manne van Nasionale Versoening gelei deur Nelson Mandela, sal ’n nuwe mag te voorskyn kom om die tweede, uitdagendste en hopelik die finale revolusie van die Suid-Afrikaanse samelewing te lei. Dit sal deur Thabo Mbeki of die Transformasiemanne gelei word en die afgang van Eurosentriese liberalisme, die verdwyning van die witman in Suid-Afrika, meebring.” (Du Toit, bl. 319)

’n Mens kan nie anders as om met Du Toit saam te stem dat Suid-Afrika se politiek tipies etnies van aard is, dat die ANC ’n swart nasionalistiese beweging is met swart ras-identiteit as enigste blywende dryfveer, en dat dit uiteindelik ’n sentralistiese liberale demokrasie ná die model wat in homogene Westerse lande geld, belaglik maak nie.

’n Ander gedagte wat by my opgekom het by die lees van die boek, is dat die sogenaamde “onderhandelde skikking” van die nuwe grondwet toenemend nie meer as sodanig gesien word deur die huidige bewind nie. Daar word deesdae gepraat van die “oorwinning” wat behaal is, en deur die ophemeling van die patetiese Umkhonto we Sizwe, wat sover my wete strek nog altyd militêr ’n nul op ’n kontrak was, word dit ook dikwels as ’n “militêre oorwinning” voorgestel. Die “ontnugtering” waarvan Du Toit praat, is daarom vir menige nie-swart Suid-Afrikaner heeltemal ’n bekende sensasie.

Die radikale element van Du Toit se denke is geleë in die siening dat die huidige orde ewe “illegitiem” is as die vorige. In die eerste instansie het De Klerk en kie. geen mandaat van hul ondersteuners gehad om te kapituleer sonder dat enige toegewings in terme van minderheidsregte soos moedertaalonderwys, gelyke taalregte, ens. beding is nie. Dit sou ek noem die “historiese illegitimiteit”. Die tweede, eietydse gebrek aan legitimiteit berus op die aard van die verkiesingsproses as rassesensus waardeur die minderheid dus effektiewelik ontkieser word. Insiggewend in dié verband, en hierop maak Du Toit ons intens bewus, is dat die Katolieke Iere van Noord-Ierland van meet af aan oor presies dieselfde regte beskik het as dié wat minderhede in Suid-Afrika in 1994 verwerf het. Blote stemreg binne ’n bestel waar die uitslag van enige verkiesing vooraf bekend is, kan daarom as sinloos en ondemokraties ervaar word, iets wat in Noord-Ierland op ’n langdurige stryd uitgeloop het.

’n Aspek waaraan Du Toit helaas min, indien enige, aandag wy, is aan die demokratiese diskoers of dialektiek wat terug te voer is na die agon in Griekeland waar alle kwessies as ’t ware op die markplein bespreek is. Dit veronderstel ook Rede en Begrip, waarsonder die spel nie gespeel kan word nie. In ’n land soos Suid-Afrika, waar die politiek dikwels gekenmerk word deur Onrede, is demokrasie myns insiens moeilik haalbaar indien daar nie nog bykomende perke op die onredelike (soos die rasse-identifikasie) ingestel word nie.

Verdere probleme waarop Du Toit wys met dikwels breedvoerige dokumentasie is die toenemende gebrek aan onafhanklikheid van die Regbank, die grootskeepse oorname van die staatsdiens, asook die Weermag, deur ANC-simpatiseerders sodat ’n mens effektiewelik kan praat van ’n staat wat volledig deur een Party beheer word. Een van die mees verdoemende uitsprake teen die huidige bestel is dié van Steven Friedmann van die onafhanklike en gerespekteerde Sentrum vir Beleidstudies, wat insgelyks deur Du Toit aangehaal word. Volgens Friedmann kom die Grondwetlike Hof neer op ’n “ANC-staatsgreep” omdat dit geen regters bevat wat bekend is om ander simpatieë as met die ANC nie. Daarom

    “... is daar niemand op die regbank om die standpunte van meer as een derde van die kieserskorps te weerspieël nie.” (Friedmann, aangehaal deur Du Toit, bl. 262)

Dit is juis in die Grondwetlike Hof waar enige hoop op taalgelykheid gesneuwel het en waar daar blykbaar groot vyandigheid teenoor Afrikaans heers, soos geblyk het uit die aansoek teen die Gautengse Onderwysdepartement oor moedertaalonderrig toe die verrigtinge blykbaar ontaard het tot ’n soort onjuridiese sirkus waartydens me. Mary Metcalfe van die ANC telkens handegeklap het by die aanhoor van getuienis waarmee sy saamstem.

