Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Perke van die politiek korrektes
JM Coetzee se Disgrace

Die gedagte het onlangs by my ontstaan dat JM Coetzee miskien geen Engelse skrywer in die gewone sin is nie, al skryf hy ook in Engels. Veral in sy jongste werk, Disgrace, is daar iets van ’n nie-Engelse identiteit by JM Coetzee wat na vore tree. Trouens, die Afrikaanse vertaling van “disgrace”, naamlik “skande”, gee veel sterker weer wat Coetzee hier aan ons wil oordra.

In die eerste plaas is dit ’n oortredende teks in die Batailleske sin. Te oordeel na die paar Britse resensies wat ek nuuskierigheidshalwe op die Net nageslaan het, het niemand dit nog raakgesien nie. Dit is slegs deur die boodskap van die teks te ontken — en ontkenning is insgelyks een van die primêre motiewe in Disgrace — dat resensente tot dusver baie gemaklik daarmee gevoel het.

Hoewel dit amper huiwerend gedoen word, asof die skrywer inderdaad ook wegskram van die implikasies van wat hy sê, is daar tog ’n “skandelike” oortreding van die baie bekende polities-korrekte paradigma wat in Suid-Afrika onlangs tot staatsideologie verhef is.

Suid-Afrika is natuurlik die skandeland by uitstek. Naas Irak het geen land in die onlangse verlede hom só die internasionale argwaan op die hals gehaal nie. Ons verlede is skandelik, en kan net verskonend na verwys word.

En natuurlik is Afrikaans die skandtaal wat besmet is deur ons skandelike verlede. In die lig hiervan is dit vir my frappant dat daar op bladsy 117, as volg na Engels verwys word:

“... Doubtless Petrus has been through a lot, doubtless he has a story to tell. He would not mind hearing Petrus’s story one day. But preferably not reduced to English. More and more he is convinced that English is an unfit medium for the truth of South Africa. Stretches of English code whole sentences long have thickened, lost their articulations, their articulateness, their articulatedness. Like a dinosaur expiring and settling in the mud, the language has stiffened. Pressed into the mould of English, Petrus’s story would come out arthritic, bygone.”

Voorwaar ’n ongewone stelling vir ’n Engelse skrywer om te maak, want op ’n manier negeer dit waarmee hy besig is.

Coetzee gaan selfs verder — en hierdie stukkie pessimisme het niemand anders ook raakgesien nie — deur in die hartverskeurende metafoor aan die einde van die boek estetiese aktiwiteit op sigself as sinloos uit te beeld. Dikwels in die boek word daar gepraat van “dark times” met verwysing na die eietydse Suid-Afrikaanse werklikheid, en daar kan geen treuriger voorstelling daarvan gegee word as juis in die slottoneel van Disgrace nie.

In meer oppervlakkige sin gaan die “skande” van Disgrace oor die misstap van professor David Lurie wat as middeljarige akademikus ’n kortstondige verhouding het met een van sy vrouestudente aan die “Tegniese Universiteit van Kaapstad”.

Ná aanvalle op hom deur die kampusdrukgroep “Women Against Rape”, asook ’n amptelike ondersoek wat hy gelate aanvaar, word hy summier deur die universiteit ontslaan. Die siening van die universiteit self — en natuurlik het dit parallelle met wat besig is om aan vele van ons universiteite te gebeur — is van ’n plek wat die studie van letterkunde en kuns opsy geskuif het en nou fokus op sinlose “kommunikasiestudies”. David Lurie is by uitstek ’n esteet en hy het ’n byna Nietzscheaanse sin vir die voorrang wat die estetiese bo die morele behoort te geniet.

Hy word gedryf deur sy passie vir die Romantiek en veral die Engelse digter Byron, en sy don juanisme en belangstelling in vroue en seks is eintlik maar net ’n onderdeel van sy nastrewing van ’n hartstogtelike, romantiese lewenswyse.

Ná sy afdanking besluit David om sy volwasse dogter, Lucy, te gaan besoek waar sy op ’n kleinhoewe in die Oos-Kaap ’n hondehawe bedryf, asook ’n redelik amateuragtige blommeboerdery. Die karakter Lucy, wat een Britse resensent nogal Faulkneriaans ongeloofwaardig gevind het, is die apoteose van politieke korrektheid.

Sy is ’n lesbiër wat geen boosheid in swartes kan sien nie, selfs nie wanneer sy deur drie van hulle verkrag word nie. Trouens, sy meld nie eens die verkragting aan wanneer die polisie die rooftog waartydens dit plaasgevind het, kom ondersoek nie.

Lucy bevind haar in ’n staat van ontkenning wat aan die psigotiese grens. Sy ontken dat sy in gevaar verkeer alleen in die huis op die kleinhoewe, en haar houding is een van pasifistiese fatalisme. Sy is selfs bereid om haar vader op te offer ter wille van vrede, soos dit op bladsy 208 gestel word:

“... I am prepared to do anything, make any sacrifice, for the sake of peace.”
“And I am part of what you are prepared to sacrifice?”
She shrugs.
“I didn’t say it, you said it.”
“Then I’ll pack my bags.”

Teen die tyd dat dié breuk tussen vader en dogter plaasvind, is Lucy gereduseer tot ’n bywoner — Coetzee gebruik die Afrikaanse woord — op haar eie kleinhoewe wat nou gaan behoort aan haar eertydse swart helper, Petrus, en sy gaan die kind baar van een van haar verkragters, wat niemand anders as Petrus se eie familielid is nie.

