Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Waarheid as ongelyke speelveld (deel 1)
— ’n resensie oor die WVK-verslag
i

LW: Hierdie stuk het mettertyd gevorder vanaf die genre van ’n “resensie” tot dié van ’n “uitgebreide resensie”; daarom word dit in twee tot drie aflewerings geplaas.

Dit is seker nie vergesog nie om te sê dat die Waarheids-en-Versoeningskommissie ’n fenomeen geword het wat die negentigerjare in Suid-Afrika op ’n soortgelyke manier as die vrylating van Mandela en die verkiesing van 1994 wil definieer. Die media is trouens, benewens waarheid, die selferkende speelveld van die kommissie: in die voorwoord van Aartsbiskop Tutu word veral die SAUK bedank vir sy rol om, soos dit gestel word, “die kommissie en sy werk na elke uithoek van ons eie land en ander lande uit te dra ... in alle amptelike tale om te verseker dat ook die ongeletterdes nie uitmis nie.”ii ’n SAUK-verslaggeefster, die digteres Antjie Krog, het selfs ’n boek gepubliseer vanuit haar professionele oogpunt.iii Verdere publisiteit is aan die kommissie verleen deur die besoeke van die koninklike egpare van Noorweë, Swede en Denemarke, asook die presidente van die Duitse Republiek, Portugal, Frankryk, die Switserse Konfederasie, asook die Eerste Dame van die Verenigde State en die Sekretaris van die Verenigde Nasies, mnr. Kofi Annan.iv Die WVK was en is ’n massamediagebeurtenis, en soos ek hieronder beweer, is ’n begrip van die werkinge van die massa onontbeerlik om die kommissie én die onderhawige gruweldade wat hy ondersoek, te begryp.

Op ’n baie ingrypende manier dwing die WVK-verslag ’n mens om ’n standpunt in te neem, omdat jy andersins as blanke of Afrikaner of watter etiket ’n mens ook al om jou wil hang, verdoem staan as synde aandadig aan ’n soort kollektiewe gruweldaad wat uiteindelik sou neerkom op “die apartheidsisteem”, iets wat die kommissie in die sterkste moontlike terme as ’n misdaad teen die mensdom definieer. Later gaan ek in detail hierop in, vir eers wil ek die punt stel: Ook jy, liewe leser, word aangekla, en om stil te bly, is ’n vorm van skulderkennning. Die begrip van dader (perpetrator), pleger van gruweldade, word telkens uitgebrei tot dié van begunstigde (beneficiary), die voordeeltrekker wat uiteindelik elke Afrikaner, blanke, of selfs lid van die (wit, swart, bruin, Indiër-) middelklasbevolking kan insluit.

’n Woord wat ook telkens opduik, is “totalitêr”, waarmee die Suid-Afrikaanse maatskappy voor 1994 getipeer word, dog baie breedweg is daar voortdurend ’n totale en totaliserende logika (ek begin nou soos Jean-Paul Sartre klink, maar die leser sal verstaan wat ek bedoel) werksaam: totale waarheid, totale moraliteit, totale skuld. Aartsbiskop Tutu se oproepe soms op televisie vir “die Afrikaner” om skuld te beken en om vergifnis te smeek in ’n kosmiese kollektiewe skuldbelydenis is vir my ook tekenend van hierdie totale logika.

In omvang is die WVK-verslag omtrent dieselfde as Proust se Recherche. Hoewel ons in albei gevalle met “geheue” in die breë te make het, verteenwoordig dit twee reëlreg verskillende leeservarings: teenoor persoonlike, subjektiewe herinnering in ’n hoogs literêre styl vind ons die intimiderende en aaklige opnoeming van moord, marteling, terreur, aanhouding — “growwe menseregteskendings” soos dit hier heet — in die legalistiese taal van die kommissie. Die taak van die kommissie is allerweë as breed en byna onhaalbaar bestempel, en benewens die gepubliseerde verslag waarvan daar waarskynlik nog verskeie dele gaan verskyn, is daar ’n groot hoeveelheid getuienis deur 20 000 slagoffers en daders, asook klank- en beeldmateriaal, wat in die Nasionale Argief tot ruste gaan kom.

Die benadering wat ek hier wil volg — dit gaan immers hier om ’n resensie, vandaar die literêre verwysings — is om vir eers ’n model vir verandering te skets, want ten eerste is die WVK self ’n uitvloeisel van maatskaplike verandering in Suid-Afrika. Daarna gaan ek oor tot gedetailleerde kritiek op die veronderstellings van die kommissie asook die implikasies van die verslag, hetsy filosofies, hetsy polities, hetsy kultureel, taalkundig of van watter aard ook al. Ek beperk my ook nie net tot die verslag self nie, maar verwys waar nodig na transkripsies van openbare besprekings wat onder beskerming van die kommissie gehou is en agterna op die tuisblad van die kommissie gepubliseer is.v Laasgenoemde beskou ek as aanvullende tekste tot die verslag self wat inderdaad vir my in baie opsigte verhelderend was.

Ek het verkies om aanhalings uit die verslag in Afrikaans te vertaal, enersyds om estetiese redes, maar ook andersyds as ’n soort sydelingse ironiese kommentaar op die anglosentriese (en koloniale) eentaligheid van die verslag self wat ’n bespotting maak van die “alle amptelike tale”-idee. Miskien ís die verslag meer bedoel vir die Koningin van Swede as die gewone burger en belastingpligtige (wat so rojaal bygedra het tot die kommissie se fondse!) van Suid-Afrika? Diegene wat iets van Descartes weet, sal verstaan dat daar vir my ’n sekere verband tussen die “dood van denke of denkers” en Koninginne van Swede bestaan, waaraan die hierbo aangehaalde verwysing van Tutu my weer herinner het. Meer spesifiek egter, selfs die kommissie in die persoon van sy raadgewer, prof. Don Foster, sien ’n verband tussen taalgebruik en gruweldade, ’n teorie wat eweseer op die kommissie self van toepassing gemaak kan word in dié sin dat die ontkenning van taalstatus ook die weg berei op — sy dit dan morele of moralistiese — aggressie op inheemse taalsprekers (Afrikaners, Zoeloes). Later kom ek weer by Foster, en by taal, uit.

