Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Groot Afrikaanse Betoging

Die huidige debat oor die taalkwessie, asook minderheidsregte, bly ’n papiertier indien dit nie ook op straat geskied nie. Die vraagstuk word geheel en al deur die Engelse pers, asook die buitelandse nuusagentskappe, geïgnoreer. Daarom is dit nodig om die aandrang op sinvolle kulturele naasbestaan in Suid-Afrika aan die groot klok te hang. Vandaar die GROOT AFRIKAANSE BETOGING.

Hoe moet dit lyk? Ek ontvang graag wenke van lesers, maar só sien ek dit gebeur:

Fase 1: die petisie
Vroeg-vroeg aanstaande jaar sal ’n petisie opgestel word waarin gelykberegtiging van Afrikaans teenoor Engels bepleit word, asook beswaar teen die verengelsing van die staat en die stereotipe/rassistiese opvattings aangaande Afrikaans en Afrikaners wat deur die regering se media-handperd, die SABC, die wêreld ingestuur word. Tydens ’n aanloop van weke en selfs maande sal hierdie petisie regoor Suid-Afrika in winkelsentrums, skole, universiteite, klubs, ens. versprei word vir mense om te onderteken. Terselfdertyd sal ondertekenaars van die petisie daarop attent gemaak word dat dit tydens ’n reuse-betoging in Pretoria aan Mnr. Thabo Mbeki oorhandig sal word. Terwyl die petisie gesirkuleer word, sal ’n dag en datum aangekondig word vir die betoging.

Fase 2: die betoging
Die betoging sal op ’n Saterdag plaasvind en sal met professionele hulp georganiseer wees, met die nodige toestemming en bystand van die munisipale owerhede. Hierdie deel van die scenario is nog in die beplanningstadium, maar daar is reeds twee moontlikhede: bymekaarkoms in ’n gehuurde stadion soos byvoorbeeld Loftus, met ’n paar toesprake deur skrywers, asook kort uitvoerings deur enkele Afrikaanse kunstenaars, wat wissel vanaf rock- tot klassieke musiek. Enkele klassieke Afrikaanse gedigte oor die taalkwessie, asook byderwetses wat spesiaal vir die geleentheid geskryf sal word, sal voorgelees word. (Ek oorweeg ook om ’n ontkleedanseres in ’n Voortrekkerrok te kry, wat agterna haar klere vir Afrikaans sal uittrek, ten einde ’n bietjie ligte vermaak te verskaf.)  Hierna volg die opmars na die Uniegebou. Alternatiewelik, kan die bymekaarkoms geskied op ’n oop stuk grond of parkeerterrein by ’n winkelsentrum in Pretoria, waarna die opmars plaasvind na die Uniegebou. Die konsert, toesprake en poësielesing kan dan op die gronde van die Uniegebou self plaasvind.

Logistieke kwessies, asook kostes vir sekuriteits- en ander hulpdienste, ens. sal die deurslag gee by die uiteindelike keuse van die bymerkaarkomplek en die roete vir die opmars deur Pretoria.

Gedurende die staptog na die Unigebou sal tradisionele Afrikaanse liedjies gesing word deur die skare, soos byvoorbeeld “Sarie Marais”, “Al lê die berge nog so blou”, ens. Sarie Marais lyk my by uitstek geskik om ’n soort nuwe vryheidslied te word.

Diegene wat nie die groot betoging in Pretoria (we are marching to Pretoria), kan bywoon nie, sal elders in die land kleiner betogings hou voor stadsale, by winkelsentrums, langs paaie, ens. In Kaapstad, Bloemfontein en ander groter sentra kan bykomende opmarse gehou word.

Baniere en plakkate: die inhoud van baniere en plakkate moet vooraf aan die organiseerders voorgelê word, sodat daar geen onsmaaklike of ver-regse geluide wat deur Afrikaansvyandige dele van die media aangegryp sou kon word om hul eng propagandistiese siening van Afrikaans te probeer regverdig nie. Oor die algemeen egter is dit ’n geval van: sê jou sê! Uniforms sal ook nie toegelaat word nie, ten einde enige swastika-bedekte ekstras wat deur Reuter Suid-Afrika of ander jingo-media gehuur mag word, uit te sluit. Plakkate met foto’s van al die groot Afrikaanse digters en skrywers moet ook gedra word. Een baie groot banier behoort te lui: GELYKBEREGTING VIR AFRIKAANS.