Hoewel Du Toit verwys na die “interne kolonialisme” waaronder minderheidsgroepe tans in Suid-Afrika gebuk gaan, is daar myns insiens te min klem op dié aangeleentheid. Hy is geneig om groepe as taamlik rigied te benader, en sien byvoorbeeld Afrikaners as tipies Westers georiënteer en Christelik. Die radikale Afrikaansheid van die Afrikaner, wat inderdaad die tradisionele Afrikaanskap van die ANC oorskry, word hiermee misken. Op ’n manier verteenwoordig Afrikanerskap vir my reeds iets van ’n nuwe, gesofistikeerde Afrikaan wat put uit meer as een wêreld en daarom eksemplaries behoort te wees vir ’n ontwikkelde, vooruitstrewende Afrika wat ontkom aan ’n eng etnisiteit. Verengelsing of selfkolonisering as panasee vir ’n verdelende Afrika-etnisiteit, moet gesien word as miskien die mees agterlike vorm van etniese identifikasie, veral as dit dan oorgaan tot ’n ras-sentrisme.

Die enigsins ontstemmende aspek van die boek is die besef wat by ’n mens posvat dat parlementêre politiek in Suid-Afrika waarskynlik uitgedien is, ten minste as dit vanuit die opposisie bedryf word. Ook die veelgeroemde Grondwet en ander regsmeganismes is reeds voldoende getoets om te bewys dat kulturele diversiteit nie langs dié weg haalbaar is nie.

Du Toit roep veral “jonger intellektuele” op tot besinning oor die haglike situasie waarin minderheidsgroepe, asook die Afrikaanse taal en kultuur, hulle bevind. Hy bepleit ook ’n “post-moderne nasionalisme” waarmee hy ’n nuwe soort kultuurgebonde nasionalisme verstaan wat aansluit by hedendaagse etniese en minderheidsbewegings, veral in die Westerse wêreld. Hy noem voorbeelde soos die Iere, Skotte, Walliesers, Quebeckane en Katelane. Terloops, Katelaans is onder die sentralistiese fascistiese diktatuur van generaal Franco verbied, wat weer eens toon hoe totalitêre bewinde deurgaans vyandig staan teenoor “verdelende” minderheidskulture. Deur minderheidserkenning in Suid-Afrika na te streef, kan Afrikaners volgens Du Toit ’n verdieping van die demokrasie teweegbring.

Ek is nie eintlik oortuig deur die nasionalisme-pleidooi nie. Verandering het na Suid-Afrika gekom — en hier is ek dit aan die ander kant roerend eens met Du Toit — vanweë die val van die Berlynse Muur wat die ANC/SAKP militêr magteloos gelaat het, iets wat De Klerk ook verstaan het en daarom die gevaar van ’n “Kuba-opsie” in Suid-Afrika uit die weg geruim het. As ek reg onthou, het die betogers by Leipzig Beethoven se toonsetting van die Schiller-gedig, “An die Freude”, gesing in ’n daad van geesdrif wat terug te voer is na die kultus van Dionysus in Antieke Griekeland. Hierin lê vir my die les dat, op lang termyn, die kuns magtiger as die politiek is.

Du Toit is andersins begaan daaroor dat Afrikaners sou verval in die mentaliteit van wat hy noem “post-koloniale setlaars”. Elders in Afrika, soos ook in Zimbabwe, het blankes, Indiërs en ander minderhede hulself ná die bewindsoorname deur ’n swart meerderheid tot ’n apolitieke bestaan gewend, en hulself probeer uitleef in “entrepreneurskap”. Volgens hom word die ideaal van “entrepreneur” tans aan Afrikaners voorgehou, as sou hul deelname aan die politiek eintlik vir goed verby wees. Met verwysing na Zimbabwe toon hy egter aan dat dit wensdenkery is om te dink dat ’n suiwer ekonomiese rol ’n mens vrywaar van die gevolge van politiek. Uiteindelik kan ’n mens se ekonomiese skeppings ook genasionaliseer word deur ’n vyandige bewind, soos in Zimbabwe, of deur rassekwotas kan ’n mens eenvoudig uit die ekonomiese sisteem gewerk word sonder nasionalisering. Sommige skrywers het al verwys na die huidige reeks arbeidswette in Suid-Afrika, wat oënskynlik regstellende aksie moet bevorder, as ’n vorm van de facto nasionalisering aangesien dit ekonomiese beheer nie net in die hande van swartmense wil plaas nie, maar ook swart ondersteuners van die ANC. Dit kom dus neer op ’n vorm van Partybeheer oor ekonomiese instellings.

Selfs nie die mees “ultraliberale” ekonomiese argument — soos byvoorbeeld dié in The Sovereign Individualvan James Dale Davidson en Lord William Rees-Mogg — ontken nie die rol van politiek ten einde ’n regstelsel en goeie orde te vestig nie. Die totale afwesigheid van politiek neig inderdaad tot permanente misdaad en ’n soort rowersmaatskappy waar brute mag oorheers in ’n Hobbesiaanse natuurstaat. Weer eens moet ’n mens Du Toit gelyk gee: dit sou ’n groot fout wees vir Afrikaners en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika om die politiek af te sweer, omdat dit hulle uiters weerloos sou stel teen enige vyandige optrede van die staat, wat in Afrika — ons Afrika van uiterstes — enigiets kan beteken vanaf nasionalisering tot gedwonge emigrasie of deportasie en selfs volksmoord.