Band 1 begin met die belangrike inleiding of “voorwoord” van die voorsitter, Aartsbiskop Tutu, waaruit ’n mens heelwat kan aflei aangaande die benadering van die kommissie, sy ideologiese konteks, asook die begrippe “waarheid” en “versoening” waarvan daar deurentyd sprake is. Daar volg ook ’n “historiese konteks” waarin aspekte van growwe menseregtingskendings buite die mandaattydperk — dit val tussen 1960 en 1994 — van die kommissie behandel word. Die kommissie huiwer egter nie om in enkele kwasstrepe die geskiedenis van Suid-Afrika op te som as synde ’n uitgerekte proses van rasseverdrukking nie. Trouens, geweld as sulks word gesien as

“... die enkele mees bepalende faktor in Suid-Afrika se politieke geskiedenis. Die verwysing is egter nie bloot na fisieke of openlike geweld — die geweld van die geweer — nie, maar ook die geweld van die reg of waarna dikwels verwys word as institusionele geweld of strukturele geweld.

“Blanke heerskappy in Suid-Afrika in die periode soos gedek deur die kommissie se mandaat is gebaseer op koloniale verowering, ’n toestand regstreeks verwant aan meer as 200 jaar van byna onophoudelike konflik tussen rasse wat begin het met die migrasie van blanke setlaars in die middel-17de eeu. Aanvanklike penetrasie was betreklik eenvoudig aangesien die eerste ontmoetings van hierdie noordwaartse trekkers plaasgevind het met nomadiese veewagters met min of geen militêre tradisie nie.”vi

Wanneer ’n mens die relaas van gruweldade lees soos gepleeg deur die Veiligheidspolisie, ANC-verwante selfverdedigingseenhede, comrades, die SA Weermag, en so meer, kom ’n mens onder die indruk van die intense geweld en oorskryding van alle redelike perke, veral in die periode wat in 1976 begin, en wat sedertdien toegeneem het, veral vanaf die middel-tagtigerjare. Binne die historiese konteks soos hierbo en elders geskets deur die kommissie, blyk dit egter geen uitsondering te wees nie, maar bloot ’n voortsetting van die totale strukturele geweld van die SA maatskappy.

Elkeen wat al ’n geskiedenisboek gelees het, kom onder die indruk van die verwikkeldheid van die Suid-Afrikaanse verhaal. Afgesien van al die bekende teoretiese probleme wat met geskiedskrywing saamhang — wat uitgedruk word met begrippe soos paradigma, episteem, maar ook etnos, die taalkulturele begrensinge van die skrywer — is daar ook die probleem van epistemologiese breuke, periodisering of punktuasie. Die kommissie, spyt dit my om te sê, het geen sin hiervoor nie. Die term “apartheid” wat deurentyd op byna inkantatiewe manier — die godsdienstige aard van die kommissie se weltanschauung neem ek later onder die loep — herhaal word, verloor sy betekenis omdat dit na willekeur vorentoe en agtertoe in die tyd geprojekteer word in ’n amalgaam, soos die Franse sê, van tydperke en idees. Geen mens by sy volle verstand sou wou ontken dat daar belangrike verskuiwings in die Nasionale Party se beleid tussen 1960 en 1994 was nie, dat daar dus ’n sekere ewolusie plaasgevind het in die begrip “apartheid” (dermate dat dit taamlik vroeg reeds geheel en al uit die amptelike woordeskat verdwyn het weens die negatiewe konnotasies daarvan, moet ’n mens bysê). Telkens blyk dit egter dat die kommissie dit as ’n monolitiese, onveranderlike idee beskou wat uiteindelik nie semanties omskryfbaar is nie, maar bloot moreel in terme van “boosheid”.

Die vraag, “wanneer het apartheid begin en wanneer het dit geëindig (indien wel)?”, overgezet synde, hoe punktueer ’n mens die mandaattydperk? is vir my van kardinale belang. Vanweë die onvermoë van die kommissie om hoegenaamd hierdie probleem raak te sien, implodeer sy hele basis wat gegrond is op die “kriminaliteit van die apartheidstaat”.

Ek wil dit baie duidelik stel: die term “apartheid” soos die kommissie dit gebruik, is ’n ahistoriese hersenskim. Pleks dat dit ons begrip van gruweldade en die geweld van die onlangse verlede (en hede) verhelder, verval dit in ’n leë herhaling, ’n produksie van “die selle ou storie”.

Aartsbiskop Tutu poog om by voorbaat enige kritiek op sy begrip van “apartheid” te troef deur ons te verwys na die bevinding dat dit inderdaad ’n misdaad teen die mensheid is. Ook die onpartydigheid van die kommissie mag ’n mens om dieselfde rede nie bevraagteken nie:

“Ek het uit my pad gegaan om die kommissie se onafhanklikheid en onpartydigheid te demonstreer omdat ons daaroor begaan is dat ons werk en verslag die wydste moontlike inslag moet vind. Dit kan wel ’n futiele oefening word indien diegene wat dink dat die beste manier om op ’n verslag te reageer waarvan hulle vermoed dat dit minder lowend teenoor hulle gaan wees, is om die Waarheids-en-Versoeningskommissie van meet af aan te val [‘come out with all guns blazing’], in die hoop om die kommissie en sy verslag in diskrediet te bring.

“Dit sou ’n kortsigtige benadering wees — iets wat ’n mens die Esau-opsie sou kon noem — om ’n korttermynvoordeel te behaal ten koste van ’n langtermynwins van veel groter waarde. Dus, wanneer die kommissie apartheid tot misdaad teen die mensdom verklaar, sal sy felste kritici sê: ‘Wat het ons julle gesê; wat het julle verwag van so ’n skeefgetrekte kommissie gepak met “struggle”-tipes, vasbeslote om ’n heksejag teen Afrikaners uit te voer en so ooglopend partydig vir die ANC?’