Dit is hierdie aftakelingsproses wat die Britse resensent “ongeloofwaardig” gevind het, maar die teks voer bloot hier politieke korrektheid tot sy logiese uiteinde: die hoogste vorm van blanke skulderkenning lê in ’n soort selfverlaging en -vernietiging.

Daar is ’n direkte verband tussen Lucy en die kampusgebeure, want onderliggend aan beide is ’n waardestelsel wat die perke stel waarbinne die Suid-Afrikaanse werklikheid ervaar behoort te word. Beide Lucy en David is op hul onderskeie maniere besig om ’n lewenskrisis te ervaar, wat verband hou met die omliggende maatskaplike krisis wat gekenmerk word deur wetteloosheid en institusionele verval.

Daar is ’n plaaslike en internasionale blindheid wat veroorsaak dat die reële slegs op ’n verwronge manier voorgestel kan word en wat ons noop tot ’n defaïtistiese traagheid. In Coetzee se roman word hierdie blindheid beliggaam deur Lucy in haar ontkenning. Dog by David Lurie is daar die begin van ’n bevrydende kyk na dinge in sy priviligering van die estetiese bo die politieke.

Die onderdrukte kultuurverskil tussen die Weste en Afrika, waaroor daar ’n baie sterk taboe bestaan, word in ten minste een gesprek tussen David en Petrus baie sterk na die oppervlak gebring op bladsye 201-202. Petrus se onvermoë om in te sien dat verkragting ’n ernstige en strafbare oortreding is, spreek van ’n onoorbrugbare epistemologiese apartheid wat miskien onderliggend is aan die Suid-Afrikaanse dilemma.

In hierdie opsig neem Coetzee afskeid van die anti-apartheid-Mills-&-Boon wat Gordimer et al bedryf op ’n manier wat hom nader trek aan die “skandelike” Afrikaanse tradisie.

Ook David se betrokkenheid by Byron en sy pogings om ’n opera oor hom te skryf, moet gesien word nie in die lig van iemand wat ’n absurde Westerse estetiese belangstelling probeer handhaaf in Afrika nie, maar as ’n estetiese oorskryding van die politieke. Die hartstog wat die lewe van Byron gekenmerk het, en wat David in sy eie nastreef, staan in jukstaposisie met die begeertelose berusting van Lucy.

Hartstog is onderliggend aan die estetiese ervaring terwyl die politieke en politiek korrekte lewensbeskouing ’n willose en begeertelose aanvaarding van ons vereis waarin die estetiese of die erotiese geen rol te speel het nie.

’n Mens sou Disgrace ’n kritiek op die hede kon noem. Waar dit wel vir my tekort skiet, is in die oënskynlike bevestiging van sekere ortodokse opvattings aangaande ons verlede.

Waar David en Lucy praat oor die “skuld van die geskiedenis” lyk dit asof geeneen bereid is om die skuldmodel te bevraagteken nie. Op ’n manier is dit reeds waagmoedig genoeg van Coetzee om die teenstrydighede van ons huidige situasie uit te beeld, en om die estetiese teenoor die politieke te bevestig. Daarom wil ’n mens hom nie te sterk kritiseer omdat hy nie nog verder gaan en ook die gangbare blik op ons verlede omverwerp nie.

Die boek is in die geheel goed geskryf en lees vlot, byna asof dit in een sitting geskryf is. Weer eens stel Coetzee die standaard in die Engelstalige romankuns in Suid-Afrika, maar dan is dit sekerlik nie te moeilik te midde van die res met hul skryende gemeenplase en kwade wil nie.

Myns insiens behoort Disgrace ook in Afrikaans vertaal te word, gedagtig aan die verteller se eie woorde oor die ontoereikendheid van Engels, maar ook om die radikale Suid-Afrikaansheid van die boek nog verder te beaam, om dit nog nader aan ons te bring. Dit sou ook die enkele stilistiese hinderlikhede uitskakel waar Coetzee noodgedwonge poog om die Suid-Afrikaanse platteland te omskryf in terme van ’n Engelse “country” wat eerder ’n graafskap en “gentlemen farmers” oproep as Petrus en Lucy op hulle kleinhoewe.

Desnieteenstaande is die unieke van Disgrace daarin geleë dat hier nou ’n boek is wat aan dié kant van die koloniale drempel geskryf is, en ook in Engels. Sonder om nou te veel van my eie hebbelikhede by die roman te betrek, meen ek dat die koloniale drempel wat ons eie gewaarwordinge en begrip van ons werklikheid vervorm wanneer dit daardeur gaan, net soos wat intellektuele konsepte ter plaatse verwring word as dit buite konteks vanuit die metropool oorgeneem word, hier, indien nie so sterk bevraagteken nie, dan ten minste uitgedaag word.

Die opwindende van Coetzee se uitdaging is dat hy besef het dat dit nie net ’n kwessie is van die gangbare interpretasie van Suid-Afrika wat vanuit die metropool geld so ’n effe te “skud” nie, maar ook op ’n baie subtiele manier in gesprek te tree met die metropool “op sy eie gebied”. Vandaar dan die interessantheid van die geding met Byron, Wordsworth en die romantiek in die boek, want dit versteur die “eenrigtingverkeer” van die oordrag vanuit die metropool, en kaats iets ongevraags terug aan die metropool wat hy nie durf ignoreer nie.

En miskien is dit die grootste “skande”.

JM Coetzee. Disgrace. Londen: Secker & Warburg, Julie 1999.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.