Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Mede-taalstryders,

PRAAG

Die debat aangaande die posisie van Afrikaans in Suid-Afrika duur voort. Verskeie individue, groepe en organisasies is daarby betrokke, waaronder ook die FAK wat aanstaande week ’n besprekingsdag oor die toekoms van Afrikaans hou. Daar is egter behoefte aan ’n bykomende drukgroep of oorredingsbende wat die saak van Afrikaans kan stel en spesifiek daarop sal konsentreer. Vandaar dan PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep).

Waarom PRAAG? Wel, dit benoem iets van ’n Praagse Lente, ’n opstandigheid teen die heersende orde en wil ook ons regerende party daaraan herinner dat hulle die Sowjet-inval in Praag in 1968 eksplisiet gesteun het, en daarom allermins vir ander lesse oor ’n “donker geskiedenis” te leer het.

WAT IS PRAAG?

Die volgende:
  • ’n informele groep mense, geen gewone “organisasie” nie (hoewel dit verder ’n vaster vorm kan aanneem;
  • ’n aksiegroep wat hom beywer daarvoor om Afrikaans se status in Suid-Afrika in ere te herstel as die belangrikste kultuur- en gebruikstaal in Suid-Afrika naas Engels met alle hoër funksies tot sy beskikking (natuurlik sonder benadeling van ander inheemse tale, waarvan die sprekers ook aangevuur moet word om op hul beurt ’n “taalstryd” aan te pak ten einde die hegemonie van Engels nog verder af te breek);
  • iets met ’n meer waagmoedige styl as die gewone kultuurorganisasie (met wie ons nietemin graag wil saamwerk, ook om hul infrastruktuur te benut);
  • ’n “ensemble” of groepering wat wil fokus op lewendige debat, asook daadwerklike optrede by wyse van briewe aan die pers en aan hooggeplaastes en, les bes, betogings en kommando-aksies wat op ’n entoesiastiese en kreatiewe manier die Afrikaanse saak gaan stel.

ONS EERSTE GROOT TAAK IS OM DIE PRO-AFRIKAANSE BETOGING IN PRETORIA TE LAAT PLAASVIND. Daarvoor is fondse en organisasie nodig (lees hieronder meer oor die stand van sake).

Tot dusver het die volgende mense min of meer spontaan aangebied om stigterslede van PRAAG te word: Carel van der Merwe, Ampie Coetzee, Joan Hambidge, Juanita van Rensburg, Dan Roodt, Deon Geldenhuys, Ernst Marais, Johann Rossouw (die lys is onvolledig, aangesien vele mense tydens informele gesprekke ook hul steun toegesê het). Ons het egter veel meer mense nodig om momentum te skep. Daarom is dit noodsaaklik dat u u naam by die lys voeg, om soveel insette as moontlik te kry. Ons wil binnekort ’n vergadering hou iewers in Gauteng, asook ’n sustersvergadering in die Kaap, om die optrede vorentoe te bespreek, en daarom het ons u nodig. Selfs al het u nie die tyd of die wil om aktief betrokke te raak nie, is dit nogtans belangrik dat ons ten minste 50 tot 100 mense het wat “bendelid” is en waaruit ’n kerngroep van gemotiveerde individue mag ontstaan.

Wil u graag by ons aansluit? Stuur dan u naam, adres en telefoonnommer aan my persoonlik by onderstaande e-posadres en ek sal u op hoogte hou van verwikkelinge.

STAND VAN SAKE MET DIE BETOGING EN PETISIE

Vele van u het reeds u steun toegesê vir die petisie vir die gelykberegtiging van Afrikaans, ná u dit op LitNet te siene gekry het. Baie dankie, dit is ’n riem onder die hart, veral in die lig van die koor van twyfelaars op LitNet wat die insiatief in die wiele probeer ry. Dit is egter nodig om die petisie te laat druk en op ’n georganiseerde manier te laat versprei. Blykbaar het die FAK een miljoen handtekeninge ingesamel teen die SABC se taalbeleid, wat wys wat gedoen kan word. Ek het reeds met die FAK in verbinding getree om hul steun en hulp met die petisie te bekom, en ek sal u op hoogte hou van verwikkelinge.

Diegene van u wat nog nie die petisie elektronies onderteken het deur ’n boodskap aan taalpetisie@mweb.co.za te stuur nie, doen dit sommer onmiddellik, dan hoef u nie verder daaraan te dink nie.