“Genadiglik het die internasionale gemeenskap, en nie net die Kommunistiese blok nie, reeds apartheid tot misdaad teen die mensheid verklaar. Vir die internasionale gemeenskap is dit inderdaad geen debatspunt meer nie.”vii

Dít is veronderstel om die finale argument teen enige kritiek op die kommissie se konseptuele apparaat en bevindinge te wees. Wel, gogga maak vir baba bang, maar al is dit nou betreding van heilige grond of heiligskennis of kettery of plaaslike waansin teenoor die magtige internasionale rede, meen ek dat misdaad teen die mensheid nie so ver gaan kom as wat Biskop Tutu dink nie. So ook nie die volgende aspekte van die verslag nie:

  • die doktrine van niegelykstelling (non-equivalence) van geweld soos gepleeg deur staatsagente en lede van sogenaamde “bevrydingsbewegings” (ANC, PAC, UDF, AZAPO et al);
  • die daarmee samehangende regverdige oorlog-idee;
  • die totale rassisme van die blanke bevolking;
  • die totale skuld en boosheid van die blanke bevolking;
  • die “epiese stryd” (Ronnie Kasrils) van bevryding;
  • dat die kommissie hoegenaamd enige bydrae lewer tot versoening op kollektiewe vlak;
  • die onpartydigheid van die kommissie;
  • dat die kommissie “buite spel” is, met ander woorde dat dit nie ook politieke of ander oogmerke het nie;
  • die religieuse konsep van “waarheid” soos dit deur die kommissie gebruik word;
  • dat die diskoers van die kommissie nie-etnies van aard is;
  • die byna konstante gelykstelling van apartheid en Nazisme;
  • dat die “rooi gevaar” bloot propaganda van die Botha-regering was en daar geen sprake van ekspansionistiese Kommunistiese aktiwiteit (Sowjetunie, Rusland, China) in Afrika en Suider-Afrika was nie.

’n Veranderingsmodel
By hierdie punt is dit nodig dat ek verwys na ’n model van verandering wat deur die Amerikaners Watzlawick, Weakland en Fischviii ontwikkel is na aanleiding van die Groepsteorie van die Franse wiskundige Évariste Galois, asook die taalspel-idees van Wittgenstein soos vervat in sy Philosophische Untersuchungen.ix Dit is vir my hoogs ter sake in die sin dat dit poog om ’n nuwe manier van kyk na sosiale of persoonlike konflikte of “spelle” te bring en dus die doodloopstraat of “spel sonder einde” waarin ’n maatskappy, ’n familie of ’n individu kan verkeer, te beëindig.

Die wesenlike onderskeid van die onderhawige veranderingsmodel is tussen verandering van die eerste orde en van die tweede orde. Ek sou wou beweer dat die denke van die WVK, soos dié van Verwoerd en die ander apartheidsdenkers (wat niemand ooit lees nie, veral nie universiteitsprofessore wat hulle uitgee vir deskundiges op die gebied van apartheid nie), albei vassteek binne eerste-ordeverandering. Die gewraakte apartheid, of dan ’n sekere segregasiemodel wat aanvanklik so benoem is, was ten minste ten dele ’n oplossing vir die probleem van inter-etniese, interkulturele naasbestaan in Suid-Afrika.

Eie aan die aard van ’n eerste-ordeverandering is dat die oplossing gewoonlik die nuwe probleem word. Die verandering van die afgelope vier jaar, dus sedert die ANC aan bewind gekom het, is eweseer ’n eerste-ordeverandering en die anti-apartheidsoplossing het weer eens die nuwe (of ou) probleem geword. Let wel, ek gebruik doelbewus nie die term “post-apartheid” nie, want selfs sonder veranderingsteorie word dit toenemend duidelik dat apartheid nog lank nie verby is nie (die amptelike beleid mag verby wees, tewens is dit al min of meer 30 jaar lank, maar die regime in die logiese sin is nog lank nie.) Intuïtief kan ons enkele van die skimveranderinge wat daar plaasgevind het naas mekaar stel, en ons herken onmiddellik dat dit deel uitmaak van dieselfde denksisteem:

Apartheid Anti-apartheid
segregasie van rasse rassekwotas en “regstellende aksie”
streng beheer ongebreidelde menseregte,
oortreding van reëls en wette byna na willekeur
politieke verhore waarheidskommissie
oorregulering van etnisiteit ontkenning van etnisiteit
Afrikaans in die parlement Engels in die parlement
teoretiese demokrasie teoretiese demokrasie
minderheidsregering meerderheidsregering
Kommunis onder elke bed rassis onder elke bed
veiligheidsmagte Umkonto we Sizwe, APLA, en ander
16 Desember 16 Junie
ekonomiese voorspoed (veral onder Verwoerd en Vorster) ekonomiese stagnasie
Sharpeville, Soweto moorde op plase, “misdaad”
afsonderlike tuislande eenheidstaat
“groeps”-meerderwaardigheid morele meerderwaardigheid

Watzlawick et al gebruik die analogie van ’n nagmerrie om die verskil tussen die twee soorte verandering te illustreer. Die mens binne die slegte droom kan ’n verskeidenheid van dinge doen soos om te hardloop, weg te kruip, te veg, te skree, van ’n krans af te spring en so meer, maar geeneen van dié veranderinge in optrede (dit wil sê van die eerste orde) gaan ooit die nagmerrie laat ophou nie. Die enigste uitweg is ’n tweede-ordeverandering, om wakker te word en dus na ’n geheel ander toestand te beweeg.x Tweede-ordeverandering staan ook bekend as verandering van verandering, net soos versnelling die beweging van beweging is. Die leser wat sy Newton-vergelykings oor beweging en versnelling vanaf sy skooldae onthou, sal die wiskundige aard van die probleem besef. Die eienskappe van ’n groep, soos oorspronklik geformuleer deur Galois, is die volgende:xi

  1. Dit bestaan uit lede met ten minste een gemene deler. ’n Kombinasie van twee of meer lede is self ’n lid van die groep. Ter illustrasie, die syfers van die ure van die dag (een tot 12) kan op enige moontlike manier gekombineer word (dit wil sê deur op te tel of af te trek) en die antwoord is steeds ’n lid van die groep, byvoorbeeld 10-uur plus 6-uur is weer 4-uur. Kombinasie in hierdie sin is ’n verandering in die interne toestand van die groep. Die belangrike punt is dat die lede in weerwil van die verskeidenheid van moontlike veranderinge steeds binne die stelsel bly.