Ideologie: behalwe genoemde volksvreemde regse ideë wat ontoelaatbaar sou wees, sou die betoging bedoel wees as ’n katolieke beweging met verdraagsaamheid as die hooftema. Almal in Suid-Afrika wat sterk voel vir die behoud van Afrikaans as ’n nasionale bate, ongeag ras, kleur, geloof, seksuele voorkeur, huistaal, is welkom om daaraan deel te neem. Trouens, hoe meer minderhede aan die betoging deelneem, hoe beter, want dit gaan juis om die bevraagtekening van die fasiele en illusionêre meerderheidslogika waarop die onderdrukkers van Afrikaans hulself beroep. En bowenal: dit is ’n kollektiewe viering van die krag en skoonheid van Afrikaans, ’n bacchanale taal-orgie.

Fase 3: die media
Indien die betoging geslaagd is, wat in ’n groot mate van die organisasie gaan afhang, behoort dit wêreldwyd mediadekking te geniet. Dit sal die aandag vestig op die miskenning van Afrikaans in Suid-Afrika en die voortsetting van koloniale Engelse beleid om plaaslike tale te probeer vervang deur Engels. Die kruipende totalitarisme van die huidige bestel sal ook aan die kaak gestel word. Veral in die veeltalige Wes-Europa behoort daar begrip te wees vir die boodskap van die betoging.

’n Komitee van Afrikaans-simpatieke skrywers, intellektuele en politici sal na afloop van die betoging ook in die media hul standpunt stel. Radio- en televisieonderhoude plaaslik, maar veral in die buiteland, sal met lede van die komitee plaasvind waarin die betoging se boodskap verder genuanseer en uitgedra word. Daar moet veral op Frankryk, Duitsland en die Beneluxlande gekonsentreer word om sodoende die openbare mening in daardie lande bewus te maak van die taalstryd wat besig is om in Suid-Afrika plaas te vind. Dit sou uiteindelik lei tot diplomatieke druk op die regering om af te sien van die versmoring van Afrikaans.

Fase 4: permanente rewolusie
’n Permanente rewolusie in Afrikaans moet volg op die betoging. Engels moet teruggedryf word! Die voorstanders van ’n Engelse Suid-Afrika moet besef dat elke moontlike skuif, hetsy in die staat, hetsy in die handel, om ’n uitluitlik Engelse taalbeleid te volg, met arendsoë dopgehou gaan word en dat die tydperk van laissez aller verby is.

Die Suid-Afrikaanse geskiedenis lyk my in baie opsigte na ’n misterie. Wanneer Afrikaners presies oorgeskakel het van ’n kritiese, versetvolle groep mense na die inskiklike kollaborateurs van onlangs (ook onder die NP), verstaan ek nie. Dit is nou egter nodig om die tradisie van verset, protes, kritiese denke, waagmoed wat in die etlike manifeste, trekbewegings, stakings, rebellies en trotseer van die Britse Ryk in die verlede te lees is, te herontdek en te herbeaam.

Die idee om minderheidsregte in die grondwet verskans te kry, is baie nuttig en hierdie inisiatief behoort voort te gaan. Daar moet egter besef word dat die voormalige Sowjet-Unie die mees demokratiese grondwet op aarde gehad het, wat geensins die vergrype van Lenin, Stalin en die res verhoed het nie. Die grondwet is bloot ’n stuk papier wat die huidige pro-ANC-regters van die Grondwetlike Hof na willekeur kan interpreteer om die sentralistiese social engineering wat tans plaasvind, en waarvan verengelsing die kulturele hoeksteen is, te laat gedy.

Daarom moet daar benewens agitasie om die grondwet verander te kry, ook op ander gebiede ’n konstante kulturele aktivisme aan die gang gehou word, om die voorstanders van Engelse eentaligheid, ook by genoteerde maatskappye, aan ’n bynes van kritiek te onderwerp.

Ons saak is edel en goed. Ons voorbeelde is Goethe, Shakespeare en Rabelais, wat die volkstaal teenoor Latyn wou besig. Aan die ander kant staan Hitler, Stalin, Milner en Rhodes met hul sentralistiese ekspansionisme. Sien jou by die Uniegebou.

boontoe

© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.