Datum vir die betoging: die aanvanklike datum van 1 April is afgestel, aangesien dit moontlik kan bots met die KKNK te Oudtshoorn, wat op dié dag eers eindig. Ander datums in die weke daarna word nou oorweeg. Ons het ten minste twee maande nodig om dit behoorlik te organiseer, en daarom kan dit net nie vroeër nie.

Plek vir die betoging: Beide Loftus en die amfiteater by die Voortrekkermonument het ter sprake gekom. Die Voortrekkermonument is by verre die goedkoper opsie, maar die afstand vanaf die Uniegebou vir ’n opmars tel daarteen. Aan die ander kant kan ’n stywe herfse “lenteloop” dalk net die ding wees om solidariteit aan te kweek tussen die stappers!

Bewoording van die petisie: daar was kritiek teen die lengte en dat die taal vereenvoudig moet word. Vir die gedrukte weergawe sal ons sorg dat dit gebruiksvriendelik is.

WEBBLAD VIR PRAAG

’n Webblad vir PRAAG gaan geskep word waar ons die stand van die taalstryd wil dokumenteer, asook die geskiedenis van die amptelike status van Afrikaans. Alle aktiwiteite sal prominent daarop geadverteer word, anders as by LitNet waar dit op die rand verkeer.

TRUSTFONDS VIR PRAAG

Ons is besig om ’n trust te stig om fondse vir PRAAG te hou. Twee mense het reeds R10 000 elk bewillig vir die fonds, waaruit die betoging en ander aktiwiteite gefinansier gaan word. Ons het egter ten minste ’n hele paar honderdduisend rand nodig om hoegenaamd ’n indruk te maak op die potensiële kostes van die betoging. Sodra die trust op die been is, gaan ons ’n beroep doen op verdere skenkings.

ANDER AKTIWITEITE

Korrespondensie met Minister Asmal: ná ek ’n brief aan Minister Kader Asmal gerig het, het ek ’n antwoord van hom ontvang waarin hy die regering se standpunt herhaal dat Afrikaans deur die Grondwet beskerm word soos enige ander Suid-Afrikaanse taal en op geen “spesiale beskerming” kan aandring nie. Dit lyk ook asof hy meen dat ons die oorheersing van Engels in Suid-Afrika moet aanvaar op grond van die “internasionale oorheersing van die taal”. Ek het so pas ’n langerige antwoord teruggefaks waarin ek dit stel dat ons juis gekant is teen dié oorheersing, asook die aanstootlike voorstelling van Suid-Afrika as “Engelse land”. Ons bepleit geen spesiale status vir Afrikaans nie, maar is gekant teen die spesiale status wat Engels tans geniet. Die volgende sin uit my repliek haal ek graag aan:

“Afrikaans en Engels staan in ’n bepaalde historiese verhouding, en dit gaan ook om twee mededingende sienings van Suid-Afrikanerskap, naamlik ’n periferale Engelsheid en gepaardgaande kulturele bepaling vanuit die Anglo-Amerikaanse moederland, teenoor ’n radikale plaaslikheid wat as ’n kollektiewe neologisme getipeer sou kon word en waarvan die betekenis nie van elders bepaal word nie, maar plaaslik verhul is en deur ’n proses van onthulling en wording ontdek moet word.”

Eerskomende naweek gaan ek die saak vir Afrikaans argumenteer by die DP se interne seminaar oor taalbeleid. As die party wat tans die sterkste deur Afrikaanssprekendes ondersteun word, is dit vir my belangrik dat die DP moet besef dat hy ook ’n sterk standpunt ten gunste van gelyke status vir Afrikaans teenoor Engels moet uitdra.

MINI-BETOGINGS

In die aanloop tot die maksi-betoging in Pretoria, is dit dalk ’n idee om mini-betogings op strategiese plekke dwarsoor Suid-Afrika te hou om solank die vlak van bewustheid oor die taalkwessie te verhoog. My vorige ervaring van betogings in die sewentigerjare was dat die breë massa mense eers moet sien hoe ’n klein groepie dit doen, alvorens hulle betrokke raak.

Die jaar 2000 gaan die grootste pret in Afrikaans wees sedert 1875! Ek hoop om die name van PRAAG-lede te sien instroom!

Groete,

Dan Roodt
Sameroeper

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.