  2. ’n Verdere eienskap van ’n groep is dat die lede in ’n verskeidenheid van volgordes kan kombineer, terwyl die uitslag steeds dieselfde bly. As k die kombinasiereël van die groep a,b en c is, dan is (akb)kc = ak(bkc) = bk(akc). In die stelsel van ’n rassekwota , byvoorbeeld, kan ’n mens die lede van die groep in enige volgorde wissel vanaf 0% tot 100% wit of swart (iets soos wat onlangs in die staatsdiens gebeur het), en steeds eindig by ’n persentasie wat ’n rassekwota bly. Dit staan ook bekend as veranderlikheid in die proses maar invariansie wat die uitslag betref.

  3. ’n Groep bevat ook ’n identiteitslid wat met enige lid gekombineer kan word en steeds dieselfde lid as uitslag het. In groepe wat kombineer deur op te tel of af te trek, is dit nul en in groepe wat vermenigvuldig of deel, is dit een. Die belang van die identiteitslid is dat dit stasis of onveranderlikheid moontlik maak. 3 plus 0 is steeds gelyk aan drie, al het daar ’n kombinasie en dus ’n verandering plaasgevind.

  4. Die vierde en laaste eienskap van ’n groep is dat elke lid ook sy teenoorgestelde het wat ná kombinasie die identiteitslid tot gevolg het, byvoorbeeld 9 + (-9) = 0. Met behulp van groepsteorie kan ons dus waarneem hoe verandering dikwels die voorafgaande toestand laat voortduur, ’n geval van “die selle ou storie” of om die Franse spreekwoord aan te haal, plus ça change, plus c’est la même chose.

Die aard van tweede-ordeverandering is gewoonlik paradoksaal. Soms behels die oplossing van ’n probleem om niks te doen nie, om dus geen verandering te probeer nastreef nie (’n mens kan reeds die gewildheid van dié oplossing in die huidige Suid-Afrika raai), dog gewoonlik word daar buite die heersende logika getree in ’n kreatiewe sprong. ’n Voorbeeld wat Watzlawick et al aanhaal, is dié van ’n Oostenrykse kasteel in die 14de eeu wat in ’n staat van beleg verkeer, en die mense daarbinne het slegs een bees en twee sakke graan oor. Eet hulle dit, hou dit net een dag en daarna begin hulle verhonger en gaan hulle uiteindelik ingeneem word deur die leër daarbuite. Die oplossing wat toe aan die hand gedoen word, is dat hulle die bees afslag, die graan daarin toewerk en dit oor die muur gooi vir die vyand. Hierdie flambojante daad is deur die vyandelike hertogin Margareta Maultasch vertolk as ’n teken van die oorvloed kosvoorrade binne die kasteel en sy het terstond die beleg beëindig en vertrek.xii

’n Mens kan nog vele soortgelyke voorbeelde van die “eienaardige” en logies paradoksale aard van tweede-ordeverandering gee, veral ook by skeppende kuns, wetenskaplike deurbrake of die genesing van jare lange fobies of gedragsprobleme by mense. Opsommenderwys kan die volgende daaroor gesê word:

  1. Tweede-ordeverandering word toegepas op dit wat vanuit die oogpunt van eerste-ordeverandering as ’n oplossing gesien word, terwyl die oplossing gewoonlik die kern van die probleem is.
  2. Terwyl eerste-ordeverandering op “gesonde verstand” (common sense) gegrond is, “meer van dieselfde medisyne”, lyk tweede-ordeverandering eienaardig, onverwags en raaiselagtig.
  3. Om tweede-ordeveranderingstegnieke op die “oplossing” toe te pas beteken dat daar hier en nou met die probleem gehandel word. Hierdie tegnieke word op die gevolge toegepas en nie op die veronderstelde oorsake nie (soos die 300 jaar se geskiedenis); “die belangrike vraag is wat? en nie waarom? nie.”xiii
  4. Die sirkelredenasie van die eerste-orde-“oplossing” — wat steeds binne dieselfde logika as die probleem self bly — word verbreek deur dit te herskik.

Wittgenstein sê iewers dat “... verklarings iewers tot ’n einde kom. Maar wat is die betekenis van die woord “vyf”? Betekenis speel hier geen rol nie, bloot hoe die woord “vyf” gebruik word.”xiv So word die probleem van semantiek herskik tot pragmatiek.

Wanneer dit by die WVK-verslag kom, is dit ook nodig om die intens morele en godsdienstige logika wat die kommissie aanwend, en wat uiteindelik verwant is aan die diskoers waarbinne apartheid self funksioneer, te herskik ten einde gruweldade en maatskaplike konflik te sien vir wat dit is.

Versoening
Die kommissie sien die Suid-Afrikaanse verlede as verdeeld en gekenmerk deur stryd en konflik.xv Deur die onreg van die verlede aan die kaak te stel en in die openbaar erkenning te verkry vir die daarmee gepaard gaande lyding, wil dit versoening in die hand werk. Versoening sal dan lei tot nasionale eenheid, wat die uiteindelike doelwit is.