Hier en daar gebruik Du Toit die woord “vervreemding”, ’n term wat al hoe meer die Afrikaanssprekende se verhouding tot die huidige bestel benoem. Myns insiens moet die aard van ons vervreemding nog behoorlik bedink word. Daar is die model van Hegel en Marx, maar ook die vrugbaarder een van Heidegger wat vervreemding juis aan ’n “Heimatlösigkeit” koppel. Heidegger staan insgelyks afwysend teenoor nasionalisme, omdat dit metafisies en antropologisties is. Ook die kollektiwisme van Marx faal as ’n poging om individuele subjektiwiteit kollektief te bemiddel. Die probleem bly een van subjektiwiteit. Uiteindelik moet ons onsself sien in ons verhouding tot die Syn. “Der Mensch ist nicht der Herr des Seienden. Der Mensch ist der Hirt des Seins.” [“Die mens is nie die Heer van die syndes nie. Die mens is die Herder van die syn.” Heidegger, Über den Humanismus, bl. 32.] Derrida se voortsetting op die tema wat die syn as arge-skrif by taal betrek het, open vir ons in Afrikaans ’n wonderlike uitweg uit ons vervreemding, via die filosofie, maar ook via ’n taalstryd om as ’t ware die “heimat” terug te vind nadat die Britse Ryk met sy blokhuise en konsentrasiekampe dit van ons weggeneem het honderd jaar gelede, en die Nasionale Party dit ’n tweede keer met sy sensuur en nasionalisme, asook die uiteindelike “offerande van soewereiniteit”, vernietig het.

Om die idee van “Herder of Oppasser” van die syn by ons situasie te betrek: ons is die oppassers van arge-skrif of van taal, ook van ons spesifieke natuurlike taal, Afrikaans. Verengelsing of veramerikaansing is ’n vorm van antroposentrisme en subjektiwisme, omdat dit oënskynlik die mens voorop stel bó die taal, in ’n neo-koloniale logika van nutswaarde en slaafagtige berusting. Elders praat Heidegger ook van die mens as die “buurman van die syn”, waarmee hy die mens as ’t ware op Nietzscheaanse wyse onttroon in sy illusionêre baasskap oor die syn. By Afrikaans kan ons dit betrek in die volgende stelling: geen mens is belangriker as Afrikaans nie. Ons is slegs die oppassers van Afrikaans, nie net vir die nageslag nie, maar ook om ons relasie met die syn te bevestig. ’n Mens sou selfs kon sê: die taalstryd is ons synsverantwoordelikheid.

Nader aan ZB du Toit se eie argument is die volgende waar: die swak posisie waarin Afrikaners hulle bevind het tydens die grondwetlike onderhandelinge was juis die gevolg van nasionalisme en van die magdom uitsluitende organisasies soos die NP en die Broederbond wat konformisme beloon het en individualistiese, verbeeldingryke Afrikaners as “volksvreemd” getipeer het. Die vaal mannetjies om die onderhandelingstafel was gevolglik, in Du Toit se eie woorde, “boere sonder planne”. Eerder as wat ’n volksidentiteit opnuut aangehang word, behoort die ryke moontlikhede van ’n taalidentiteit aangemoedig te word. ’n Geradikaliseerde, dionisiese opvatting van taal wat skeppend en betogend ingaan teen — soos Du Toit dit noem — die “interne kolonialisme” van die huidige bestel, behoort op die duur genoeg te wees om die oorwinning te behaal. Die meerderheid is alles in ag genome ’n illusie — lees maar Baudrillard se skerpsinnige opmerkings oor die “massa” van die massamaatskappy — en Suid-Afrika is niks anders as ’n versameling minderhede nie. Die polemiese denke wat Du Toit in Afrikaans wil sien, moet ook na buite gerig word, in ’n konseptuele guerilla-aksie teen die voorstanders van rasse-etnisiteit.

Wat ook al die gebreke van Die Nuwe Toekoms, lê die waarde daarvan in die gedetailleerde uiteensetting van die onlangse politieke geskiedenis van Suid-Afrika, die relativering daarvan met betrekking tot ander belangwekkende konflikte in die wêreld, en die uitwys van die onhoudbare en inderdaad illegitieme aard van die huidige bestel. Du Toit haal aanvanklik vir Van Wyk Louw aan waar hy die hoop uitspreek dat daar ook “polemiese literatuur” in Afrikaans sal kom. In hierdie opsig laat hy die wens bewaarheid word, want dit is ’n prikkelende en onverskrokke boek. Dit behoort binne en buite Suid-Afrika gelees te word.

Verwysings

  • Du Toit, ZB. Die nuwe toekoms — ’n perspektief op die Afrikaner by die eeuwisseling. Pretoria: JP van der Walt en Seun, 1999.
  • Heidegger, Martin. Über den Humanismus. Frankfurt-am-Main: Vittorio Klostermann, 1981.
  • Davidson, James Dale en Rees-Mogg, Lord William. The Sovereign Individual. New York: Simon en Schuster, 1997.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.