Die begrip “versoening” word egter ook regstreeks in verband gebring met die herverspreiding van rykdom:

“Die pad na versoening, dus, beteken beide materiële heropbou en die herstel van waardigheid. Dit behels die uitwissing van growwe ongelykhede en die kweek van ontsag vir ons gemeenskaplike menslikheid. Dit behels volgehoue groei en ontwikkeling van die gees van ubuntu ...”xvi

Versoening-as-herverspreiding lei tot allerlei bedenklike ekonomiese voorstelle wat veral deur paneellede tydens die debat oor “Rekonstruksie en ekonomiese geregtigheid” gemaak word, waarvolgens die rente op Suid-Afrikaanse regeringskuld met houers van staatseffekte herbeding behoort te word.xvii Die feit dat plaaslike rentekoerse nog nie op Zimbabwiese vlakke verkeer nie, is waarskynlik daaraan te danke dat dié voorstelle nooit verder gevoer is nie. Wat die kommissie betref, beteken versoening op ekonomiese vlak dus sosialisme en die onderdrukking van individuele vryheid, iets wat kwalik van apartheid self te onderskei is.

In hoe ’n mate versoening op die mikrovlak tussen slagoffers en daders plaasgevind het, sou moeilik wees om te sê, afgesien van enkele wyd gepubliseerde gevalle soos die ouers van me. Amy Biehl wat haar jeugdige PAC-moordenaars vergewe het en derhalwe waarskynlik met hulle “versoen” is. ’n Mens is egter geneig om hier die voordeel van die twyfel aan die kommissie te gee, aangesien die alternatief van uitgerekte hofsake met meedoënlose kruisverhoor en allerlei regskundige sofismes waarskynlik nog minder tot ’n gevoel van “geregtigheid wat seëvier”, sou gelei het.

Dog op die makrovlak van “versoening tussen gemeenskappe” lyk dit nog moeiliker vir die kommissie om te bewys dat dit versoening bewerkstellig het, in die lig van die absolute terme waarin “begunstigdes” en die blanke gemeenskap in die algemeen gesien word. Die oopvlekking van Veiligheidspolisievergrype, derdemagbedrywighede en die dikwels repressiewe optrede van staatsagente in die algemeen het bygedra tot die besef dat individuele vryhede inderdaad grondwetlik verskans moet word en dat die pers en ander burgerlike instellings te alle tye moet waak oor misdade wat in die skaduwee van staatsgesag gepleeg kan word.

Versoening is egter hoegenaamd nie gedien deur die kommissie se aandrang op die niegelykstellingsbeginsel nie, asook die regverdige oorlogargument, in terme waarvan die ANC, SAKP en PAC, — waarby ’n mens ook kan voeg die UDF, selfverdedigingseenhede, comrades, en so meer — as moreel verhewe bo die Suid-Afrikaanse staat gesien word. Die aanklag dat die kommissie in wese ANC-gesind is en daarom partydig word vir my grotendeels gestaaf deur hierdie soort redenasie.

Bowenal dien dit geensins die saak van versoening nie, want, soos ’n Switserse deelnemer aan een van die WVK-debatte dit gestel het, “in die vorige Joegoe-Slawië het een regverdige oorlog aanleiding gegee tot die volgende regverdige oorlog.”xviii

Voordat ek by die konsepsie van waarheid kom soos die kommissie dit aanwend, wil ek graag stilstaan by hierdie twee verwante begrippe, “niegelykstelling” en “regverdige oorlog”, wat in groot mate as sinoniem beskou kan word, synde deel van die doktrine van niegelykstelling.

Die doktrine van niegelykstelling
Om die doktrine van niegelykstelling te regverdig, beroep die kommissie hom onder andere op Frantz Fanon, wat glo beweer het dat “die geweld van die maghebbers en die magteloses nie dieselfde is nie”.xix Fanon het natuurlik te alle tye ’n regverdiging en apologie vir anti-koloniale en anti-blanke geweld bepleit, en met ’n baie interessante logika vorendag gekom wat eintlik pro-geweld op sigself is. (Dit sou lonend wees om op ’n keer Fanon se teorieë oor geweld op die Suid-Afrikaanse situasie toe te pas aangesien selfs die huidige misdaad in terme daarvan getipeer sou kon word as ’n diepgesetelde interkulturele konflik waardeur die Afrikaan homself deur ’n soort geweldskatarsis suiwer van die hele Westerse waardestelsel en epistemologie. Hy maak ook frappante aanmerkings oor die invloed van die magie en ritualisme in dié verband.)xx

Behalwe die “ongelyke stryd” tussen maghebbers en opstandelinge, wat dan die morele onus op die maghebber plaas, is daar ook die kwessie van die verskil in politieke oogmerke. Terwyl die polisieman hom beywer vir die behoud van ’n (repressiewe, en inderdaad onwettige en selfs kriminele) status quo, veg die rewolusionêr van die ANC of SAKP vir demokrasie. Ook dit vereis dan differensiasie tussen die twee kante, as ’n mens die kommissie sou glo. Bowenal is geweld op sigself ’n min of meer Westerse uitvloeisel, want, so verseker die kommissie ons, “konflik is terug te voer na die aanvanklike verskyning van invaller-setlaars” waaronder ’n mens waarskynlik die koms van Europeërs of blankes na Suid-Afrika moet verstaan.

Dit is duidelik dat die kommissie se doktrine van niegelykstelling tussen owerheidsgeweld en rewolusionêre geweld gegrond is op ’n sekere siening van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, albei verder terug en meer onlangs, asook van die blanke of Europese kultuur as synde meer geneig tot geweld en konflik terwyl dié van swartes meer vreedsaam en minder konflikgeneig sou wees. Alles in ag genome het swartes nie gewere uitgevind nie, sou ’n mens hierby kon voeg — ’n besliste aanduiding van hul Rousseauistiese aard. Sentraal by die kommissie se siening van die “invaller-setlaar” staan inderdaad “die geweer” (the gun) waardeur hy sy heerskappy verkry het en tot onlangs behou het. Teenoor die geweldtegniek of -tegnologie van die setlaar-invaller staan die ubuntu van die onderdruktes wat mekaar weliswaar soms ook “aanvat” soos ’n mens in Afrikaans sê, maar dan slegs omdat hulle deur die bose maghebbers gemanipuleer word in “swart-op-swart”geweld, laasgenoemde synde “ ’n ongelukkige en potensieel rassistiese beskrywing aangesien dit die rol van die staat wat sulke verdelings orkestreer en rig, kamoefleer”.xxi

In hierdie en ander uitsprake verlaat die kommissie hom op die meer onlangse geskiedskrywing in Suid-Afrika wat oorheers is deur die sogenaamde “revisionistiese skool” van Marxistiese historici wat die bydrae of dan eerder in meer negatiewe sin die “parisitiese teer” van die invaller-setlaars op die swart bevolking sien as heeltemal negatief. Vandaar ook dan die term “apartheidkapitalisme” of “rassekapitalisme” wat soms opduik.

Terwyl die “bevrydingsbewegings” en verwante stryders dus besig was om ’n moreel onkreukbare en legitieme stryd teen apartheidsverdrukking (territoriaal gesproke ’n soort onwettige besetting van die Afrikabodem in terme van die “invaller-setlaar”-teorie) te voer ten einde vryheid en demokrasie te bewerkstellig, is die veiligheidsmagte gemotiveer deur moreel teenoorgestelde kwessies. Hulle had wel ook “politieke motiewe” — maar het die Nazi-SS dit nie ook gehad nie? sou ’n mens wel kon vra — maar dié is uiteraard grotendeels gegrond op die fallasie van Kommunistiese bedreiging.

Die snertfaktor by die WVK word soms so hoog dat ’n mens nie anders kan nie as om te lag, maar sonder om in ’n uitgerekte redenasie oor die gehele SA geskiedenis en Marxisme/Kommunisme in die 20ste eeu te verval, dink ek dat die volgende argumente grotendeels die kommissie se niegelykstellingsdoktrine ernstig in die gedrang bring.

Ten eerste: ’n liggaam soos die kommissie wat inderdaad ’n vorm van ’n tribunaal is en regsbevoegdheid het om amnestie vir baie ernstige misdade soos moord en stedelike terreur te verleen, behoort geheel en al onpartydig te wees en nie een ideologie bo ’n ander te verkondig nie.

Ten tweede is die veronderstelde kontinuïteit in die “bevrydingstryd” ’n totale versinsel. Die kommissie skep ’n beeld van die ANC, SAKP en PAC wat liberale demokrasie in Suid-Afrika sou voorgestaan het, selfloos daarvoor gestry het teen ’n kriminele en Fascistiese staat, en uiteindelik sukses behaal het met die 1994-verkiesing. Tydens ’n kritieke fase van die kommissie se mandaattydperk was dié liggame verbind tot die een of ander variant van Marxisme-Leninisme. In sy min of meer amptelike geskiedenis van die ANC en verwante bewegings skryf Tom Lodge dat die ANC se band met die SAKP van onskatbare waarde was.

“Dit [die ANC] was verseker van ’n voortdurende bron van fondse, toerusting, opleiding en diplomatieke ondersteuning — hulpbronne op ’n skaal en van ’n gehalte wat sy mededingers nie kon hoop om te ewenaar nie. Dit is bewys dat Sowjetblokhulp in die geval van Afrika-bevrydingsbewegings meer nuttig was as afkomstig van enige ander bron.”xxii

In dieselfde verband noem Lodge dit ook dat die ANC die onderdrukking van die “Praagse Lente”-opstand in 1968 heelhartig gesteun hetxxiii — ’n aanduiding van die mate waartoe die ANC gekant was teen die demokrasie, in Oos-Europa en elders ter wêreld, en die goelag met sy afgryslike kampe, gestigte en martelmetodes beginselvas onderskraag het.

Weliswaar was die Nasionale Party heftig teen die Kommunisme en behoort geen demokrasie ’n Kommunistiese party summier te verbied, soos wel gedoen is nie, maar die werklikheid van Sowjet-, Oos-Duitse en Kubaanse bedrywighede regdeur die vasteland van Afrika, tesame met die “bevrydingsbewegings” se noue verbintenisse met dié lande, sou vir enige redelike mens darem die moontlikheid van “ ’n ander kant van die saak” of ’n audi alterem partem geskep het. In dié verband is die indruk wat deur die hele verslag gewek word dat ’n mens jou aan marteling en vervolging blootgestel het deur hoegenaamd kritiek op apartheid uit te spreek, ook ’n volslae fallasie. Die romantiek van rewolusie het by baie aktiviste ’n rol gespeel — videz die wapperende rooi vlae en hamer-en-sekels by die begrafnis van die Cradock-vier — en het dus die staat se rooi gevaar-persepsies versterk. Nou is dit ook ongelukkig so dat Marxisme-Leninisme met sy teses van internasionale rewolusie en historiese noodwendigheid, om van die diktatuur van die proletariaat nie te praat nie, nie juis verdraagsaamheid uitlok nie. Die feit bly dat die SAKP-ANC-alliansie inderdaad gefaal het in sy pogings om ’n “rewolusie van links” te bewerkstellig, eweseer as wat NP-beleid misluk het. Twee mislukkings het uitgeloop op — ’n mens kan Lenin dit baie snedig en sarkasties hoor sê — “burgerlike demokrasie” (bourgeois democracy in die meer anglofiele jargon van die SAKP). Waarom voel die kommissie so geneig om meer legitimiteit aan die stryders vir ’n kwasi-stalinistiese goelag te verleen as die verdedigers van ’n blanke oligargie?

Heelwat van die gruweldade in die naam van anti-apartheid (selfverdedigingseenhede, volkshowe, halssnoermoorde, en so meer) was sinlose massageweld wat op geen manier aan ’n “bevrydingsprojek” verbind kan word nie, wat nog te sê in aanmerking behoort te kom vir die kommissie se niegelykstellingsdoktrine.

Die implisiete a priori-voorkeur wat die kommissie deur dié doktrine uitspreek, is deels verwant aan sy godsdienstige perspektief, iets wat deur Wynand Malan se afwykende minderheidstandpuntxxiv uitgelig word. In sy woorde is “godsdienste, in hul aard ... heel dikwels essensieel dogmaties en absolutisties. Die jukstaposisie tussen magte van die lig en van die duisternis, die goeie en die bose, is inherent aan religieuse denke.”xxv Die bitsige manier waarop die kommissie in sy repliek aan Malan hieroor terugkap, is tekenend van die partydigheid en inderdaad godsdienstig ideologiese blindheid waarmee hy die wêreld voorstel. Malan se siening word verwerp as ’n vorm van persoonlike kritiek op die “sienings en oortuigings van kommissielede” [lees: Engelse dominees soos Tutu en Boraine], asook ’n artikulasie “van ’n verbeelde aanval op Afrikanerleiers.”xxvi

Die gevoeligheid wat die kommissie hier openbaar oor sy siening van godsdiens en Afrikaans is byna Freudiaans, want uiteindelik ís die paradigma waarbinne dit optree dié van ’n Engelse predikant wat enersyds poog om ’n Engels etniese hegemonie te handhaaf en andersyds om enige nie-absolutistiese post-Verligtingsmodelle van denke soos die liberalisme of rasionalisme te onderdruk of uit te sluit; idem vir taalkulturele en etniese verskille. Die vraag kan gevra word: hoe rym die godsdienstige ingesteldheid van die kommissie met sy partydigheid vir die ANC-SAKP wat tydens die onderhawige periode Marxisties-Leninisties (en dus ateïsties) georiënteer sou gewees het? Anders as wat die meeste mense dink, is godsdiens en Marxisme-Leninisme nie so ver van mekaar verwyder nie — ’n mens hoef maar net Albert Camus se elegante omskrywings van die Party as Kerk te onthou.

Op narratiewe vlak is die kommissie se partydigheid meer as enigiets anders gegrond op sy vaste geloof in ’n sekere geslote verhaal van die SA geskiedenis, onlangs en verder terug. Weer eens hoef ’n mens nie Lyotard te gelees het om bedag te wees op die identiteit van godsdiens en rewolusie as verhaal nie: eers was daar die paradys, ’n periode vóór die koms van die invaller-setlaars, prekapitalisties en prekoloniaal, daarna kom die sondeval met sy pyn en lyding en onreg, oftewel raskapitalistiese verdrukking, wat in terme van die teologie van bevryding (= rewolusiediskoerse) gevolg sou gewees het deur die bloedige apokalips van sosiale omwenteling en die daaropvolgende terugkeer tot ’n edenagtige staat. Interessant in hierdie verband is hoe die eufemisme vir rewolusie, “transformasie”, in die hedendaagse Suid-Afrika die betekenis van “invoer van rassekwotas” of regstellende aksie verkry het, wat vir ons aandui in watter mate die diskoers van die ANC-SAKP steeds met dié van Marx et al verstrengel is.

Die teologiese “sekerheid” van die kommissie aangaande die “regvaardigheid” van die anti-regeringsmagte is daarom op narratiewe vlak niks minder nie as ’n “geslotenheid” (vergelyk die min of meer naïewe gebruik van die term “closure” deur die kommissie!), ’n onderdrukking van die heterogeniteit van die Suid-Afrikaanse verhaal.

Die regverdige oorlog
Samehangend met die niegelystellingsdoktrine is dié van regverdige oorlog. Dit word in die verslag genoem, dog die beredenasie geskied veral tydens die openbare debat wat op 6 Mei 1997 gehou is.xxvii Verskeie menings word hieroor uitgespreek deur onder andere genl. Constand Viljoen, adjunk-minister Ronnie Kasrils, asook proff. André du Toit en Alain Sigg. Dit is elders in die verslagxxviii duidelik dat die kommissie hom grotendeels met die standpunt van mnr. Kasrils identifiseer, wat daarop neerkom dat die ANC geregtig daarop was om die wapen op te neem as gevolg van die verbod op dié organisasie wat alle vreedsame uitweë uitgeskakel het. In terme van die ses punte wat deur Viljoen genoem word as kwalifikasies van die begrip “regverdige oorlog”, is Kasrils daarvan oortuig dat die ANC wel aan elkeen voldoen. Sowel Viljoen as Kasrils is natuurlik politici wat ook ’n partypolitieke standpunt moet verdedig, alhoewel ’n mens Viljoen moet loof vir sy analititiese en werklik baie liberale benadering tot die probleem wat wel ruimte laat vir “ ’n ander standpunt”, terwyl Kasrils natuurlik bloot in absolute terme die ideologie van sy party verdedig. As ’n mens die bydrae van prof. André du Toit tot die debat lees, is dit egter duidelik in watter mate onafhanklike denke in Suid-Afrika, veral van akademiese kant, inderdaad gesneuwel het voor die propaganda-aanslag van ons huidige bewindhebbers. Du Toit verwys ons na die Middeleeuse skolastiek en ’n Amerikaanse boek daaroor waarin die onderskeid tussen ius ad bellum en ius in bello getref word. Onderliggend aan eersgenoemde is die idee van ’n “regverdige oorsaak” vir die oorlog, en om duidelik te maak dat Du Toit homself by die amptelike ANC-standpunt skaar, noem hy dat “... ek persoonlik geen probleem het met die gevolgtreking dat die anti-apartheidbevrydingstryd as ’n regverdige oorsaak b eskou kan word nie, en dat dit moreel gesproke nie gelykgestel kan word aan oorlogsdade wat onderneem is ter verdediging van die blanke minderheid en die apartheidstaat nie.”xxix Die vraag na wat die werklike, gestelde oogmerke van die ANC gedurende die onderhawige periode was, bestaan nie vir Du Toit nie: Alles word binne die groot vergewende mandjie van “anti-apartheid” gegooi.

Wanneer dit by “geregtigheid-in-” of “tydens-oorlog” kom, probeer Du Toit as ANC-sikofant vir hom ’n soort draadsitterintellektualisme opeis deur darem te beweer dat albei kante oor ’n “gelyke morele status” beskik wanneer dit by hul metodes van oorlogvoering kom.

Die vraag word nooit gestel nie, “maar was dit ’n oorlog”? Daar was wel die oorlog op die Namibië-grens en in Angola waaraan 45 000 Kubaanse soldate en 1 000 Sowjet-raadgewers onder andere deelgeneem het, en wat ’n mens beslis binne die konteks van die Koue Oorlog behoort te sien. Die konflik binne Suid-Afrika kan egter kwalik as ’n oorlog in die klassieke sin van die woord of selfs as ’n guerilla-oorlog gesien word. Heelwat van die geweldpleging was burgerlike onrus en openbare onluste. Die vernaamste offensiewe taktiek van die ANC-SAKP binnelands was ’n vorm van stedelike terreur. Was die Baader-Meinhof-episode in Wes-Duitsland of die Brigati Rossi in Italië ’n oorlog? ’n Mens kan nie anders nie as om die uitspraak van die Marxistiese filosoof Herbert Marcuse in dié tyd, naamlik dat die doeleinde waarna ’n mens streef ook uit jou metodes behoort te blyk, ook op die Suid-Afrikaanse situasie van toepassing te maak nie. Hoeseer ’n mens voel dat jy die paradys op aarde aan mense wil bring (die Saak), kan daar geen morele of politieke regverdiging wees vir stedelike terreur teen burgerlikes nie. Dieselfde argument wat deur Kasrils en Du Toit aangewend word om die sogenaamde “militêre” optrede van die ANC goed te praat, kan eweseer deur ver-regse groepe gebruik word wat handel in die ban van ’n rassuiwere utopie.

Ook die kwessie aangaande die identiteit van die “aggressor” is minder duidelik as ’n mens in ag neem dat Umkonto we Sizwe bewapen en opgelei is deur Oos-Duitsers en ander Oosblok-verteenwoordigers wat ook elders in Afrika (Somalië, Ethiopië, Angola) besig was met duidelike aggressie.

Kant se kategoriese imperatief
Die dilemma van moraliteit in die 20ste eeu met sy embleem van die konsentrasiekamp — daardie wonderlike Britse uitvindsel — is reeds vooruitgeloop deur Nietzsche in die 19de eeu met sy begrip van die “Umwertung aller Werte”. Daar is geen werklike rasionele en dus niegodsdienstige basis vir moraliteit nie. Vir die kommissie én vir Kasrils-Du Toit wat hoog opgee oor die “morele basis” van die nieregeringsgruweldade, is daar steeds Kant se kategoriese imperatief wat juis “gelyke behandeling” of morele gelykstelling wil: “handel slegs in terme van daardie grondbeginsel wat jy terselfdertyd tot universele wet kan wil”.xxx

Dit is in die aard van moraliteit dat reëls universeel behoort te wees. Trouens, dit is ook die basis vir die morele beswaar teen apartheid, dat so ’n beleid wette nie universeel toepaslik maak op alle mense nie. Daarom kan die kommissie nie een moraliteit hê vir die diverse groepe en individue wat oënskynlik in die naam van anti-apartheid gruweldade gepleeg het, en ’n ander vir lede van die veiligheidsmagte wat dan per se besig was om apartheid te verdedig nie (om nie te vergeet van die epistemologiese probleme rondom die kommissie se begrip van “apartheid” nie).

Overgezet synde: deur sy morele diskriminasie ondermyn die kommissie enige logiese of etiese basis vir sy kritiek op apartheid self.

(word vervolg)

boontoe


i Tutu, Aartsbiskop Desmond et al. Truth and Reconciliation Commission of South Africa Report, 5 bande. Kaapstad: Waarheids-en-Versoeningskommissie, 1998. (Prys R750.) Die verslag kan ook afgelaai word vanaf die tuisblad van die WVK (kyk nota v hieronder vir die adres).
ii TRC 1, bll. 20-21. Vry vertaal uit Engels.
iii Krog, Antjie. Country of my skull. Johannesburg: Random House, 1998.
iv TRC 1, ibid.
v Die besprekings is die volgende: “Reconciliation 1 — panel discussion held at UCT, 24 January 1997”, “Forum on reconstruction and economic justice, 19 March 1997”, “The just war debate and reconciliation, 6 May 1997”, “Sixth seminar: perpetrators, 28 May 1997”, “Reconciliation 2: transforming society through reconciliation: myth or reality? 12 March 1998”, almal verkrygbaar by http://www.truth.org.za.
vi TRC 1, bl. 40.
vii TRC 2
viii Watzlawick, Paul et al. Change — principles of problem formation and problem resolution. New York: Norton & Co., 1974.
ix Wittgenstein, Philosophische Untersuchungen, Engelse vertaling deur GEM Anscombe. Oxford: Blackwell, 1958.
x Watzlawick, op cit., bl. 10.
xi cf. op. cit., bl. 13 en vorentoe.
xii ibid., bl. xi.
xiii Vry vertaal uit Watzlawick et al, bl. 83.
xiv Wittgenstein, op. cit., bl. 3.
xv Kyk TRC 1, bll. 103 en vorentoe.
xvi ibid., bl.110.
xvii loc. cit., bl. 6 en vorentoe.
xviii “The just war debate and reconciliation”, bl. 17.
xix TRC 5, bl.274.
xx Kyk Fanon, Frantz. De verworpenen der aarde, vert. uit Frans. Utrecht/Antwerpen: AW Bruna & Zoon, 1973.
xxi TRC 5, bl.275.
xxii Lodge, Tom. Black politics in South Africa since 1945. New York: Longman, 1983, bl. 304.
xxiii loc. cit.
xxiv ibid., bl. 436 en vorentoe.
xxv ibid., bl. 440.
xxvi ibid., bl. 460.
xxvii Kyk nota v vir die verwysing.
xxviii Kyk TRC 1, bl. 67, para. 70.
xxix Ibid., bl. 15.
xxx Kant, Immanuel. Grundlegung zur Metaphysik der Sitten, in Frans geraadpleeg as “Fondements de la métaphysique des moeurs” in Kant, Emmanuel. Oeuvres philosophiques, band 2. Parys: Gallimard, 1985, bl. 261.

boontoe

© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.